Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 12/8 bl. 15-17
  • Giere—Moet ek met die stroom saamgaan?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Giere—Moet ek met die stroom saamgaan?
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Oorweeg jou treë
  • Die indruk wat jy ander gee
  • Versigtigheid is nodig
  • Giere—Waarom is hulle so gewild?
    Ontwaak!—1994
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1995
  • Waarom moet ek anders wees?
    Ontwaak!—1992
  • Hoe moet ek dansklubs vir jongmense beskou?
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 12/8 bl. 15-17

Jong mense vra . . .

Giere—Moet ek met die stroom saamgaan?

‘DIS regtig cool!’ ‘Daai’s nou hot!’ Jy ontvang dalk baie komplimente wanneer jou portuurs sien dat jy die nuutste gier volg. Ja, giere trek gewoonlik aandag en lok sterk reaksies uit.

Maar giere is ook so veranderlik soos die weer en is kort van duur, soos iedereen weet. Volgens ’n bemarkingsopname kry ’n gier eers ’n ligte houvas op groepies oormoedige, onkonvensionele jeugdiges. Namate dit begin uitbrei, bevorder vervaardigers en adverteerders dit deur middel van tydskrif-, TV- en radio-advertensies. Musikante en beroemdes word betaal om fatsoenlikheid en aansien daaraan te verleen deur goedkeuring daaraan te heg. Jongmense self bevorder dit soms met sendingywer. As dit byval vind, kan dit hoog in die mode onder “die oorweldigende meerderheid van die tienerbevolking” word.

Tog verloor ’n gier uiteindelik sy aantrekkingskrag en word dit heeltemal vergeet (American Demographics). Maar terwyl ’n nuwe styl, dans of toestel hoog in die mode is, verkeer jy dalk onder groot druk om jou daarna te skik. Baie voel soos die 15-jarige Kim: “Ander laat jou soos ’n uitgeworpene voel as jy anders is.”

Dit kan ’n duur onderneming wees om met die stroom saam te gaan. Beskou byvoorbeeld die speldgier wat ’n paar jaar gelede skielik onder Franse jongmense ontstaan het. ’n Artikel in 1991 in The New York Times het gesê: “Dit is de rigueur [’n moet] om jou bofbalpet of baadjielapelle vol kleurryke, emalje hegspykerspelde so groot soos ’n kolletjie op ’n dominosteen te hê.” Die gier het taamlik onskadelik gelyk—maar jy moes ’n hele R44 vir elke ontwerperspeld betaal.

’n Jongmens kan ook vind dat om “cool” te wees meer beteken as om bloot geld te bestee. In sekere kringe waar dit modieus is om ’n bofbalpet te dra, moet jy ’n pet met die regte kleur kies sodat dit die regte span verteenwoordig, en deel van die gier is hoe jy die pet dra.

Dit is vir baie jongmense ’n ernstige saak. Hulle beskou die navolging van sekere giere as die sleutel tot aansien of aanvaarding. Ons sal nogtans sien dat dit nie altyd verstandig is om met die stroom saam te gaan nie.

Oorweeg jou treë

Giere op sigself word nie kategories deur die Bybel veroordeel nie. Party gewilde bedrywighede is moontlik gepas ondanks die feit dat dit ’n soort gier is. Draf is byvoorbeeld deur party as ’n gier beskou toe dit ’n paar jaar gelede gewild geword het. Maar wie kan die voordele van heilsame, matige oefening ontken?—Vergelyk 1 Timotheüs 4:8.

Party giere wissel nietemin van verspot tot absoluut gevaarlik. Die waarskuwing van ’n ou spreuk is dus gepas: “Wie ervaring kortkom, glo alles wat gesê word; ’n verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee” (Spreuke 14:15, NAV). ’n Verstandige mens is wys en skerpsinnig. Hy volg nie blindweg die een of ander nuwe tendens net omdat dit gewild is nie. Hy lê wysheid aan die dag en oordink die gevolge van sy dade.

Die koste is dalk een faktor wat oorweeg moet word. ’n Kanadese tydskrif vertel van ’n tienermeisie wat in ’n kitskosrestaurant werk. Meer as die helfte van haar swaar verdiende geld word gebruik om met die nuutste kleregiere tred te hou. Die Bybel sê ‘geld bied beskerming’, dit wil sê, dit is ’n belangrike en nuttige middel (Prediker 7:12, NAV). Kan jy bekostig om dit op artikels te verspil wat, soos ’n skryfster dit stel, “ontwerp is om binne ’n seisoen of twee verouderd te wees”?

Liggaamlike gevaar kan nog ’n faktor wees om te oordink. Break dancing was nie so lank gelede nie gewild. Maar dit het baie rugbeserings tot gevolg gehad. Wat van vandag? ’n Artikel in die tydskrif Rolling Stone praat van die wilde streke by dansklubs en rockkonserte, soos “verhoogafduikery” (om van die verhoog af in die arms van juigende bewonderaars te spring), “skouerstampdansery” (“slamming”) en “stamp-en-stoot-dansery” (“moshing”)—“dans”-aktiwiteite wat eintlik niks anders as geweld op die maat van musiek is nie. “Dít het heeltemal buite beheer geraak. Ek bedoel, regtig”, sê ’n jeugdige. Sy beskryf hoe waansinnige “stamp-en-stoot-dansers” (“moshers”) “die dansvloer sal oorneem en sal laat waai, soos ’n golwende maalstroom wat al hoe wyer uitkring, terwyl hulle onverskillig teen enigeen stamp wat toevallig in die nabyheid staan”. Sulke gedrag beïndruk miskien party van jou portuurs. Maar sal jou teenwoordigheid in sulke plekke of sulke dade die guns meebring van God, wat Christene beveel om “goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp en om met gesonde verstand . . . te lewe”?—Titus 2:12, NW.

Wat van die gesondheidsgevare daarvan om gaatjies deur die vel te steek en van tatoeëring—wat ook al hoe gewilder onder jongmense raak? Dokters sê dat tatoeëring mediese risiko’s kan inhou, soos hepatitis en miskien vigs, as gesondheidsmaatreëls nie geneem word nie. Dan is daar die vooruitsig dat ’n mens vir goed versier kan wees lank nadat die gier uit die mode is. Sekere tatoeëring kan weliswaar deur middel van ’n laser verwyder word. Maar laserbehandeling behels etlike pynlike sessies wat elk honderde rande kos.

Die allerdodelikste gevaar is die geestelike skade wat deur die navolging van sekere giere veroorsaak kan word. Baie van hierdie giere draai om beroemde persone—akteurs, atlete, musikante, en so meer. Dit word “cool” om aan te trek en jou te gedra soos wie ook al tans in die kollig is. Maar hoe beskou Jehovah God sulke heldeverering? As ’n vorm van afgodediens. Die Bybel waarsku dus: “Vlug vir die afgodediens” (1 Korinthiërs 10:14). Talle beroemde persone slaan glad nie ag op die Bybel se sedelike standaarde nie (1 Korinthiërs 6:9-11). Aangesien dit die geval is, kan jy jou afvra of dit God hoegenaamd kan behaag as jy optree of aantrek op maniere wat in werklikheid sulke persone vereer.

Die indruk wat jy ander gee

Die Bybel beveel jongmense ook om hulle ouers te eer (Efesiërs 6:2). Sou dit hulle nie oneer aandoen as jy huis toe kom met juwele oral aan jou liggaam of vol tatoeëermerke nie? En wat van ander, soos jou klasmaats? Sou hulle dit moeilik vind om jou ernstig op te neem as jy, indien jy ’n Christen is, later vir hulle oor jou geloof probeer getuig?—Vergelyk 2 Korinthiërs 6:3.

Dieselfde kan gesê word as jy party van die style dra wat deur rap-kunstenaars gewild gemaak is. In baie gebiede is ’n bofbalpet weliswaar net ’n hoofbedekking. Maar in sommige stadsbuurte “speel politiek nou ’n vername rol in die gewildheid van sekere pette” (Entertainment Weekly). Kan dit die indruk gee dat jy die rap-lewenstyl aanhang as jy sekere pette, baadjies, tekkies of ander hip-hop-toebehore dra? Hou in gedagte: Christelike liefde “handel nie onwelvoeglik” of op ’n manier wat aanstoot gee nie.—1 Korinthiërs 13:5.

Beskou wat met ’n groep tienermeisies in ’n konserwatiewe dorp gebeur het wat, volgens die tydskrif People, plaaslike gevoelens geminag het deur in “hip-hop-klere” skool toe te gaan. Een meisie het verduidelik: “Ons sien hierdie klere op MTV [’n kabeltelevisiestasie wat musiekvideo’s vertoon]. Ek het gedink dit lyk mooi.” Maar die modieuse kleredrag het geskille—en rassegeweld—laat ontvlam.

As Christene moet ons ons dus “versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid” (1 Timotheüs 2:9). Dit beteken dat ons die gevoelens en gesindhede van ander in ag moet neem en nie op ons persoonlike voorkeur moet aandring nie. Dit beteken ook dat ons kleredrag en gedrag moet vermy wat ander moontlik as verregaande beskou.

Versigtigheid is nodig

Elke gier moet natuurlik op sigself beskou word. Onthou egter dat Satan die Duiwel die owerste van hierdie wêreld is en dat dit sy doelwit is om ‘iemand te verslind’ (1 Petrus 5:8, NAV; Johannes 12:31; 1 Johannes 5:19). Party gewilde giere is ongetwyfeld deur Satan gebruik om jongmense se aandag af te trek en hulle van God weg te lei. Dit is dus gepas om versigtig te wees.

Dit is gewoonlik nie verstandig om onder die eerstes te wees om enige nuwe tendens of gier te volg nie; dit is baie veiliger om eerder ’n bietjie konserwatief te wees. Daarenteen waarsku die Bybel ook dat ’n mens nie “alte regverdig” moet wees nie (Prediker 7:16). Jy hoef beslis nie stylveranderinge soseer te weerstaan dat jy hopeloos ouderwets, eienaardig of eksentriek lyk nie.

Wanneer ’n gier duidelik met Bybelbeginsels of gesonde verstand bots, is dit verstandig om dit te vermy. Dit is weliswaar nie maklik om anders as jou portuurs te wees nie. Maar die skryfster Sharon Scott vra in haar boek How to Say No and Keep Your Friends: “Is enige van jou vriende so briljant en ken hulle jou so goed dat hulle vir jou moet besluit? Waarskynlik nie!” Sou dit nie beter wees om deur jou ouers se wense en deur jou Bybelopgeleide gewete gelei te word nie? As jy dit doen, sal dit moontlik nie die goedkeuring van al jou portuurs wegdra nie, maar dit sal Jehovah se goedkeuring wegdra, wat, anders as ’n verbygaande gier, ewigdurend kan wees!—Psalm 41:13; Spreuke 12:2.

[Prent op bladsy 16]

Hoe sal jou ouers reageer as jy ’n sekere gier volg?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel