Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 6/8 bl. 4-6
  • Miljoene word slawe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Miljoene word slawe
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die driehoekige roete
  • Die tweede been
  • Aankoms in die Amerikas
  • Die werk en die sweep
  • Verkoop as ’n slaaf
    Ontwaak!—1995
  • ’n Godsdiensdilemma in koloniale Brasilië
    Ontwaak!—2002
  • ’n Kykie na die slaweroete
    Ontwaak!—2011
  • Die lang stryd teen slawerny
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 6/8 bl. 4-6

Miljoene word slawe

TEEN die tyd dat Olaudah Equiano gebore is, het skepe uit Europa al twee en ’n half eeue lank slawe uit Afrika oor die Atlantiese Oseaan geneem. Maar slawerny was baie ouer as dit. Mense oor die hele wêreld is al van antieke tye af tot slawerny gebring, gewoonlik as gevolg van oorlogvoering.

Ook in Afrika het slawerny lank voor die koms van skepe uit Europa gefloreer. The New Encyclopædia Britannica sê: “Slawe is deur die hele geskrewe geskiedenis heen in swart Afrika besit. . . . Slawerny is selfs voor die ontstaan van Islam oral beoefen, en swart slawe wat uit Afrika uitgevoer is, is algemeen deur die hele Islamitiese wêreld verhandel.”

Wat die transatlantiese slawehandel anders gemaak het, was die grootte en duur daarvan. Volgens die betroubaarste skattings het tussen 10 miljoen en 12 miljoen slawe die Atlantiese Oseaan van die 16de tot die 19de eeu oorgesteek.

Die driehoekige roete

Kort ná Christophorus Columbus se seereis in 1492 het Europese koloniste myne en suikerplantasies in die Amerikas gevestig. Die Europeërs het nie net slawe van die plaaslike mense gemaak nie, maar het ook slawe uit Afrika begin invoer.a Die verskeping van slawe oor die Atlantiese Oseaan het in die middel-1500’s as ’n klein stroompie begin, maar teen Equiano se dag, in die middel-1700’s, was dit ’n vloed—ongeveer 60 000 gevangenes elke jaar.

Skepe uit Europa het gewoonlik ’n driehoekige roete gevolg. Hulle het eers suid van Europa na Afrika gevaar. Daarna het hulle die tweede been (die tweede verbinding in die driehoek) na die Amerikas aangepak. Uiteindelik het hulle na Europa teruggevaar.

By elke punt van die driehoek het die kapteins handel gedryf. Skepe het uit Europa vertrek, swaar gelaai met goedere—tekstielware, yster, gewere en alkohol. By hulle aankoms aan die weskus van Afrika het die kapteins hierdie ware verruil vir slawe wat deur handelaars uit Afrika voorsien is. Die slawe is in die skepe geprop, wat dan na die Amerikas vertrek het. In die Amerikas het die kapteins die slawe verkoop en dan ware opgelaai wat met behulp van slawearbeid vervaardig is—suiker, rum, melasse, tabak, rys en, van die 1780’s af, katoen. Die skepe het daarna teruggeseil na Europa, die laaste been van die vaart.

Vir die handelaars uit Europa en Afrika, asook vir die koloniste in die Amerikas, het die handel in wat hulle lewende vrag genoem het besigheid beteken, ’n manier om geld te maak. Vir dié wat slawe geword het—mans en vrouens, vaders en moeders, seuns en dogters—het die handel wreedheid en afgryse beteken.

Waarvandaan het die slawe gekom? Party is ontvoer, soos Olaudah Equiano, maar die meeste is tydens oorloë tussen Afrikastate gevange geneem. Die leweransiers was Afrikane. Die geskiedskrywer Philip Curtin, ’n kenner op die gebied van die slawehandel, skryf: “Die Europeërs het gou besef dat Afrika heeltemal te gevaarlik vir hulle gesondheid was om regstreekse rooftogte van slawe moontlik te maak. Die maak van slawe was ’n funksie wat deur die Afrikane alleen verrig is . . . Die stroom mense wat vir die slawehandel voorsien is, was oorspronklik hoofsaaklik gevangenes.”

Die tweede been

Die tog na die Amerikas was ’n vreesaanjaende ondervinding. Hulle moes in groepe geketting na die kus stap; daar het die Afrikane soms maande lank in steenforte of in kleiner houtkampe weggekwyn. Teen die tyd dat ’n slaweskip onderweg na die Amerikas daar aangekom het, was die gevangenes se gesondheid dikwels reeds swak weens die mishandeling wat hulle verduur het. Maar die ergste het nog voorgelê.

Ná hulle aan boord gesleep, kaal uitgetrek en deur die skeepsdokter of -kaptein ondersoek is, is die mans geboei en na onder geneem. Skeepskapteins het soveel slawe as moontlik in die ruim gepak om hulle wins te vergroot. Vroue en kinders het groter bewegingsvryheid gehad, hoewel dit hulle ook aan seksuele molestering deur die bemanning blootgestel het.

Die lug in die ruim was vuil en het gestink. Equiano beskryf sy indrukke: “Buite en behalwe die aantal mense in die skip, wat so vol was dat elkeen skaars plek gehad het om te draai, het die bedompigheid daarbinne en die warm klimaat ons amper laat versmoor. Dit het veroorsaak dat ons buitengewoon baie gesweet het, sodat die lug gevolglik gou ongeskik was vir asemhaling weens ’n verskeidenheid walglike reuke, en dit het ’n siekte onder die slawe meegebring waaraan baie gesterf het . . . Die geskreeu van die vroue en die gekreun van die sterwendes het ’n afgryslike toneel geskep wat ’n mens jou beswaarlik kan voorstel.” Gevangenes moes sulke toestande deur die hele vaart verduur, wat ongeveer twee maande, partymaal selfs langer, geneem het.

In die verskriklik onhigiëniese toestande het siektes gefloreer. Disenterie- en pokke-epidemies was volop. Die dodetal was hoog. Volgens verslae het 1 uit elke 5 Afrikane tot die 1750’s aan boord van ’n skip gesterf. Die dooies is oorboord gegooi.

Aankoms in die Amerikas

Wanneer die slaweskepe die Amerikas genader het, het die bemanning die Afrikane voorberei om verkoop te word. Hulle het die gevangenes se kettings afgehaal, hulle vet gevoer en hulle met palmolie gesmeer om hulle gesond te laat lyk en om die sere en wonde weg te steek.

Die kapteins het gewoonlik hulle gevangenes laat opveil, maar soms het hulle ’n “stormloop” gereël wat vereis het dat kopers vooraf ’n vasgestelde prys betaal. Equiano skryf: “Sodra die teken gegee word (soos die slag van ’n drom), storm die kopers by die werf in waar die slawe gehou word en kies dié waarvan hulle die meeste hou. Die geraas en lawaai wat hiermee gepaardgaan en die gretigheid wat in die gesigsuitdrukkings van die kopers te sien is, dra by tot die angs van die verskrikte Afrikane.”

Equiano sê voorts: “So word gesinne en vriende harteloos geskei, en die meeste van hulle sal mekaar nooit weer sien nie.” Vir gesinne wat dit op die een of ander manier reggekry het om gedurende die nagmerrie van die vorige maande bymekaar te bly, was dit ’n besondere swaar slag.

Die werk en die sweep

Slawe uit Afrika het op plantasies gewerk wat koffie, rys, tabak, katoen en veral suiker gelewer het. Ander het op die myne gewerk. Party het as timmermanne, metaalwerkers, horlosiemakers, wapensmede en seemanne gewerk. Nog ander was huishulpe—bediendes, verpleegsters, kleremakers en kokke. Slawe het gebiede ontbos, paaie gebou, geboue opgerig en kanale gegrawe.

Slawe is nogtans, ondanks die werk wat hulle gedoen het, as eiendom beskou, en volgens die wet het ’n eienaar absolute eiendomsreg gehad. Slawerny het egter nie net weens die ontkenning van regte en vryhede bly voortbestaan nie. Dit het deur die sweep bly voortbestaan. Die gesag van eienaars en hulle opsigters het afgehang van hulle vermoë om pyn toe te dien. En hulle hét baie pyn toegedien.

Om opstandigheid te ontmoedig en om hulle slawe in toom te hou, het eienaars selfs vir geringe oortredings vernederende fisiese straf toegedien. Equiano skryf: “Dit was baie algemeen [in Wes-Indië] vir die slawe om met hulle eienaar se voorletters gebrandmerk te word en ’n vrag swaar ysterhoeke om hulle nek te hê. Selfs vir die geringste oortredings is hulle met kettings oorlaai, en daar is dikwels ook van foltertuie gebruik gemaak. Die ystermasker, duimskroewe, ens. . . . is soms vir die kleinste foute aangewend. Ek het gesien hoe ’n Neger geslaan word tot van sy bene gebreek was net omdat hy ’n pot laat oorkook het.”

Die slawe het soms besluit om in opstand te kom. Die meeste opstande was egter onsuksesvol en is met genadelose wreedheid gestraf.

[Voetnoot]

a Die vernaamste Europese nasies wat direk by die transatlantiese handel betrokke was, was Brittanje, Denemarke, Frankryk, Nederland, Portugal en Spanje.

[Prent op bladsy 5]

Die dooies is oorboord gegooi

[Erkenning]

Culver Pictures

[Prent op bladsy 5]

Soveel slawe as moontlik is in die ruim gepak

[Erkenning]

Schomburg Center for Research in Black Culture / The New York Public Library / Astor, Lenox and Tilden Foundations

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel