Verkoop as ’n slaaf
Deur Ontwaak!-medewerker in Afrika
OLAUDAH EQUIANO is in 1745 gebore in wat vandag oostelike Nigerië is. Die lewe in sy dorpie was kenmerkend van daardie tyd. Gesinne het saam gewerk om graan, katoen, jamwortels en boontjies te kweek. Mans het beeste en bokke opgepas. Vroue het gespin en katoen geweef.
Equiano se pa was ’n vooraanstaande stamhoof en regter in die gemeenskap. Dit was ’n posisie waarvoor Equiano eendag in aanmerking sou kom. Dit het nooit gebeur nie. Equiano is, as jong seun, ontvoer en as ’n slaaf verkoop.
Hy is van handelaar tot handelaar verkoop, maar het blankes teëgekom eers toe hy die kus bereik het. Jare later het hy sy indrukke beskryf: “Die eerste voorwerp wat ek by my aankoms by die kus gesien het, was die see en ’n slaweskip wat toe voor anker gelê en vir sy vrag gewag het. Dit het my met verwondering vervul, wat gou in angs omskep is toe ek aan boord gedra is. Ek is dadelik deur van die bemanning ondersoek en in die lug opgegooi om te sien of ek gesond was, en ek was nou oortuig dat ek die wêreld van bose geeste betree het en dat hulle my sou doodmaak.”
Toe hy om hom gekyk het, het Equiano “’n menigte swart mense van elke soort gesien wat aan mekaar vasgeketting was, en elkeen se gesigsuitdrukking het verslaenheid en hartseer te kenne gegee”. Hy was oorweldig en het flou geword. Mede-Afrikane het hom bygebring en probeer troos. Equiano sê: “Ek het hulle gevra of daardie wit mense ons gaan opeet.”
Equiano is per skip na Barbados, toe na Virginië en later na Engeland geneem. Hy is deur ’n skeepskaptein gekoop en het ver en veel gereis. Hy het leer lees en skryf, uiteindelik sy vryheid gekoop en ’n leidende rol gespeel in die beweging om slawerny in Brittanje af te skaf. In 1789 het hy sy lewensverhaal gepubliseer; een van die min verslae (en moontlik die beste) oor die slawehandel deur ’n slagoffer daarvan uit Afrika.
Miljoene ander Afrikane was nie so gelukkig nie. Hulle is weggeskeur van hulle huise en gesinne en per skip in besonder wrede toestande oor die Atlantiese Oseaan weggevoer. Hulle, asook die kinders wat vir hulle gebore is, is soos vee gekoop en verkoop en gedwing om sonder betaling vir die verryking van vreemdelinge te werk. Die meeste het geen regte gehad nie en kon na willekeur deur hulle eienaars gestraf, mishandel of selfs doodgemaak word. Vir die meeste van daardie onderdruktes was die enigste verlossing van slawerny die dood.