Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 12/8 bl. 24-27
  • Die ondergrondse wêreld van Parys

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die ondergrondse wêreld van Parys
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Toeganklike “ingewande”
  • Dit het met die Romeine begin
  • Die rioolstelsel word georganiseer
  • Kerke vergiftig die lug
  • ’n Besoek aan die katakombes van Parys
  • Die katakombes—Wat was dit?
    Ontwaak!—1995
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1995
  • Ek kon altyd iets vir Jehovah doen
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Die Katakombes van Odessa—’n Ondergrondse doolhof
    Ontwaak!—2010
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 12/8 bl. 24-27

Die ondergrondse wêreld van Parys

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FRANKRYK

EK BEL die nommer en hoop dat iemand sal antwoord. “Hallo! Hallo!” sê ek. “My motorsleutels het in die drein geval! Kom asseblief gou!” ’n Spesiale span rioolwerkers daag in ’n japtrap daar op. Dit is hulle werk om verstopte rioolpype skoon te maak, oorstroomde kelders te dreineer en die sleutels, brille, beursies en selfs troeteldiere te vind wat dikwels in die 18 000 afvoerpype in Parys beland. Tot my groot verligting kry hulle my sleutels, en ek bedank hulle hartlik daarvoor.

Die volgende dag besluit ek om die Musée des Égouts (Die Rioolmuseum) te besoek, wat op die linkeroewer van die Seinerivier, oorkant ons bekende riviertoerbote en in die skadu van die Eiffeltoring geleë is. Parys stel sy ondergrondse wêreld al ongeveer 130 jaar lank trots ten toon. Ek ontdek die rede hiervoor deur dieselfde roete te volg as die meer as 90 000 nuuskierige mense wat elke jaar hierdie unieke museum besoek. Kom saam met my terwyl ek nader kennis maak met wat die bekende 19de-eeuse Franse skrywer Victor Hugo “Leviatan se ingewande” genoem het—die rioolstelsel van Parys.

Toeganklike “ingewande”

Vyf meter onder die grondoppervlak sien ek die eerste museumstuk—’n opgestopte rot. Iets wat jou nogal rillings gee! Daar is glo vir elke inwoner van Parys drie rotte, wat selfs die sterkste gif besonder goed verteer. Hulle ly beslis nie honger nie. Elke dag verorber die rotte 100 ton, of een derde, van die rioolstelsel se afval.

Klippe, spykers, sleutels en ander swaar items word saam met die afvalwater en reën afgevoer sodat die rioolstelsel verstop raak. Terwyl ek na die masjiene kyk wat hierdie 2 100 kilometer lange “ingewande” skoonmaak, hoor ek hoe drup-drup die water. Elke jaar verwyder ongeveer duisend rioolwerkers 15 000 kubieke meter afval. Die donkerte, strome vuil water, slymerige mure en skielike stygings in die watervlak kan ’n rioolwerker se werk baie bemoeilik.

Terloops, teen die dak van die rioolstelsel is kronkelende leipype waarin ’n reusenetwerk van waterpype, telefoondrade en verkeersligkabels is.

Dit het met die Romeine begin

Die Romeine was die eerstes wat Parys ’n rioolstelsel gegee het. Ongeveer 18 meter van die Romeinse rioolstelsel bestaan vandag nog onder die ruïnes van die Romeinse warmbaddens in die Latynse kwartier. Maar toe die Romeinse Ryk geval het, het higiëne ook in die slag gebly. Parys was eeue lank vuil en ongesond, met slegs basiese riolering (dreine in die middel van die straat) of slote wat vloeibare afval weggevoer het. Die slote het gestink en was ’n broeiplek van infeksie. In 1131 het die oudste seun van koning Lodewyk VI aan ’n infeksie gesterf nadat hy in ’n oop rioolsloot geval het.

Mense het vullis in oop dreine gestort, en so ook in die paar nuwe oordekte dreine, wat maklik verstop geraak het. Om sake te vererger, het stinkende modder en afval in die rioolpype opgestoot wanneer die watervlak van die Seinerivier gestyg het. Destyds was Parys se spysverteringstelsel baie klein. In 1636 was die ingewande net 23 kilometer lank en is dit deur ’n bevolking van 415 000 gebruik. ’n Eeu en ’n half later was dit net drie kilometer langer. Teen die tyd van Napoleon het dit ernstige spysverteringsprobleme gehad.

In die 19de eeu is die bestaande rioolstelsel ondersoek en is kaarte daarvan gemaak. Daar is byna tweehonderd tonnels gevind, waarvan baie voorheen onbekend was. Hoe is die tonne modder van al die eeue verwyder? Die gerug het versprei dat daar allerhande kosbaarhede onder die strate van Parys gevind kon word. Gevolglik het ’n klomp hebsugtige fortuinsoekers op die rioolstelsel toegesak. Hulle het deur die slyk geloop en munte, juweliersware en wapens uitgehaal.

Die rioolstelsel word georganiseer

Die rioolstelsel is uiteindelik georganiseer, gemoderniseer, vergroot en aan elke huis gekoppel. Pype is gebruik wat groot genoeg was om onverwagse oorstromings te hanteer. In 1878 het 650 kilometer bevaarbare kanale onder groot koepels geloop. “Die rioolstelsel is skoon, . . . opgetooi”, het Victor Hugo geskryf.

Gedurende die 20ste eeu het die stelsel verdubbel. En die rioolstelsel het ’n spieëlbeeld van die stad geword. In watter sin? Op elke pyp is die naam van die straat waaronder dit loop en die nommer van die gebou op die oppervlak. Daar is voortdurend verbeteringe aangebring, en in 1991 is ’n opknappingsprojek van tweemiljard rand begin. Die tien jaar lange opknapping van hierdie noodsaaklike fasiliteit, wat 1,2 miljoen kubieke meter water elke dag hanteer, sluit die installering van outomatiese skoonmaaktoerusting en gerekenariseerde beheersentrums in.

My besoek het tot ’n einde gekom, en ek kan nie wag om weer gewone Parys-lug in te asem nie. Maar my ondergrondse toer is nog nie verby nie. “As jy nou werklik die diepste dele van Parys se ondergrondse wêreld wil sien, moet jy na die katakombes gaan”, beveel iemand aan wat aandenkings smous. “Twintig meter onder die grond is die gebeentes van sesmiljoen mense opgestapel.” Waar het hulle vandaan gekom?

Kerke vergiftig die lug

Parys se katakombes—’n ondergrondse begraafplaas—het eers in die 18de eeu hulle gebeentes ontvang. Sedert die Middeleeue is mense in of naby die kerke begrawe. Dit het geld vir die kerk beteken, maar dit was baie ongesond omdat die begraafplase in die middel van die stad was. Dit het ’n nagmerrie geword vir mense in die omgewing van die grootste begraafplaas in Parys, die Sint Innocentius, wat 7 000 vierkante meter beslaan het en die dooies van 20 kerke ontvang het, asook ongeïdentifiseerde lyke en slagoffers van plae.

In 1418 het die Swart Dood sowat 50 000 lyke bygedra. In 1572 is duisende slagoffers van die Sint Bartolomeusdag-slagting in Sint Innocentius begrawe.a Mense het begin eis dat die begraafplaas gesluit word. Ongeveer tweemiljoen lyke, wat soms tien meter diep opmekaar gestapel is, het die grondvlak met meer as twee meter gelig. Die begraafplaas was ’n broeiplek van infeksie, en dit het ’n baie slegte reuk afgegee, wat melk of wyn glo suur laat word het. Die geestelikes was egter daarteen gekant om die stad se begraafplase te sluit.

In 1780 het ’n gemeenskaplike graf oopgebreek en is lyke in nabygeleë kelders uitgewerp. Dit was die laaste strooi! Die begraafplaas is gesluit; en begrafnisse in Parys is verbied. Die massagrafte is in die ongebruikte Tombe-Issoire-steengroef leeggemaak. Elke nag vir 15 maande het grieselrige konvooie die gebeentes vervoer. Daar is besluit om dieselfde te doen met 17 ander begraafplase en 300 plekke van aanbidding. Die gebeentes is in ’n skag afgegooi wat 17,5 meter diep was, van waar ’n trap nou van die straat af tot in die katakombes lei.

’n Besoek aan die katakombes van Parys

Van die Denfert-Rochereau-plein, net suid van Parys se Latynse kwartier, klim ek met 91 trappe af tot in die katakombes. In 1787 was die dames van die koninklike hof van die eerstes wat hierdie ondergrondse begraafplaas by die lig van brandende fakkels besigtig het. Vandag word dit elke jaar deur 160 000 mense besoek.

Aan die voet van die trap is daar ’n skynbaar eindelose reeks gange waarin die gebeentes geberg word. Ek loop maar versigtig, want die katakombes beslaan meer as 11 000 vierkante meter. ’n Man met die naam Philibert Aspairt het onbenydenswaardige roem verwerf toe hy sy pad deur hierdie honderde kilometers van gange probeer vind het. In 1793 het hy in hierdie doolhof verdwaal. Hy is 11 jaar later aan sy sleutels en klere uitgeken toe sy geraamte gevind is.

Ongeveer 30 persent van die gebied onder Parys is as ’n steengroef uitgegrawe. Daar was lank geen beheer oor hierdie uitgrawings nie. In 1774 het 300 meter van rue d’Enfer (Helstraat, nou Denfert-Rochereau) in ’n afgrond van 30 meter gestort. Parys het die gevaar geloop om ineen te stort. Die klip wat “ons bo die grond sien”, het een skrywer gesê, is “onder ons voete uitgehaal”. Om die ondergrondse gange te stut, is pragtige boë gebou.

“Dis jammer dat hulle nie sommer ook die grond geplavei het nie”, dink ek toe ek sien hoe vol modder my skoene is. Dis toe dat ek in ’n modderplas gly, maar gelukkig kon ek regop bly deur aan ’n swaar bronsdeur vas te hou. Agter die deur is ’n gang met mure wat met die gebeentes van mense gebou is. Grynsende kopbene en bros dy- en skeenbene wat in rye en in die vorm van kruise en kranse gerangskik is, is ’n morbiede toneel. Bybelverse en gedigte is in plat klippe gegraveer wat ’n weerspieëling is van hoe die mens al oor die betekenis van die lewe en dood gepeins het.

Toe ek die katakombes verlaat, vee ek die modder van my skoene af in die straatvoortjie, en hierdie keer maak ek seker dat my sleutels nie weer in Parys se rioolstelsel beland nie! My toer in die fassinerende ondergrondse wêreld van Parys was ’n ongewone ondervinding wat ek nie gou sal vergeet nie. Parys het beslis baie meer om aan te bied as wat ’n mens op die oog af sou dink.

[Voetnoot]

a Sien die Ontwaak! van 22 April 1997, bladsye 7-8.

[Prent op bladsy 25]

Die opening van ’n deel van Parys se rioolstelsel

[Erkenning]

Valentin, Musée Carnavalet, © Photothèque des Musées de la Ville de Paris/Cliché: Giet

[Prent op bladsy 25]

’n Besoek aan die rioolstelsel

[Erkenning]

J. Pelcoq, The Boat, Musée Carnavalet, © Photothèque des Musées de la Ville de Paris/Cliché: Giet

[Prent op bladsy 25]

’n Dwarsdeursnee van Parys se rioolstelsel

[Erkenning]

Ferat, Musée Carnavalet, © Photothèque des Musées de la Ville de Paris/Cliché: Briant

[Prent op bladsy 26]

Grynsende kopbene en bros skeenbene is in rye en in die vorm van kruise en kranse gerangskik

[Prent op bladsy 26]

’n Inskrywing voor die uitgang: “Die angel van die dood is sonde.”—1 Korintiërs 15:56, “King James Version”

[Prent op bladsy 26]

Masjiene om die rioolstelsel skoon te maak

[Foto-erkenning op bladsy 24]

Agtergrond van kaart op bladsye 24-7: Encyclopædia Britannica/9th Edition (1899)

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel