Ons beskou die wêreld
Hoeveel aborsies?
“Daar vind jaarliks sowat 33 miljoen wettige aborsies ter wêreld plaas, en as al die onwettige aborsies hierby getel word, sal die totaal tussen 40 miljoen en 60 miljoen wees”, sê Buenos Aires se oggendkoerant Clarín. “Ses-en-sewentig persent van die wêreld se bevolking woon in lande waar geïnduseerde aborsies wettig is.” Die aantal lewens wat deur aborsie beëindig word, is meer as die bevolking van Argentinië en dieselfde as om elke jaar die hele bevolking van ’n land soos Brittanje, Egipte, Frankryk, Italië, Suid-Afrika of Turkye uit te wis. Dit is gelyk aan die aantal slagoffers van die hele ses jaar van die Tweede Wêreldoorlog, wat volgens skatting ongeveer 50 miljoen mense was.
Die beste plek om te woon?
Kanada is deur die Verenigde Nasies aangewys as die beste plek ter wêreld om te woon. “Dit is die tweede keer in die vyf jaar wat die indeks opgestel is dat Kanada eerste op die lys van 173 lande staan”, berig The Toronto Star. Dit voeg by dat dit “egter nie beteken dat die Kanadese die hoogste lewenstandaard ter wêreld geniet nie”. Waarom is Kanada as die beste plek beskou? Die verslag, wat deur die VN se Ontwikkelingsprogram voorberei is, beoordeel lande volgens ’n kombinasie van drie faktore: gemiddelde inkomste, opvoedkundige bekwaamhede en verwagte lewensduur. Die Kanadese staan sesde op die lys vir langlewendheid, met ’n gemiddelde lewensduur van 77,2 jaar. Kanada was een van die lande wat die meeste geld aan opvoeding en gesondheidsorg bestee het, asook een van die lande met die meeste motor- en televisie-eienaars.
Brasilië se Indiaangroepe
“Brasilië het steeds 59 Indiaangroepe wat heeltemal afgesonderd is, of wat sporadiese en onvriendelike kontak met wit mense het”, berig O Estado de S. Paulo. “Van hierdie totaal is net nege groepe sedert die begin van die tagtigerjare deur die Nasionale Indiaanstigting geïdentifiseer.” Nuwe stamme word steeds in die Amasonewoude ontdek. Die meeste van die afgesonderde Indiane woon in groepe van 150 mense of minder. Brasilië het 532 Indiaangebiede, 180 verskillende etniese groepe en 260 duisend Indiane. Hulle bewoon altesaam 909 705 vierkante kilometer—ongeveer 11 persent van Brasilië se grondgebied—hoewel die helfte van hierdie gebiede nie vasgestelde grense het nie. In ’n poging om stamme te help om bande te smee en die indringing van die moderne wêreld te oorleef, het antropoloë stamlede geleer hoe om ’n videokamera te gebruik sodat hulle hulle dorpsgebruike kan opneem en die videobande vir ander nabygeleë groepe kan wys. Nadat hulle onlangs films van mekaar gesien het, het die Waiapi- en Zo’é-stamme mekaar ontmoet. Aangesien hulle soortgelyke dialekte praat, het hulle oor hulle legendes en rituele gesels, sowel as hulle metodes van jag, genesing, die kook- en weefkuns.
’n Suksesvolle operasie
Met “absoluut regmatige trots”, sê die Italiaanse koerant La Stampa, het die geneeskundige span wat pous Johannes-Paulus II in April geopereer het, gesê dat die heupoperasie “nie beter kon afgeloop het nie”. Maar operasies wat op die huidige pous uitgevoer is, het nie altyd die beste resultate opgelewer nie. Toe hy ná die sluipmoordpoging in 1981 geopereer is, moes Johannes-Paulus II twee maande lank in die hospitaal bly om behandeling te ontvang vir ’n uiters ernstige sitomegalovirus-infeksie wat deur bloedoortappings veroorsaak is. Dit is dus geen wonder dat daar hierdie keer, volgens La Stampa, geen oortappings toegedien is nie, hoewel “baie bloed verloor is”. In plaas daarvan sê die koerant dat “die Pous se bloed gedurende die operasie herwin, gesteriliseer en weer oorgetap is”.
Geen vigs-geneesmiddel in sig nie
Die 10de Internasionale Konferensie oor vigs, wat in Augustus verlede jaar in Japan gehou is, het erken dat pogings om entstowwe vir die voorkoming van vigs en geneesmiddels vir die behandeling daarvan te skep meestal misluk het, en niks word teen die einde van die dekade verwag nie. “Ons is slegs aan die begin van die HIV-epidemie in die wêreld”, het dr. James Curran van die Sentrums vir Siektebeheer en Voorkoming in Atlanta, Georgia, gesê. Sowat 17 miljoen mense oor die wêreld is glo besmet, 3 miljoen meer as die vorige jaar. Dit is jammer dat eenmiljoen van hierdie getal kinders was. As dit teen dieselfde tempo voortduur, sal altesaam van 30 miljoen tot 40 miljoen mense teen die jaar 2000 besmet wees, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie. Gevalle waar vigs ten volle ontwikkel is, het in 12 maande met 60 persent toegeneem, wat die totaal vir die middel van 1994 op viermiljoen bring, met inbegrip van diegene wat gesterf het. Dit kan tot tien jaar duur tussen die tyd van besmetting met HIV en die begin van vigs-simptome. Weens die stadige vooruitgang in die stryd teen die toenemende pandemie is daar aangekondig dat die vigs-konferensie elke twee jaar in plaas van jaarliks gehou sal word, met die volgende vergadering wat vir Julie 1996 in Vancouver, Brits-Columbië, Kanada, gereël is.
