Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 12/22 bl. 4-7
  • Wat doen ons aan ons voedsel?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat doen ons aan ons voedsel?
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hormone en antibiotika
  • Bestraalde voedsel
  • Geneties gewysigde voedsel
  • Neem gebalanseerde persoonlike besluite
  • Geneties gewysigde voedsel—Is dit veilig?
    Ontwaak!—2000
  • Hoe om voedsel veiliger te maak
    Ontwaak!—2001
  • Sewe wenke om kos veilig te hou en gesond te eet
    Nog onderwerpe
  • Beskerm jou teen voedselverspreide siektes
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 12/22 bl. 4-7

Wat doen ons aan ons voedsel?

DIE feit dat ons ons voedsel wysig, is niks nuuts nie. Trouens, die mens doen dit al geslagte lank met groot vernuf. Deur middel van sorgvuldige teel- en kweekmetodes is talle nuwe soorte gewasse, beeste en skape ontwikkel. ’n Verteenwoordiger van die Amerikaanse Voedsel- en Medisyneraad het selfs gesê dat “byna elke voedselsoort wat ’n mens koop, deur tradisionele teel- en kweekmetodes gewysig is”.

Teel- en kweekmetodes is nie die enigste manier waarop voedsel gewysig word nie. Die voedselbedryf het baie metodes ontwikkel om voedsel te behandel en te verwerk, hetsy dit is om die geur of kleur daarvan te verbeter of om dit te standaardiseer en te bewaar. Mense is daaraan gewoond om voedsel te eet wat op die een of ander manier gewysig is.

Maar al hoe meer verbruikers is besorg oor wat nou aan ons voedsel gedoen word. Waarom? Party vrees dat moderne metodes wat tans gebruik word, ’n gevaar vir die veiligheid van ons voedsel inhou. Is daar rede om besorg te wees? Kom ons kyk na drie gebiede wat kommer wek.a

Hormone en antibiotika

Sedert die 1950’s is klein hoeveelhede antibiotika op party plekke by die voer van pluimvee, varke en beeste gevoeg. Die doel is om die risiko van siekte te verminder, veral waar diere saam in beknopte ruimtes aangehou word. In sommige lande word hormone ook by veevoer gevoeg sodat die diere vinniger kan groei. Blykbaar beskerm hormone en antibiotika diere teen infeksies en maak dit intensiewe boerdery winsgewender, wat die verbruiker in die vorm van laer pryse bevoordeel.

Tot dusver klink alles nog goed. Maar hou die vleis van diere wat hierdie bymiddels gevoer word, enige gevaar vir die verbruiker in? Volgens ’n verslag deur die Ekonomiese en Maatskaplike Komitee van die Europese Gemeenskappe bestaan die moontlikheid dat bakterieë nie deur die antibiotika doodgemaak sal word nie en aan die verbruiker oorgedra sal word. “Sommige van hierdie bakterieë, soos Salmonella en Kampilobakter, is dalk ’n regstreekse oorsaak van ernstige siektes onder mense via die voedselketting”, het die verslag bevind. En sê nou die voedselketting bevat nie net bakterieë nie, maar ook die oorblyfsels van antibiotika? Daar het al vrese ontstaan dat kieme wat siektes in mense veroorsaak, as gevolg hiervan geleidelik weerstand teen antibiotika kan opbou.

Wat van vleis wat met hormone behandel is? ’n Professor in München, Duitsland, dr. Heinrich Karg, sê: “Alle deskundiges stem saam dat die vleis van diere wat met hormone behandel is, nie gesondheidsgevare inhou nie, mits die middels in ooreenstemming met die riglyne toegedien word.” Die koerant Die Woche berig egter dat “navorsers die afgelope 15 jaar nie eenstemmigheid kon bereik” oor die geskil of vleis van diere wat met hormone gevoer is veilig is nie. En in Frankryk is die vraag oor hormone in vleis beantwoord met ’n besliste ‘Nee! Hormone moet nie gebruik word nie!’ Dit is duidelik dat die geskil nog lank nie opgelos is nie.

Bestraalde voedsel

Sedert proefnemings in 1916 in Swede begin het, het ten minste 39 lande die gebruik goedgekeur om voedselsoorte soos aartappels, mielies, vrugte en vleis aan lae vlakke van bestraling bloot te stel. Waarom? Bestraling maak na bewering die meeste bakterieë, insekte en parasiete dood en verminder sodoende die verbruiker se risiko om voedselgedrae siektes op te doen. Dit verleng ook die raklewe van die produk.

Deskundiges sê natuurlik dat die voedsel wat ons eet, verkieslik skoon en vars moet wees. Maar wie neem die tyd om gereeld vars voedsel voor te berei? “Tien minute vir ontbyt en vyftien minute vir middag- en aandete” is, volgens die tydskrif Test, die hoeveelheid tyd wat die gemiddelde mens opsy sit om te eet. Dit is dus nie verbasend nie dat baie verbruikers voedsel verkies wat gereed is om geëet te word en ’n lang raklewe het. Maar is bestraalde voedsel veilig?

In 1999 het die Wêreldgesondheidsorganisasie ’n studie gepubliseer wat deur ’n internasionale paneel van deskundiges gedoen is. Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat bestraalde voedsel “veilig is om te eet en voldoende voedingswaarde het”. Voorstanders vergelyk die bestraling van voedsel met die sterilisering van mediese verbande—wat ook deur bestraling gedoen word—of met die elektroniese skandering van bagasie by die lughawe. Maar kritici dring daarop aan dat bestraling die natuurlike voedingswaarde van voedsel verminder en dalk risiko’s inhou wat nog onbekend is.

Geneties gewysigde voedsel

Genetici kan al ’n geruime tyd ’n geen van die DNS van een organisme oorplant in die DNS van ’n ander wat aan dieselfde spesie behoort. Vandag kan genetici egter heelwat verder gaan. Daar is byvoorbeeld aarbeie en tamaties wat gewysig is met ’n geen wat van ’n vis geneem is, sodat hulle minder sensitief vir lae temperature is.

Baie is al vir en teen geneties gewysigde (GM) voedsel gesê.b Voorstanders sê dat hierdie soort biotegnologie meer voorspelbaar en beheerbaar is as tradisionele metodes om plante te verbou, dat dit opbrengste sal verhoog en hongersnood sal verminder. Maar is GM voedsel veilig?

’n Verslag oor die onderwerp is deur ’n span wetenskaplikes saamgestel wat akademies in Engeland en die Verenigde State sowel as Brasilië, China, Indië, Mexiko en ander nasies van die ontwikkelende wêreld verteenwoordig het. Die verslag wat in Julie 2000 gepubliseer is, het gesê: “Tot op hede is meer as 30 miljoen hektaar transgenetiese [GM] gewasse verbou en is daar geen gesondheidsprobleme onder mense geïdentifiseer wat spesifiek verband hou met die inname van transgenetiese gewasse of die produkte daarvan nie.” In party gebiede voel mense dat GM produkte net so veilig soos gewone voedsel is.

Daar is egter algemene onsekerheid op ander plekke. In Brittanje, Frankryk en Oostenryk vertrou party mense nie GM voedsel nie. ’n Nederlandse politikus het oor GM voedsel gesê: “Daar is sekere voedselsoorte waarvan ons eenvoudig nie hou nie.” Kritici wys ook op die etiese vrae en die moontlike gevare wat hierdie voedsel vir die omgewing inhou.

Sommige wetenskaplikes meen dat dit maar net die begin van die ontwikkeling van GM voedsel is en dat meer toetse gedoen moet word oor die moontlike risiko’s vir die verbruikers. Die Britse Mediese Vereniging meen byvoorbeeld dat genetiese manipulering groot voordele vir die bevolking inhou. Maar dit sê dat sekere bekommernisse—soos die kwessie oor allergiese reaksies op GM voedsel—beteken dat “meer navorsing nodig is”.

