Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 5/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die hoë koste van voertuigdiefstal
  • Die etedief
  • Vra jou tandarts
  • Besmette reisigers
  • Katolieke misdrywe
  • Vuurwapens in Amerika
  • Indië se paartjies word aangeval
  • Antimuskietradio?
  • Meer bejaardes
  • Voedsel en gesondheid in Brittanje
  • Osoonvernietiging
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1991
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1991
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1991
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 5/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Die hoë koste van voertuigdiefstal

Volgens onlangse syfers wat deur Statistics Canada vrygestel is, is daar in 1992 ’n rekordgetal van 146 846 voertuie in Kanada gesteel. Dit het neergekom op ’n diefstalsyfer van 8,4 vir elke 1 000 voertuie, terwyl die syfer vir die Verenigde State ongeveer 8,3 was, het die koerant The Vancouver Sun gesê. Gesteelde voertuie is selde in hulle oorspronklike toestand terugbesorg, en die verslag het genoem dat “verliese weens motordiefstal, van eiendom uit motors en weens vandalisme aan motors in 1992 op $1,6 miljard [R4,1 miljard] te staan gekom het”. Hierdie verliese is sowat 30 keer groter as dié weens kredietkaartbedrog en -diefstal en ongeveer 500 keer groter as dié wat deur bankrowe veroorsaak word. Steelritte is as die algemeenste rede vir voertuigdiefstalle aangegee. “Byna die helfte van dié wat van motordiefstal aangekla is, was jongmense tussen die ouderdomme van 12 en 17 jaar”, voeg die Sun by.

Die etedief

Een New Yorker was al 31 keer in die tronk vir dieselfde oortreding: hy steel etes. Die 36-jarige man gaan ’n restaurant binne, bestel ’n lekker aptytwekker en ’n heerlike maaltyd en eindig met swart koffie. Wanneer die rekening kom, stel hy die kelner in kennis dat hy nie geld het nie en wag dan om in hegtenis geneem te word. Waarom doen hy dit? “Dit is moeilik daar buite”, sê die hawelose man. Daar is orde in die tronk, jy eet gereeld en die kos is goed, sê hy. Buitendien wil hy nie mense beroof of seermaak nie; hy wil net goed eet en ’n skoon bed en ’n rustige slaapplek hê. Gevolglik pleit hy altyd skuldig in die hof en vra hy altyd die volle vonnis. Om hom in die tronk te hou, kos belastingbetalers $162 (R588) per dag. Trouens, sy onlangse ete van $51,31 (R186,25) het hulle $14 580 (R52 925) uit die sak gejaag om hom vir sy vonnis van 90 dae in die tronk te hou. Hy het die stad New York gedurende die afgelope vyf jaar al oor die $250 000 (R907 500) gekos. “Regsgeleerdes van die Regshulpburo”, sê The New York Times, het “’n klein maar groeiende aantal mense gesien wat geringe misdade begaan met die doel om tronk toe te gaan” vir “beskerming teen armoede of hongerte”.

Vra jou tandarts

Onlangse spekulasie oor die moontlikheid dat die vigs-virus deur tandheelkundige prosedures oorgedra kan word, maak mense senuweeagtig. ’n Studie wat deur die Amerikaanse Vereniging van Mondhigiëniste gedoen is, het aan die lig gebring dat 83 persent van dié wat tandartse besoek, bekommerd is dat hulle ’n aansteeklike siekte sal kry terwyl hulle tandheelkundige sorg ontvang. Volgens die tydskrif American Health moet pasiënte nie alleen seker maak dat die tandheelkundige personeel handskoene en maskers dra nie, maar ook dat hulle ná elke pasiënt nuwes moet aansit. Instrumente wat weer gebruik kan word, moet ná elke pasiënt met hitte gesteriliseer word. American Health sê dat “kouesterilisasietegnieke, soos om die instrumente met alkohol skoon te maak, onvoldoende is”. Die tydskrif sê verder: “As jou tandarts nie bereid is om jou vrae te beantwoord nie, kry ’n ander tandarts.”

Besmette reisigers

Tussen 20 en 50 persent van die viermiljard mense wat elke jaar reis, kry diarree, gewoonlik as gevolg van besmette voedsel of water, skat die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie). Reistamheid, vlugvoosheid of ’n verandering in dieet en klimaat kan tot die probleem bydra deur die reisiger se weerstand te verswak. Om die waarskynlikheid van diarree te verminder, stel die WGO die volgende voor: Sorg dat voedsel behoorlik gekook word en nog warm is wanneer dit opgedien word. As drinkwater dalk onveilig is, moet jy dit kook of met betroubare tablette ontsmet wat in apteke beskikbaar is. Vermy rou kos, met die uitsondering van vrugte of groente wat afgeskil of afgedop kan word. “Onthou die reël”, sê die WGO: “Kook dit, skil dit of los dit.”

Katolieke misdrywe

Volgens The New York Times spoor pous Johannes-Paulus II Katolieke aan om versoening te doen vir die misdrywe wat hulle gedurende die laaste 2000 jaar teen die mensdom begaan het. Die pous het gesê die kerk behoort “meer volkome bewus te word van die sondigheid van sy kinders”. Hierdie misdrywe hou blykbaar verband met die rol wat Katolieke gespeel het gedurende die afgryslike Spaanse Inkwisisie en die Nazi-Slagting. Die Times sê: “Die kwessie van versoening vir Katolieke misstappe is sensitief, want dit impliseer feilbaarheid in die kerk se uitbeelding van sy waarheid.” Die koerant het bygevoeg dat party kardinale gemeen het dat “dit belangriker is om moderne etiese tekortkominge te ondersoek”.

Vuurwapens in Amerika

Volgens ’n onlangse verslag is daar omtrent 200 miljoen vuurwapens in omloop onder die algemene publiek in die Verenigde State. Iemand word gemiddeld elke twee minute geskiet. Elke 14 minute sterf iemand aan ’n koeëlwond. Elke ses uur pleeg ’n kind of ’n tiener met ’n vuurwapen selfmoord. Die verslag sê dat Amerikaanse kinders op enige bepaalde dag ongeveer 270 000 vuurwapens skool toe bring. Die tydskrif Redbook verduidelik dat “byna 50 000 kinders tussen 1979 en 1991 met vuurwapens doodgemaak is—naastenby gelyk aan al die Amerikaners wat in die Viëtnam-oorlog gesterf het”.

Indië se paartjies word aangeval

In Indië word die huwelik “aangeval in wat vinnig besig is om in ’n ‘ek eerste’-gemeenskap te verander”, sê die tydskrif India Today. Meer en jonger paartjies stroom na die howe met hulle geskille. Volgens India Today sê ’n berader, dr. Narayana Reddy, dat “die aantal mense wat gedurende die eerste paar jaar van die huwelik vir professionele advies kom in die laaste vyf jaar verdubbel het”. Party paartjies het binne ’n paar dae ná hulle troue professionele hulp gesoek. In die meeste gevalle is daar niks nuuts omtrent die faktore wat huwelike in Indië verwoes nie: egbreuk, alkoholisme, finansiële en eiendomsgeskille, probleme met skoonfamilie en seksuele kwessies. Stres “het die alomteenwoordige, onsigbare en boosaardige vreemdeling in die Indiese huis geword”.

Antimuskietradio?

Daar word gesê dat ’n radiostasie in Pole ’n innoverende metode bekend gestel het om daardie eeue oue verpesting, die muskiet, te bestry. Die Franse natuurtydskrif Terre Sauvage berig dat duisende radioluisteraars hierdie lastige insekte, gedurende ’n muskietbroeiseisoen in Pole, sonder die gebruik van plaagdoders kon beveg. Hulle het bloot hulle radio’s op ’n stasie met die naam Radio Zet ingestel. Volgens Terre Sauvage saai die radiostasie ’n ononderbroke sein uit wat deur muskiete gehoor kan word, al kan mense dit nie hoor nie. Die uitsending was ’n elektroniese nabootsing van die hoëfrekwensiegeluide wat muskietvretende vlermuise maak—genoeg om enige muskiet binne hoorafstand te verjaag.

Meer bejaardes

Die mensdom word ouer. World Health, ’n tydskrif van die Wêreldgesondheidsorganisasie, verduidelik dat “die teenswoordige wêreldtotaal van 360 miljoen mense van 65 jaar en ouer elke maand met 800 000 individue vermeerder”. Daar word verwag dat die aantal bejaardes gedurende die volgende 30 jaar ’n beraamde 850 miljoen sal bereik. Europa en Noord-Amerika ondervind ’n dramatiese toename in die persentasie ouer mense as gevolg van “voortdurende lae vrugbaarheid en al hoër verwagte lewensduur” in daardie lande, sê World Health. Die tydskrif noem dat “Swede nou die ‘oudste’ bevolking ter wêreld het, met meer as 18% van sy burgers wat 65 of ouer is”.

Voedsel en gesondheid in Brittanje

“Die Britte is van die ongesondste Europeërs”, beweer die Britse tydskrif The Economist. ’n Onlangse studie het getoon dat omtrent die helfte van die volwassebevolking van Brittanje “klinies oorgewig of geset [is]—wat moontlik verduidelik waarom die Britte, naas die Tsjegge, vatbaarder vir hartsiektes as enige ander nasie is”, sê The Economist. Die regering se Komitee oor die Mediese Aspekte van Voedselbeleid het ’n aantal aanbevelings gemaak om die situasie te verbeter. Sy voorstelle het ingesluit dat meer “vis, brood, groente en aartappels” geëet moet word en dat die inname van sout, suiker en vet verminder moet word.

Osoonvernietiging

Die OMM (Internasionale Meteorologiese Organisasie) in Genève, Switserland, voorspel dat die vernietiging van die aarde se osoonlaag sal aanhou versnel tot ten minste die einde van die 20ste eeu, ondanks pogings om skade aan dié beskermende laag te verminder. Volgens die nuusdiens France-Presse is die OMM se gevolgtrekkings gebaseer op die waarnemings van 266 wetenskaplikes gedurende die laaste vier jaar in 29 verskillende lande. Maatreëls wat tot dusver geneem is om industriële vrystellings wat die osoon beskadig te verminder, begin blykbaar die gewenste uitwerking hê. Maar die OMM se verslag het aan die lig gebring dat daar ’n “wêreldwye en ’n voortdurende afname” in die suiwerheid van die aarde se stratosferiese osoonlaag is en het gewaarsku dat die kritiekste tydperk “nog vir ons voorlê”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel