Die Katakombes van Odessa—’n Ondergrondse doolhof
’N LANG kraak het verskyn in die nuutgepleisterde muur van ’n woonstel wat kort tevore opgeknap is. “Ai, dis daardie katakombes wat ons gebou laat kantel”, het die eienaar gekla.
Ongeag wat die probleem is—hetsy ’n waterpyp bars of ’n pad inval—die tonnels onder die Oekraïne se pragtige stad Odessa aan die Swartsee kry die skuld. Hierdie katakombes, wat moontlik uit 2 500 kilometer ondergrondse gange bestaan, is waarskynlik die grootste in die wêreld.
‘Hoe het hierdie tonnels ontstaan?’ het ons gewonder. ‘Watter rol speel dit in die lewens van diegene wat bokant die tonnels woon?’ ’n Toer daardeur het ons vrae beantwoord.
’n Reis onder die grond
Ons toerbus het van Odessa se treinstasie vertrek met ’n opgewonde groep vakansiegangers en studente. Gedurende ons rit na die katakombes het die gids ons ’n bietjie van die geskiedenis daarvan vertel.
Ons het geleer dat die uitgrawing van die katakombes blykbaar in die 1830’s begin het, toe die stad goedkoop en maklik bekombare boumateriaal nodig gehad het. Gelukkig was daar lang are van ligte, duursame geel kalksteen onder die stad. Klipkappery het dus vir die groeiende stad ’n winsgewende bedryf geword. Namate mynwerkers klip uitgekap het, het die katakombes begin vorm aanneem.
’n Ongekarteerde doolhof van tonnels het gou in alle rigtings onder die stad uitgebrei. Tonnels is meer as 35 meter onder die grondvlak gegrawe. Soms het tonnels op verskillende vlakke gekruis. Skagte is net so gelos wanneer die kalksteen daarin opgeraak het, en dan is nuwes gegrawe. Mettertyd het die web van tonnels tot ver buite die stad gestrek.
Ná ’n rukkie het ons bus in Neroebaiske aangekom, ’n klein dorpie net noord van Odessa. Kort voor lank het ons langs ’n kalksteenmuur gestaan met ’n swaar metaalhek wat toegang tot ’n tonnel van die katakombes versper het. Ons gids het ons ingelig: “Ons sal nou ’n gebied betree waar Sowjetse partisane gedurende die Tweede Wêreldoorlog gewoon het. Julle sal ’n idee kry van hoe hulle gedurende daardie tyd hier gelewe het.” Volgens Andri Krasnozjon, ’n deskundige op die gebied van katakombes, het een groep partisane 13 maande lank hier onder die grond gewoon.
“Onthou”, het ons gids bygevoeg, “baie ander het die een of ander tyd die verskillende dele van die katakombes bewoon. Dit het rowers, seerowers en politieke vlugtelinge ingesluit. Hulle het almal feitlik dieselfde omstandighede ondervind.”
Ons het ’n donker gang betree wat in die duisternis verdwyn het. “Hierdie tonnels was vir die partisane nie net ’n skuilplek nie, maar is so gerieflik moontlik ingerig”, het ons gids gesê. “In die ontspanningsvertrek het mans dambord, skaak of domino’s by kerslig gespeel. Kamers om mans en vroue te huisves, is in die rots langs die hooftonnel uitgekap. In elke kamer is ’n bank in die muur uitgekap en met strooi bedek. Dit het as ’n slaapbank gedien. Die hospitaalvleuel is toegerus met regte beddens en ’n operasieteater. Vroue het gekook op ’n houtstoof wat van geel kalksteen gemaak is, en rook het deur ’n luggat na ’n hoër tonnel ontsnap.”
Die plafon van die tonnel het soos ’n groot, natuurlike spons gelyk, dit het net nie sag gevoel nie. Saagmerke het sigsagsgewys teen die mure afgeloop waar groot stukke klip uitgesny is. Die mure het soos growwe skuurpapier gevoel. “Wanneer die partisane boontoe gegaan het, het hulle ander klere aangetrek sodat die Duitsers hulle nie kon uitsnuffel nie”, het ons gids verduidelik. “Die klammigheid van die katakombes het klere ’n kenmerkende reuk gegee.”
“Die lewe onder die grond was ook in ander opsigte uniek”, het ons gids gesê, “soos om in algehele donkerte te woon.” Sy het ’n ligskakelaar afgesit, en skielik was ons in duisternis gehul. “Hulle kon nie altyd hulle paraffienlampe gebruik nie”, het sy gesê. Terwyl ons voel-voel teen die muur geloop het, het sy bygevoeg: “Die klip absorbeer klank; as jy verdwaal, sal niemand dus jou hulpgeroep kan hoor nie.” Genadiglik het ons gids weer die ligte aangeskakel!
“Wagte het skofte van net twee uur gewerk”, het sy verder gesê, “want ná ’n lang tyd in die donkerte en doodse stilte, kan ’n persoon gehoorhallusinasies ondervind.” Deur ’n gat in die dak van die tonnel kon ons ’n ander tonnel sien wat die een waarin ons was, gekruis het. Ek het gewonder: ‘Waar kom dit vandaan? Waarheen lei dit?’ ’n Avontuurlustige gees het in my geroer. “Net omtrent 1 700 kilometer van die katakombes is al gekarteer”, het ons gids gesê, “daar is dus nog baie werk om te doen.”
Ontdekkers het onlangs nuwe tonnels gevind. Daarbinne het hulle koerante ontdek wat ’n eeu oud is, asook paraffienlampe wat voor die revolusie gebruik is en geld uit die dae van die tsare. Sulke ontdekkings—wat dekades lank onaangeraak was—het aan die vroeëre bewoners van die diep, donker en lang katakombes van Odessa behoort.—Bygedra.
[Venster/Prent op bladsy 25]
ARGITEKTUURSKATTE
In die middestad van Odessa staan daar nog steeds pragtige geboue wat van uitgekapte geel kalksteen gebou is. Die deure in die kelders van party geboue maak direk in die katakombes oop. Nuwe geboue word nog steeds van hierdie kalksteen gebou.
[Prent op bladsy 24, 25]
Hospitaalbeddens wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog deur die Sowjets gebruik is
[Prent op bladsy 24, 25]
Die katakombes van Odessa bestaan moontlik uit 2 500 kilometer ondergrondse gange