Neem gebalanseerde persoonlike besluite

In party lande word tot 80 persent van die voedsel wat geëet word, verwerk. Bymiddels word dikwels gebruik om die geur en kleur te verbeter of te standaardiseer, sowel as om die raklewe te verleng. Trouens, een naslaanwerk sê dat “talle moderne produkte, soos [laekilojoule]-, peusel- en kitskos, nie sonder voedselbymiddels moontlik sou wees nie”. Sulke voedsel sal heel waarskynlik ook geneties gewysigde bestanddele bevat.

Die landbou regoor die wêreld maak al jare lank op metodes staat wat baie mense as skadelik beskou. Die gebruik van giftige plaagdoders is net een voorbeeld hiervan. Die voedselbedryf gebruik boonop ’n geruime tyd al bymiddels wat moontlik tot allergiese reaksies in party verbruikers gelei het. Is nuwe voedseltegnologieë aansienlik gevaarliker as hierdie metodes? Selfs deskundiges kan nie eenstemmigheid bereik nie. Trouens, indringende wetenskaplike verslae steun teenoorgestelde kante van die argument en dra blykbaar tot die meningsverskil by.

Omdat baie mense hipertegnologiese voedsel as iets beskou wat moeilik is om te vermy of omdat hulle ander sake as dringender beskou, besluit hulle om hulle nie oor die saak te kwel nie. Maar ander is baie bekommerd. Wat kan jy doen as jy en jou gesin onseker is of julle geprosesseerde voedsel moet eet waarby moderne tegnologie blykbaar ’n groot rol in die vervaardiging gespeel het? Daar is praktiese stappe wat jy kan neem, waarvan party in die volgende artikel bespreek word. Maar eers sal dit dalk goed wees om seker te maak dat ons ’n gebalanseerde beskouing oor die saak het.

Voedselveiligheid is soos gesondheid. Dit is tans onmoontlik om ’n volmaakte oplossing te vind. Volgens die Duitse tydskrif natur & kosmos moet ’n mens altyd ’n vergelyk tref wanneer dit by voeding kom, selfs onder mense wat altyd hulle voedsel met die grootste sorg kies en voorberei. Wat goed is vir die een persoon, is dalk sleg vir die ander. Is dit dan nie verstandig om ’n gebalanseerde gesindheid aan te kweek en uiterstes te vermy nie?

Die Bybel sê natuurlik nie vir ons watter besluite ons met betrekking tot vandag se hipertegnologiese voedsel moet neem nie. Maar dit leer ons wel van ’n eienskap wat ons moet aankweek om ons hiermee te help. Filippense 4:5 sê: “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word.” Redelikheid kan ons help om gebalanseerde besluite te neem en uiterstes te vermy. Dit kan ons daarvan weerhou om aan ander voor te skryf wat hulle in hierdie saak moet of nie moet doen nie. En dit kan voorkom dat ons by sinlose, verdelende geskille betrokke raak met mense wat dalk ’n ander beskouing as ons oor die onderwerp het.

Maar baie van die gevare wat met voedsel verband hou, is natuurlik nie so omstrede nie. Wat is van hierdie gevare, en watter veiligheidsmaatreëls kan jy neem?

[Voetnote]

a Wat ons eet, is merendeels ’n persoonlike saak. Ontwaak! raai nie lesers aan of af om enige van die verskillende voedselsoorte wat hierin bespreek word, te eet of te vermy nie, ongeag die tegnologie wat gebruik word om dit voor te berei. Hierdie artikels is bedoel om lesers oor die jongste feite in te lig.

b Sien asseblief die Ontwaak! van 22 April 2000.

[Prent op bladsy 4]

Het hormone en antibiotika in veevoer ’n uitwerking op die verbruiker?

[Prent op bladsy 6]

Dit is goed om die etikette op voedsel sorgvuldig te lees

[Prent op bladsy 7]

Dit hou voordele in om gereeld vars voedsel te koop

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel