Van ons lesers
Hofsaak Ek móét net my waardering vir die artikel “Christene kom weer voor Jerusalem se hoër hof” (8 November 1994) uitspreek. Ek het dit verskeie kere gelees en was verheug oor wat plaasgevind het. Omdat Ariel Feldman ’n ferm standpunt ingeneem het vir wat reg is, is ’n wonderlike getuienis gelewer.
A. I. B., Brasilië
Batterye Ek werk met batterye om ’n bestaan te maak en wil julle graag bedank vir die nuusbrokkie “Gevaarlike batterye” in “Ons beskou die wêreld” (22 Augustus 1994). Maar een belangrike punt is nie gemeld in die instruksies wat die tydskrif Snow Country gegee het oor hoe om ’n motor met oorleikabels aan die gang te kry nie, en dit is dat die swart kabel die laaste koppeling is wat gemaak moet word.
P. R., Kanada
Dankie vir die veiligheidswenk.—RED.
Die Ontwaak! bring vertroosting Ek het die artikel “Tydskrifte wat praktiese vertroosting bied” (8 Januarie 1995) gelees, en ek het ook ouer nommers van die Ontwaak! met welslae aangebied. Mense is oor die algemeen dankbaar vir enige hulp wat hulle met hulle probleme kan kry. Een vrou het vir my gesê dat haar seun aan aandagtekortsteurnis met hiperaktiwiteit lei. Ek het die nommer “Hoe om moeilike kinders te verstaan” (22 November 1994) by haar gelaat en sy het nog 30 eksemplare gevra om vir haar vriende te gee!
D. Q., Verenigde State
Nadat ek die artikel “Tydskrifte wat praktiese vertroosting bied” gelees het, het ek deur my ouer tydskrifte gesoek om te sien of ek ’n paar kon vind om by professionele mense te laat. Tot dusver het ek ’n dagsorgsentrum, ’n paar begrafnisondernemings, ’n verbeteringskool, ’n staatskool en die distriksraad van onderwys besoek. My tydskrifte het vinnig opgeraak!
D. R., Verenigde State
Die ongetroude lewe Dankie vir die artikel “Die Bybelse beskouing: Wanneer die ongetroude lewe ’n gawe is” (8 Februarie 1995). Waar ek woon, word die huwelik as belangrik beskou; Christenbroers en -susters moedig jou aan om te trou. Ek het nooit veel aan die huwelik gedink totdat ek 30 geword het nie. Toe het ek die behoefte aan ’n metgesel begin voel. Ek is dankbaar teenoor Jehovah dat hy hierdie artikel voorsien het op ’n tyd toe ek gevoel het dat ek nie meer kon uithou nie.
E. M. A., Verenigde State
Ek het twee jaar gelede ’n pionier, ’n voltydse evangeliedienaar, geword, en namate die tyd verbygaan, besef ek al meer hoe bevredigend dit is om Jehovah te dien “sonder om afgelei te word”. Ek het besluit om ongetroud te bly—die artikel het op presies die regte tyd gekom.
G. V., Italië
Giere In julle artikel “Jongmense vra . . . Giere—Moet ek met die stroom saamgaan?” (8 Desember 1994) het julle van tatoeëring melding gemaak. Ek was verbaas dat julle nie verwys het na die opdrag in Levitikus 19:28 nie: “Julle mag . . . geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie.”
L. D., Verenigde State
Hierdie woorde gee ’n mens inderdaad ’n mate van insig in God se beskouing van hierdie saak. Christene is natuurlik nie onder die Mosaïese Wet nie (Kolossense 2:14). Maar dit sou verstandig van iemand wees om hierdie teks in gedagte te hou wanneer hy besluit wat hy in hierdie verband gaan doen. Die gemelde gesondheidsrisiko’s en die indruk wat dit by ander kan wek as ’n mens ’n tatoeëermerk het, is bykomende faktore wat ’n Christen baie ernstig moet oorweeg.—RED.
Ses maande gelede het ek met die stroom van ’n nuwe gier saamgegaan en nou sit ek met ’n tatoeëermerk aan my enkel. Elke keer as ek na my enkel kyk, word ek aan my besluit herinner. Ek kan net wonder watter bedenkinge ander nou moontlik oor my karakter het. Dit bekommer my ook dat ek dalk ander in die gemeente kan laat struikel. Ek sal volgende keer goed nadink voordat ek met die stroom van ’n nuwe gier saamgaan.
S. C., Verenigde State