Die pous by die V.V.O—’n boodskapper van hoop?
OP UITNODIGING van Sekretaris-Generaal Kurt Waldheim het pous Johannes Paulus II die Verenigde Volke op 2 Oktober 1979 besoek. Hy het altesaam sewe dae in die Verenigde State deurgebring en Boston, New York, Philadelphia, Des Moines, Chicago en Washington, D.C., aangedoen. Wanneer sy motorstoet verbygery het, het Katolieke sowel as nie-Katolieke om die voorste plekke meegeding en op hulle tone gestaan om ’n vlugtige blik op die energieke, 59-jarige pous te kry.
Selfs by die V.V.O., waar die besoeke van beroemde persone iets alledaags is, het die pous se verskyning spesiale belangstelling gewek. Sy toespraak voor die Algemene Vergadering was die hoogtepunt van sy besoek aan Amerika. Van daardie toespraak het ’n hoofartikel in New York se Post gesê: “Hy het gepleit vir ’n nuwe begin, ’n nuwe gesig en herlewing van hoop.”
Het sy boodskap die grondslag gebied vir nuwe hoop? Waarop het hy die aandag gevestig vir die oplossing van die mensdom se probleme?
VOORSTANDER VAN DIE V.V.O.
Dit was op die Verenigde Volke. Die pous het gesê: “Ek hoop dat die Verenigde Volke altyd die vernaamste forum vir vrede en geregtigheid sal bly, die betroubare setel van vryheid van volke en indiwidue in hulle hunkering na ’n beter toekoms.”
Maar nie een keer in sy toespraak van 62 minute het die pous Jesus Christus of die Koninkryk gemeld nie. Aangesien hy die titel “Stedehouer van Christus” aangeneem het, verbaas dit ’n mens, nie waar nie? Die verswyging is veral vreemd in die lig van die feit dat die Bybel nie die Verenigde Volke nie, maar die koninkryk in die hande van Christus Jesus identifiseer as God se manier om vrede op die aarde te bring. Meen jy dat ’n begeerte om nie die nie-Christene en ateïste in die V.V.O. aanstoot te gee nie hierdie verswyging regverdig het?
MENSLIKE BEHOEFTES IS GEÏDENTIFISEER
Die pous het egter die aandag gevestig op ware behoeftes van die mensdom waarin daar nie nou voorsien word nie. Hy het byvoorbeeld gepraat van “die verskriklike ongelykhede tussen skatryk indiwidue . . . [en] die oorgrote meerderheid wat uit armes of, in werklikheid, brandarmes bestaan, met ’n gebrek aan voedsel en werks- en onderwysgeleenthede, en wat in groot aantalle tot honger en siekte gedoem is”.
Die pous het beklemtoon dat hierdie situasie reggestel moet word. “Dit is geen geheim nie”, het hy gesê, “dat die kloof tussen die minderheid skatrykes en die menigte brandarmes ’n baie ernstige simptoom in die lewe van enige gemeenskap is.” Het die pous se eie Kerk egter deur voorbeeld getoon hoe ’n regverdige verspreiding of verdeling van middele kan plaasvind?
Pous Johannes Paulus II het ook gewys op die nodigheid om “godsdiensvryheid en vryheid van gewete” te beveilig. Alle liefhebbers van geregtigheid kan beslis met die pous saamstem toe hy gesê het: “Dit is ’n allerbelangrikste saak dat . . . alle mense in elke nasie en land al hulle regte onder enige politieke bewind of stelsel werklik en ten volle moet kan geniet.” Maar het die Kerk self die voorbeeld gestel deur die godsdiensvryheid van almal te verdedig?
Waar hy nog ’n dringende menslike behoefte beklemtoon het, het Johannes Paulus II die woorde herhaal wat pous Paulus VI 14 jaar tevore voor die V.V.O. se Algemene Vergadering gebesig het: “Geen oorlog meer nie. Nooit weer oorlog nie.” Dit is beslis nodig om ’n einde aan oorlog en voorbereidings vir oorlog te maak! Watter soort voorbeeld het die Katolieke Kerk weer eens op hierdie gebied gestel?
Net ’n paar dae voor die pous die V.V.O. toegespreek het, het hy tydens sy besoek aan Ierland vir Katolieke gesê: “Ek smeek julle op my knieë om julle gewelddadige weë te verlaat en na die weë van vrede terug te keer. . . . Verdere geweld in Ierland sal slegs die land wat julle sê julle liefhet en die waardes wat julle sê julle koester, vernietig.”
Kan ons verwag dat Johannes Paulus se besoeke aan Ierland en die Verenigde State sal help om die ernstige probleme op te los waarmee die mensdom te kampe het? Het die Kerk wat hy verteenwoordig ’n voorbeeld gestel en in die menslike behoeftes voorsien waarop die pous gewys het? Te oordele aan die wyse waarop miljoene opgedaag het om hom te sien en na hom te luister, is dit duidelik dat baie hom as ’n boodskapper van hoop beskou het. Maar is hy? Laat die feite antwoord.