Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 11/8 bl. 10-12
  • Hoe om die skoonheid om ons raak te sien

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om die skoonheid om ons raak te sien
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die elemente van skoonheid
  • Let op klein en groot
  • Manne wat geleer sien het
  • Die mees verwaarloosde Kunstenaar van ons tyd
    Ontwaak!—1995
  • Watter uitwerking het kleur op jou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Wat is kuns?
    Ontwaak!—1995
  • Skoonheid vergaan maar deug bly staan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 11/8 bl. 10-12

Hoe om die skoonheid om ons raak te sien

“In alle tale is een van ons oudste uitdrukkings ‘laat ek sien!’”—William White jr.

DIE kindjie wat na die fladderende skoenlapper staar, die bejaarde egpaar wat na ’n pragtige sonsondergang kyk, die huisvrou wat haar roosrangskikking bewonder—hulle almal vestig vir ’n oomblik hulle aandag op iets pragtigs.

Aangesien die skoonheid van God se skepping oral om ons is, is dit nie nodig om honderde kilometers te reis om dit te sien nie. Asemrowende natuurtonele is dalk ver van jou af, maar indrukwekkende kunswerke kan in jou woonbuurt gevind word as jy daarvoor soek en—nog belangriker—as jy weet hoe om daarvoor te soek.

Daar is al dikwels gesê dat “wat vir een mooi is, is nie vir almal mooi nie”. Maar hoewel die skoonheid daar is, sal nie almal dit raaksien nie. Ons moet dalk eers ’n skildery of foto sien voordat ons dit gaan opmerk. Trouens, baie kunstenaars glo dat hulle sukses meer afhang van hulle vermoë om te sien as om te teken. Die boek The Painter’s Eye, deur Maurice Grosser, verduidelik dat “die skilder met sy oë teken, nie met sy hande nie. Wat hy ook al sien, kan hy weergee as hy dit duidelik sien. . . . Dit is belangrik om duidelik te kan sien.”

Hetsy ons nou kunstenaars is of nie, ons kan leer om duideliker te sien, om die skoonheid om ons raak te sien. Met ander woorde, ons moet uitgaan en dinge uit ’n nuwe oogpunt bekyk.

In hierdie verband beklemtoon John Barrett, ’n natuurstudieskrywer, die waarde van persoonlike betrokkenheid. “Niks is so goed as om self lewende diere en plante met al die natuurkragte wat ’n invloed daarop uitoefen te sien, aan te raak, te ruik en daarna te luister nie”, sê hy. “Laat die skoonheid insink . . . Waar jy ook al is, moet jy eers kyk, dit geniet en weer kyk.”

Maar waarna moet ons kyk? Ons kan begin deur te leer hoe om die vier basiese elemente van skoonheid raak te sien. Hierdie elemente kan in byna elke faset van Jehovah se skepping gesien word. Hoe meer ons stilstaan om daarna te kyk, hoe meer sal ons sy kuns geniet.

Die elemente van skoonheid

Vorms en patrone. Ons woon in ’n wêreld van baie vorms. Party is lineêr soos stamme in ’n bamboesbos of geometries soos ’n spinnerak, terwyl ander weer vormloos is soos ’n wolk wat voortdurend verander. Baie vorms is mooi, hetsy dit nou ’n eksotiese orgidee, die spirale van ’n seeskulp of selfs die takke van ’n boom is wat sy blare verloor het.

Wanneer dieselfde vorm herhaal word, skep dit ’n patroon wat dalk ook mooi is om na te kyk. Dink byvoorbeeld aan boomstamme in ’n woud. Hulle vorms—elkeen verskillend en tog soortgelyk—skep ’n aangename patroon. Maar om die vorms en patrone wat hulle skep waar te neem, moet daar lig wees.

Lig. Die verspreiding van lig verleen ’n spesiale kenmerk aan die vorms wat ons aantreklik vind. Besonderhede staan duidelik uit, die tekstuur word gekleur en ’n stemming word geskep. Lig verskil na gelang van die tyd van die dag, die seisoen van die jaar, die weer en selfs die plek waar ons woon. ’n Bewolkte dag met sy gedempte lig is ideaal om die subtiele skakerings van veldblomme of herfsblare waar te neem, terwyl die kranse en bergpieke hulle dramatiese vorms vertoon wanneer die opkomende of ondergaande son dit duidelik laat uitstaan. Die sagte winterson van die Noordelike Halfrond verleen bekoring aan ’n herderslandskap. Daarenteen omskep die helder son van die trope die vlak see in ’n deurskynende wonderwêreld vir snorkelduikers.

Maar daar is nog ’n belangrike element wat kortkom.

Kleur. Dit laat die verskillende voorwerpe wat ons om ons sien, lewe. Terwyl hulle vorms hulle dalk van mekaar onderskei, toon hulle kleure dat hulle werklik uniek is. Daarbenewens skep die verspreiding van kleur in harmoniese patrone ’n prag van sy eie. Dit is dalk ’n helder kleur soos rooi of oranje wat jou aandag trek of ’n kleur soos blou of groen wat jou laat ontspan.

Stel jou ’n lappie geel blommetjies in ’n oop kol in ’n bos voor. Die lig val op die geel blommetjies, wat lyk asof dit in die oggendlug glim, terwyl donker boomstamme ’n volmaakte agtergrond in die oggendson vorm. Nou het ons ’n prentjie. Al wat ons moet doen, is om dit te “raam”, en dit is waar komposisie ter sprake kom.

Komposisie. Die manier waarop die drie basiese elemente—vorm, lig en kleur—saam voorkom, bepaal die komposisie. En hier het ons as waarnemers ’n uiters belangrike rol om te speel. Deur net ’n bietjie vorentoe, agtertoe, na een kant toe, hoër of laer te beweeg, kan ons die elemente of beligting in ons prent verander. Sodoende kan ons elemente uit die prent weglaat wat ons nie daarin wil hê nie.

Dikwels stel ons ’n prent outomaties saam wanneer ons op ’n besonder mooi toneel afkom en nabygeleë bome of plantegroei ’n raam daarom vorm. Maar talle uitsonderlike prente, op ’n kleiner skaal, is dalk onder ons voete.

Let op klein en groot

God se handewerk, groot en klein, is pragtig, en ons sal groter genot daaruit put as ons leer om die besonderhede raak te sien wat tot daardie prag bydra. Hulle vorm miniatuurskilderye wat oral op die natuur se groot skilderdoek voorkom. Om hulle te waardeer, moet ons net afbuk en hulle van naderby bekyk.

Hierdie prente in ’n prent word deur die fotograaf John Shaw in sy boek Closeups in Nature beskryf: “As ons eers na die besonderhede in die natuur begin kyk, het dit my nog altyd verstom dat ons as ’t ware gelok word om al hoe nader te kom en te kyk. . . . Eers sien ons die hele beeld, dan ’n bietjie kleur in een hoek van die raam. As ons dit van naderby bekyk, sien ons blomme, en op een blom ’n skoenlapper. Op sy vlerke is daar ’n spesifieke patroon, die patroon word gevorm deur ’n presiese rangskikking van vlerkskubbe, en elke skub is heeltemal volmaak. As ons werklik die volmaaktheid kon verstaan wat in daardie een skub op die skoenlappervlerk gevind word, sou ons moontlik die volmaaktheid van ontwerp in die natuur begin verstaan.”

Buiten die feit dat ons genot put uit die skoonheid in die natuur, kan die natuur se kuns—groot en klein—ons nader aan ons Skepper laat kom. “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk!” het Jehovah ons aangespoor. Wanneer ons gaan stilstaan om te kyk, te staar en te wonder, hetsy ons na die sterrehemel of na enige ander skepping van God kyk, word ons aan die Een herinner ‘wat hierdie dinge geskape het’.—Jesaja 40:26.

Manne wat geleer sien het

In Bybeltye het knegte van God spesiale belangstelling in die skepping getoon. Volgens 1 Konings 4:30, 33 was “die wysheid van Salomo groter . . . as die wysheid van al die kinders van die Ooste . . . Hy het oor die bome gespreek, van die seder op die Libanon tot die hisop wat teen die muur uitspruit; ook het hy gespreek oor die vee en oor die voëls en oor die kruipende diere en oor die visse.”

Miskien kan Salomo se belangstelling in die prag van die natuur gedeeltelik toegeskryf word aan sy vader se voorbeeld. Dawid, wat baie van sy wordingsjare as ’n herder deurgebring het, het dikwels oor God se handewerk gepeins. Die skoonheid van die hemele het hom veral beïndruk. In Psalm 19:2 het hy geskryf: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.” (Vergelyk Psalm 139:14.) Sy kontak met die skepping het hom klaarblyklik nader aan sy God laat kom. Dit kan dieselfde uitwerking op ons hê.a

Soos hierdie godvrugtige manne besef het, verbly dit ons hart en verryk dit ons lewe as ons erkenning gee aan en waardering het vir God se handewerk. In ons moderne wêreld met sy kitsvermaak wat dikwels verdorwe is, kan die bewondering van Jehovah se skepping ’n heilsame bedrywigheid vir ons en ons gesin wees. Vir diegene wat na God se beloofde nuwe wêreld uitsien, is dit ’n tydverdryf wat ons nog in die toekoms sal geniet.—Jesaja 35:1, 2.

Wanneer ons nie net die kuns om ons sien nie, maar ook die eienskappe van die Meesterkunstenaar raaksien wat dit alles gemaak het, sal ons ongetwyfeld beweeg word om Dawid se woorde te herhaal: “Daar is niemand soos U . . . , Here, en daar is niks soos u werke nie.”—Psalm 86:8.

[Voetnoot]

a Ander Bybelskrywers, soos Agur en Jeremia, het ook die natuur noukeurig waargeneem.—Spreuke 30:24-28; Jeremia 8:7.

[Prente op bladsy 10]

Voorbeelde van patroon en vorm, lig, kleur en komposisie

[Erkenning]

Godo-Foto

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel