Hoofstuk 11
Die verbasende ontwerp van lewende dinge
1, 2. (a) Wat toon dat wetenskaplikes besef dat ’n ontwerper nodig is? (b) Maar hoe weerspreek hulle hulleself dan?
WANNEER antropoloë in die grond grawe en ’n driehoekige stukkie skerp vuursteen vind, maak hulle die gevolgtrekking dat dit deur iemand ontwerp moes gewees het om die punt van ’n pyl te wees. Wetenskaplikes stem saam dat sulke dinge wat met ’n doel gemaak is, nie die produkte van die toeval kon gewees het nie.
2 Wanneer dit by lewende dinge kom, word dieselfde logika egter dikwels oorboord gegooi. ’n Ontwerper word nie nodig geag nie. Maar die eenvoudigste eensellige organisme, of net die DNS van sy genetiese kode, is baie ingewikkelder as ’n gefatsoeneerde stukkie vuursteen. Evolusioniste hou nietemin vol dat dit geen ontwerper gehad het nie, maar deur ’n reeks toevallige gebeure gevorm is.
3. Wat het Darwin besef is nodig, en hoe het hy in die behoefte probeer voorsien?
3 Darwin het egter besef dat ’n vormgewende krag nodig was en natuurlike teeltkeuse dié werk gegee. “Natuurlike teeltkeuse”, het hy gesê, “is daagliks en uurliks besig om dwarsoor die wêreld die geringste variasies te bestudeer; dit verwerp die slegtes, bewaar die goeies en voeg hulle saam.”1 Daardie beskouing is egter nie meer so gewild nie.
4. Hoe verander beskouings oor natuurlike teeltkeuse?
4 Stephen Gould berig dat talle eietydse evolusioniste nou sê dat wesenlike verandering “nie aan natuurlike teeltkeuse onderworpe is nie en lukraak deur bevolkings kan versprei”.2 Gordon Taylor stem saam: “Natuurlike teeltkeuse verklaar ’n geringe deel van wat gebeur: die grootste gedeelte bly onverklaard.”3 Geoloog David Raup sê: “’n Teenswoordig belangrike alternatief vir natuurlike teeltkeuse het te doen met die gevolge van blote toeval.”4 Maar is “blote toeval” ’n ontwerper? Kan dit die ingewikkeldhede voortbring waaruit lewe bestaan?
5. Hoe erken ’n evolusionis dat daar ontwerp en ’n ontwerper moet wees?
5 Evolusionis Richard Lewontin het erken dat organismes “oënskynlik versigtig en kunstig ontwerp is”, en daarom het party wetenskaplikes hulle as “die vernaamste bewys van ’n Opperontwerper” beskou.5 Dit sal goed wees om van hierdie bewyse te ondersoek.
Klein dingetjies
6. Is eensellige organismes werklik eenvoudig?
6 Kom ons begin met die kleinste lewende dinge: eensellige organismes. ’n Bioloog het gesê dat eensellige diere “kos vang, dit verteer, afvalstowwe uitskei, beweeg, huise bou, paar” en “sonder weefsels, organe, harte of verstande werklik alles het wat ons het”.6
7. Hoe en waarom maak diatome kristal, en hoe belangrik is hulle vir lewe in die seë?
7 Diatome, eensellige organismes, neem silika en suurstof uit seewater en maak kristal, waarmee hulle klein “pildosies” vervaardig om hulle groen chlorofil te berg. Een wetenskaplike loof hulle vanweë hulle belangrikheid sowel as hulle skoonheid: “Hierdie groen blare wat in juwelekissies toegesluit is, is die weiveld van nege tiendes . . . van alles wat in die seë lewe.” Diatome se voedingswaarde is grootliks toe te skryf aan die olie wat hulle maak, wat hulle ook help om naby die oppervlak te dobber waar hulle chlorofil in sonlig kan baai.
8. Met watter ingewikkelde vorms bedek diatome hulself?
8 Hulle pragtige kristaldoosdeksels kom volgens dieselfde wetenskaplike voor in ’n “verstommende verskeidenheid vorms—sirkels, vierkante, skilde, driehoeke, ovale, reghoeke—altyd pragtig versier met geometriese patrone. Dit is met soveel vaardigheid in suiwer kristal geslyp dat ’n mensehaar vierhonderd keer in die lengte deurgesny sal moet word om in die groefies te pas.”7
9. Hoe ingewikkeld is sommige van die huise wat radiolarieë bou?
9 Een groep oseaandiertjies, bekend as radiolarieë, maak kristal en bou daarmee “straalsonne met lang, dun, deursigtige stekels wat van ’n sentrale kristalsfeer uitloop”. Of “kristalstutte word tot seskante saamgevoeg en gebruik om eenvoudige koepelwonings te bou”. Van ’n sekere mikroskopiese bouer word daar gesê: “Een koepelwoning is nie genoeg vir hierdie meesterargitek nie; daar moet drie ragfyn, gedrewe glaskoepels binne-in mekaar wees.”8 Woorde is nie voldoende om hierdie ontwerpwondere te beskryf nie—’n mens het prente daarvan nodig.
10, 11. (a) Wat is sponse, en wat gebeur met die individuele selle wanneer ’n spons fyngemaak word? (b) Watter vraag oor sponsskelette kan evolusioniste nie beantwoord nie, maar wat weet ons?
10 Sponse bestaan uit miljoene selle, maar daar is net ’n paar soorte selle. ’n Universiteitsleerboek verduidelik: “Die selle is nie tot weefsels of organe georganiseer nie, en tog is daar ’n vorm van herkenning onder die selle wat hulle bymekaar hou en organiseer.”9 Indien ’n spons deur ’n doek gepers word, sodat sy miljoene selle van mekaar geskei word, sal daardie selle weer bymekaar kom en die spons herbou. Sponse bou kristalskelette wat baie mooi is. Een van die verbasendstes is die Venus-blommandjie.
11 Een wetenskaplike sê daaromtrent: “Wanneer ’n mens kyk na ’n ingewikkelde sponsskelet soos dié wat uit silikanaalde bestaan en as [die Venus-blommandjie] bekend staan, staan jy verstom. Hoe kan sogenaamd onafhanklike, mikroskopiese selle saamwerk om eenmiljoen kristalagtige splinters af te skei en so ’n ingewikkelde en pragtige skelet bou? Ons weet nie.”10 Maar ons weet een ding: Dit is onwaarskynlik dat die toeval daarvoor verantwoordelik is.
Vennootskappe
12. Wat is simbiose, en wat is enkele voorbeelde daarvan?
12 Daar is baie gevalle waar dit lyk of twee organismes gemaak is om saam te leef. Sulke vennootskappe is voorbeelde van simbiose (saamlewing). Sekere vye en wespe het mekaar nodig om voort te plant. Termiete eet hout, maar het die protosoë in hulle liggame nodig om dit te verteer. Beeste, bokke en kamele sal eweneens nie die sellulose in gras kon verteer sonder die hulp van bakterieë en protosoë wat in hulle lewe nie. ’n Verslag sê: “Die deel van ’n koei se maag waar daardie spysvertering plaasvind, het ’n volume van ongeveer [95 liter]—en bevat 10 miljard mikroörganismes in elke druppel.”11 Wiere en swamme werk saam en word korsmos. Alleen dan kan hulle op kaal rotse groei om klip in grond te begin verander.
13. Watter vrae ontstaan as gevolg van die vennootskap tussen steekmiere en akasiabome?
13 Steekmiere hou in die hol dorings van akasiabome. Hulle hou die boom vry van blaarvretende insekte en sny rankplante wat teen die boom probeer opgroei stukkend sodat dit doodgaan. Die boom skei op sy beurt ’n soet vloeistof af waarvan die miere hou, en dit dra ook klein, vals vrugte wat as voedsel vir die miere dien. Het die mier eers die boom beskerm en het die boom dit toe met vrugte beloon? Of het die boom die vrugte vir die mier gedra en het die mier toe sy dank betoon deur die boom te beskerm? Of het alles per toeval gelyktydig gebeur?
14. Watter spesiale voorsienings en meganismes gebruik blomme om insekte vir bestuiwing te lok?
14 Daar is baie gevalle van sulke samewerking tussen insekte en blomme. Insekte bestuif blomme, en die blomme gee weer vir die insekte stuifmeel en nektar. Sommige blomme maak twee soorte stuifmeel. Een bevrug sade, die ander is steriel, maar voed insekbesoekers. Talle blomme het spesiale merke en geure om insekte na die nektar te lei. Op pad soontoe bestuif die insekte die blom. Sommige blomme het snellermeganismes. Wanneer insekte aan die sneller raak, word hulle deur die stuifmeeldraende helmknoppe geklap.
15. Hoe verseker die mofpyp kruisbestuiwing, en tot watter vraag gee dit aanleiding?
15 Die mofpyp kan homself byvoorbeeld nie bestuif nie, maar het insekte nodig wat stuifmeel van ’n ander blom af inbring. Die plant het ’n pypvormige blaar wat sy blom omhul, en hierdie blaar is met was bedek. Insekte, wat deur die geur van die blom gelok word, gaan sit op die blaar en gly teen die gladde glybaan af na ’n kamer aan die onderkant. Daar ontvang ryp stempels die stuifmeel wat die insekte ingebring het, en bestuiwing vind plaas. Maar die insekte word nog drie dae daar vasgekeer deur hare en die wasbedekte kante. Daarna word die blom se eie stuifmeel ryp en aan die insekte afgesmeer. Eers dan verlep die haartjies, buig die wasbedekte glybaan oor totdat dit horisontaal is. Die insekte loop uit en vlieg dan met hulle nuwe voorraad stuifmeel na ’n ander mofpyp om dit te bestuif. Die insekte gee nie om om drie dae ingekluister te wees nie, want hulle smul aan die nektar wat daar vir hulle gehou word. Het al hierdie dinge per toeval gebeur? Of is dit die gevolg van intelligente ontwerp?
16. Hoe sorg sommige Ophrys-orgideë en die emmerorgidee dat hulle bestuif word?
16 Sommige variëteite van die Ophrys-orgidee het ’n prentjie van ’n wyfiewesp, kompleet met oë, voelers en vlerke, op hulle kroonblare. Dit gee selfs die reuk af van ’n wyfie wat gereed is om te paar! Die mannetjie kom om te paar, maar bestuif net die blom. ’n Ander orgidee, die emmerorgidee, het gegiste nektar wat die by onvas op sy bene maak; hy val in ’n emmertjie vloeistof, en die enigste manier om uit te kom is om onder ’n stafie deur te kruip wat die by vol stuifmeel smeer.
Die natuur se “fabrieke”
17. Hoe werk blare en wortels saam om plante te voed?
17 Die groen blare van plante voed die wêreld, regstreeks of onregstreeks. Maar hulle kan nie sonder die hulp van worteltjies funksioneer nie. Miljoene worteltjies—waarvan elke wortelpunt toegerus is met ’n beskermende mus, en elke mus met olie gesmeer is—stoot hulle pad deur die grond. Wortelhare agter die olierige mus absorbeer water en minerale wat langs kanaaltjies in die spinthout na die blare beweeg. In die blare word suikers en aminosure vervaardig, en hierdie voedingstowwe word dwarsdeur die boom en na die wortels gestuur.
18. (a) Hoe kom water van die wortels tot by die blare, en wat toon dat hierdie stelsel heeltemal voldoende is? (b) Wat is transpirasie, en hoe dra dit tot die waterkringloop by?
18 Sekere aspekte van die omloopstelsel van bome en plante is so verbasend dat talle wetenskaplikes dit as feitlik wonderbaarlik beskou. Eerstens, hoe word die water 60 tot 90 meter bo die grond gepomp? Dit word aanvanklik deur worteldruk opgedruk, maar in die stam neem ’n ander meganisme oor. Watermolekules bly bymekaar as gevolg van kohesie. Soos die water uit die blare verdamp, word die water as gevolg van hierdie kohesie soos toue opgetrek—toue wat van die wortels tot by die blare strek en teen 60 meter per uur beweeg. Daar word gesê dat hierdie stelsel water in ’n boom ongeveer drie kilometer hoog kan oplig! Namate oortollige water uit die blare verdamp (genaamd transpirasie), word miljarde tonne water in die lug teruggeplaas, om weer as reën te val—’n volmaak ontwerpte stelsel!
19. Watter noodsaaklike diens word gelewer deur die vennootskap tussen sommige wortels en sekere bakterieë?
19 Dit is nie al nie. Die blare het nitrate of nitriete uit die grond nodig om noodsaaklike aminosure te maak. ’n Deel hiervan word deur weerlig en deur sekere vrylewende bakterieë in die grond geplaas. Voldoende hoeveelhede stikstofverbindings word ook deur peulplante gevorm—plante soos ertjies, klawer, boontjies en lusern. Sekere bakterieë gaan die wortels binne, die wortels voorsien die bakterieë van koolhidrate, en die bakterieë verander stikstof uit die grond in bruikbare nitrate en nitriete teen ’n tempo van sowat 220 kilogram per hektaar per jaar.
20. (a) Wat doen fotosintese, waar vind dit plaas, en wie verstaan die proses? (b) Hoe beskou een bioloog dit? (c) Wat kan groen plante genoem word, waarin blink hulle uit, en watter vrae is gepas?
20 Dit is nog steeds nie al nie. Groen blare gebruik energie van die son, koolstofdioksied uit die lug en water uit die plant se wortels om suiker te maak en suurstof af te gee. Die proses heet fotosintese, en dit vind plaas in selliggaampies genaamd chloroplaste—so klein dat 400 000 op die punt aan die einde van hierdie sin kan pas. Wetenskaplikes verstaan nie die proses ten volle nie. “Ongeveer sewentig verskillende chemiese reaksies is by fotosintese betrokke”, het een bioloog gesê. “Dit is waarlik ’n wonderbaarlike gebeurtenis.”12 Groen plante is al die natuur se “fabrieke” genoem—hulle is mooi, stil, nie-besoedelend, vervaardig suurstof, hersirkuleer water en voed die wêreld. Het hulle bloot per toeval in aansyn gekom? Is dit werklik geloofwaardig?
21, 22. (a) Hoe het twee beroemde wetenskaplikes oor die intelligensie in die natuur getuig? (b) Hoe redeneer die Bybel oor hierdie saak?
21 Sommige van die wêreld se beroemdste wetenskaplikes kan dit beswaarlik glo. Hulle sien intelligensie in die natuur. Hoewel fisikus Robert A. Millikan, ’n Nobelpryswenner, aan evolusie glo, het hy nietemin by ’n vergadering van die Amerikaanse Fisika-Vereniging gesê: “Daar is ’n Godheid wat oor ons lot beskik . . . ’n Suiwer materialistiese filosofie is vir my die toppunt van dwaasheid. Wyse manne van alle eeue het altyd genoeg gesien om hulle ten minste eerbiedig te stem.” In sy toespraak het hy Albert Einstein se beroemde woorde aangehaal, waar Einstein gesê het dat hy “nederig probeer het om selfs ’n infinitesimale deel van die intelligensie wat in die natuur te sien is te verstaan”.13
22 Oral om ons heen is daar bewyse van ontwerp, in eindelose verskeidenheid en verstommende ingewikkeldheid, iets wat op bomenslike intelligensie dui. Dié gevolgtrekking word ook in die Bybel gestel, waar ontwerp toegeskryf word aan ’n Skepper wie se “onsigbare dinge [“hoedanighede”, NW] . . . van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie”.—Romeine 1:20.
23. Watter redelike gevolgtrekking lug die psalmis?
23 Met soveel bewyse van ontwerp in die lewende dinge om ons, het diegene wat sê dat blinde toeval daarvoor verantwoordelik is inderdaad “geen verontskuldiging” nie. Dit is gevolglik nie onredelik vir die psalmis om die eer aan ’n intelligente Skepper te gee nie: “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele! Daar is die see, groot en alkante toe wyd—daar is ’n gewemel sonder tal, klein diere saam met grotes.”—Psalm 104:24, 25.
[Lokteks op bladsy 151]
“Sewentig verskillende chemiese reaksies is by fotosintese betrokke. Dit is waarlik ’n wonderbaarlike gebeurtenis”
[Venster/Prente op bladsy 148, 149]
Die verbasende ontwerp van sade
Sade ryp en reisvaardig!
’n Verskeidenheid vindingryke ontwerpe word gebruik om sade te versprei. Orgideesade is so lig dat hulle soos stof wegdryf. Perdeblomsade is toegerus met valskerms. Esdoringsade het vlerke en fladder weg soos skoenlappers. Sommige waterplante rus hulle sade toe met luggevulde vlotte sodat hulle kan wegseil.
