Vlieënde juwele van die trope
Deur Ontwaak!-medewerker in Spanje
DIE eerste besoek aan ’n tropiese reënwoud kan vir sommige reisigers ’n bietjie teleurstellend wees. Hulle wil graag eksotiese diere en voëls sien, maar die meeste van die diere is naglewend en baie van die voëls kan nie in die wouddak gesien word nie.
“Daar is baie tekens dat die woud vol lewe is—geluide kan oral gehoor word”, verduidelik The Mighty Rain Forest. Maar die boek voeg by: “Tensy ’n besoeker bereid is om ’n hele ruk lank geduldig te wag en te verken, sal hy waarskynlik geen diere, behalwe skoenlappers, sien nie.” Gelukkig is die tropiese skoenlappers so kleurvol en pragtig dat dit ’n besoek aan die reënwoud onvergeetlik maak.
Tropiese skoenlappers is opvallend weens hulle grootte, verskeidenheid en kleur. Die groen van die woud is ’n ideale agtergrond vir die helderblou, -rooi en -geel skoenlappers wat in die ooptes rondfladder. Behalwe hierdie tradisionele kleure, kan jy in Suid-Amerika ook skoenlappers met deurskynende vlerke sien. Ander soorte het vlerke waarvan die onderkant selfs pragtiger is as die bokant. Die vaal uilskoenlappers se bruin vlerke word versier deur groot vlekke wat soos uiloë lyk. Daar is egter ’n paar skoenlappers wat op die agtergrond bly, en net iemand met ’n skerp oog sal besef dat hy na ’n insek kyk en nie na ’n dooie blaar nie.
Die buitengewone grootte van tropiese skoenlappers trek dikwels die besoeker se aandag. Party is groter as klein voëltjies en vlieg of sweef net so vinnig. Die groot verskeidenheid skoenlappers wat in die reënwoud voorkom, is ook merkwaardig. Amper ’n duisend spesies word in die Maleisiese trope aangetref en vierduisend spesies—20 persent van al die spesies in die wêreld—kom in Peru voor.
Alhoewel ’n skoenlapper se vlerk ’n groot verskeidenheid kleure vertoon, word hierdie kleure oor die algemeen nie uit baie verskillende pigmente saamgestel nie. Die vlerk bestaan uit ’n deurskynende membraan waaraan duisende klein skubbetjies geheg is, en elke skubbetjie het gewoonlik net een pigment. Verskillende kleure skubbetjies kombineer sodat dit vir die waarnemer na ’n ander kleur lyk, soortgelyk aan die gekleurde beeldelemente (pixels) van ’n televisie.
’n Mens sou dink dat die beste tyd om hierdie skoenlappers te sien, is wanneer hulle oor blomme fladder, maar in die reënwoud is dit gewoonlik nie die geval nie. Die meeste blomme kom hoog in die blaredak voor, en hoewel hulle ’n fees van nektar vir die skoenlappers bied, kan ’n besoeker op die grond hulle nie sien nie. Gelukkig kom mannetjieskoenlappers vir sout af grond toe. Wanneer hulle paar, verloor hulle vermoedelik van hulle noodsaaklike minerale, wat aangevul word deur van die vogtigheid in nat grond op te suig. Gevolglik is ’n klam woudpaadjie of die oewer van ’n stroompie dalk die ideale plek om die skoenlappers van die reënwoud waar te neem.
Jy sal dalk ook ’n klompie skoenlappers sien wat saam sit en rus. Die gewoonte om in ’n groepie te rus, is niks vreemds onder tropiese skoenlappers nie. Party sal jou toelaat om naby hulle te kom terwyl hulle op ’n blaar in die oggendsonnetjie sit en bak. Selfs al lyk dit of sommige soorte omtrent nooit gaan sit nie, kan dit jou besoek aan die reënwoud die moeite werd maak, al sien jy niks anders as kleurvolle skoenlappers wat rondfladder nie.
[Venster/Prente op bladsy 18]
’n Lepidoptera-skoonheidsparade
Hoewel dit moeilik is om te besluit watter skoenlapper of mot die mooiste is, is daar sekere groepe wat beslis uitstaan.a
Swaelstertskoenlappers (Papilionidae)
’n Groot familie van kleurvolle skoenlappers waarvan baie ’n “stertjie” op hulle agtervlerke het. Hulle kan vinnig vlieg en kry hulle kos dikwels uit blomme in die wouddak.
Morpho-skoenlappers (Morphidae)
Hierdie skoenlappers het opvallende metaalblou vlerke en word slegs in Suid- en Sentraal-Amerika aangetref. Hulle metaalglans word deur straalbreking voortgebring. Wanneer hulle hulle vlerke stadig beweeg, verskyn en verdwyn die intense blou kleur afhangende van hoe die lig daarop val.
Voëlvlerkskoenlappers (Ornithoptera)
Hierdie skoenlappers kom van Suidoos-Asië en tropiese Australië. Soos die naam te kenne gee, is hulle reusagtige skoenlappers met vlerke wat groter is as dié van baie voëls. Omdat hulle so pragtig en seldsaam is, is hulle letterlik hulle gewig in goud werd.
Uraniidae-motte (Uraniidae)
Hierdie pragtige insekte, wat as motte eerder as skoenlappers geklassifiseer word, vlieg gedurende die dag rond. Die Chrysiridia madagascariensis, wat van Madagaskar kom, se vlerke vertoon al die kleure van die reënboog, en dit is al as “die mooiste insek ter wêreld” beskryf.
[Voetnoot]
a Skoenlappers en motte behoort tot die orde Lepidoptera.
[Erkenning]
Morpho: Zoo, Santillana del Mar, Cantabria, España; al die ander in die venster: Faunia, Madrid
[Prent op bladsy 16]
Deurskynende vlerke van die “Hypoleria oto”
[Prent op bladsy 16]
Hewitson se persblou skoenlapper. Die onderkant van sy vlerke (links) is net so pragtig soos die bokant (bo)
[Prent op bladsy 16, 17]
Reuse-voëlvlerkskoenlapper (werklike grootte)
[Prent op bladsy 17]
Die uilskoenlapper se ondervlerke
[Prent op bladsy 17]
Droëblaarskoenlapper
[Prent op bladsy 18]
Tropiese skoenlappers wat die souterige vogtigheid van die grond af opsuig
[Foto-erkennings op bladsy 16]
Hypoleria oto: Zoo, Santillana del Mar, Cantabria, España; alle ander foto’s: Faunia, Madrid
[Foto-erkennings op bladsy 17]
Droëblaar- en geel skoenlapper: Zoo, Santillana del Mar, Cantabria, España; alle ander foto’s: Faunia, Madrid