Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 12/8 bl. 23-25
  • Vlieënde Rotse

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vlieënde Rotse
  • Ontwaak!—1995
  • Soortgelyke materiaal
  • Asteroïdes, komete en die aarde—Stuur hulle op ’n botsing af?
    Ontwaak!—1999
  • ’n Rots uit die buitenste ruimte
    Ontwaak!—2005
  • Waar kom verskietende sterre vandaan?
    Ontwaak!—1993
  • Die lewende planeet
    Is lewe geskep?
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 12/8 bl. 23-25

Vlieënde Rotse

Het jy al ooit ’n verskietende ster op ’n helder aand in ’n ligstraal deur die lug sien trek? Dit is moontlik net ’n kwessie van tyd voor jy een sien. Volgens wetenskaplikes skiet hierdie vuurballe van die natuur ongeveer 200 000 000 keer elke dag deur die aarde se lugruim!

Wat is hulle? Hulle is bloot steenagtige of metaalagtige voorwerpe wat meteoroïede genoem word en witwarm gloei wanneer hulle die aarde se atmosfeer binnekom. Die helder ligstreep waarmee hulle deur die lug trek en wat van die aarde af gesien word, word ’n meteoor genoem.

Die meeste meteoroïede brand heeltemal uit voordat hulle die aarde bereik, maar party deurstaan die intense hitte en kom op die aardoppervlak te lande. Húlle word meteoriete genoem. Sommige wetenskaplikes raam dat daar elke dag ongeveer 1 000 ton van hierdie vlieënde rotse op die aarde val.a

Hierdie neerstortings is selde gevaarlik vir mense, hoofsaaklik omdat hierdie vlieënde rotse betreklik klein is. Trouens, die meeste meteore word veroorsaak deur meteoroïede wat niks groter as ’n sandkorrel is nie. (Sien venster “Rotse vanuit die buitenste ruimte”.) Maar wat van die duisende groter rotse wat deur die ruimte trek? Neem byvoorbeeld die een wat as Ceres bekend staan en ongeveer 1 000 kilometer in deursnee is! En daar is sowat 30 ander rotse waarvan ons weet wat ’n deursnee van meer as 190 kilometer het. Hierdie groter rotse is in werklikheid kleinplanete. Wetenskaplikes noem hulle asteroïede.

Gestel een van hierdie asteroïede bots met die aarde? Hierdie moontlike gevaar is een belangrike rede waarom wetenskaplikes asteroïede bestudeer. Hoewel die meeste asteroïede in ’n gordel tussen Mars en Jupiter wentel, het sterrekundiges sommige gevolg wat in werklikheid die wentelbaan van die aarde kruis. Die gevaar van ’n botsing word beklemtoon deur die bestaan van groot kraters soos die Meteoorkrater (wat ook as Barringer-krater bekend staan) naby Flagstaff, Arizona, VSA. Een van die teorieë vir die uitsterwing van die dinosourusse is dat ’n groot botsing die atmosfeer gewysig en die aarde in ’n lang tydperk van koue weerstoestande gedompel het wat die dinosourusse nie kon oorleef nie.

Indien so ’n rampspoedige botsing vandag sou plaasvind, sal dit die mensdom waarskynlik vernietig. Die Bybel sê egter: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:29.

[Voetnoot]

a Ramings wissel.

[Venster op bladsy 23]

’n Vuurbal op videoband

Sommige meteore is buitengewoon helder en groot. Hulle word vuurballe genoem. Op 9 Oktober 1992 het die vuurbal wat in die foto hierbo gewys word deur die lug oor verskeie state in die Verenigde State getrek. Die vuurbal is eers oor Wes-Virginië gesien en het oor ’n gebied van 700 kilometer verskyn. Een fragment, wat ongeveer 12 kilogram weeg, het op ’n geparkeerde motor in Peekskill, New York, te lande gekom.

Hierdie voorval is uniek omdat die skramshoek waarteen die meteoroïed die atmosfeer binnegekom het ’n vuurbal veroorsaak het wat meer as 40 sekondes geduur het. Dit het ’n ongeëwenaarde geleentheid gebied om dit op video op te neem, en dit is vanuit ten minste 14 verskillende gesigshoeke gedoen. Volgens die tydskrif Nature “is dit die eerste rolprente van ’n vuurbal waarvan ’n meteoriet gevind is”.

Die vuurbal het in ten minste 70 brokstukke gebreek, wat op sommige van die videobande as afsonderlike gloeiende projektiele verskyn. Hoewel net een meteoriet uit hierdie voorval gevind is, meen wetenskaplikes dat een of meer van die ander brokstukke die aarde se atmosfeer binnegedring en op die aarde geval het. Dit is dalk al wat oorgebly het van die groot meteoroïed wat voorheen ongeveer 20 ton geweeg het.

[Venster op bladsy 24]

Rotse vanuit die buitenste ruimte

Asteroïed: Word ook ’n planetoïed of ’n kleinplaneet genoem. Hierdie miniatuurplanete wentel in ’n baan om die son. Die meeste het onreëlmatige vorme wat moontlik aandui dat hulle brokstukke is van voorwerpe wat eens groter was.

Meteoroïed: ’n Betreklike klein stuk metaalagtige of steenagtige massa wat in die ruimte dryf of die atmosfeer binnekom. Sommige wetenskaplikes meen dat die meeste meteoroïede brokstukke van asteroïede is wat deur botsings of deur die rotsagtige oorblyfsels van uitgedoofde komete veroorsaak is.

Meteoor: Wanneer ’n meteoroïed die aarde se atmosfeer binnedring, veroorsaak die lugwrywing intense hitte en ’n helder glans. Hierdie spoor warm gloeiende gasse is vir ’n oomblik sigbaar as ’n ligstreep in die lug. Die ligstreep word ’n meteoor genoem. Baie noem dit ’n verskietende ster of ’n vallende ster. Die meeste meteore word eers gesien wanneer hulle ongeveer 100 kilometer bokant die aardoppervlak is.

Meteoriet: Somtyds is ’n meteoroïed so groot dat dit nie heeltemal uitbrand wanneer dit ons atmosfeer binnekom nie, en dit val op die aarde. Meteoriet is die term vir so ’n meteoroïed. Sommige kan baie groot en swaar wees. Een meteoriet in Namibië weeg meer as 60 ton. Ander groot meteoriete wat 15 ton of meer weeg, is al in Groenland, Mexiko en die Verenigde State gevind.

[Venster/Prent op bladsy 24]

Ida en sy klein maan

Terwyl die Galileo-ruimtetuig onderweg na Jupiter die asteroïed genaamd Ida afgeneem het, het dit ’n onverwagte ontdekking gedoen—die eerste gedokumenteerde voorbeeld van ’n maan wat om ’n asteroïed wentel. Soos berig in Sky and Telescope, raam wetenskaplikes dat hierdie eiervormige maan, wat Dactyl genoem word, 1,6 by 1,2 kilometer groot is. Sy wentelbaan is ongeveer 100 kilometer vanaf die middelpunt van die asteroïed Ida, wat 56 by 21 kilometer groot is. Hulle infrarooi kleureienskappe dui daarop dat beide Ida en sy klein maan deel is van die Koronis-asteroïedgroep, wat vermoedelik brokstukke van ’n enkele groot rots is wat deur ’n botsing in die ruimte uitmekaar gespat het.

[Erkenning]

NASA photo/JPL

[Prent op bladsy 25]

Meteoorkrater, naby Flagstaff, Arizona, VSA, is 1200 meter in deursnee en 200 meter diep

[Erkenning]

Foto deur D. J. Roddy en K. Zeller, U.S. Geological Survey

[Foto-erkenning op bladsy 23]

Sara Eichmiller Ruck

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel