Berge word bedreig
“Dit is in elkeen se belang om te verseker dat die wêreld se bergstreke aanhou om hulle rykdom vir talle toekomstige geslagte te voorsien.”—KOFI ANNAN, SEKRETARIS-GENERAAL VAN DIE VERENIGDE NASIES.
MAJESTUEUS, onwankelbaar en magtig is woorde wat in ’n mens se gedagte opkom wanneer jy aan berge dink. Wat kan ’n bedreiging vir hierdie reuse van die natuur wees? Party vind dit dalk moeilik om te glo dat die aarde se berge in gevaar kan wees. Die werklikheid is egter dat ons berge wel bedreig word. Bewaringsgesindes meld etlike spesifieke probleme wat die skanse van die berge se ekosisteme kan ondergrawe. Dit is almal ernstige probleme, en dit word ernstiger. Kom ons kyk na ’n paar van die probleme wat berge bedreig.
◼ ONTWIKKELINGSPROJEKTE. Omtrent 25 persent van die wêreld se bergstreke word bedreig deur paaie, mynbedrywighede, pypleidings, damme en ander ontwikkelingsprojekte wat vir die volgende 30 jaar beplan word. Wanneer paaie gebou word, kan dit erosie van steil hellings veroorsaak, en die paaie voorsien toegang vir houtkappers, wat baie meer skade kan aanrig. Mynbedrywighede haal jaarliks ongeveer tienmiljard ton erts uit die grond, meestal uit berge, en laat selfs meer afvalprodukte agter.a
◼ AARDVERWARMING. “Sedert 1990 is die nege warmste jare tot nog toe aangeteken”, sê die Worldwatch-instituut. En berghabitats word veral geraak. Gletsers smelt en sneeupieke krimp—’n proses wat, volgens party wetenskaplikes, waterreserwes sal raak en tot ernstige grondverskuiwings sal lei. Tientalle gletsermere in die Himalajas dreig nou om hulle oewers te oorstroom en vernietigende vloede te veroorsaak, ’n verskynsel wat reeds herhaaldelik in die laaste paar dekades plaasgevind het.
◼ BESTAANSBOERDERY. Bevolkingsgroei dwing mense om onvrugbare gebiede te bewerk. Volgens een studie word daar nou in bykans die helfte van Afrika se bergstreke met gewasse of vee geboer—10 persent vir gewasse en 34 persent vir weiding. Dié soort boerdery is dikwels nie winsgewend nie, aangesien hierdie hooglande nie geskik is vir die verbouing van gewasse nie.b En oorbeweiding deur beeste kan maklik die delikate plantegroei vernietig. ’n Onlangse studie toon dat slegs 3 persent van alle berggebiede geskik is vir volhoubare landbou.
◼ OORLOG. Die toename in burgeroorloë het talle bergomgewings verwoes. Rebelle gebruik skuilplekke in die berge as ’n basis vir hulle operasies. ’n Verslag deur die Verenigde Nasies bereken dat 67 persent van Afrika se bergstreke deur “gewelddadige menslike konflikte” geraak word. Daarbenewens het party hooglande sentrums van dwelmvervaardiging geword, wat dikwels tot gewapende konflikte sowel as die agteruitgang van die omgewing lei.
Moet meer gedoen word?
Die gevolge van die mens se verwoesting van die berge word reeds gesien. Oorstromings, grondverskuiwings en watertekorte is maar ’n paar van die tekens dat alles nie in orde is nie. Regerings het hiervan begin kennis neem. Woude word weer aangeplant, en houtkappery is verbode in party gebiede. Nasionale parke is gestig om die pragtigste natuurskoon en die mees bedreigde natuurlike habitats te beskerm.
Maar selfs beskermde gebiede ondervind omgewingsdruk. (Sien die venster “Party vestings van die natuur”.) Die vinnige tempo waarteen spesies uitsterf, is ’n teken dat die stryd om bergvestings te beskerm, nog nie gewen is nie. Deskundiges is bewus van die probleme, maar geen grootskaalse poging is al aangewend om ongerepte gebiede te beskerm nie. “Ek voel bemoedig deur ons wetenskaplike kennis”, sê die bekende bioloog E. O. Wilson, “en ontmoedig deur die verwoesting van die vernaamste reservoirs van biodiversiteit.”
Maak die verlies van biodiversiteit werklik soveel saak? Volgens baie bioloë hou die bewaring van die aarde se biodiversiteit groot voordeel in vir die mens. Hulle noem as voorbeeld die rooskleurige maagdeblom van die hooglande van Madagaskar, ’n gebied met ’n ryk skat van biodiversiteit. Hierdie plant het ’n belangrike geneesmiddel in die stryd teen leukemie voorsien. En baie dekades al verskaf die kinaboom, wat inheems is aan die Andesgebergte, kinien en ander geneesmiddels wat gebruik word om malaria te behandel. Baie ander plante wat in bergstreke groei, het al gehelp om miljoene menselewens te red. Party van hierdie bergplante word weliswaar met welslae in niebergagtige gebiede gekweek. Maar wat kommerwekkend is, is die feit dat die grootskaalse verwoesting van bergplante kan veroorsaak dat die mens onontdekte hulpbronne met potensiële geneeskundige en voedingswaarde kan verloor sonder dat hy daarvan bewus is.
Kan die huidige verwoestende kragte op die een of ander manier gestuit word? Kan die skade ongedaan gemaak word? Sal die berge aanhou om vestings van natuurskoon en biodiversiteit te wees?
[Voetnote]
a Die vervaardiging van net een goue ring het gemiddeld drie ton afval tot gevolg.
b Daarenteen het plaaslike bergbewoners deur die eeue heen geleer om bergstreke te bewerk sonder om die omgewing te skaad.
[Venster/Prente op bladsy 7]
Fauna van die Hooglande
Die bergleeu, ook bekend as die poema, word hoofsaaklik in die berge gevind, soos sy naam aandui—meestal in die Rotsgebergte en die Andes. Soos baie van die groot roofdiere het die bergleeu geleidelik wegbeweeg na meer ontoeganklike gebiede weens die bedreiging deur mense.
Die katbeer word uitsluitlik in die Himalajagebergte (selfs op die laer hange van Mount Everest) aangetref. Maar ten spyte van sy afgesonderde habitat voer die katbeer ’n stryd om oorlewing weens die vernietiging van die bamboesbosse waarvan hy lewe.
[Erkenning]
Cortesía del Zoo de la Casa de Campo, Madrid
Die bruinbeer het voorheen regoor Europa, Asië en Noord-Amerika voorgekom. In Europa is hulle deesdae beperk tot ’n paar afgesonderde berggebiede, hoewel hulle algemener voorkom in die Kanadese Rotsgebergte, Alaska en Siberië. In die Verenigde State het hulle getalle gedurende die afgelope eeu met 99 persent afgeneem.
In die berge is die goudarend die koning van die lug in die grootste deel van die Noordelike Halfrond. Ongelukkig het hulle getalle in Europa tot minder as 5 000 pare afgeneem omdat hulle voorheen ‘’n gehate voël’ was.
Die reusepanda se “blote bestaan hang af van drie noodsaaklike vereistes”, sê die Chinese natuurkenner Tang Xijang. Dit is “hoë berge en diep valleie, digte bamboesbosse en kabbelende strome”. Volgens een skatting is daar minder as 1 600 pandas in die natuur oor.
[Venster/Prente op bladsy 8, 9]
Party vestings van die natuur
Yosemite- Nasionale Park (Kalifornië, VSA) is in 1890 gestig, danksy die onvermoeide werk van die natuurkenner John Muir. Die indrukwekkende natuurskoon lok jaarliks viermiljoen besoekers. Die parkbestuur sukkel egter om ’n balans te vind tussen die beskerming van die natuurlewe en die voorsiening van fasiliteite vir natuurliefhebbers.
Podocarpus- Nasionale Park (Ecuador) bewaar ’n gebied van die Andes-wolkwoud wat die tuiste is van ’n groot verskeidenheid fauna en flora—meer as 600 verskillende voëls en sowat 4 000 plantsoorte. Kinien, ’n geneesmiddel wat al tallose menselewens gered het, is in hierdie gebied ontdek. Soos met baie parke die geval is, word dit deur onbeheerde houtkappery en wilddiefstal bedreig.
Die berg Kilimandjaro (Tanzanië) is een van die wêreld se grootste vulkane en is die hoogste berg in Afrika. Olifante wei op die laerliggende dele, terwyl unieke flora, soos die reuselobelia en die reusekruiskruid, in die hoogliggende gebied voorkom. Onwettige jagtery, ontbossing en beweiding deur beeste is die vernaamste bedreigings.
Teide- Nasionale Park (Kanariese Eilande) beskerm unieke flora wat lewe gee aan die kaal vulkaniese landskap. Bergagtige vulkaniese eilande het gewoonlik delikate ekosisteme, wat negatief reageer wanneer vreemde spesies ingebring word.
Die Pireneë- en Ordesa- Nasionale Park (Frankryk en Spanje) beskerm asemrowende bergnatuurskoon, asook die flora en fauna. Soos ander bergreekse in Europa word die Pireneë bedreig deur ’n skerp toename in ski-oorde en ander toeristegeriewe. Die staking van tradisionele landbou het ook ’n negatiewe uitwerking op die omgewing gehad.
Sǒraksan- Nasionale Park is die gewildste park in die Republiek van Korea. Die pragtige granietpieke en woudbedekte hellings is selfs pragtiger gedurende herfs. Maar omdat dit so gewild is, is party wandelpaaie oor naweke so besig soos stedelike sypaadjies.
[Venster/Prente op bladsy 10]
Bergflora
Echium wildpretii. Gedurende ’n paar weke in die lente groei hierdie pragtige blom so hoog soos ’n mens. Dit kan op ’n hoogte van omtrent 1 800 meter op net twee vulkaniese pieke in die Kanariese Eilande gevind word. Talle bergspesies het ’n soortgelyke beperkte habitat.
Driedissels groei in die Alpe en die Pireneë. Hulle helder voorkoms gee kleur aan die hoogliggende graslande in die laat somer, en die bloeisels bied ’n fees vir insekte.
Engelse iris. Kruisings van hierdie pragtige wilde blom word as tuinplante gekweek. Baie tuinblomme kom van bergflora.
Die bergdonderkruid is een van baie bergplante wat in rotsskeure groei. Dit is inheems aan die berge van suidelike Europa en word ook ’n kanniedood genoem omdat dit so sterk en taai is.
Bromelias. Baie soorte bromelias en orgideë floreer in die wolkwoude van die trope. Hulle groei op hoogtes van tot 4 500 meter.
Die Algerynse iris groei in die Er-rifgebergte en Atlasgebergte van Noord-Afrika, ’n gebied wat as ’n “hot spot” van Mediterreense flora bekend staan.
[Prent op bladsy 6]
Koper en goud word naby die Maoke-berge, Indonesië, ontgin
[Erkenning]
© Rob Huibers/Panos Pictures
[Prent op bladsy 8]
Rooskleurige maagdeblom