Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 12/22 bl. 3-4
  • Wat gebeur vandag in skole?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat gebeur vandag in skole?
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe erg is dit?
  • Die kwessie van sedes
  • Te midde van kritieke tye
  • Die soeke na ’n goeie skoolopleiding
    Ontwaak!—1995
  • Skole beleef ’n krisis
    Ontwaak!—1994
  • Die onderwys—Die opofferings en die gevare
    Ontwaak!—2002
Ontwaak!—1995
g95 12/22 bl. 3-4

Wat gebeur vandag in skole?

“ONS skole in ’n krisis: Bring die polisie nou in” was ’n onlangse voorbladopskrif in ’n koerant van die stad New York. Die Onderwysraad van die stad New York het sy eie skoolveiligheidswagte—’n mag van 3 200—wat die meer as 1 000 stadskole patrolleer. Nou wil baie hê dat die gewone stadspolisie in die skole ingebring moet word om met veiligheid te help. Is dit werklik nodig?

’n Opskrif in die New York Times het gesê: “Verslag bevind dat 20% van leerlinge in die stad New York wapens dra.” Die hoof van die stad New York se skole van 1990 tot 1992, Joseph Fernandez, het erken: “Ek het nog nooit so iets gesien soos die geweld wat nou in ons skole in die groot stede gepleeg word nie. . . . Toe ek in 1990 die kanselierskap in New York aanvaar het, kon ek my nie indink dat dit so erg sou wees nie. Dis nie ’n fase nie, dis ’n kanker.”

Hoe erg is dit?

Fernandez het gesê: “Gedurende my eerste tien maande as kanselier is daar gemiddeld al om die ander dag ’n skoolkind vermoor—op ’n ondergrondse trein met ’n mes gesteek, op die skoolterrein of straathoek geskiet . . . Party hoërskole het vyftien of sestien [veiligheidswagte] wat die gange en skoolterrein patrolleer.” Hy het bygevoeg: “Geweld in ons skole is epidemies, en buitengewone maatreëls moes al getref word. Skole in Chicago, Los Angeles, Detroit—al die groot metropolitaanse sentrums—weerspieël nou dieselfde beeld van ’n byna apokaliptiese barbaarsheid.

“Die skande hieromtrent is geweldig duidelik. Gedurende die afgelope twee dekades het ons die onaanvaarbare begin aanvaar: Amerikaanse skole as oorlogsgebiede. Hulle is huise van vrees en intimidasie pleks van veilige oorde van verstandelike ontwikkeling.”

Daar is veiligheidsbeamptes in 245 skoolstelsels in die Verenigde State, en in 102 van hulle is die beamptes gewapen. Maar hulle is nie die enigstes wat gewapen is nie. Volgens ’n studie van die Universiteit van Michigan word daar geraam dat leerlinge in die Verenigde State elke dag ongeveer 270 000 vuurwapens, buiten ander wapens, skool toe dra!

Pleks van te verbeter, het die situasie baie erger geword. Die metaalverklikkers wat in baie skole gebruik word, kon nie die toestroming van vuurwapens keer nie. Gedurende die herfs van 1994 was die aangemelde voorvalle van geweld in skole van die stad New York 28 persent hoër in vergelyking met dieselfde tydperk ’n jaar vroeër! “Vir die heel eerste keer”, verduidelik Phi Delta Kappan oor ’n meningspeiling wat in die Verenigde State gedoen is, “staan die kategorie ‘bakleiery, geweld en bendes’ saam met ‘gebrek aan dissipline’ boaan die lys van die grootste probleme waarmee plaaslike openbare skole te kampe het”.

Skoolgeweld het vir skole in baie lande ’n krisis veroorsaak. In Kanada het Toronto se Globe and Mail die opskrif gehad: “Skole verander in gevaarsones.” En ’n opname in Melbourne, Australië, het getoon dat byna 60 persent van die laerskoolleerlinge se ouers hulle skool toe neem en gaan haal uit vrees vir aanranding of ontvoering.

Maar geweld is net ’n deel van die probleem. Daar is ander dinge wat in ons skole gebeur wat ernstige kommer wek.

Die kwessie van sedes

Selfs al sê die Bybel dat hoerery—om buite-egtelike geslagsomgang te hê—verkeerd is, staan skole nie vandag sulke gesonde sedelike onderrigting voor nie (Efesiërs 5:5; 1 Tessalonisense 4:3-5; Openbaring 22:15). Dit het beslis bygedra tot die situasie wat Fernandez beskryf het toe hy gesê het: “Tot 80 persent van ons tieners is seksueel aktief.” In een hoërskool in Chicago was ’n derde van die meisies swanger!

Party skole het kinderbewaarplekke om na leerlinge se babas om te sien. Daarbenewens word kondome gereeld uitgedeel in ’n vergeefse poging om die vigs-epidemie en die vinnige toename in buite-egtelike kinders te stuit. As kondoomverspreiding leerlinge nie in werklikheid aanmoedig om hoerery te pleeg nie, vergoeilik dit die feit dat hulle dit doen. Wat moet leerlinge dink wanneer dit by sedes kom?

Iemand wat al lank dosent is, het gesê dat daar ’n “verbasende aantal jongmense [is] wat dink dat daar geen reg of verkeerd is nie, dat sedelike keuses afhang van hoe jy voel”. Waarom dink jongmense so? Die dosent het gesê: “Miskien was dit hulle hoërskoolondervinding wat daartoe gelei het dat hulle sedelike agnostici geword het.” Wat is die gevolg van sulke sedelike onsekerheid?

’n Onlangse hoofartikel in ’n koerant het gesê: “Dit wil partykeer voorkom of niemand die skuld vir enigiets dra nie. Nooit nie.” Ja, die boodskap is dat enigiets toelaatbaar is! Beskou ’n voorbeeld van die diepgaande uitwerking wat dit op studente kan hê. In ’n universiteitsklas oor die Tweede Wêreldoorlog en die opkoms van Nazisme het ’n professor gevind dat die meeste van sy studente nie gemeen het dat enigiemand die skuld vir die Slagting gedra het nie! “In die studente se gedagtes”, het die dosent gesê, “was die Slagting soos ’n natuurlike ramp: Dit was onafwendbaar en onvermydelik.”

Wie se skuld is dit wanneer studente nie tussen reg en verkeerd kan onderskei nie?

Te midde van kritieke tye

’n Voormalige onderwyser het ter verdediging van skole gesê: “Die probleem ontstaan in die gemeenskap, en die skole weerspieël bloot die probleme wat reeds daar bestaan.” Dit is inderdaad moeilik om ander dít te leer wat die gemeenskap se leiers nie beoefen nie.

Ter toeligting: Gedurende ’n tyd toe die onsedelikheid van Amerikaanse regeringsamptenare groot opslae in die nuus gemaak het, het ’n welbekende rubriekskrywer geskryf: “Ek weet glad nie hoe onderwysers ander in hierdie siniese tyd sedelikheid kan probeer leer nie. . . . ‘Kyk na Washington!’ sal die jongste stemmetjies uitroep. Hulle weet . . . dat die laagste kullery in die geskiedenis onder die dak van daardie groot wit huis aangegaan het.”

Die Bybel het voorspel dat “daar in die laaste dae kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1-5). Hierdie is beslis kritieke tye! Wat word, in die lig hiervan, gedoen om die krisis in hedendaagse skole die hoof te bied en om leerlinge te help om ’n goeie skoolopleiding te kry? Wat kan julle as ouers en leerlinge doen? Die volgende artikels sal dit bespreek.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel