Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 6/12 bl. 26-27
  • Eetbare insekte—’n Onvergeetlike maaltyd

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Eetbare insekte—’n Onvergeetlike maaltyd
  • Ontwaak!—2012
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Fees in die woud
  • ’n Veilige en gesonde kossoort
  • Die hoofgereg
  • Die verstommende wêreld van insekte
    Ontwaak!—2000
  • Mopaniewurms, enigiemand?
    Ontwaak!—2007
  • Die pragtige mot
    Ontwaak!—2001
  • Kitskos vir insekte
    Ontwaak!—2010
Sien nog
Ontwaak!—2012
g 6/12 bl. 26-27

Eetbare insekte—’n Onvergeetlike maaltyd

’N PAAR vriende het my en my vrou genooi vir ’n ete in ’n stil buurt in Bangui, die hoofstad van die Sentraal-Afrikaanse Republiek.

“Kom binne! Ek hoop julle is honger!” sê een van hulle toe ons daar aankom. Nog voordat ons instap, ruik ons die aanloklike geur van uie, knoffel en speserye en hoor ons hoe ons vriende opgewonde gesels. Ons gasvrou, Ella, vertel ons van die ete wat voorberei word.

“Vir baie mense in Sentraal-Afrika is insekte ’n belangrike bron van proteïen”, sê Ella. “Maar ons eet dit nie omdat ons moet nie; ons eet dit omdat dit so lekker is.” Sy voeg by: “Vandag eet ons makongo—ruspes.”

Dit moes ons nie verbaas het nie. Hoewel insekte vir aandete dalk nie in almal se smaak val nie, word party insekte in meer as honderd lande as ’n lekkerny beskou.

’n Fees in die woud

’n Verskeidenheid insekte word in die Sentraal-Afrikaanse Republiek geëet. Gedurende die reënseisoen wemel termiete wat bobo genoem word, om termiethope of, in stede, om elektriese ligte. Wanneer daar in die aand ’n storm was, hardloop kinders om mandjies vol termiete bymekaar te maak—dikwels terwyl hulle sommer ’n paar met opgewonde uitroepe in hulle mond stop. Termiete word in die son gedroog, met sout gerooster en met sterk peper gegeur of kan in bredies of souskluitjies gekook word.

Kindagozo verwys na groen sprinkane wat tydens die droë seisoen in die gebied voorkom. Die mense van Sentraal-Afrika rooster die sprinkane of kook die insekte stadig in water nadat die bene en vlerke verwyder is.

Daar is ook verskeie ruspesoorte wat regoor die land geëet word. Ons vriende het ons genooi om die larwes van die Imbrasia te kom eet. ’n Groot bruin mot lê sy eiers in die sapeleboom. Nadat die ruspes uitgebroei het, samel die dorpenaars dit in en word dit gewas. Die ruspes word dan stadig gekook saam met tamaties, uie en ander bestanddele, afhangende van die gesin se resep. Party word gepreserveer deur dit te droog of te rook. En dit kan tot drie maande lank gehou word.

’n Veilige en gesonde kossoort

Hoewel nie alle insekte eetbaar is nie, is talle veilig om te eet as dit ingesamel word in gebiede waar geen plaagdoders en kunsmis gebruik word nie en as dit reg voorberei word. Versigtigheidshalwe moet eetbare insekte eerder vermy word deur diegene wat allergies is vir hulle mariene eweknieë, skulpvis, wat ook geleedpotig is. In teenstelling met die meeste skulpvis, wat verrottende stowwe eet, eet die meeste eetbare insekte slegs skoon blare en plante wat mense andersins nie sou kon verteer nie.

Ruspes is nou wel klein, maar hulle het ’n ongelooflik hoë voedingswaarde. Volgens die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-Organisasie bevat gedroogde ruspes meer as dubbel soveel proteïen as beesvleis. Voedseldeskundiges ondersoek insekte opnuut as ’n voedselbron in ontwikkelende lande.

Afhangende van die ruspesoort kan net 100 gram daarvan voorsien in ’n groot deel van ’n mens se daaglikse behoefte aan belangrike minerale soos fosfor, kalium, kalsium, magnesium, sink en yster, sowel as verskeie vitamiene. Verder kan ’n pasta gemaak word van meel wat bestaan uit gemaalde ruspes, om die dieet van ondervoede kinders aan te vul.

Benewens insekte se hoë voedingswaarde hou dit ook ander voordele in om insekte as ’n voedselbron te gebruik. Dit is omgewingsvriendelik. Min water is nodig en min kweekhuisgasse word vrygestel. En boonop is die insameling van insekte ’n natuurlike vorm van plaagbeheer.

Die hoofgereg

Terwyl ons gewag het dat hierdie spesiale maaltyd bedien word, het ons onthou dat sprinkane rein was volgens die Wetsverbond wat aan die eertydse nasie Israel gegee is. Knegte van die ware God, soos Johannes die Doper, het dit geëet (Levitikus 11:22; Matteus 3:4; Markus 1:6). Nogtans is ons nie altyd gretig om iets te eet waaraan ons nie gewoond is nie.

Ella het uit die kombuis gekom met ’n stomende hoofgereg wat almal se monde laat water het. Saam met ons was daar agt Sentraal-Afrikane met breë glimlagte, en voor ons was daar twee groot bakke vol ruspes. As besoekers is ons eerste bedien, en ’n groot porsie is vir ons opgeskep.

Ons kan sê: “As jy ooit die voorreg kry om so ’n goedkoop, heerlike en voedsame maaltyd te geniet, moet jy nie op jou laat wag nie! Dit is ’n maaltyd wat jy nooit sal vergeet nie.”

[Prent op bladsy 27]

Ongekookte “makongo”—ruspes

[Prent op bladsy 27]]

Gaar “kindagozo”—sprinkane

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel