Is hierdie pragtige vlinders giftig?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SUID-AFRIKA
HET jy al ooit met bewondering toegekyk terwyl ’n vlinder verby jou fladder? Was jy beïndruk deur sy prag, sy vorm en sy kleure? Soos hy van blom tot blom vlieg, is dit asof hy jou terg. Jy sou hom graag van naderby wou bekyk, miskien selfs ’n foto neem, maar dit lyk asof hy nooit lank genoeg op enige blom stilsit nie—en sy vlerke beweeg gedurig op en af. Maar het jy geweet dat sommige van hierdie bekoorlike wesens glo giftig is?
Kom ons kyk na die twee vlinders op hierdie bladsye—die koningvlinder (regs) met sy groot swart-en-oranjebruin vlerke en die viceroy-vlinder (bo) wat feitlik net soos die koningvlinder lyk, hoewel hy gewoonlik kleiner is. Wat maak dat hulle giftig is, en wat is die nut daarvan?
Vlinders, waarvan daar meer as 15 000 soorte is, gaan deur vier ontwikkelingstadiums om daardie delikaat gevleuelde wonders te word wat ons in ons tuine sien. Een daarvan is die larwe- of ruspestadium. Die ruspe van die koningvlinder lewe van die giftige melkbos en word dus na bewering “’n werklik giftige vlinder wat potensieel dodelik is vir enige voël wat een eet en dit nie weer opbring nie”, skryf Tim Walker in Science News. Die gif is kardenolied, ’n hartgif. Wat van die viceroy-vlinder?
Tim Walker sê: “Meer as ’n eeu lank is daar volgens die konvensionele wysheid geglo dat hierdie gevleuelde insek ’n baie smaaklike liggaam onder die kleure van ’n giftige koningvlinder, Danaus plexippus, wegsteek.” Soos jy in die foto’s kan sien, is die twee vlinders se vorm baie eenders behalwe wat die swart streep aan die binnekant van die viceroy-vlinder se ondervlerke betref. Gedurende die afgelope 100 jaar het evolusioniste geglo dat die viceroy-vlinder ’n vlerkvorm soortgelyk aan dié van die giftige koningvlinder geëvolueer het in ’n poging om die aanvalle van voëls te vermy wat geleer het om van hierdie onsmaaklike vlinder weg te bly. Daar is geglo dat die viceroy-vlinder afgesien daarvan vir voëls smaaklik is.
Wat het navorsers onlangs ontdek? Tim Walker skryf: “Nuwe navorsing toon egter dat die viceroy-vlinder die wetenskaplikes, en nie die voëls nie, met welslae geflous het. . . . Twee dierkundiges het bewys dat die viceroy-vlinder vir kieskeurige voëls net so sleg kan smaak soos die giftige koningvlinder.” Maar waarom is die viceroy-vlinder onsmaaklik, veral aangesien sy larwe nie giftige plante eet nie, maar wilgers, wat nie giftig is nie? Tim Walker skryf: “Dit dui daarop dat viceroy-vlinders op die een of ander manier hulle eie chemiese verdediging vervaardig.”
Trouens, die huidige stand van insektekunde toon dat die deskundiges nog baie het om te leer en dat hulle miskien minder op hulle “konvensionele wysheid” moet staatmaak. ’n Kritikus het die volgende oor ’n onlangse boek oor die koningvlinder geskryf: “Hierdie merkwaardige boek toon vir ons dat hoe meer ons van die koningvlinder leer, hoe minder ‘weet’ ons met sekerheid.”
Dit is eerder soos die Bybel sê: “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.”—Openbaring 4:11.
Dit is duidelik dat die mens nog baie het om van al die lewensvorme op ons aarde te leer. Een fundamentele hindernis in die weg tot juiste kennis is dat baie wetenskaplikes weier om die bestaan en die aktiewe rol van ’n Skepper-Ontwerper te aanvaar. Paul Davies, ’n professor in wiskundige fisika, het in sy boek The Mind of God geskryf: “Daar bestaan geen twyfel nie dat baie wetenskaplikes uiteraard gekant is teen enige vorm van metafisiese . . . argumente. Hulle minag die idee dat daar moontlik ’n God bestaan of selfs ’n onpersoonlike skeppingsbeginsel of grondslag van ’n wese wat die werklikheid sou steun . . . Persoonlik deel ek nie in hulle minagting nie. . . . Ek kan nie glo dat ons bestaan in die heelal ’n blote toeval, ’n ongeluk van die geskiedenis of ’n toevallige afwyking in die groot kosmiese drama is nie.”
Die psalmis Dawid het geskryf: “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade.” Die wyse daarenteen sal nederig erken dat daar ’n Skepper is, soos Jesaja die profeet ook gedoen het: “Want so sê die HERE, wat die hemele geskape het—Hy is God!—wat die aarde geformeer en dit gemaak het—Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word—Ek is die HERE, en daar is geen ander nie.”—Psalm 14:1; Jesaja 45:18.
[Prente op bladsy 16, 17]
Koningvlinder (bo), viceroy-vlinder (bladsy 16). ’n Groot verskil is die swart streep deur die ondervlerke van die viceroy-vlinder. (Die beelde is nie volgens skaal nie)