Berge—meesterstukke in die skepping
DIE Andes, die Kaskadeberge, die Himalajas, die Rotsgebergte, die Alpe en die Oeralgebergte—dit is net ’n paar van die berge op die planeet Aarde. Die ontsaglike grootte van hierdie berge kan jou asem laat wegslaan.
Verbeel jou jy staan voor Mount Everest. Op 8848 meter is dit die aarde se vertoonstuk wat hoogte betref—’n monument van bykans nege kilometer hoog! En hierdie een piek is net ’n klein gedeelte van die manjifieke Himalajas. Met meer as 70 pieke wat elk ’n duiselingwekkende hoogte van 6400 meter bereik, is hierdie reeks twee keer so groot soos die Alpe in Europa!
Unieke lewensones
Die meeste berge het verskillende lewensones, of omgewings, hoofsaaklik omdat die temperatuur met elke 300 meter wat jy hoër gaan ongeveer 1,8 grade Celsius daal. Verskille in reënval, grond en wind maak ook elke sone uniek.
’n Voorbeeld van die verskeidenheid van sulke omgewings is die San Francisco-pieke in Arizona, VSA. Dit is die hoogste berge in daardie staat. As jy aan die voet van die berge op die Coconino-plato begin en tot op die kruin van een van die San Francisco-pieke klim, sal jy aanvanklik ’n ekologiese gemeenskap van onder meer akkedisse en kaktusse in woestynagtige toestande opmerk. Mettertyd sal jy koeler lewensones ingaan, wat bergbokke en dennebome huisves. Uiteindelik sal jy die arkties-alpynse toestande van die kruin bereik. Met net hierdie een klimtog kan jy dieselfde verskeidenheid lewensvorme en omgewings teëkom wat jy andersins net kon vind as jy in die binneland naby seevlak van Mexiko na Kanada sou reis!
Het jy al die verkwikkende sensasie ervaar wanneer ’n mens fris, vars berglug inasem? Die laer lugtemperatuur is een verklaring vir hierdie sensasie. Maar waar daar nie nabygeleë stede is nie, kan berglug ook suiwerder en skoner wees. In elke kubieke sentimeter lug op 2000 meter is daar moontlik net 2500 stof-, stuifmeel- en ander deeltjies. Vergelyk dit met die lug in groot stede waar daar tot 150 000 van hierdie deeltjies in dieselfde hoeveelheid lug kan wees! Dit verklaar waarom moderne sterrewagte dikwels op berge gebou word waar suiwer, droë lug ideale toestande vir astronomiese waarnemings voorsien.
Berge is natuurlik nie so gasvry hoër op waar atmosferiese druk en suurstofvlakke daal, sonstraling toeneem en stormsterkte winde temperature skerp laat daal nie. Verbasend genoeg floreer sommige lewensvorme selfs onder sulke omstandighede hardnekkig. Beskou byvoorbeeld die piepklein springspinnekoppie. Hierdie bergbewonertjie is tuis in die Himalajas op ’n goeie 6000 meter! Dit is nie vir wetenskaplikes heeltemal duidelik hoe die diertjie aan die lewe bly nie.
Uitwerking op die mens
Berge het ’n invloed op die hele mensdom. Kyk byvoorbeeld na ’n wêreldkaart. Let op hoe die Pireneë, met pieke van oor die 3000 meter, Spanje van Frankryk en die res van Europa skei. Jy sal eweneens opmerk dat ander politieke grense langs enorme bergreekse vasgestel is. Hierdie onbeweegbare versperrings het reistogte en handel tussen volke van verskillende tale en gebruike beperk. Gevolglik het die teenwoordigheid van berge waarskynlik ’n beperkende invloed gehad op die vorm en grootte van die land waarin jy woon, die taal wat jy praat sowel as die gebruike van jou land.
Hoë berge keer ook die windstrome af. Dit kan ’n invloed op die reënkringloop, sneeu, wind en temperatuur hê. Dit beïnvloed weer die verskeidenheid voedselsoorte wat jy geniet, die soort klere wat jy dra en miskien selfs die boustyl van jou huis.
Die Koenloen, die Tiënsjan, die Hindoekoesj, die Himalajas en ander bergreekse in Sentraal-Asië strek byvoorbeeld van oos na wes. Hierdie stille reuse stuit die koue, droë winde wat van Siberië af waai en keer die warm, nat winde wat van die Indiese Oseaan af waai. Noord van hierdie berge heers daar dus ’n heeltemal ander klimaat as aan die suidekant, en dit raak die lewe van miljoene mense.
’n Bedreigde omgewing?
Verbasend genoeg beskadig die mensdom die skoonheid en prag van die berge. Die losse en bere wat eens op ’n tyd in die Alpe voorgekom het, is weg omdat daar onbeheerd op hulle jag gemaak is. Vrugbare bogrond word weens ontbossing van baie hange af weggespoel. Nywerheidsbesoedeling en uitgebreide toerisme het ook ’n ernstige invloed op die delikate ekologiese balans van sommige bergstreke.
Gelukkig is berge ’n permanente kenmerk van die aarde se landskap. (Vergelyk Genesis 49:26.) Opmerkingswaardig is die feit dat die Bybel die toekomstige nuwe wêreldregering met ’n berg vergelyk. Hierdie bergagtige regering sal die aarde vul en alle skade herstel wat aan die planeet aangerig is (Daniël 2:35, 44, 45). Ons het dus die versekering dat ons vir ewig hierdie meesterstukke in die skepping sal kan geniet.
[Prent op bladsy 16 and 17]
Mont Blanc, in Frankryk, 4807 meter
[Erkenning]
M. Thonig/H. Armstrong Roberts
[Prent op bladsy 18]
Die berg Foedji, in Japan, 3776 meter
[Erkenning]
A. Tovy/H. Armstrong Roberts