Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 11/22 bl. 19-23
  • Beskerm jou teen voedselverspreide siektes

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Beskerm jou teen voedselverspreide siektes
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hulle boer met ’n epidemie
  • Voordat jy dit koop . . .
  • Voordat jy dit eet . . .
  • Voordat jy dit wegbêre . . .
  • Hoe om voedsel veiliger te maak
    Ontwaak!—2001
  • 3. Let op hoe jy kos voorberei en bêre
    Ontwaak!—2012
  • Sewe wenke om kos veilig te hou en gesond te eet
    Nog onderwerpe
  • Wat doen ons aan ons voedsel?
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 11/22 bl. 19-23

Beskerm jou teen voedselverspreide siektes

“EK KON 12 ure lank nie eers uit die badkamer kom nie”, sê Becky. “Die krampe was ongelooflik. Ek het so ontwater dat ek binneaarse vloeistowwe by die ongevalleafdeling moes ontvang. Ek het eers twee of drie weke later weer normaal gevoel.”

Becky is aangetas deur voedselvergiftiging, ’n voedselverspreide siekte. Soos die meeste slagoffers het sy dit oorleef. Maar die herinnering aan haar beproewing bly helder. “Ek het nooit besef dat voedselvergiftiging jou so siek kan laat voel nie”, sê sy.

Ondervindinge soos dié, en erger, is ontstellend algemeen. Tientalle bakterieë, virusse, parasiete en protosoa bedreig ons voedsel. En terwyl sommige soorte voedselverspreide siektes in onlangse jare in nywerheidslande afgeneem het, berig die tydskrif World Health dat “salmonella-besmetting en sommige ander alle pogings weerstaan het om hulle te beheer”.

Dit is moeilik om die omvang van voedselvergiftiging vas te stel omdat die meeste gevalle nie aangemeld word nie. Dr. Jane Koehler van die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer sê: “Die gevalle waarvan ons weet, is net die puntjie van die ysberg.”

Waardeur word voedselverspreide siektes veroorsaak? Dit sal jou dalk verbaas om te hoor dat die probleem dikwels begin lank voordat die voedsel die mark bereik.

Hulle boer met ’n epidemie

Moderne boerderytegnieke waarborg so te sê die vinnige oordrag van siektekieme onder vee. In die Amerikaanse beesvleisbedryf word daar byvoorbeeld kalwers van ongeveer 900 000 plase na minder as honderd slagpale gestuur. Sulke vermenging kan veroorsaak dat een plaas se besmettingsfaktor ’n epidemie laat begin.

Verder beweer dr. Edward L. Menning, die direkteur van die Nasionale Vereniging vir Staatsveeartse in die Verenigde State, dat “dertig persent of meer van die diere se voer met siektekieme besmet is”. Soms word voer met afval van die slagpale aangevul om ekstra proteïene te voorsien—’n gebruik wat salmonella en ander kieme kan versprei. Wanneer diere lae dosisse antibiotika kry om groei te bevorder, kan kieme weerstand teen geneesmiddels opbou. “’n Goeie voorbeeld is salmonella, wat ál meer teen antibiotika bestand word”, sê dr. Robert V. Tauxe van die Sentrums vir Siektebeheer. “Ons dink dit is omdat antibiotika aan slagdiere gegee word. Dit kan ook met ander bakterieë die geval wees.”

Slegs ’n klein persentasie van hoenders het salmonella in hulle ingewande wanneer hulle van die plaas na die slagpale gaan, maar die mikrobioloog Nelson Cox beweer dat “dit tydens vervoer van twintig tot vyf-en-twintig persent toeneem”. Die hoenders word in klein hokkies ingeprop en kan maklik besmet word. Hoëspoedslagting en -verwerking vergroot die gevaar. “Aan die einde van die produksiebaan is die voëls geensins skoner as een wat in ’n vuil toilet gedompel is nie”, beweer die mikrobioloog Gerald Kuester. “Hulle is miskien gewas, maar die kieme is nog steeds daar.”

Grootskaalse vleisverwerking kan eweneens gevaarlik wees. “Die hoeveelhede voedsel wat tegelykertyd verwerk word in moderne voedselverwerkingsaanlegte is so groot dat een of twee inkomende elemente wat besmet is tonne van die finale produk kan bederf”, sê The Encyclopedia of Common Diseases. ’n Enkele stuk besmette beesvleis kan byvoorbeeld elke frikkadel besmet wat uit daardie meule kom. Daarbenewens kan voedsel wat by ’n sentrale punt voorberei en dan na winkels en restaurante gestuur word vatbaar wees vir besmetting as die regte temperatuur nie gedurende vervoer gehandhaaf word nie.

Hoeveel van die voedsel wat by die mark aankom, is ’n moontlike bedreiging? “Ten minste 60 persent van alles in die kleinhandel”, beweer dr. Menning. Maar jy kan stappe doen om jou teen voedselverspreide siektes te beskerm, want die tydskrif FDA Consumer sê dat “30 persent van al hierdie siektes veroorsaak word deur die onveilige hantering van voedsel by die huis”. Watter voorsorgmaatreëls kan jy tref?

Voordat jy dit koop . . .

Lees die etiket. Wat is die bestanddele? Wees versigtig as rou eiers gebruik is, soos in slaaisouse of in mayonnaise. Melk en kaas moet as “gepasteuriseer” gemerk wees. Let op die “verkoop teen”- of “gebruik teen”-datums. Moenie aanneem dat produkte wat na bewering geen chemiese bymiddels bevat noodwendig veilig is nie; dit kan jou aan gevare blootstel wat daardie bymiddels veronderstel is om te verhoed.

Bestudeer die voedsel en die verpakking. As voedsel nie vars lyk nie, moet jy dit nie koop nie. Wat vis betref, heel vis moet helder oë, rooi kieue en ongeskonde, ferm vleis hê, en mote en visskywe moet helder en blink wees met geen sterk of onaangename reuk nie. Vis moet óf op ys, óf in ’n koelkas wees. As voorafgekookte vis langs rou vis uitgestal word, kan dit mekaar besmet. Daarbenewens kan blikke en flesse wat lek, wat opgeswel of enigsins beskadig is botulisme tot gevolg hê—’n seldsame maar soms noodlottige vergiftiging wat die sentrale senustelsel aantas.

Voordat jy dit eet . . .

Kook dit goed. Dit is een van jou beste verdedigingsmiddele teen infeksie. “Neem aan dat elke produk van dierlike oorsprong besmet is, en behandel dit dienooreenkomstig”, raai dr. Cohen aan. Eiers moet gekook word totdat beide die geel en die wit styf is en nie loperig nie. Aangesien bakterieë in temperature tussen 4 en 60 grade Celsius kan groei, moet vleis gaargemaak word sodat die middel 71 grade Celsius bereik, en pluimvee moet 82 grade Celsius bereik.

Kook met skoon kombuisgerei. Alle kombuisgerei moet deeglik skoongemaak word nadat dit gebruik is. Hoewel sommige beweer dat houtkerfplanke bakterieë kan huisves, sê een studie dat hulle veiliger is as plastiekkerfplanke.a Ongeag watter soort plank jy gebruik, dit moet deeglik met seep en warm water gewas word. Party stel voor dat bleikmiddel ook gebruik word. Was jou hande nadat jy met rou vleis en pluimvee gewerk het, want enigiets waaraan jy raak, kan besmet word.

Hou die horlosie dop. Bring kruideniersware so gou as moontlik huis toe. Verder, “niks moet langer as twee uur buite die yskas wees nie, of dit nou gekook of rou is”, sê dieetkundige Gail A. Levey. “As die temperatuur buite meer as 90 grade [32°C] is”, voeg sy by, “moet daardie tyd tot een uur verkort word.”

Voordat jy dit wegbêre . . .

Gebruik die regte houers. Verdeel warm voedsel in klein houers sodat dit vinnig in die yskas sal afkoel. Laat spasie vir sirkulasie rondom die houers sodat die temperatuur in jou yskas of vrieskas nie styg nie. Alle houers moet bedek wees om besmetting te voorkom.

Gaan jou yskas na. Die vrieskas se temperatuur moet nie hoër as -18 grade Celsius wees nie, en dié van die yskas moet onder 4 grade Celsius wees. Hoewel vleis en pluimvee maande lank in die vrieskas gehou kan word, kan dit binne enkele dae sleg word in die yskas. Eiers moet binne drie weke gebruik word. Om te verhoed dat hulle kraak en om hulle koud genoeg te hou, is dit die beste om hulle in hulle oorspronklike houer te los en hulle in die hoofdeel van die yskas te bêre eerder as in die eierrak in die deur, een van die warmste plekke in die yskas.

As voedsel ondanks al die bogenoemde voorsorgmaatreëls verdag lyk of ruik, gooi dit weg! Hoewel voedselverspreide siektes dikwels sonder ernstige gevolge kom en gaan, kan dit in sommige gevalle—veral by kinders, bejaardes en dié met immuniteitsgebreke—noodlottig wees.b

God het duisende jare gelede vir Noag gesê: “Al die diere, voëls en visse, . . . ek gee hulle almal vir julle as voedsel” (Genesis 9:2, 3, Today’s English Version). Produksiebaanslagting en gesentraliseerde verwerking, gekoppel met grootskaalse verspreiding, voeg ’n onheilspellende kommentaar by daardie woorde. Doen derhalwe jou deel as ’n verbruiker. Wees versigtig wanneer jy jou voedsel koop, kook en wegbêre.

[Voetnote]

a Sien die Ontwaak! van 8 Desember 1993, bladsy 28.

b As jy ’n voedselverspreide siekte opdoen, moet jy baie rus kry en vloeistowwe soos sap, sop of verslaande gaskoeldrank drink. As neurologiese simptome ontwikkel of as koors, duiseligheid, vomering, bloederige stoelgang of kwaai pyn voortduur of as jy in ’n hoërisikogroep is, sal dit dalk raadsaam wees om ’n dokter te raadpleeg.

[Venster op bladsy 23]

Wanneer jy nie by die huis eet nie

Pieknieks. Gebruik ’n goed geïsoleerde koelsak met ys daarin. Hou dit eerder in die passasiersgedeelte van jou motor as in die kattebak. By die piekniekterrein moet die koelsak in die koelte gehou word met die deksel toe. Hou alle rou voedsel apart van ander voedsel. Mense word afgeraai om voedsel by die huis gedeeltelik te kook en dit dan later op ’n rooster klaar gaar te maak, want bakterieë groei goed in halfgekookte voedsel.

Restaurante. “Vermy restaurante wat nie skoon lyk nie”, waarsku dr. Jonathan Edlow. “As die eetplek vuil lyk, is die kombuis heel waarskynlik ook vuil.” Stuur enige “warm” voedsel terug wat nie warm of deeglik gaar is nie. Pluimvee wat net effens pienk is, moet nie geëet word nie. Gebakte eiers moet aan albei kante goed gaar wees. “Hoe loperiger die geel van die eier, hoe groter die risiko”, waarsku FDA Consumer.

Slaaitoonbanke. Aangesien slaaitoonbanke voedsel kombineer wat verskillende grade van gaarmaak en verkoeling vereis, is hulle “perfekte mikrobiese speelplekke”, soos die tydskrif Newsweek dit noem. Kyk dat die slaaitoonbank skoon is, en maak seker dat voedsel wat koud moet wees op ys gehou word. Selfs as slaaitoonbanke goed in stand gehou word, kan kieme van een klant na die volgende oorgedra word. Dit is soos die mikrobioloog Michael Pariza gesê het: “Jy weet nie wie laaste aan die lepel gevat het wat in die slaaisous val nie.”

Gesellighede. Dr. Edlow stel voor dat die gasheer tydens ’n buffetete “klein hoeveelhede voedsel op die tafel sit en die bakke eerder uit ’n verkoelde of warm voorraad hervul as om dit lank buite te laat staan”. Hou koue voedsel kouer as 4 grade Celsius en warm voedsel warmer as 60 grade Celsius. Vleis wat vir latere gebruik gekook word, moet onmiddellik verkoel word en so gehou word totdat dit gereed is om vervoer te word. Voordat dit geëet word, kan die voedsel deeglik opgewarm word.

[Prent op bladsy 20]

As dit nie vars lyk nie, moet dit nie koop nie

[Prent op bladsy 22]

Is die kombuis in die restaurant waar jy eet skoon?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel