Ons beskou die wêreld
’n Unieke planeet
Wetenskaplikes spekuleer al lank oor die moontlikheid dat daar lewe op ander planete bestaan. Daar is aangeneem dat die toestande wat lewe op die aarde moontlik maak ook êrens tussen die honderdmiljarde sterrestelsels van die kosmos moet bestaan. Die Franse tydskrif Le Nouvel Observateur het egter gesê dat dit nou al hoe duideliker word dat “te veel wonderdadige toevallighede die verskyning van die mens op die aarde voorafgegaan het” en dat die jongste ontdekkings aangaande die heelal en die aarde self “die waarskynlikheid, wat reeds baie gering is, dat dieselfde proses êrens anders kon plaasgevind het ontsettend verminder het”. Die tydskrif het in sy kommentaar oor die byna wiskundige onmoontlikheid dat identiese toestande op ’n ander planeet kan bestaan, gesê dat wetenskaplikes wel seker is dat lewe op ten minste een planeet bestaan—ons s’n.
Televisie of koerante vir akkurate nuus?
In Australië neem die televisienuus se geloofwaardigheid af terwyl die koerante s’n toeneem. Volgens ’n studie van die media wat in The Australian gepubliseer is, “[het] televisie in groot mate akkuraatheid, betroubaarheid en regverdigheid teenoor sy onderwerp opgeoffer om ’n ‘goeie storie’ te hê”. Party TV-nuusberigte word byvoorbeeld deur ou videobande uit die argief aangevul om ’n sensasioneler storie te maak. Die studie het bevind dat 260 van die 500 nuusberigte wat ontleed is argiefmateriaal gebruik het. As ’n TV-nuusberig argiefmateriaal bevat, verwag mense gewoonlik dat dit erken moet word, maar dit word nie altyd gedoen nie. Die verslag sê: “Navorsing wat deur die Ray Morgan-navorsingsentrum gedoen is, . . . toon dat die aantal mense wat gemeen het dat televisie die beste medium vir ‘akkurate en betroubare nuus’ is met meer as 12 persentasiepunte gedaal het, van ’n hoogtepunt van 53,7 persent in 1986 tot 41,5 persent” in 1993.
Ouer-kind-verhouding?
Moet ouers hulle kinders as hulle gelykes behandel? Die opvoedkundige Lisandre Maria Castello Branco van die Sao Paulo-universiteit sê in die Brasiliaanse koerant O Estado de S. Paulo: “Ouers is nooit gelyk aan hulle kinders nie, en dit moet duidelik gemaak word. . . . Wanneer die gesagsposisie oop is, voel die jongmens verlore, soos ’n weeskind. ’n Kind verwag altyd dat sy ouers die verantwoordelikheidsin sal hê van ’n volwassene wat hom wil opvoed.”
Keisersneë neem toe
“Tienduisend ginekoloë wys met die vinger na Italië: te veel keisersneë”, berig Rome se koerant Il Messaggero. Wat die aantal geboortes deur middel van keisersneë betref, staan Italië eerste op die lys in Europa en derde in die wêreld na die Verenigde State en Brasilië. Keisersneë het sedert 1980 in Italië verdubbel; nou word byna 1 uit 4 kinders deur middel van ’n keisersnee gebore. Waarom die toename? Volgens Il Messaggero is daar twee redes buiten die mediese redes: Vroue wil pynlike bevallings vermy, en dokters, wat ’n regsgeding vrees, verkies ’n prosedure met minder gevare. Hoewel keisersneë egter lank reeds as veilig beskou word, meen baie dokters dat dit te dikwels gebruik word en nie altyd om goeie redes nie. Carlo Signorelli, van La Sapienza-universiteit, Rome, het gesê: “Dit lyk nie asof daar enige verband tussen keisersneë en perinatale sterftes is nie.” En Luciano Movicelli, van die S. Orsola-hospitaal, Bologna, het gesê: “Die oortuiging dat ’n keisersnee veiliger is, behoort verwerp te word omdat dit heeltemal vals is.”
Pogings om die skyn te bewaar
Wat kan ’n Japannese man doen om die skyn te bewaar as hy nie genoeg familielede of vriende het om ’n troue en begrafnis by te woon nie? Die antwoord: Huur hulle. ’n Bruid en ’n bruidegom probeer gewoonlik om ewe veel gaste te nooi. As die twee groepe egter ongelyk is of een van die twee te klein is om ’n gepaste indruk te maak, kan die bruid of bruidegom in die geheim die dienste van die benrija, letterlik “nuttige mense”, inroep. Benrija doen omtrent enige los werkies, onder andere om as familielede en vriende op te tree. In die geval van begrafnisse word hulle nie as professionele rouklaers gehuur nie, maar as plaasvervangers sodat die bure byvoorbeeld nie sal uitvind dat die afgestorwene se werkmaats nie wou kom nie. Die eienaar van ’n benrija-maatskappy het na bewering in die Mainichi Daily News gesê dat ongeveer 60 van die 100 mense by een uitvoerende bestuurder se begrafnis benrija was. “Die gesin het seker 3 of 4 benrija-maatskappye geskakel”, het hy gesê.
Wat maak onderwysers gewild?
“Selfs al kla baie kinders al hoe meer oor die skool, het die meeste van hulle nog ’n geliefkoosde onderwyser”, berig die Duitse koerant Nassauische Neue Presse. Trouens, 91 persent van meisies en 83 persent van seuns het ’n geliefkoosde onderwyser. ’n Opname onder 2 080 leerlinge tussen 7 en 16 jaar het probeer vasstel watter eienskappe onderwysers by leerlinge gewild maak. Dit sal baie mense dalk verbaas dat “’n onderwyser wat min huiswerk gee nie noodwendig die gunsteling is nie”. Dit is baie belangriker dat die onderwyser regverdig moet wees, ’n sin vir humor moet hê en die lesse interessant moet maak. Daarbenewens waardeer leerlinge onderwysers wat dinge goed kan verduidelik, kalm kan bly en begrip kan toon.
Verwaarloosde kinders
Al hoe meer Australiese ouers los hulle kindertjies by die huis om alleen klaar te kom terwyl die ouers by die werk of met ander bedrywighede besig is. Hierdie kommerwekkende tendens het veral aan die lig gekom sedert die instelling van ’n nasionale telefoniese hulpdiens vir kinders. Daar kom nou ongeveer 35 000 oproepe per week van ontstelde kinders in. Volgens The Sunday Telegraph van Sydney sê die hulpdiens se direkteur: “Ons het al hoe meer kinders wat die probleem in die ergste graad ervaar—kinders wat sonder kos of enige soort ouersorg alleen gelaat word.” Die koerant het gesê: “[Dít] is ’n beskuldiging teen die hedendaagse gesinslewe soos ons dit ken.” Trouens, party van hierdie kinders is nog maar net kleuters; een oproep na ’n noodnommer was van ’n bang vierjarige dogtertjie.
Ons rommel praat
Wat sê ons rommel van ons? Dit vertel ons watter menslike gedragspatrone ons volg. Rommel toon wat ons verbruik en wat ons vermors. “Mense wat alledaagse, voorspelbare lewens lei, mors minder omdat hulle geneig is om net te koop wat hulle nodig het en te verbruik wat hulle koop”, het The Toronto Star gesê. Wanneer daar ’n tekort aan iets is, is dit verbasend dat “mense, snaaks genoeg, baie meer daarvan mors as wanneer dit volop is”, het die Star bygevoeg. Waarom gebeur dit? Mense gaar goed op. Hulle koop meer as wat hulle nodig het en raak dan ontslae van wat hulle nie gebruik nie. Worsbroodjies—baie worsbroodjies—is die algemeenste kos wat in nat rommel gevind word. Papier, ’n oorvloed van papier, veral koerantpapier, beland in stortterreine. Die rekenaareeu het meer papier, nie minder nie, by ons droë rommel gevoeg. Die algemene boodskap van ons rommel is dat ons in ’n gemeenskap lewe wat onnodig mors.
Vigs-entstof “nie winsgewend nie”
Die Wêreldgesondheidsorganisasie se direkteur van navorsing en ontwikkeling, dr. Piot, het aangekondig dat ekonomiese oorwegings veroorsaak het dat party farmaseutiese laboratoriums hulle soeke na ’n vigs-entstof laat vaar het ten gunste van geneesmiddels om vigs-pasiënte te behandel. Daar word berig dat laboratoriums vrees dat, as ’n doeltreffende vigs-entstof ontwikkel sou word, regeringsdruk hulle sou dwing om die produk aan die publiek beskikbaar te stel, en dit sal maar min winsgeleenthede bied.
Ouerlike leiding nodig
Wanneer kinders deur middel van rekenaars kommunikeer, kry hulle dikwels boodskappe vol seksuele insinuasies en openlike voorstelle. Hulle kan ook met transvestiete en homoseksuele kommunikeer. Hulle kan leer hoe om bomme te maak, hoe om kredietkaartnommers te steel en hoe om in ander rekenaarstelsels in te breek asook om misdade te pleeg. Sekere rekenaarspeletjies laat kinders hulle in groot mate aan die werklikheid onttrek, en party raak daaraan verslaaf. Sommige sê “die oplossing lê in daardie uitdagende taak: om hulle waardes te leer”, sê The Washington Post National Weekly Edition.
Moeder op 62
Op 62-jarige ouderdom het ’n Italiaanse vrou geboorte gegee aan ’n kind. Die moeder en kind, ’n seun wat 3,270 kilogram weeg, is gesond. Saam met die gelukwensinge vir die blye gebeurtenis het die geval ook ’n opskudding op die gebied van etiek veroorsaak. Waarom? Die moeder het deur middel van kunsmatige bevrugting swanger geraak. “Ek weet dat hierdie geval ’n storm sal veroorsaak”, het professor Severino Antinori, die ginekoloog wat met die geboorte gehelp het, gesê, “maar dit moet as ’n uiterste maatreël beskou word.”