Die mees verwaarloosde Kunstenaar van ons tyd
“Die natuur is die kuns van God.”—Sir Thomas Browne, ’n 17de-eeuse geneesheer.
LEONARDO DA VINCI, Rembrandt, Van Gogh—hierdie name is aan miljoene bekend. Selfs as jy nog nooit een van hulle oorspronklike skilderye gesien het nie, weet jy dat hierdie manne groot kunstenaars was. Hulle kuns het hulle in sekere sin verewig.
Hulle het op doek ’n geheimsinnige glimlag, ’n lewensgetroue portret, ’n vlugtige kykie na die skoonheid in die skepping vasgelê wat nou nog die verbeelding aangryp van diegene wat daarna kyk. Ons word gefassineer deur dit wat hulle gefassineer het—selfs al is dit eeue later.
Ons is dalk nie kunstenaars of kunskritici nie, maar ons besef wel wat goeie kuns is. Net soos die kunstenaar wie se werk ons bewonder, het ons ook ’n sin vir skoonheid. Ons bewustheid van kleur, vorm, patrone en lig is dalk iets wat ons as vanselfsprekend aanneem, maar dit is deel van ons lewe. Ons hou ongetwyfeld daarvan om ons huise met mooi voorwerpe of skilderye te versier. Hoewel smaak verskil, is hierdie bewustheid van wat mooi is ’n gawe wat die meeste mense het. En dit is ’n gawe wat ons nader aan ons Skepper kan laat kom.
Die gawe van skoonheid
’n Sin vir skoonheid is een van die talle eienskappe wat die mens van diere onderskei. Die boek Summa Artis—Historia General del Arte (Omvattende verhandeling van kuns—’n algemene geskiedenis van kuns) wys daarop dat “die mens omskryf kan word as die dier wat ’n estetiese vermoë het”. Omdat ons van diere verskil, beskou ons die skepping uit ’n ander oogpunt. Waardeer ’n hond ’n pragtige sonsondergang?
Wie het ons so gemaak? Die Bybel verduidelik: “God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape” (Genesis 1:27). Dit beteken nie dat ons eerste ouers soos God gelyk het nie. God het hulle eerder eienskappe gegee wat hy self besit. Een van hierdie eienskappe is die vermoë om skoonheid te waardeer.
Deur ’n onverstaanbare proses neem die mensebrein skoonheid waar. In die eerste plek dra ons sintuie inligting aan die brein oor aangaande die klanke, reuke, kleure en vorms van voorwerpe wat ons aandag trek. Maar skoonheid hang nie net van al daardie elektrochemiese impulse af nie, want dit sê maar net vir ons wat om ons aangaan. Ons kyk nie na ’n boom, ’n blom of ’n voël op dieselfde manier as ’n dier nie. Hoewel hierdie voorwerpe ons dalk nie onmiddellik op ’n praktiese wyse tot voordeel strek nie, skep ons nietemin behae daarin. Ons brein stel ons in staat om die estetiese waarde daarvan raak te sien.
Hierdie vermoë raak ons emosies en verryk ons lewe. Mary, wat in Spanje woon, onthou nog duidelik hoe sy een Novemberaand ’n paar jaar gelede langs ’n afgeleë meer gestaan en die son sien ondergaan het. “Kraanvoëls het die een groep na die ander na my toe aangevlieg gekom terwyl hulle na mekaar geroep het”, sê sy. “Duisende voëls het die bloedrooi hemel gevul met patrone wat soos spinnekoprakke gelyk het. Hulle jaarlikse trektog uit Rusland en Skandinawië het hulle na hierdie Spaanse rusplek gebring. Dit was so ’n pragtige belewenis dat dit my laat huil het.”
Waarom die gawe van skoonheid?
Vir baie mense dui die sin vir skoonheid beslis op die bestaan van ’n liefdevolle Skepper, wat wil hê dat sy intelligente skepping sy kunswerke moet geniet. Hoe logies en bevredigend is dit tog om ons sin vir skoonheid aan ’n liefdevolle Skepper toe te skryf. Die Bybel verduidelik dat ‘God liefde is’, en die hoofsaak van liefde is om iets met ander te deel (1 Johannes 4:8; Handelinge 20:35). Jehovah het behae daarin geskep om sy skeppende kuns met ons te deel. As ’n musiekmeesterstuk nooit gehoor of ’n pragtige skildery nooit gesien is nie, sou hulle skoonheid verlore wees. Kuns word geskep om gedeel en geniet te word—dit is leweloos sonder toeskouers.
Ja, Jehovah het mooi dinge met ’n doel geskep—om gedeel en geniet te word. Trouens, ons eerste ouers se tuiste was ’n uitgestrekte paradystuin wat Eden genoem is—wat “Plesier” beteken. God het nie alleen die aarde met sy kunswerke gevul nie, maar het die mens ook die vermoë gegee om dit raak te sien en te waardeer. En hoeveel skoonheid is daar tog nie! Soos Paul Davies opgemerk het, “lyk dit soms asof die natuur ‘groot moeite gedoen het’ om ’n interessante en vrugbare heelal voort te bring”. Ons vind die heelal interessant en vrugbaar juis omdat Jehovah ‘groot moeite gedoen het’ om ons met die vermoë te skep om dit te bestudeer en te geniet.
Dit verbaas ons nie dat die bewustheid van natuurskoon—en die begeerte om dit weer te gee—algemeen onder alle kultuurgroepe, van grotkunstenaars tot impressioniste, voorkom nie. Duisende jare gelede het die inwoners van noordelike Spanje duidelike afbeeldings van diere in die grotte van Altamira, Kantabrië, geskilder. Meer as ’n eeu gelede het impressionistiese skilders hulle ateljees verlaat en die helder kleure in ’n veld met blomme of die veranderende ligpatrone op water probeer weergee. Selfs kindertjies is besonder bewus van mooi dinge. Trouens, die meeste van hulle teken graag enigiets wat hulle verbeelding aangryp wanneer hulle kryt en papier gegee word.
Deesdae verkies baie volwassenes om ’n foto te neem om hulle te herinner aan ’n pragtige natuurtoneel wat ’n indruk op hulle gemaak het. Maar selfs sonder ’n kamera kan ons verstand pragtige beelde herroep wat ons dalk dekades gelede gesien het. God het ons ongetwyfeld met die vermoë gemaak om ons aardse tuiste, wat hy so pragtig versier het, te geniet (Psalm 115:16). Daar is egter nog ’n rede waarom God ons ’n sin vir skoonheid gegee het.
‘Sy eienskappe word duidelik gesien’
As ons ons waardering vir die kunswerke in die natuur laat toeneem, kan dit ons help om ons Skepper te leer ken deur wie se handewerk ons omring word. By een geleentheid het Jesus vir sy dissipels gesê om goed te kyk na die veldblomme wat om Galilea groei. “Leer ’n les by die lelies van die veld,” het hy gesê, “hoe hulle groei; hulle swoeg nie, en hulle spin ook nie; maar ek sê vir julle dat nie eens Salomo in al sy heerlikheid soos een van hulle geklee was nie” (Matteus 6:28, 29). Die prag van ’n onbeduidende veldblommetjie kan ons daaraan herinner dat God wel in die behoeftes van die mensdom belangstel.
Jesus het ook gesê dat ’n mens iemand volgens sy “vrugte”, of werke, kan beoordeel (Matteus 7:16-20). Dit is derhalwe net te verwagte dat God se kunswerke ons sal help om sy persoonlikheid beter te verstaan. Wat is van ‘sy eienskappe wat van die wêreld se skepping af duidelik gesien kan word’?—Romeine 1:20.
“Hoe talryk is u werke, o HERE!” het die psalmis uitgeroep. “U het hulle almal met wysheid gemaak” (Psalm 104:24). God se wysheid kan selfs gesien word in die kleure wat hy gebruik het om die aarde se flora en fauna te “skilder”. “Kleur verskaf plesier aan die gemoed en die oë”, sê Fabris en Germani in hulle boek Colore, Disegno ed estetica nell’arte grafica (Kleur—ontwerp en estetiek in grafiese kuns). Harmoniese en kontrasterende kleure, wat ’n lus vir die oog is en die hart verbly, is oral om ons te sien. Maar die opvallendste kleure is moontlik daardie kleureffekte wat deur kleurspeling veroorsaak word—blink metaalagtige reënboogkleure—’n treffende bewys van wyse ontwerp.
Metaalagtige reënboogkleure is veral algemeen onder kolibries.a Wat laat hulle verekleed so blink? Die boonste derde van hulle unieke vere breek die sonlig in helder reënboogkleure op—min of meer soos wat ’n prisma dit doen. Algemene name vir kolibries, soos robyn, saffier en smarag, getuig gepas van die glinsterende rooi, blou en groen kleure waarmee hierdie juweelagtige voëltjies versier is. “Wat is die doel van die buitengewone prag van hierdie skitterende skepseltjies?” vra Sara Godwin in haar boek Hummingbirds. “Sover die wetenskap kan vasstel, het dit geen ander doel op aarde as om die aanskouer te bekoor nie”, het sy geantwoord. Daar was beslis nog nooit enige mensekunstenaar wat al met so ’n palet gewerk het nie!
Ons kan God se krag sien in ’n dreunende waterval, die veranderende getye, die brekende branders of in die toringhoë bome van ’n woud wat deur ’n stormsterk wind heen en weer geswaai word. Hierdie dinamiese kunswerke kan net so indrukwekkend soos ’n rustige natuurtoneel wees. Die bekende Amerikaanse natuurkenner John Muir het op ’n keer die uitwerking van ’n storm op ’n groep Douglas-dennebome in die Sierra Nevada van Kalifornië beskryf:
“Hoewel hulle redelik jonk was, was hulle omtrent 100 voet [30 m] hoog, en hulle soepel borseltoppe het wild gedraai en geswaai. . . . Die lenige toppe het woes in die onstuimige storm geswiep, hulle het gebuig en gedraai, agtertoe en vorentoe, heen en weer, in ontelbare kombinasies van vertikale en horisontale kurwes.” Soos die psalmis duisende jare gelede geskryf het, ‘loof die stormwind Jehovah’—dit is vir ons ’n aanduiding van sy buitengewone krag.—Psalm 148:7, 8.
’n Voël is vir die Japannese al lank die simbool van liefde. Dit is die pragtige Japannese kraanvoël, wie se uitvoerige hofmaakdanse so grasieus soos enige balletopvoering is. Hierdie gevleuelde toneelspelers word so belangrik beskou dat hulle in Japan as ’n “spesiale natuurmonument” geklassifiseer is. Aangesien kraanvoëls hulle hele lewe lank bymekaarbly en 50 jaar of ouer kan word, beskou die Japannese hulle as die beliggaming van huwelikstrou.
Wat van God se liefde? Dit is interessant dat die Bybel Jehovah se liefdevolle beskerming van sy lojales met dié van ’n moedervoël vergelyk wat haar vlerke gebruik om haar kleintjies teen die elemente te beskerm. Deuteronomium 32:11 verwys na die arend wat “sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels”. Die arend doen hierdie dinge om die kleintjies aan te moedig om die nes te verlaat en te vlieg. Hoewel dit selde gesien word, is daar al gehoor van gevalle waar arende hulle kleintjies gehelp het deur hulle op hulle vlerke te dra.—Psalm 17:8.
Terwyl ons die sigbare wêreld van naderby beskou, sien ons sekere beginsels aan die werk wat ook aspekte van God se persoonlikheid weerspieël.
Verskeidenheid maak die lewe interessant
Afwisseling in God se handewerk is iets wat ons onmiddellik opval. Die verskeidenheid plante, voëls, diere en insekte is verstommend. In net een hektaar tropiese woud kan daar 300 verskillende boomspesies en 41 000 insekspesies wees; drie vierkante kilometer kan die habitat van 1500 skoenlappersoorte wees en ’n enkele boom kan die tuiste van 150 kewerspesies wees! En net soos daar nie twee mense is wat presies dieselfde is nie, kan dieselfde van eikebome of tiers gesê word. Oorspronklikheid, ’n eienskap waaraan mensekunstenaars groot waarde heg, is ’n wesenlike deel van die natuur.
Ons het natuurlik net kortliks aan ’n paar aspekte van kuns in die natuur geraak. Deur dit selfs van nog nader te beskou, kan ons baie ander fasette van God se persoonlikheid leer ken. Maar om dit te doen, moet ons ons godgegewe sin vir kuns gebruik. Hoe kan ons leer om groter waardering te hê vir die grootste Kunstenaar?
[Voetnoot]
a Baie skoenlappers, soos die skitterende blou morpho van tropiese Amerika, het metaalkleurige skubbe op hulle vlerke.
[Venster op bladsy 7]
Ons moet weet wie ons hier gesit het
Die Bybelvertaler Ronald Knox was eenkeer betrokke by ’n teologiese bespreking met die wetenskaplike John Scott Haldane. “In ’n heelal met miljoene planete”, het Haldane geredeneer, “is dit nie onvermydelik dat daar lewe op ten minste een van hulle moet wees nie?”
“Meneer,” het Knox geantwoord, “as Scotland Yard op ’n lyk in jou kajuitkoffer afgekom het, sal jy vir hulle sê: ‘Daar is miljoene koffers in die wêreld—in een van hulle moet daar sekerlik ’n lyk wees?’ Ek dink hulle sal nog steeds wil weet wie dit daar gesit het.”—The Little, Brown Book of Anecdotes.
Benewens die feit dat dit ons nuuskierigheid sal bevredig, is daar nog ’n rede waarom ons moet weet wie ons hier gesit het—sodat ons Hom die eer kan gee wat hom toekom. Hoe sal ’n talentvolle kunstenaar reageer as ’n arrogante kritikus sy werk as niks beters as ’n ongeluk in ’n verfwinkel beskryf nie? Op soortgelyke wyse sal dit vir die Skepper van die heelal beslis ’n groot belediging wees as ons sy kunswerke aan blinde toeval toeskryf.
[Erkenning]
Met vriendelike vergunning van ROE/Anglo-Australian Observatory; foto deur David Malin
[Prente op bladsy 8]
Kraanvoëls in vlug
Grotskilderye in Altamira, Spanje
[Prente op bladsy 9]
Dolfyne, kolibries en watervalle weerspieël almal aspekte van die Groot Kunstenaar se persoonlikheid
[Erkennings]
Godo-Foto
G. C. Kelley, Tucson, AZ
Godo-Foto