Kinders word vroeg in die lewe beïnvloed
“’n Kind se gesindheid ten opsigte van die wêreld hang grootliks af van die mate van troeteling wat hy of sy voor die ouderdom van 3 ontvang, wat weer ’n uitwerking het op die neurologiese ontwikkeling en ’n kind se vertroue en vermoë om probleme vernuftig op te los”, berig The Globe and Mail van Toronto. “Kinders wat in vervalle ekonomiese en sosiale omstandighede lewe se kanse is kleiner om produktiewe, gebalanseerde volwassenes te word.” Volgens dr. Fraser Mustard, die president van die Kanadese Instituut vir Gevorderde Navorsing, sal sulke kinders in alle waarskynlikheid die skool vroeg verlaat en geneig wees om probleme met geweld op te los. “Die mate waarin jy die vermoë ontwikkel om probleme die hoof te bied, het ’n geweldige uitwerking op jou vermoë om jou by die stelsel in te skakel”, het hy gesê. Volgens die Globe toon studies deur die Yale-universiteit en die Universiteit van Montreal dat “sinvolle ouerlike wisselwerking met kinders uiters nuttig is vir ’n kind se fisiese, kognitiewe en emosionele ontwikkeling”.
Wees oplettend terwyl jy reis
Wanneer jy op reis is, moet jy aandag skenk aan wat om jou gebeur. “Bagasiediewe en sakkerollers het ’n onweerstaanbare voorkeur vir verstrooide reisigers”, sê Brasilië se tydskrif Claúdia. En, “as iemand teen jou vasloop of iets op jou klere mors, moet jy op jou hoede wees. Dit is bekende skelmstreke om ’n mens se aandag af te trek.” Pas ook op as iemand jou om inligting of hulp vra. ’n Effense afleiding kan jou jou bagasie kos. Volgens Adriano Caleiro van Sao Paulo se Internasionale Lughawe is spesiale aandag nodig wanneer jy tasse by die vertrektoonbank ingee, dokumente by die huurmotortoonbank teken, by ’n hotel aankom of vertrek, kinders in ’n taxi laai, winkels kyk of ’n koppie koffie gaan drink. Die tydskrif waarsku jou om onmiddellik ander slotte te kry as jou sleutels gesteel word. Die dief sê moontlik dat hy jou bagasie gevind het en gee selfs alles terug wat verlore was, maar hy het dalk duplikaatsleutels laat maak sodat hy later by jou huis kan inkom.
Geen kwaad bedoel nie
Besoekers aan Japan wat tekens sien wat sê: “Geen buitelanders nie”, moenie ontsteld en kwaad word nie, sê die Hulplyn in Japan wat klagtes ondersoek. Die meeste van die tekens is opgesit deur mense wat eintlik behulpsaam probeer wees. ’n Voorbeeld van hierdie soort sienswyse is hierdie verduideliking wat die eienaar van ’n elektroniese winkeltjie in Tokio se Akihabara-omgewing gegee het: “Aangesien ek geen [vreemde taal] kan praat nie, het ek probleme veroorsaak vir baie nie-Japanneessprekende mense wat in my winkel kom. Ek het gedink die beste wat ek kon doen, is om so ’n teken op te sit sodat mense nie ongerief hoef te verduur nie.” Die Asahi Evening News het berig: “In die meeste gevalle is daar diskriminasie by mense wat baie min kontak met nie-Japannese gehad het en wat derhalwe dink dat die beste manier om die situasie te hanteer, is om nee te sê.”
Geleerde rottevangers
’n Advertensie om 76 vakatures te vul vir die werk as rottejagters het die Bombaaise Stadsbestuur ’n probleem laat ondervind. “Die meerderheid van die stuk of 40-000 aansoekers is gegradueerdes, matrikulante en mense wat kollege verlaat het, terwyl die akademiese kriterium vir ’n rottejagter net ’n laerskoolopleiding is”, berig die Indian Express. “Hoe kan ons ’n gegradueerde as ’n rottejagter aanstel?” het ’n amptenaar gevra. Daar word snags na rotte gesoek en hulle word met ’n knuppel doodgeslaan teen ’n betaling van Rs.100 (net meer as R11) vir elke 25 rotte wat pas doodgemaak is. Die bestuur is op soek na ’n “beter werwingsplan”. Maar dit is nie die enigste probleem waarmee die munisipale bestuur te kampe het nie. Hulle het ook ’n godsdienstige probleem. Lede van die Djaina-godsdiens, sowel as ander wat glo dat dit nie reg is om diere dood te maak nie, koop die werkers om sodat hulle die rotte op grond van menslikheid kan spaar.