Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 8/8 bl. 16-20
  • Die katakombes—Wat was dit?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die katakombes—Wat was dit?
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die geskiedenis van die katakombes
  • ’n Besoek aan ’n katakombe
  • ’n Vermenging van idees
  • Die Katakombes van Odessa—’n Ondergrondse doolhof
    Ontwaak!—2010
  • Die ondergrondse wêreld van Parys
    Ontwaak!—1999
  • Rome in al sy gedaantes
    Ontwaak!—2001
  • Beelde
    Ontwaak!—2014
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 8/8 bl. 16-20

Die katakombes—Wat was dit?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË

In donker gange, weggesteek diep onder antieke Rome, is die katakombes. Presies wat is dit? Waarom is dit gebou?

DIE katakombes is hoofsaaklik tonnels wat uit rots gekap is om as begraafplase gebruik te word. Daar is gemeen dat die woord “katakombe”, waarvan die betekenis onseker is (moontlik “by die holtes”), ’n pleknaam was wat ’n bepaalde begraafplaas op die Appiese Weg naby Rome beskryf het. Mettertyd is dit vir alle ondergrondse begraafplase gebruik. Selfs al is daar katakombes in baie dele van die lande om die Middellandse See, is dié in Rome die bekendste en ook die grootste—die totale lengte daarvan is na raming etlike honderde kilometers. Tot 60 is al gevind, almal ’n paar kilometer buite die historiese middestad langs die konsulêre hoofweë wat Rome met sy provinsies verbind het.

Dit lyk asof Romeinse Christene gedurende die eerste eeu nie hulle eie begraafplase besit het nie, maar dat hulle hulle dooies langs die heidene begrawe het. Halfpad deur die tweede eeu, toe voorgewende Christene reeds deur heidense denke beïnvloed is, het welgestelde bekeerlinge eiendom vir “Christelike” begraafplase beskikbaar gestel. Om die probleem van ruimte op te los sonder om te ver van die stad af te gaan, het hulle begin grawe.

Die geskiedenis van die katakombes

Die eerste uitgrawings is waarskynlik teen die heuwelhange of in verlate steengroewe gedoen. “Toe”, verduidelik Ludwig Hertling en Engelbert Kirschbaum in hulle boek oor die katakombes, “is daar begin werk aan ’n ondergrondse gang wat nie veel hoër as ’n man is nie. Sytonnels is na links en na regs uitgegrawe, wat later aan hulle eindpunt by ’n ander gang kon aansluit wat parallel aan die eerste een is. Sodoende is ’n eenvoudige netwerk gevorm wat geleidelik al hoe groter en ingewikkelder geword het.”

Die grootste ontwikkeling het gedurende die derde en vierde eeue plaasgevind; teen hierdie tyd was dit wat as die Christelike godsdiens bekend gestaan het heeltemal deur heidense leringe en gebruike besoedel. Met die sogenaamde bekering van Konstantyn in 313 G.J. het die katakombes die eiendom van die Kerk van Rome geword, en party het uiteindelik kolossale afmetings aangeneem. Die Romeinse katakombes kon altesaam honderdduisende grafte bevat het, indien nie miljoene nie.

Gedurende hierdie tydperk is die begraafplase versier en uitgebrei, en nuwe trappe is gebou om dit vir die toenemende toeloop van besoekers toeganklik te maak. Die roem van die vermeende grafte van die pouse en martelare het in so ’n mate versprei (veral in Noord-Europa) dat massapelgrimstogte na die katakombes onderneem is. Met die val van Rome en die eerste barbaarse invalle aan die begin van die vyfde eeu het die hele gebied uiters gevaarlik geword en is die katakombes nie meer as begraafplase gebruik nie.

Gedurende die agtste eeu is die grafte baie beskadig omdat hulle geplunder en gestroop is, nie net deur invallende leërs nie, maar ook, volgens Hertling en Kirschbaum, deur “welwillende Romeinse tussengangers” wat groot hoeveelhede gewyde aandenkings voorsien het aan “Duitse en Frankiese kloostervaders wat baie gretig was om relieke te kry” om die aansien van hulle katedrale en kloosters te vergroot. Omdat pous Paulus I die katakombes nie kon herstel of verdedig nie, het hy die meeste van die oorblywende bene na veiligheid binne die stadsmure gebring, waar groot basilieke later gebou is oor wat glo die oorskot van die “heilige martelare” was. Die katakombes het in onbruik verval en vergete geraak.

Antieke reisgidse van die vyfde tot die negende eeu, wat opgestel is om besoekers na die beroemde grafte te lei, het kosbare leidrade aan geleerdes voorsien wat in die 17de en toe in die 19de eeu die begraafplase, wat in duie gestort het en onder plantegroei verberg was, begin soek, identifiseer en verken het. Sedertdien is baie navorsing en restourasiewerk gedoen, en vandag is dit moontlik om verskeie van hierdie interessante plekke te besoek.

’n Besoek aan ’n katakombe

Ons bevind ons op die Appiese Weg, die pad waarop die apostel Paulus gereis het toe hy as ’n gevangene na Rome geneem is (Handelinge 28:13-16). Hoewel ons net drie kilometer buite die antieke stadsmure is, is ons reeds in die oop veld, omring deur manjifieke denne- en sipresbome wat tussen die monumente en ruïnes van hierdie eertydse besige hoofweg groei.

Nadat ons ons toegangskaartjie gekoop het, klim ons met ’n steil trap af tot omtrent 12 meter onder die grond. Die gids verduidelik dat hierdie katakombe vyf verskillende vlakke het en tot 30 meter diep is, en dieper is daar water gevind. Trouens, Rome is omring deur uitgebreide tufsteenafsettings, ’n sagte en poreuse vulkaniese rots, wat maklik is om uit te grawe maar terselfdertyd sterk en solied is.

Ons loop met ’n nou gang af wat ’n meter wyd en ongeveer 2,5 meter hoog is. Die donkerbruin mure is grof en klam en die pikmerke van die grafgrawers wat hierdie nou tonnels gegrawe het, is nog duidelik daarop sigbaar. Aan albei kante is die grafte al lankal oopgemaak en geplunder, maar in party is daar nog klein stukkies been. Terwyl ons in die donker verder gaan, besef ons dat ons deur duisende grafte omring is.

Die ekonomiesste en praktiesste manier om die dooies te begrawe, was om reghoekige nisse in die mure te grawe, een bo die ander. In hierdie holtes is daar gewoonlik een liggaam gelê, maar partykeer twee of drie. Hulle is toegemaak met bakstene, marmerblokke of terracottateëls wat met kalk verseël is. Baie het geen inskripsie op nie. Hulle kon herken word aan klein voorwerpies wat aan die buitekant neergesit is—’n muntstuk of seeskulp wat in die vars kalk ingedruk is of, soos in die Katakombe van Priscilla, ’n poppie wat van been gemaak is en vermoedelik deur bedroefde ouers daar gelaat is wat oor die ontydige verlies van hulle dogter gerou het. Talle grafte is baie klein, net groot genoeg vir pasgebore babas.

“Hoe kan ons weet hoe oud die katakombes is?” vra ons. “Ons hoef nie te raai nie”, antwoord ons gids. “Sien julle hierdie merk?” Ons buk om na ’n teken te kyk wat op ’n groot terracottateël gestempel is en wat gebruik is om een van die holtes te verseël. “Hierdie baksteenstempel is daarop gedruk toe die teël gemaak is. Die fabrieke, waarvan baie die eiendom van die keiser was, het inligting gestempel op bakstene en teëls wat hulle vervaardig het en sodoende aangedui uit watter steengroef die klei gekom het, wat die naam van die werkswinkel was, asook die naam van die voorman, die konsuls (hoofmagistrate) wat daardie jaar aan die bewind was, ensovoorts. Dit is uiters nuttige inligting wat help om ’n presiese datum vir die grafte vas te stel. Die oudstes dateer uit die middel van die tweede eeu G.J., en die onlangstes uit ongeveer 400 G.J.”

’n Vermenging van idees

Van die mense wat hierdie plekke gebruik het, het blykbaar ’n bietjie kennis van die Heilige Skrif gehad, aangesien ’n aantal grafte met Bybeltonele versier is. Daar is egter geen teken van Maria-aanbidding of van ander temas wat so algemeen in die latere “gewyde” kuns, soos die sogenaamde kruisiging, voorkom nie.

Ons sien ook tekeninge wat nie met die Bybel verband hou nie. “Dis waar”, erken die gids. “Baie tonele in hierdie en ander katakombes is aan heidense kuns ontleen. Jy sien moontlik die Grieks-Romeinse halfgod en held Orfeus; Cupido en Psyche, wat die siel se lot in hierdie en die volgende lewe voorstel; die wingerdstok en die druiweoes, ’n welbekende Dionisiese simbool van ekstase in die hiernamaals. Volgens ’n Jesuïetegeleerde, Antonio Ferrua, is daar verpersoonlikings van abstrakte wesens wat geheel en al uit afgodiese kuns oorgeneem is: die vier seisoene wat deur cupido’s voorgestel is; ingewikkelder tonele wat die vier seisoene van die jaar uitbeeld, Somer gekroon met koringare en lelies; ensovoorts.”

