’n Atoombom bevry my vader uit die tronk
Om 8:15 vm. op 6 Augustus 1945 het ’n atoombom oor Hirosjima, Japan, ontplof, wat die stad verwoes en tienduisende inwoners uitgewis het. My vader het geweier om die keiser te aanbid en Japan se militarisme te ondersteun, en daarom was hy op daardie stadium ’n gevangene in die Hirosjima-gevangenis.
VADER het dikwels beskryf wat daardie onvergeetlike oggend gebeur het. “Die lig het teen die plafon van my sel geflikker”, het hy gesê. “Toe het ek ’n ontsaglike dreuning gehoor asof al die berge op een oomblik inmekaarstort. Die sel was onmiddellik in dik duisternis gehul. Ek het my kop onder my matras ingedruk om te probeer ontsnap van iets wat soos ’n donker gas gelyk het.
“Ná sewe of agt minute het ek my kop onder die matras uitgetrek en gesien dat die ‘gas’ weg was. Dit was weer lig. Voorwerpe het van die rak afgeval en ’n dik laag stof het neergesif en die plek in ’n toestand gelaat. As gevolg van die hoë muur om die tronk het geen vuur van buite af ingekom nie.
“Ek het deur die agterste venster gekyk en was stomgeslaan! Die tronk se werkswinkels en die houtgeboue was platgevee. Toe het ek deur die voorste venstertjie gekyk. Die selle van die oorkantste blok was aan stukke geruk. Gevangenes wat die ontploffing oorleef het, het om hulp geroep. Daar was vrees en paniek—’n toneel van ontsettende verwarring en angs.”
As ’n seun was dit vir my opwindend om na vader se vertelling te luister van hoe ’n atoombom, soos hy dit gestel het, hom “uit die tronk bevry het”. Hy het die verhaal sonder skuldgevoelens vertel, want hy was onregverdig in die tronk. Voordat ek van die klagte teen vader vertel en hoe hy gedurende sy jare van opsluiting behandel is, wil ek verduidelik hoe my ouers verbonde geraak het aan die Todaisja, soos die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap in Japan destyds genoem is.
Op soek na ’n doel
Vader was versot op boeke, en vroeg in sy lewe wou hy hom al verbeter. Toe hy maar nog net vyf jaar in die laerskool was, het hy stilletjies van hulle huis in Isjinomori in die noordooste van Japan af weggeloop. Met net genoeg geld vir ’n eenrigting-kaartjie het hy op ’n trein na Tokio geklim waar hy vasbeslote was om ’n huisbediende vir Sjigenoboe Okoema te word, wat al twee keer eerste minister van Japan was. Maar toe hierdie karig geklede plaasseun by mnr. Okoema se huis opdaag, is sy aansoek om werk van die hand gewys. Later het vader werk gekry by ’n melkkroeg, waar hy ook ingewoon het.
Terwyl my vader nog ’n tiener was, het hy lesings deur politici en geleerdes begin bywoon. In een lesing is daar gemeld dat die Bybel ’n baie belangrike boek is. Vader het toe vir hom ’n Bybel met kruisverwysings en ’n Bybelatlas daarin gekry. Dit wat hy gelees het, het hom diep beïndruk en die begeerte by hom gewek om ’n werk te doen wat die hele mensdom sou bevoordeel.
Uiteindelik het vader teruggekeer huis toe, en in April 1931, toe hy 24 was, het hy met die 17-jarige Hagino getrou. Kort nadat vader getrou het, het ’n familielid vir hom lektuur gestuur wat deur die Todaisja uitgegee is. Aangesien vader diep beïndruk was deur wat hy gelees het, het hy aan die Todaisja in Tokio geskryf. In Junie 1931 het ’n voltydse bedienaar van Sendai met die naam Matsoeë Isjii hom in Isjinomori besoek.a Vader het ’n stel boeke by haar geneem, waaronder The Harp of God, Creation en Government.
Hy vind ’n doel in die lewe
Vader het feitlik onmiddellik ingesien dat verskeie kerkleerstellings vals is, soos dat die mens ’n onsterflike siel het, dat die goddelose vir ewig in ’n helse vuur sal brand en dat die Skepper ’n drie-enige God is (Prediker 9:5, 10; Esegiël 18:4; Johannes 14:28). Hy het ook besef dat hierdie wêreld tot ’n einde gaan kom (1 Johannes 2:17). Omdat hy wou weet wat hy moes doen, het hy met die aangestelde verteenwoordiger van die Todaisja in aanraking gekom, wat hom in Augustus 1931 besoek het, en as gevolg van hulle besprekings is vader gedoop en het hy besluit om ’n voltydse bedienaar van Jehovah te word.
Ná lang besprekings het moeder ook oortuig geraak dat dit wat sy uit die Bybel geleer het die waarheid was. Sy het haar lewe aan Jehovah toegewy en haar in Oktober 1931 laat doop. Toe my vader sy eiendom op ’n veiling verkoop het, het sy familie gedink dat hy van sy sinne beroof was.
Die lewe as voltydse bedienaars
Vader het al die geld wat hy op die veiling gemaak het vir sy moeder gegee, en hy en moeder het in November 1931 na Tokio gegaan. Hoewel hulle geen onderrig ontvang het oor hoe om met ander oor die goeie nuus van die Koninkryk te praat nie, het hulle die dag nadat hulle daar aangekom het, begin preek.—Mattheüs 24:14.
Hulle lewe was nie maklik nie. Dit was veral moeilik vir my moeder wat toe net 17 jaar oud was. Daar was geen ander Getuies, geen vergaderinge en geen gemeente nie—net ’n daaglikse rooster om Bybellektuur van 9:00 vm. tot 4:00 nm. van huis tot huis te versprei.
In 1933 is hulle predikingsaanwysing van Tokio na Kobe verander. Ek is op 9 Februarie 1934 daar gebore. My moeder het tot ’n maand voor my geboorte ywerig aan die bediening deelgeneem. Daarna het my ouers na Jamagoetsji, na Oebe, na Koere en uiteindelik na Hirosjima verhuis, en op elkeen van hierdie plekke ongeveer ’n jaar lank gepreek.
My ouers word in hegtenis geneem
Namate Japannese militarisme toegeneem het, is die publikasies van die Wagtoringgenootskap verbied, en die Getuies is fyn dopgehou deur die Polisie se spesiale geheime diens. Toe, op 21 Junie 1939, is voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies dwarsdeur Japan in hegtenis geneem. Vader en moeder was onder diegene wat in hegtenis geneem is. Ek is in my ouma se sorg geplaas wat in Isjinomori gewoon het. Nadat moeder agt maande lank aangehou is, is sy voorwaardelik vrygelaat, en ek kon uiteindelik, in 1942, na haar toe gaan in Sendai.
Intussen is vader, saam met ander Getuies, deur die geheime polisie by die Hirosjima-polisiestasie ondervra. Omdat die Getuies geweier het om die keiser te aanbid of Japan se militarisme te ondersteun, is hulle wreed geslaan. Die ondervraer kon vader nie laat wankel in sy aanbidding van Jehovah nie.
Nadat vader meer as twee jaar lank in aanhouding was, is hy verhoor. Gedurende een sessie het die regter gevra: “Mioera, wat dink jy van Sy Hoogheid die Keiser?”
“Sy Hoogheid die Keiser is ook ’n afstammeling van Adam en is ’n sterflike, onvolmaakte mens”, het vader geantwoord. Daardie verklaring het die hof se stenograaf so verbaas dat hy dit nie eers genoteer het nie. Jy sien, die meeste Japannese het destyds geglo dat die keiser ’n god is. Vader was tot vyf jaar tronkstraf gevonnis, en die regter het vir hom gesê dat hy vir die res van sy lewe in die tronk sou wees tensy hy sy geloof prysgee.
Kort daarna, in Desember 1941, het Japan die Verenigde State by Pearl Harbor, Hawaii, aangeval. Voedsel in die tronk het skaars geword, en gedurende die wintermaande het vader talle koue, slapelose nagte gehad weens ’n gebrek aan klere. Hoewel hy van alle geestelike assosiasie afgesny was, het hy toegang gehad tot die Bybel in die tronk se biblioteek, en deur dit oor en oor te lees, het hy sy geestelike krag behou.
Toe die bom val
Vroeg die oggend van 6 Augustus 1945 wou ’n gevangene met vader boeke ruil. Dit is nie toegelaat nie, maar aangesien die gevangene reeds sy boek oor die gang tot in vader se sel geskuif het, het hy sý boek tot in die ander gevangene se sel geskuif. In plaas daarvan dat hy daardie oggend sy rooster gevolg het, waarvan hy gewoonlik nie afgewyk het nie, was hy dus besig om te lees toe die bom geval het. Gewoonlik sou hy teen daardie tyd van die oggend die toilet in sy sel gebruik het. Ná die ontploffing het vader gesien dat die toiletgedeelte deur vallende puin vernietig is.
Vader is toe na die nabygeleë Iwakoeni-gevangenis geneem. Kort daarna het Japan hom aan die Geallieerde Magte oorgegee, en vader is te midde van die na-oorlogse chaos vrygelaat. Hy het in Desember 1945 teruggekeer huis toe na Isjinomori. Sy gesondheid was geknak. Hy was maar 38, maar hy het soos ’n ou man gelyk. Ek kon aanvanklik nie glo dat hy my vader is nie.
Sy geloof was steeds sterk
Japan was in ’n chaotiese toestand, en ons het nie geweet waarheen die handjievol getroue Getuies verstrooi was nie. Daar was ook nie enige lektuur van Jehovah se Getuies beskikbaar nie. Vader het my nogtans die waarheid oor Jehovah se Koninkryk, die nuwe wêreld en die naderende oorlog van Armageddon direk uit die Bybel geleer.—Psalm 37:9-11, 29; Jesaja 9:5, 6; 11:6-9; 65:17, 21-24; Daniël 2:44; Mattheüs 6:9, 10.
Later, toe ek die evolusieteorie op hoërskool geleer is en ek aan die bestaan van God begin twyfel het, het my vader my van God se bestaan probeer oortuig. Toe ek huiwerig was om te glo, het hy uiteindelik gesê: “Die meeste mense van die wêreld het die oorlog gesteun en hulle aan bloedvergieting skuldig gemaak. Wat my betref, ek het by Bybelwaarhede gebly en nooit militarisme, keiseraanbidding of die oorlog gesteun nie. Oorweeg dus self noukeurig wat die ware weg van die lewe is waarop jy moet wandel.”
Omdat ek geweet het wat my vader geleer het en waarvolgens hy gelewe het, en deur dit te vergelyk met wat ek op skool geleer het, kon ek sien dat die evolusieteorie nie gesonde denke was nie. Hoewel geen evolusionis sy lewe al vir sy oortuigings in gevaar gestel het nie, was my vader bereid om vir syne te sterf.
Op ’n dag in Maart 1951, meer as vyf jaar nadat die oorlog beëindig is, was vader besig om die koerant Asaji te lees. Skielik het hy uitgeroep: “Haai, hulle het gekom, hulle het gekom!” Hy het die koerant vir my gewys. Dit was ’n berig oor vyf sendelinge van Jehovah se Getuies wat pas in Osaka aangekom het. Terwyl vader van vreugde rondgespring het, het hy met die koerant in aanraking gekom en uitgevind dat Jehovah se Getuies ’n takkantoor in Tokio oopgemaak het. Hy het die adres in die hande gekry en die tak besoek en so kontak met Jehovah se organisasie herstel.
Getrou tot die einde
In 1952 het ons gesin na Sendai verhuis. Die sendelinge Donald en Mabel Haslett van die Wagtoringgenootskap het daardie selfde jaar soontoe verhuis en ’n huis gehuur waar hulle die Wagtoring-studie in kon hou. Slegs vier mense het daardie eerste vergadering bygewoon—die Hasletts, my vader en ek. Later het Sjinitsji en Masako Tohara, Adeline Nako en Lillian Samson by die Hasletts as sendelinge in Sendai aangesluit.
Deur ons gesin se assosiasie met hierdie sendelinge het ons in ons kennis van God se Woord en sy organisasie toegeneem. Moeder, wie se geloof geskud is deur dinge wat gedurende die oorlog gebeur het, het kort daarna saam met ons vergaderinge begin bywoon en aan die veldbediening begin deelneem. Ek is beweeg om my lewe aan Jehovah God toe te wy, en op 18 April 1953 is ek gedoop.
Ná die oorlog het vader as ’n verkoopsman vir ’n versekeringsmaatskappy gewerk. Ten spyte van die nagevolge van sy gevangenskap, wat ’n nierkwaal en hoë bloeddruk ingesluit het, het hy ’n sterk begeerte gehad om die voltydse bediening as ’n pionier te hervat. Hy het dit gedoen ongeveer dieselfde tyd toe ek gedoop is. Hoewel slegte gesondheid hom verhinder het om baie lank as ’n pionier voort te gaan, het sy ywer vir die bediening my beweeg om my universiteitstudies te laat vaar en die voltydse bediening as ’n loopbaan te volg.
Isamoe Soegioera, ’n gawe jong man van Nagoja, is as my pioniermaat aangestel. Op 1 Mei 1955 het ons ons bediening as spesiale pioniers in Beppoe op die Kioesjioe-eiland begin. Daar was toe net ’n handjie vol Getuies op die hele eiland. Nou, meer as 39 jaar later, het ons 15 geestelik vooruitstrewende kringe met meer as 18 000 Getuies op die eiland. En in die hele Japan is daar nou bykans 200 000 Getuies.
In die lente van 1956 het ek en Isamoe ’n uitnodiging ontvang om die Wagtoring-Bybelskool Gilead in die Verenigde State by te woon. Ons was buite onsself van vreugde. Toe ek egter ter voorbereiding van die reis medies ondersoek is, het die dokters gevind dat ek tuberkulose het. Ek het baie teleurgesteld teruggekeer huis toe na Sendai.
Teen daardie tyd het vader se fisiese gesondheid agteruitgegaan en het hy tuis in die bed gerus. Ons huurhuisie het uit ’n tatami-kamer van net 30 vierkante meter bestaan. Ek en my vader het langs mekaar gelê. Aangesien vader nie kon werk nie, het moeder gesukkel om in ons finansiële behoeftes te voorsien.
In Januarie 1957 het Frederick W. Franz, destyds die visepresident van die Wagtoringgenootskap, Japan besoek, en ’n spesiale byeenkoms is in Kioto gereël. Vader het moeder aangespoor om dit by te woon. Hoewel sy teësinnig was om ons in ons siek toestand alleen te laat, het sy vader gehoorsaam en na die byeenkoms toe gegaan.
Kort daarna het vader se toestand by die dag begin verswak. Terwyl ons daar langs mekaar gelê het, het ek bekommerd begin raak en hom gevra hoe ons onsself gaan onderhou. Daarop het hy geantwoord: “Ons het Jehovah God gedien, selfs ons lewe gewaag, en hy is die almagtige God. Waarom bekommer jy jou? Jehovah sal verseker voorsien wat ons nodig het.” Hy het my toe op ’n baie teer manier vermaan en gesê: “Bou in jouself ’n sterker geloof op.”
Op 24 Maart 1957 het vader stilweg sy laaste asem uitgeblaas. Ná sy begrafnis het ek die versekeringsmaatskappy waarvoor hy gewerk het, besoek om sake met hulle af te handel. Op pad uit het die takbestuurder my ’n papiersak gegee en gesê: “Dis jou vader s’n.”
Toe ek tuis kom, het ek ’n redelike groot som geld daarin gekry. Toe ek die bestuurder later daarna gevra het, het hy verduidelik dat dit ’n premie is wat maandeliks sonder vader se medewete van sy salaris afgetrek is. So is vader se woorde: “Jehovah sal verseker voorsien wat ons nodig het”, bewaarheid. Dit het my geloof in Jehovah se beskermende sorg grootliks versterk.
Dekades van voortgesette diens
Die materiële hulp wat daardie geld voorsien het, het my gehelp om my tuis op my herstel toe te lê. ’n Jaar later, in 1958, is ek en moeder as spesiale pioniers aangestel. Later het ek as ’n reisende opsiener in Japan gedien, en toe in 1961 het ek die voorreg gehad om die tien maande lange kursus van die Gileadskool by die wêreldhoofkantoor van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, by te woon.
Toe ek na Japan teruggekeer het, het ek weer as ’n reisende opsiener gemeentes bedien. Toe, in 1963, het ek met Jasoeko Haba getrou wat by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Tokio gewerk het. Sy het tot 1965 saam met my aan die kringwerk deelgeneem toe ons genooi is om by die takkantoor in Tokio te dien. Sedertdien het ons saam gedien—eers by die takkantoor in Tokio, toe in Noemasoe en nou in Ebina.
Moeder het tot 1965 ’n spesiale pionierbedienaar gebly. Sy het sedertdien bedrywig gebly en baie mense gehelp om Bybelwaarhede aan te neem. Sy is nou 79 jaar oud, maar is nog betreklik gesond. Ons is bly dat sy naby woon en dieselfde gemeente as ons naby die Ebina-takkantoor kan bywoon.
Ons bedank Jehovah God innig dat my vader die atoombomontploffing oor Hirosjima oorleef het. Hy het sy geloof behou, en dit is my begeerte om hom in die nuwe wêreld terug te verwelkom en vir hom te vertel hoe ons uit Armageddon verlos is, die oorlog wat hy so graag wou gesien het (Openbaring 16:14, 16; 21:3, 4).—Soos vertel deur Tsoetomoe Mioera.
[Voetnoot]
a Sien asseblief Die Wagtoring van 1 Mei 1988, bladsye 21-5, vir Matsoeë Isjii se lewensverhaal.
[Prent op bladsy 11]
Katsoeo en Hagino Mioera met hulle seun Tsoetomoe
[Prent op bladsy 15]
Tsoetomoe Mioera aan die werk in die Japannese takkantoor
[Foto-erkenning op bladsy 13]
Hiroshima Peace and Culture Foundation from material returned by the United States Armed Forces Institute of Pathology