Lewensverhaal
Ek is gehelp om my skaamheid te oorkom
SOOS VERTEL DEUR RUTH L. ULRICH
Ek het net daar op die predikant se drumpel in trane uitgebars. Hy het so pas met ’n stortvloed van valse beskuldigings uitgevaar teen Charles T. Russell, wat die eerste president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap was. Laat ek verduidelik wat daartoe gelei het dat ek, as ’n jong meisie, sulke besoeke by mense gedoen het.
EK IS in 1910 op ’n plaas in Nebraska, VSA, uit ’n baie godsdienstige gesin gebore. Ons gesin het elke oggend en aand ná ete die Bybel saam gelees. My pa was die superintendent van die Sondagskool van die Metodiste Kerk in die klein dorpie Winside, ongeveer ses kilometer van ons plaas af. Ons het ’n perdekar met gordyne voor die vensters gehad, sodat ons Sondagoggende kerk toe kon gaan, ongeag hoe die weer gelyk het.
Toe ek omtrent agt was, het my bababoetie rugmurgontsteking gekry, en my ma het hom na ’n hospitaal in Iowa geneem vir behandeling. Ondanks haar getroue sorg is my boetie dood terwyl hulle daar was. Maar intussen het my ma in Iowa ’n Bybelstudent ontmoet, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is. Hulle het baie gesprekke gehad en my ma het selfs saam met die vrou na party vergaderinge van die Bybelstudente gegaan.
Toe my ma teruggekom het huis toe, het sy ’n hele paar dele van Studies in the Scriptures saamgebring, wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee is. Sy was gou daarvan oortuig dat die Bybelstudente die waarheid geleer het en dat die leerstellings van die onsterflikheid van die mensesiel en van ewige foltering van die goddeloses nie waar is nie.—Genesis 2:7; Prediker 9:5, 10; Esegiël 18:4.
My pa was egter baie ontsteld, en hy het my ma teëgestaan wanneer sy die vergaderinge van die Bybelstudente probeer bywoon het. Hy het my en my ouer broer, Clarence, steeds saam met hom kerk toe geneem. Maar wanneer my pa nie by die huis was nie, het my ma die Bybel met ons gestudeer. Gevolglik het ek en my broer ’n goeie geleentheid gehad om die leerstellings van die Bybelstudente met dié van ons kerk te vergelyk.
Ek en Clarence het gereeld by die kerk Sondagskool bygewoon, en hy het die onderwyseres vrae gevra wat sy nie kon beantwoord nie. Wanneer ons by die huis gekom het, het ons vir ons ma vertel, en dit het tot lang gesprekke oor hierdie onderwerpe gelei. Eindelik het ek die kerk verlaat en saam met my ma die vergaderinge van die Bybelstudente begin bywoon, en nie lank daarna nie het Clarence dieselfde gedoen.
Ek oorkom my skaamheid
In September 1922 het ek en my ma die onvergeetlike streekbyeenkoms van die Bybelstudente in Cedar Point, Ohio, bygewoon. Ek kan nog sien hoe daardie groot banier oopgevou het toe Joseph F. Rutherford, destydse president van die Wagtoringgenootskap, die meer as 18 000 in die gehoor aangespoor het met die woorde op die banier: “Adverteer die Koning en Koninkryk.” Dit het my diep getref en ek het besef hoe dringend dit is om ander van die goeie nuus van God se Koninkryk te vertel.—Matteus 6:9, 10; 24:14.
By die streekbyeenkomste wat van 1922 tot 1928 gehou is, is ’n reeks resolusies aangeneem, en daardie boodskappe is in traktate ingesluit, waarvan die Bybelstudente tienmiljoene regoor die wêreld versprei het. Ek was lank en skraal—hulle het my die windhond genoem—en ek het vinnig van huis tot huis gegaan en hierdie gedrukte boodskappe versprei. Ek het hierdie werk terdeë geniet. Maar om by die deur te praat, om ander persoonlik van God se Koninkryk te vertel, was ’n ander saak.
Sien, ek was so skaam dat ek dit selfs gevrees het wanneer my ma elke jaar hordes familielede na ons huis genooi het. Ek het in my kamer verdwyn en daar gebly. Eenkeer wou my ma ’n foto van die hele familie neem, en sy het vir my gesê om uit te kom. Ek wou nie uitkom nie en het geskreeu toe sy my letterlik by die kamer uitgesleep het.
Op ’n dag het ek egter my besluit geneem en Bybellektuur in ’n sak gepak. Ek het oor en oor gesê: “Ek kan dit nie doen nie”, maar dan het ek weer vir myself gesê: “Ek moet dit doen.” Uiteindelik het ek gaan velddiens doen. Daarna was ek so bly dat ek die moed bymekaargeskraap het om te gaan. Nadat ek die werk gedoen het, was ek baie gelukkiger as terwyl ek dit gedoen het. Dit was in hierdie tyd dat ek daardie predikant ontmoet het en met trane in my oë weggestap het. Met verloop van tyd kon ek, met Jehovah se hulp, met mense by hulle deure praat, en my vreugde het toegeneem. Toe het ek in 1925 my toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer.
Ek betree die voltydse bediening
Toe ek 18 was, het ek ’n motor gekoop met geld wat ek by een van my tannies geërf het en het ek die pionierdiens betree, soos die voltydse bediening genoem word. Twee jaar later, in 1930, het ek en ’n maat ’n predikingstoewysing aanvaar. Teen daardie tyd het Clarence ook as ’n pionier begin dien. Kort daarna het hy ’n uitnodiging aanvaar om by Bethel, die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, te dien.
Om en by daardie tyd het ons ouers uitmekaar gegaan, en ek en my ma het dus ’n karavaan laat bou en saam pionierdiens begin doen. Dit was toe die Groot Depressie in die Verenigde State begin het. Om in die pionierdiens te bly, was ’n groot uitdaging, maar ons was vasbeslote om nie op te hou nie. Ons het Bybellektuur verruil vir hoenders, eiers, groente en vrugte, sowel as items soos ou batterye en aluminium. Ons het hierdie aluminium verkoop sodat ons petrol vir die motor kon koop en ander uitgawes kon betaal. Ek het ook geleer om die motor self te ghries en die olie te vervang om geld te bespaar. Ons het gesien hoe Jehovah ons gehelp het om struikelblokke te oorkom, net soos hy belowe het.—Matteus 6:33.
Sendingtoewysings
In 1946 is ek genooi om die sewende klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead by te woon, wat naby South Lansing, New York, geleë was. Teen daardie tyd het ek en my ma al meer as 15 jaar lank saam pionierdiens gedoen, en tog wou sy nie hê dat ek die geleentheid moes laat verbygaan om opleiding in sendingwerk te ontvang nie. Sy het my dus aangemoedig om die voorreg te aanvaar om na die Gileadskool te gaan. Ná ons graduering het ek en Martha Hess van Peoria, Illinois, sendelingmaats geword. Ons is saam met twee ander vir ’n jaar na Cleveland, Ohio, gestuur waar ons vir ’n toewysing in die buiteland gewag het.
Daardie toewysing het in 1947 gekom. Ek en Martha is na Hawaii toe gestuur. Aangesien dit maklik was om na hierdie eilande te immigreer, het my ma naby ons in die stad Honolulu kom woon. Haar gesondheid het agteruitgegaan, en daarom het ek, terwyl ek my sendingwerk gedoen het, my ma ook gehelp. Ek kon haar versorg totdat sy in 1956, op 77-jarige ouderdom, in Hawaii oorlede is. Toe ons daar aangekom het, was daar ongeveer 130 Getuies in Hawaii, maar teen die tyd dat my ma oorlede is, was daar oor die duisend, en sendelinge was nie meer nodig nie.
Toe het ek en Martha ’n brief van die Wagtoringgenootskap ontvang waarin ons ’n toewysing in Japan gekry het. Ons grootste bekommernis was of ons op ons ouderdom Japannees kon leer praat. Ek was toe al 48 jaar oud, en Martha was net vier jaar jonger. Maar ons het die saak aan Jehovah oorgelaat en die toewysing aanvaar.
Direk na afloop van die internasionale byeenkoms in 1958 by die stad New York se Yankee-stadion en Polo-terrein was ons per skip op pad na Tokio. Ons is deur ’n tifoon getref toe ons die hawe by Jokohama genader het, waar ons deur Don en Mabel Haslett, Lloyd en Melba Barry en ander sendelinge ontmoet is. Op daardie stadium was daar net 1 124 Getuies in Japan.
Ons het onmiddellik Japannees begin leer en aan die deur-tot-deur-bediening begin deelneem. Ons het die Engelse alfabet gebruik om ons Japannese aanbiedings uit te skryf sodat ons dit kon lees. In antwoord daarop het die huisbewoners “Jorosjii desoe” of “Kekko desoe” gesê, wat ons uitgevind het “Dis mooi” of “Dis goed” beteken. Maar ons het nie altyd geweet of die huisbewoner belanggestel het of nie, aangesien daardie woorde ook gebruik is om nee dankie te sê. Die betekenis het van die stemtoon of die persoon se gesigsuitdrukking afgehang. Dit het ons ’n rukkie geneem om die onderskeid te leer.
Ondervindinge wat my hart verbly het
Terwyl ek nog met die taal gesukkel het, het ek eendag ’n woongebou van die Mitsubishi-maatskappy besoek en ’n 20-jarige vrou ontmoet. Haar Bybelkennis het gou toegeneem en sy is in 1966 gedoop. ’n Jaar later het sy die pionierdiens betree en is kort daarna as ’n spesiale pionier aangestel. Sy dien vandag nog as ’n spesiale pionier. Dit was nog altyd vir my ’n aansporing om te sien hoe sy haar tyd en energie van haar jeug af in die voltydse bediening gebruik het.
Dit is veral vir mense wat in ’n nie-Christelike gemeenskap lewe ’n groot uitdaging om ’n standpunt vir Bybelwaarheid in te neem. En tog het derduisende hierdie uitdaging die hoof gebied, insluitende baie van dié met wie ek die Bybel gestudeer het. Hulle het ontslae geraak van duur Boeddhistiese altare en Sjinto-rakke wat tradisioneel in Japannese huise gevind word. Aangesien familielede hierdie optrede dikwels verkeerd vertolk as oneerbiedigheid teenoor afgestorwe voorouers, verg dit moed van nuwelinge om dit te doen. Hulle moedige optrede laat ’n mens dink aan die vroeë Christene wat ontslae geraak het van dinge wat met valse godsdiens te doen gehad het.—Handelinge 19:18-20.
Ek onthou een Bybelstudent, ’n huisvrou, wat van plan was om saam met haar gesin uit Tokio te trek. Sy wou in ’n nuwe huis intrek waarin daar geen voorwerpe was wat iets met heidense aanbidding te doen gehad het nie. Gevolglik het sy haar man van haar wense vertel, en hy het gewillig saamgewerk. Sy was baie bly toe sy my daarvan vertel, maar toe het sy onthou dat sy ’n groot, duur marmervaas ingepak het wat sy gekoop het omdat dit glo geluk in die huis verseker. Omdat sy vermoed het dat dit met valse aanbidding verband hou, het sy die vaas met ’n hamer stukkend geslaan en weggegooi.
Dit was vir my ’n baie lonende en bevredigende ondervinding om te sien hoe hierdie vrou en ander gewillig van duur voorwerpe ontslae raak wat met valse aanbidding verband hou en moedig ’n nuwe lewe in die diens van Jehovah begin. Ek dank Jehovah gereeld dat ek meer as 40 jaar van sendingdiens in Japan kon geniet.
Hedendaagse “wonderwerke”
Wanneer ek terugdink aan die meer as 70 jaar wat ek in die voltydse bediening deurgebring het, is ek verwonderd oor wat vir my soos hedendaagse wonderwerke lyk. As ’n jong meisie wat baie skaam was, sou ek nooit gedink het dat ek my hele lewe daaraan kon wy om die inisiatief te neem om met mense oor ’n Koninkryk te praat waarvan die meeste glad nie wil hoor nie. En tog was dit nie net ek wat dit kon doen nie, maar ek het gesien hoe honderde ander, indien nie duisende nie, ook dieselfde doen. En hulle het dit so goed gedoen dat die bietjie meer as duisend Getuies wat in Japan was toe ek in 1958 hier aangekom het vandag meer as 222 000 geword het!
Toe ek en Martha in Japan aangekom het, is ons gevra om by die takkantoor in Tokio te woon. In 1963 is ’n nuwe takkantoor met ses verdiepings op daardie terrein gebou, en ons woon sedertdien daar. In November 1963 was ons onder die 163 wat teenwoordig was vir die toewydingstoespraak deur ons takopsiener, Lloyd Barry. Teen daardie tyd was daar 3 000 Getuies in Japan.
Dit was wonderlik om die geweldige groei van die Koninkrykspredikingswerk te sien. In 1972 het ons meer as 14 000 verkondigers bereik, toe ’n nuwe vergrote takkantoor in die stad Noemazoe voltooi is. Maar teen 1982 was daar oor die 68 000 Koninkryksverkondigers in Japan, en ’n baie groter takkantoor is in die stad Ebina, sowat 80 kilometer van Tokio af, gebou.
Intussen is die voormalige takkantoorgebou in die hartjie van Tokio opgeknap. Mettertyd het dit ’n sendinghuis geword vir meer as 20 sendelinge wat 40 of 50 jaar of langer in Japan gedien het, en dit sluit my en Martha Hess in, wat al jare lank my sendingmaat is. ’n Dokter en sy vrou, wat ’n verpleegster is, woon ook in ons huis. Hulle kyk na ons en sien liefdevol na ons mediese behoeftes om. Onlangs het nog ’n verpleegster by ons aangesluit, en Christensusters kom gedurende die dag om die verpleegsters te help. Twee lede van die Bethelgesin in Ebina kom om die beurt om maaltye voor te berei en om ons huis skoon te maak. Jehovah is beslis goed vir ons.—Psalm 34:9, 11.
Verlede November, 36 jaar ná die toewyding van die gebou waarin soveel van ons wat al lank sendelinge is nou woon, was ’n hoogtepunt van my lewe as ’n sendeling. Op 13 November 1999 was ek een van die 4 486, waaronder honderde wat al lank Getuies is uit 37 lande, wat die toewyding bygewoon het van die uitgebreide fasiliteite by die Japannese takkantoor van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap in Ebina. Tans is daar ongeveer 650 in daardie Bethelgesin.
Gedurende die byna 80 jaar sedert ek as ’n skaam meisie van huis tot huis begin gaan het om Bybelboodskappe af te lewer, was Jehovah vir my ’n versterkende hulp. Hy het my gehelp om my skaamheid te oorkom. Ek glo vas dat Jehovah enigiemand kan gebruik wat op hom vertrou, selfs diegene wat geweldig skaam is soos ek. En wat ’n bevredigende lewe het ek tog gehad om met vreemdelinge oor ons God, Jehovah, te praat!
[Prente op bladsy 21]
Saam met my ma en Clarence, wat kom kuier het terwyl hy in Bethel was
[Prent op bladsy 23]
Lede van ons klas studeer op die grasperk by Gileadskool naby South Lansing, New York
[Prent op bladsy 23]
Links: Ek, Martha Hess en my ma, in Hawaii
[Prent op bladsy 24]
Regs: Van dié wat in ons sendinghuis in Tokio woon
[Prent op bladsy 24]
Onder: Saam met Martha Hess, wat al lank my sendingmaat is
[Prent op bladsy 25]
Ons vergrote takfasiliteite in Ebina is verlede November toegewy