Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 9/8 bl. 12-15
  • ’n Godsdiensdilemma in koloniale Brasilië

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Godsdiensdilemma in koloniale Brasilië
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Verlore siele word gered’
  • “Die enigste opsie”
  • “Slawernyteologie”
  • Die prys van slawerny
  • Wrede slawerny is in stryd met die Bybel
  • Het God die slawehandel goedgekeur?
    Ontwaak!—2001
  • Die lang stryd teen slawerny
    Ontwaak!—2002
  • Keur die Bybel slawerny goed?
    Ontwaak!—2011
  • ’n Kykie na die slaweroete
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 9/8 bl. 12-15

’n Godsdiensdilemma in koloniale Brasilië

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRASILIË

OP 30 November 1996 het verteenwoordigers van die Konferensie oor Wêreldwye Sending- en Evangelisasiewerk, wat deur die Wêreldraad van Kerke georganiseer is, by ’n hawe in Salvador, Brasilië, bymekaargekom. Die plek waar die vergadering gehou is, was betekenisvol. In vorige eeue is miljoene Afrikane by hierdie einste hawe as slawe verkoop. “Hierdie see is met hulle trane gevul”, het een geestelike oor hulle tragiese reis gesê. Op hierdie spesiale gedenkdag is spyt uitgespreek oor die skandelike rol wat die Christelike godsdiens in slawerny gespeel het, soos een spreker dit genoem het. Hoe was godsdiens betrokke by die slawehandel in koloniale Brasilië?

‘Verlore siele word gered’

In 1441—byna 60 jaar voor Brasilië amptelik ontdek is—het die Portugese seevaarder Antão Gonçalves die eerste groep Afrikane gevange geneem en na Portugal verskeep. In die Middeleeue het min mense ’n sedelike beswaar gehad teen die gebruik om slawe van krygsgevangenes te maak, veral dié wat deur die kerk as “heidene” bestempel is. Maar oor die volgende twee dekades het dit nodig geword om die winsgewende slawehandel wat in die vredestyd bedryf is, te regverdig. Party het beweer dat hulle “verlore siele red” deur slawe van Afrikane te maak, aangesien hulle hierdie uitlanders van hulle heidense lewenswyse bevry.

Die Romanus Pontifex-bul, wat op 8 Januarie 1455 deur pous Nikolaas V uitgevaardig is, het amptelike steun aan die reeds florerende slawehandel gegee. Die kerk was dus nie ’n verskansing teen slawerny nie. Inteendeel, sommige geestelikes was “hardnekkige voorstanders” daarvan, sê die Brasiliaanse geskiedkundige João Dornas Filho. Die omstandighede was dus baie gunstig vir slawerny om na Brasilië te versprei toe Portugese koloniste hulle daar gevestig het.

“Die enigste opsie”

In 1549 was Jesuïetesendelinge wat kort tevore daar aangekom het, geskok om uit te vind dat ’n groot deel van Brasilië se arbeidsmag uit slawe bestaan het wat onwettig gevange geneem is. Landeienaars het hulle eenvoudig gevang om op hulle plase en suikerplantasies te werk. “Die meeste mense se gewete kwel hulle weens die slawe wat hulle besit”, het die Jesuïeteowerste Manuel de Nóbrega in 1550 geskryf. En tog het die landeienaars hulle slawearbeiders gehou, al het dit beteken dat die kerk hulle moontlik nie van hulle sondes sou kwytskeld nie.

Maar dit was nie lank voordat die Jesuïete in Brasilië voor ’n dilemma te staan gekom het nie. ’n Tekort aan geld het dit vir hulle moeilik gemaak om hulle liefdadigheidswerk te doen. Een oplossing was om te boer op land wat die regering vir hulle gegee het en die wins daaruit te gebruik om hulle godsdiensbedrywighede te finansier. Maar wie sou op hierdie plase werk? “Die enigste opsie”, sê die Portugese geskiedskrywer Jorge Couto, “was Negerslawearbeid—’n oplossing wat sedelike besware laat ontstaan het en die Jesuïeteowerste in Brasilië verkies het om te ignoreer.”

Die Jesuïete het hulle stem gevoeg by ’n groeiende groep landeienaars wat aangedring het op Afrikaslawe. Die Indianeslawe het dit blykbaar moeilik gevind om by intensiewe boerdery aan te pas, en hulle het dikwels in opstand gekom of eenvoudig die woude ingevlug.a Daarenteen is Afrikane reeds op die suikerplantasies in Portugal se eilandkolonies in die Atlantiese Oseaan beproef. “Hulle het nooit weggehardloop nie, en hulle het nêrens gehad om heen te hardloop nie”, het een skrywer destyds beweer.

Met die seën van die geestelikes is al hoe meer Afrikaslawe dus ingevoer. Brasilië het baie afhanklik geword van die Atlantiese slawehandel. Teen 1768 was daar 1 205 slawe op die plaas Santa Cruz, wat aan die Jesuïete behoort het. Die Benediktyne en die Karmeliete het ook eiendom en ’n groot aantal slawe aangeskaf. “Die kloosters is vol slawe”, het Joaquim Nabuco gesê, ’n 19de-eeuse Brasiliaan wat hom vir die afskaffing van slawerny beywer het.

Aangesien boerdery baie mededingend was, het slawe-eienaars op die kerk se eiendom hulle aan ’n wrede werksroetine onderwerp. Die geskiedenisprofessor Stuart Schwartz sê dat selfs baie van die geestelikes wat beswaar gemaak het teen die mishandeling van slawe, “neergesien het op Afrikane” en “gemeen het dat dissipline, slae en werk die enigste manier was om die slawe se bygelowigheid, luiheid en onbeskaafdheid te oorkom”.

“Slawernyteologie”

Terwyl die geestelikes Christelike waardes probeer versoen het met ’n stelsel wat deur genadelose uitbuiting aangedryf is, het hulle ’n sedelike grondslag vir slawerny geskep—wat een teoloog slawernyteologie noem. Aangesien die beknopte, onhigiëniese ruime van die slaweskepe baie lewens geëis het, het die kerk daarop aangedring dat Afrikane gedoop word voordat hulle na die Nuwe Wêreld vertrek het.b Bekeerlinge het natuurlik selde godsdiensonderrig ontvang voordat hulle gedoop is.—Sien die venster “Kits-Christene?”

Hoe dit ook al sy, lang werksure en ’n drasties verkorte lewensduur het beteken dat slawe min kans gehad het om hulle nuwe geloof te beoefen. Maar kerkleringe oor “die skeiding van die liggaam en die siel” het hierdie probleem minder ernstig laat lyk. ‘Ja, Afrikane het weens wrede slawerny gely, maar hulle siele was vry’, het die geestelikes geredeneer. ‘Slawe moet dus hulle vernedering met blydskap aanvaar as deel van God se plan om hulle vir heerlikheid voor te berei.’

Intussen het die kerk slawe-eienaars herinner aan hulle sedelike plig om hulle slawe toe te laat om kerk toe te gaan, godsdiensfeeste te vier en te trou. Priesters het ernstige mishandeling gekritiseer, maar hulle het ook seker gemaak dat hulle teen die gevare waarsku om te toegeeflik te wees. “Bring die swepe, kettings en voetboeie, alles op hulle tyd, met behoorlike beheer en matigheid, en julle sal sien hoe vinnig julle knegte se opstandigheid onder beheer gebring word”, het ’n Jesuïetepriester gesê.

Min het aan mensliker maniere gedink om bekeerlinge van Afrikane te maak. Uitgesproke voorstanders van slawerny, insluitende die Brasiliaanse biskop Azeredo Coutinho, het eerder die indruk geskep dat slawehandelaars die Afrikane ’n guns doen! In sy kragtige pleidooi vir slawerny wat in 1796 gepubliseer is, het Coutinho gevra: “Sou dit beter en gepaster wees as die Christelike godsdiens toelaat dat [Afrikane] eerder as heidene en afgodsdienaars sterf as in ons heilige godsdiens?” In ’n soortgelyke gees het die vername Jesuïetesendeling António Vieira Afrikane aangespoor: “Wees God ewig dankbaar dat hy . . . julle na hierdie [land] gebring het, waar julle, nadat julle in die geloof onderrig is, as Christene lewe en gered is.”

Die prys van slawerny

Deur slawerny goed te keur, het die kerk gehoop om ‘verlore siele te red’. Dit is ironies dat dit bloot sade van tweedrag gesaai het, want die Afrikane het nog steeds aan hulle godsdiensgebruike en -opvattings vasgeklou. Daarom beoefen baie Brasiliane vandag sinkretisme—’n vermenging van Katolisisme en Afrikastamgodsdiens.

Hoewel die kerk se aanvaarding van ekonomiese noodmaatreëls in koloniale Brasilië destyds vir party na ’n goeie beleid gelyk het, was dit op die lange duur rampspoedig. Al die sterftes en lyding wat dit veroorsaak het, laat vrae ontstaan oor die kerk se sedelike norme, en daar is nie bevredigende antwoorde op hierdie vrae nie. Volgens een geskiedkundige het dié wat slawerny vergoelik het, dieselfde gesindheid gehad as diegene wat deur die profeet Jesaja veroordeel is omdat hulle gesê het: ‘Goed is sleg en sleg is goed.’—Jesaja 5:20.

Wrede slawerny is in stryd met die Bybel

Die Bybel toon duidelik dat Jehovah God dit nie goedkeur wanneer ‘die mens oor die mens heers tot sy nadeel’ nie, en dit sluit wrede slawerny in (Prediker 8:9). God se Wet aan Israel het byvoorbeeld gesê dat iemand wat ’n mens ontvoer en verkoop, die doodstraf moes kry (Eksodus 21:16). ’n Vorm van slawerny het weliswaar onder God se eertydse volk bestaan, maar dit was nie dieselfde as die wrede slawerny wat in hierdie artikel bespreek is nie. Trouens, die feit dat party Israelitiese slawe verkies het om by hulle eienaar te bly wanneer hulle hulle vryheid kon kry, toon duidelik dat slawe onder God se volk nie wreed behandel is nie (Deuteronomium 15:12-17). Dit sal dus ’n ernstige verdraaiing van die Skrif wees om te beweer dat Israelitiese slawerny as regverdiging gebruik kan word vir die onmenslike behandeling wat deur die geskiedenis heen plaasgevind het.c

In sy Woord, die Heilige Bybel, belowe Jehovah God dat alle vorme van slawerny binnekort sal eindig. Hoe bly kan ons tog wees dat mense in God se nuwe wêreld nie in vrees sal lewe onder die tirannieke beheer van ’n wrede eienaar nie. “Hulle sal elkeen [eerder] onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie.”—Miga 4:4.

[Voetnote]

a Volgens The World Book Encyclopedia “het baie Indiane aan Europese siektes gesterf. Baie ander het teen die Portugese geveg en is doodgemaak.”

b Soms is hierdie ritueel herhaal wanneer die slawe in Brasilië aangekom het.

c Aangesien slawerny deel van die ekonomiese stelsel van die Romeinse Ryk was, het party Christene slawe gehad. Maar ongeag wat Romeinse wette toegelaat het, die Skrif toon dat Christene nie hulle diensknegte mishandel het nie. Hulle moes elkeen eerder as ‘’n broer’ behandel.—Filemon 10-17.

[Lokteks op bladsy 15]

JEHOVAH GOD BELOWE DAT ALLE VORME VAN SLAWERNY BINNEKORT SAL EINDIG

[Venster/Prente op bladsy 13]

VIR GOD OF VIR GELD?

Fernão de Oliveira, ’n Portugese geleerde van die 16de eeu het beweer dat hebsug—en nie ywer vir die evangelie nie—slawehandelaars gemotiveer het. Skepe wat met vervaardigde goedere van Europa af gekom het, het hulle goedere by Afrikahawens vir gevangenes verruil. Hierdie gevangenes is dan na die Amerikas geneem en vir suiker verruil, wat dan teruggeneem is na Europa om daar verkoop te word. Hierdie driehoekige handelsroete het groot winste vir die handelaars en vir die Portugese Kroon beteken. Selfs die geestelikes het munt hieruit geslaan, want die priesters het belasting gehef op elke Afrikaan wat hulle gedoop het voor hulle na die Amerikas geneem is.

[Venster op bladsy 14]

KITS-CHRISTENE?

“In die vroeë sewentiende eeu het dit gebruiklik geword om slawe in Afrika voor hulle vertrek te doop”, skryf die geskiedkundige Hugh Thomas in sy boek The Slave Trade. “Die meeste slawe het voor hierdie seremonie hoegenaamd geen onderrigting ontvang nie, en baie, moontlik die meeste van hulle, het voorheen geen kennis van ’n Christengod gehad nie. Hulle doop was dus ’n blote formaliteit.”

Professor Thomas sê dat die gevangenes gewoonlik na ’n kerk geneem is waar ’n kategis—dikwels self ’n slaaf—in hulle eie taal met die slawe oor hulle bekering gepraat het. “Daarna het ’n priester tussen die vreesbevange slawe deurgeloop”, voeg Thomas by, “en aan elkeen ’n Christennaam gegee, wat vroeër op ’n stukkie papier geskryf is. Hy het ook sout op die slawe se tonge gesprinkel en daarna heilige water. Laastens, het hy moontlik deur ’n tolk gesê: ‘Beskou julle nou as kinders van Christus. Julle gaan na Portugese gebied, waar julle oor die Geloof gaan leer. Moet nooit weer aan julle geboorteland dink nie. Moenie honde, rotte of perde eet nie. Wees vergenoeg.’”

[Prent op bladsy 13]

Pous Nikolaas V

[Erkenning]

Culver Pictures

[Prent op bladsy 15]

Openbare lyfstraf word toegedien, uitgebeeld deur die 19de-eeuse ooggetuie Johann Rugendas

[Foto-erkenning op bladsy 15]

Skilderye van slawe op bladsye 13 en 15: De Malerische Reise in Brasilien de Johann Moritz Rugendas, cortesia da Biblioteca Mário de Andrade, São Paulo, Brasil

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel