Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 7/22 bl. 10-12
  • Waar vigs pandemies is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waar vigs pandemies is
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Dié wat die meeste ly
  • “Die grootste gesondheidsprobleem van ons tyd”
  • Die maatskaplike uitwerking van vigs
  • Wat gedoen word
  • Die oplossing
  • Hulp aan diegene met vigs
    Ontwaak!—1994
  • VIGS—sy tragiese slagting onder kinders
    Ontwaak!—1991
  • VIGS—Wat ouers en kinders moet weet
    Ontwaak!—1991
  • Waarom verduur Afrika soveel lyding?
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 7/22 bl. 10-12

Waar vigs pandemies is

IN MINDER as 15 jaar het vigs sy donker skaduwee oor elke vasteland op die aarde gewerp. In net ’n paar jaar het hierdie biologiese bedreiging pandemiese afmetings aangeneem. Die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie) het geskat dat daar elke dag 5 000 mense dwarsoor die wêreld besmet word. Dit is meer as drie mense elke minuut! Die lande wat die swaarste getref is, is die armer lande, dié van die sogenaamde ontwikkelende wêreld. Die WGO het geskat dat 90 persent van alle HIV-besmettings en uiteindelik 90 persent van alle vigs-gevalle teen die jaar 2000 in hierdie lande aangetref sal word.

Dié wat die meeste ly

Rose was 27 jaar oud en getroud met drie kinders toe haar man skielik siek geword het. Hy het ’n paar maande later gesterf. Die oorsaak van haar man se dood was destyds onseker. Die dokters het tering gediagnoseer. Familielede het gesê dat hy getoor was. Haar man se familielede het Rose se besittings begin vat. Haar skoonfamilie het haar kinders met geweld weggeneem terwyl sy uit was. Rose is gedwing om na haar eie dorp terug te keer. Twee jaar later het sy vomeer- en diarree-aanvalle begin kry. Dit is toe dat sy besef het dat haar man aan vigs dood is en dat sy ook besmet is. Rose het drie jaar later op die ouderdom van 32 gesterf.

Tragiese verhale soos hierdie een is nou algemeen. In party gebiede is hele families en selfs dorpe uitgewis.

“Die grootste gesondheidsprobleem van ons tyd”

Regerings in ontwikkelende lande het ’n groot agterstand wanneer hulle hierdie probleem die hoof probeer bied. Weens ’n gebrek aan geldmiddele en die teenwoordigheid van ander dringende en duur prioriteite is vigs die spreekwoordelike laaste druppel wat die emmer laat oorloop. Die wêreldwye resessie, voedseltekorte, natuurrampe, oorloë, kultuurgebruike en bygelowe vererger net die probleem. Die voorsiening van spesiale sorg wat toerusting en medikasie vir die gereelde infeksies van vigs-pasiënte vereis, is duur. Talle van die groot hospitale is nou oorvol, is verwaarloos en het ’n personeeltekort. Die meeste vigs-pasiënte word nou huis toe gestuur om dood te gaan ten einde plek te maak vir die steeds toenemende aantal ander hulpbehoewende pasiënte. Gekoppel aan vigs is ’n onrusbarende toename in sekondêre infeksies soos tering. Party lande het berig dat teringsterftes in die afgelope drie jaar verdubbel het en dat tot 80 persent van die hospitaalpasiënte met vigs tering het.

Die maatskaplike uitwerking van vigs

Die vigs-pandemie het nie net ’n uitwerking op die gesondheidsorgstelsel nie, maar ook op alle sektore van die ekonomie en die gemeenskap. Tot 80 persent van diegene wat besmet is, is tussen 16 en 40 jaar oud, die produktiefste ouderdomsgroep in die gemeenskap. Die meerderheid van gesinsbroodwinners is in hierdie ouderdomsgroep. Die meeste gesinne is van hulle afhanklik, maar namate hulle siek word en uiteindelik sterf, word die jong kinders en bejaardes sonder sorg agtergelaat. In enige Afrikagemeenskap word ’n kind wie se ouers gesterf het volgens tradisie aangeneem en in die uitgebreide familie opgeneem. Wanneer die ouers egter vandag sterf, is die grootouers en ander agterblywende familielede dikwels te oud of reeds belas omdat hulle in die behoeftes van hulle eie kinders probeer voorsien. Hierdie toestand het tot ’n weeskindkrisis en ’n toename in die aantal straatkinders gelei. Die WGO voorspel dat daar in Afrika besuide die Sahara alleen meer as 10 miljoen kinders is wat teen die einde van hierdie eeu ouerloos sal wees.

Vroue vind die vigs-epidemie dubbel so angswekkend en swaar. Daar word hoofsaaklik van vroue verwag om die siekes en die sterwendes dag en nag te verpleeg—bo en behalwe al die ander huishoudelike takies wat hulle moet doen.

Wat gedoen word

In die vroeë tagtigerjare was baie staatsamptenare ongeïnteresseerd en oorgerus omdat hulle bevooroordeeld was teen die stigma wat met vigs geassosieer word en omdat hulle onbewus was van die tempo waarteen dit sou versprei. In 1986 het die Ugandese regering egter oorlog teen vigs verklaar. Gedurende die laaste nege jaar is Uganda die eer gegee as die land wat “die innoverendste vigs-program tot op hede ontwikkel het”.

Vandag is daar meer as 600 nasionale en internasionale organisasies en agentskappe in Uganda wat betrokke is by die pogings om die verspreiding van vigs te beheer. Hierdie humanitêre agentskappe het ’n netwerk van vigs-opvoedingsentrums oor die hele land opgerig. Openbare bewustheid van die vigs-epidemie word onder mense se aandag gebring deur dramas, danse, liedjies, radio- en TV-programme, koerante en die telefoon. Saam met tuissorg en materiële bystand word berading aan vigs-lyers asook aan weduwees en weeskinders voorsien.

Onder Jehovah se Getuies word sorg vir weeskinders en weduwees as ’n deel van Christenaanbidding beskou (Jakobus 1:27; 2:15-17; 1 Johannes 3:17, 18). Die gemeente neem nie die verantwoordelikheid van familielede om vir hulle eie mense te sorg oor nie. Maar as daar geen naasbestaandes is nie, of as weeskinders en weduwees eenvoudig nie in staat is om vir hulleself te sorg nie, kom die gemeente hulle op ’n liefdevolle wyse te hulp.

Joyce was byvoorbeeld ’n Getuie van Jehovah wat in Kampala, die hoofstad van Uganda, gewoon het. Sy was ’n vigs-slagoffer en is in Augustus 1993 oorlede. Voor haar dood het sy die volgende verslag geskryf: “Ek het as ’n Protestant grootgeword en is later met ’n Katoliek getroud. Ek kon egter sien dat baie mense in my kerk ’n onsedelike lewe lei en ek het gevolglik opgehou om kerk toe te gaan. My oudste suster het die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer, en toe sy kom kuier het, het sy my van al die dinge vertel wat sy in die Bybel geleer het.

“My man was baie gekant teen my studie van die Bybel. Selfs my ouers het my begin teëstaan, veral my pa. Hierdie teenstand het twee jaar lank aangehou, maar dit het my nie ontmoedig nie, want ek was oortuig dat ek die waarheid leer. Toe ek my man vertel dat ek gedoop wil word, was hy woedend. Hy het my liggaamlik mishandel en het gesê dat ek die huis moet verlaat. Ek het gevolglik weggegaan en alleen in ’n klein gehuurde kamer gewoon.

“’n Ruk later het my man my gevra om terug te kom. Kort ná ek teruggekeer het, het hy swak en sieklik begin word. Ek was verbaas, aangesien hy altyd so gesond was. Ons het uiteindelik besef dat hy vigs het. Hy het in 1987 gesterf. Teen hierdie tyd was ek ’n gewone pionier [voltydse evangeliedienaar], en hoewel ek nou ’n weduwee met vyf kinders was, het ek in die pionierdiens gebly.

“Vier jaar later, in 1991, het ek besef dat ek vigs by my man gekry het. Ek het fisies begin agteruitgaan en het ’n veluitslag gekry, vinnig gewig verloor en het aanhoudend griep gehad. Ek het steeds in die pionierdiens aangehou en het 20 Bybelstudies gehou, maar namate my krag afgeneem het, moes ek dit na 16 verminder. Sewe van hierdie studente is uiteindelik gedoop.

“Ek het nooit alleen of terneergedruk gevoel nie, aangesien die gemeente my werklik ondersteun het. Uiteindelik moes ek van party vergaderinge wegbly omdat ek so swak was. Die broers het dit vir my op kasset opgeneem en ek is voortdurend geestelik gevoed. Die gemeentelike ouer manne het ’n rooster opgestel sodat my geestelike susters beurte kon maak om my te versorg en selfs snags by my te bly. Een ding het my egter gekwel—my kinders. ‘Wat sal van hulle word wanneer ek nie meer daar is nie?’ het ek gewonder.

“In Afrika word die eiendom van ’n oorledene dikwels deur die familielede geneem; daarom het ek voortdurend tot Jehovah hieroor gebid. Ek het besluit om my huis te verkoop en kleiner huureenhede te bou sodat my kinders altyd ’n woonplek en ’n gereelde inkomste sal hê. Die broers in die gemeente het my huis vir my verkoop en het daarin geslaag om ’n ander erf te koop, en hulle het die eenhede vir my gebou. Ek het in een van hulle gewoon en het gerus gevoel in die wete dat daar vir my kinders gesorg sal word.

“My familielede was baie kwaad omdat ek die huis verkoop het, en hulle het ’n regsgeding teen my aanhangig gemaak. Die broers het my weer eens gehelp en het die saak vir my gehanteer. Ons het die hofsaak gewen. Hoewel ek nou baie swakker is, hou Jehovah se liefdevolle organisasie en die Koninkrykshoop my aan die gang. As gevolg van my toestand is ek nou in die hospitaal opgeneem. Ek het nog steeds my geestelike susters by my wat dag en nag vir my sorg, aangesien die hospitaal nie genoeg kos en beddegoed kan voorsien nie.”

Ná Joyce ses maande in die hospitaal deurgebring het, is sy huis toe gestuur. Sy het twee dae later gesterf. ’n Pioniersuster in die gemeente, wat self drie kinders het, sorg nou vir haar vyf kinders.

Die oplossing

In Uganda, waar vigs reeds pandemies is, het president Yoweri Kaguta Museveni gesê: “Ek glo die beste manier om op die bedreiging van vigs en ander seksueel oordraagbare siektes te reageer, is om die eerbied, respek en verantwoordelikheid wat elke mens teenoor sy of haar naaste het in die openbaar en ondubbelsinnig te herbevestig.” Kortom, dit is nodig om na die monogame moraliteit binne die huweliksreëling terug te keer. Almal stem saam dat dit die enigste manier is om veilig te wees en die enigste manier is waarop vigs beheer kan word. Min mense glo egter dat so ’n morele standaard bereikbaar is.

Jehovah se Getuies is onder diegene wat nie net glo dat so ’n moraliteit moontlik is nie, maar dit ook beoefen. Hulle glo voorts, soos Joyce, in God se belofte van nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin regverdigheid sal woon (2 Petrus 3:13). In ’n wêreld wat gereinig is van alle goddeloosheid, sal Jehovah God die belofte vervul wat in Openbaring 21:4 opgeteken is: “Hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”

[Prent op bladsy 10]

’n Vader neem sy seun, wat aan vigs dood is, om begrawe te word

[Erkenning]

WHO/E. Hooper

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel