Wie het pyn nodig?
DIE jong vrou was intelligent en oënskynlik normaal. Sy het egter van ander verskil. As ’n student het sy Kanadese neurologiese deskundiges verstom. Selfs wanneer naalde in haar vlees gesteek is of wanneer sy elektriese skokke ontvang het, het hierdie vrou geen pyn gevoel nie.
“Toe”, het Science Digest berig, “is sy op 28 Augustus 1955 in die hospitaal opgeneem omdat sy aan ’n ernstige infeksie gely het; vir die eerste keer in haar lewe het sy pyn gevoel en het sy pynstillers ontvang om dit te verlig. Sy het twee dae later op die ouderdom van 29 jaar gesterf, en ‘n lykskouing het getoon dat sy ’n heeltemal normale brein en senuweestelsel gehad het.”—Julie 1978, bl. 35.
LIGGAAMLIKE PYN KAN NUTTIG WEES
Dwarsoor die aarde is daar honderde, moontlik selfs duisende, mense wat nie fisiese pyn waarneem nie. Wanneer jy terugdink aan die lyding wat gepaard gaan met rugpyn, beserings en dies meer, dink jy moontlik dat dit ’n seën sal wees indien jy nie fisiese pyn kon voel nie. Trouens, jy sê dalk: ‘Wie het pyn nodig?’
Maar gestel jy het jou enkel verstuit. Of veronderstel jy het geval en jou arm gebreek. Of sê nou jy het ’n ernstige ontsteking. Dit sou klaarblyklik goed wees om die sensasie van fisiese pyn te hê sodat jy daarop kon reageer en sonder versuim stappe kon doen om dit te genees. Trouens, die vermoë om pyn te voel (soos wanneer jy per abuis aan ’n warm voorwerp raak) kan ’n reaksie meebring wat ’n ernstige besering voorkom. Immuniteit teen pyn kan inderdaad jou lewe in gevaar stel. Pyn kan vir jou nuttig wees.
PYN WAT NIEMAND BEGEER NIE
Ja, die vermoë om fisiese pyn te voel, kan nuttig wees. Maar wat van verstandelike en emosionele pyn? Hierdie soorte pyn duur dikwels baie langer en veroorsaak baie meer foltering. Medisyne, terapie of chirurgie kan fisiese pyn verminder of beëindig. Maar emosionele en verstandelike pyn kan heeltemal verswakkend wees en kan ’n persoon jare lank baie angs laat verduur.
Teëspoed is beslis ’n oorsaak van emosionele pyn. Dit ontstel sensitiewe, goedhartige persone dikwels baie wanneer hulle sien hoedat hulle medemens ly, moontlik weens armoede, hongerte en ondervoeding. En dit is natuurlik baie pynlik om self sulke ontberings te verduur.
Verdrukking veroorsaak ook emosionele en verstandelike pyn. Die verdrukkers kan byvoorbeeld ’n milieu van groot vrees skep. Dit op sigself kan angs meebring, om nie eers te praat van die groot daaglikse probleme waarmee die verdruktes te kampe het nie.
Siekte kan nog ’n oorsaak vir emosionele pyn wees, selfs vir ’n indiwidu wat nie self siek is nie. Is dit nie ontsettend pynlik om te sien hoe ’n dierbare stadig weens ’n ongeneeslike siekte sterf nie? Dit is veral die geval wanneer die slagoffer baie fisiese pyn verduur.
Die dood van ’n geliefde familielid of vriend kan ook groot emosionele pyn veroorsaak. Israelitiese koning Dawid het blyke van sulke innerlike pyn weens sy seun se dood gegee, want die bedroefde vader het uitgeroep: “My seun Absalom! Absalom, my seun, my seun!”—2 Sam. 19:4.
Geen normale persoon hunker na emosionele en verstandelike pyn nie. En niemand wil gewis intense fisiese pyn verduur nie. Wie wil graag ly? Maar wie kan iets doen omtrent die pyn wat so ’n integrerende deel van die mens se lewe geword het?