Berge—Wie sal hulle red?
IN 2002 is ’n vierdaagse Aardwye Bergberaad in Bisjkek in Kirgistan (Sentraal-Asië) gehou. Dit was die eerste internasionale vergadering wat aan kwessies in verband met die berge gewy is. Die borge het die hoop uitgespreek dat 2002 “die begin [sal wees] van ’n nuwe era, een wat die werklike waarde van berge erken”.
Tydens die beraad is die “Bisjkek-bergbeleid” eenstemmig aangeneem, wat riglyne bevat vir almal wat betrokke is by die bewaring van berge. Die verklaarde doel daarvan was om “die lewe van bergbewoners te verbeter, om berg-ekosisteme te bewaar en om berghulpbronne verstandiger te gebruik”.
’n Mate van vooruitgang is gemaak. ’n Wêreldwye netwerk van nasionale parke beskerm gebiede met besondere natuurskoon en biodiversiteit. In baie dele van die aarde het bewaringsgroepe in ’n mate daarin geslaag om omgewingsverwoesting te beperk. Iets wat uit die Bergberaad in Bisjkek voortgespruit het, was ’n ferm verbintenis om ontslae te raak van die kernafval wat op die berge van Kirgistan gestort is. Hierdie uiters giftige stof het die watervoorraad van 20 persent van die mense in Sentraal-Asië bedreig.
Nietemin bly die probleme wat met die bewaring van die wêreld se berge gepaardgaan, ontsaglik groot. In 1995 het Kanadese owerhede byvoorbeeld ’n “Woudkode” ingestel om die oorblywende reënwoud van Brits-Columbië te beskerm. Nogtans het ’n latere ondersoek aan die lig gebring dat die houtkappersbedryf oor die algemeen die kode geïgnoreer het en voortgegaan het om die bome van selfs die steilste hange af te kap. Die kode is in 1997 verslap, aangesien die houtnywerheid beweer het dat dit te beperkend is.
Handelsbelange is nie die enigste struikelblok nie. Die slotverklaring van die Bisjkek-beraad het erken dat oorlog, armoede en honger alles bydra tot die onverbiddelike erosie van berg-ekosisteme. Die berge, tesame met die res van die planeet, sal aanhou ly totdat al hierdie onderliggende oorsake van habitatvernietiging tot ’n einde kom.
God se besorgdheid oor sy skepping
Ten spyte van hierdie somber beeld het ons rede om optimisties te wees. God die Almagtige is nie onbewus van wat met sy skepping gebeur nie. Die Bybel beskryf hom as die Een “aan wie die pieke van die berge behoort” (Psalm 95:4). Hy gee ook om vir die fauna van die berge. Volgens Psalm 50:10, 11 sê Jehovah: “Aan my behoort al die wilde diere van die woud, die diere op ’n duisend berge. Ek ken al die voëls van die berge goed, en die diere wat op die oop veld wemel, is by my.”
Het God ’n manier om die wêreld se bedreigde habitats te red? Ja, hy het! Die Bybel sê dat hy “’n koninkryk [opgerig het] wat nooit vernietig sal word nie” (Daniël 2:44). Jesus Christus, die aangestelde Heerser van hierdie hemelse regering, stel opreg belang in die aarde en die mense wat daarop woon (Spreuke 8:31). Sy heerskappy sal vrede op die aarde tot stand bring, ’n einde maak aan alle misbruike en die skade herstel wat die planeet aangedoen is.—Openbaring 11:18.
As jy smag na so ’n oplossing, sal jy ongetwyfeld aanhou bid dat ‘God se koninkryk kom’ (Matteus 6:9, 10). Sulke gebede sal nie onbeantwoord bly nie. God se Koninkryk sal binnekort ’n einde maak aan ongeregtigheid en die skade aan die planeet ongedaan maak. Wanneer dít gebeur, sal die berge in figuurlike sin “met vreugde uitroep”.—Psalm 98:8.