Sommige plante het peule wat oopbreek en die sade uitskiet. Die gladde sade van hamamelis word eers vasgedruk en dan uit die vrug geskiet soos waatlemoensade wat kinders tussen die duim en voorvinger uitskiet. Die spring-komkommer gebruik hidroulika. Namate dit groei, verdik die skil na binne en oefen dit al hoe groter druk uit op die beweeglike inhoud. Teen die tyd dat die sade ryp is, is die druk so groot dat dit die stingel soos ’n kurk uit ’n bottel skiet, sodat die sade uitskiet.
[Prente]
Perdeblom
Esdoring
Spring-komkommer
Saadjies wat reënval meet
Sommige woestynjaarplante het sade wat weier om te ontkiem voordat daar ’n reënval van 15 millimeter of meer was. Hulle weet skynbaar ook uit watter rigting die water kom—as dit van bo af reën, sal hulle ontkiem, maar as dit van onder af opgesuig word, sal hulle nie. In die grond is daar soute wat verhinder dat die sade ontkiem. Reën van bo is nodig om hierdie soute weg te spoel. Water wat van onder opgesuig word, kan dit nie doen nie.
Indien hierdie woestynjaarplante na slegs ’n ligte reënbui uitgeloop het, sou hulle doodgaan. ’n Swaar neerslag is nodig om genoeg vog in die grond te plaas sodat die plante latere droë tye kan oorleef. Hulle wag dus daarvoor. Toeval—of ontwerp?
’n Reus in ’n klein pakkie
Die grootste lewende ding op aarde—die reuse-sequoiaboom—is in een van die kleinste saadjies verpak. Die boom word meer as 90 meter hoog. En 1,2 meter bokant die grond kan sy deursnee 11 meter wees. Een boom kan genoeg hout bevat om 50 huise met ses vertrekke elk te bou. Die bas, wat 60 sentimeter dik is, bevat tannien wat insekte afweer, en die sponserige, veselrige tekstuur maak dit amper net so vuurvas soos asbes. Die boom se wortels strek oor 1,2 tot 1,6 hektaar. Hy word meer as 3 000 jaar oud.
Die saadjies wat ’n sequoiaboom by die miljoene laat neerreën, is egter nie veel groter as ’n speldekop met klein vlerkies nie. ’n Nietige mens wat aan die voet van ’n sequoia staan, kan maar net in stille ontsag opwaarts staar. Het dit sin om te glo dat die ontwikkeling van hierdie majestueuse reus en van die saadjie waarin hy verpak is nie aan ontwerp te danke is nie?
[Venster/Prente op bladsy 150]
Musikale virtuose
Die spotvoël is beroemd as ’n nabootser. Een het in een uur 55 ander voëls nageboots. Maar dit is die spotvoël se oorspronklike komposisies van melodieuse voëlgesang waaraan mense hulle verluister. Dit is immers veel omvattender as die paar eenvoudige note wat nodig is om gebiedsaansprake uit te basuin. Is dit vir hulle genot—en ons s’n?
Die musikale winterkoninkies van Suid-Amerika is ewe verbasend. ’n Mannetjie en wyfie sing duette, net soos ander tropies voëlpare. Hulle uitvoerings is uniek, soos een naslaanwerk sê: “Die wyfie en mannetjie sing dieselfde lied saam, of verskillende liedere, of om die beurt verskillende dele van dieselfde lied; die tydsberekening is so akkuraat dat dit klink asof net een voël sing.”a Hoe pragtig is hierdie sagte musikale dialoë tog wanneer die mannetjie en wyfie met mekaar kommunikeer! ’n Bloot toevallige verskynsel?
[Prente op bladsy 142]
Dit vereis ’n ontwerper
Het dit geen ontwerper nodig nie?
[Prente op bladsy 143]
Ontwerpe in kristalskelette van mikroskopiese plante
Diatome
[Prente op bladsy 144]
Radiolarieë: ontwerpe in kristalskelette van mikroskopiese diertjies
Venus-blommandjie
[Prent op bladsy 145]
Baie blomme het wegwysers om insekte na versteekte nektar te lei
[Prente op bladsy 146]
Sommige blomme het wasbedekte glybane om insekte te vang sodat bestuiwing kan plaasvind
Waarom lyk hierdie orgidee soos ’n wyfiewesp?
[Prent op bladsy 147]
Daar word gesê dat die kohesie tussen watermolekules water in ’n boom drie kilometer hoog kan oplig!