Temas wat herhaaldelik voorkom, is: die pou, ’n simbool van onsterflikheid, aangesien sy vleis as onverderflik beskou is; die mitologiese feniks, wat ook onsterflikheid simboliseer, aangesien hy glo in die vlamme gesterf het om net weer uit die as te verrys; siele van die dooies, omring deur voëls, blomme en vrugte, wat in die hiernamaals feesvier. Werklik ’n vermenging van heidense en Bybelse opvattings!

Party inskripsies is hartroerende blyke van geloof, wat blykbaar die oortuiging weerspieël dat die dooies slaap en vir die opstanding wag: “Aquilina slaap in vrede” (Johannes 11:11, 14). In teenstelling met skriftuurlike leringe weerspieël ander inskripsies die idee dat die dooies die lewendes kan help of met hulle kan kommunikeer: “Onthou jou man en kinders”; “Bid vir ons”; “Ek bid vir jou”; “Ek het vrede.”

Maar waarom is daar hierdie vermenging van skriftuurlike en heidense denke? Die geskiedkundige J. Stevenson sê: “Die Christelike godsdiens van party Christene is deurdring van idees wat uit hulle heidense verlede ontstaan het.” Dit is duidelik dat die “getroues” in Rome nie meer in ooreenstemming opgetree het met die kennis wat Jesus se ware dissipels aan hulle oorgedra het nie.—Romeine 15:14.

Namate ons met ons besoek voortgaan, word die invloed wat uitgeoefen is deur die onskriftuurlike toegewydheid aan die dooies al hoe duideliker. Baie wou graag naby die graf begrawe word van iemand wat as ’n martelaar beskou is, met die idee dat die martelaar uit sy posisie in hemelse saligheid as bemiddelaar kan optree en hom kan help om dieselfde beloning te verkry.

Baie dink dat die katakombes reg onder die stad geleë was, maar dit is nie die geval nie. Hulle is almal ’n paar kilometer buite die middestad geleë. Trouens, Romeinse wetgewing het verbied dat mense binne die stadsmure begrawe word. Die Wet van die Twaalf Tafels, wat in die vyfde eeu v.G.J. ingestel is, het gesê: Hominem mortuum in urbe ne sepelito neve urito (Die dooies mag nie binne die stad begrawe of veras word nie).

Die gids sê: “Hierdie begraafplase was vir die owerhede welbekend, so welbekend dat pous Sixtus II terreggestel is toe hy hier gevind is (258 G.J.) tydens die vervolging deur keiser Valerianus toe Christene verbied is om die katakombes binne te gaan.”

Toe ons om nog ’n hoek van die doolhof gaan, sien ons die flou daglig wat die verste punt van die gang verlig, en ons besef dat ons besoek ten einde geloop het. Ons groet ons gids en bedank hom vir die interessante inligting, en terwyl ons met ’n ander steil trap opklim om na die oppervlak terug te keer, kan ons nie anders as om na te dink oor wat ons gesien het nie.

Kan dit die oorblyfsels van die ware Christelike godsdiens wees? Nouliks. Die Skrif het voorspel dat ’n besoedeling van die leerstellings wat Jesus en sy dissipels geleer het kort ná die dood van die apostels sou ontstaan (2 Tessalonisense 2:3, 7). Trouens, die bewyse wat ons gesien het, naamlik die verering van die dooies en van die martelare, asook die idee dat die siel onsterflik is, is oortuigende bewys, nie van geloof wat op Jesus se leringe gebaseer is nie, maar eerder van die sterk heidense invloed wat reeds in die tweede tot die vierde eeu van ons Gewone Jaartelling onder afvallige Romeinse Christene bestaan het.

[Lokteks op bladsy 18]

Massapelgrimstogte is na die vermeende grafte van die pouse onderneem

[Lokteks op bladsy 19]

Een katakombe het vyf verskillende vlakke, wat tot 30 meter diep is

[Lokteks op bladsy 20]

Die katakombes toon die invloed van die voorspelde afvalligheid van Bybelwaarheid

[Prente op bladsy 17]

Regs: Sekere voëls is as simbole van onsterflikheid gebruik

[Erkenning]

Archivio PCAS

Heel regs: Doolhofplan van party Romeinse katakombes

Regs onder: Steenstempel, nuttig vir die datering van die grafte

[Erkenning]

Soprintendenza Archeologica di Roma

Onder: Grafkelder van die pouse

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel