Skole beleef ’n krisis
Ouers stuur hulle kinders nie net skool toe sodat hulle kan leer lees, skryf en rekenkunde doen nie. Hulle verwag dat skole ’n volledige opvoeding voorsien wat kinders sal toerus om tot volwassenes te ontwikkel waarop ouers trots kan wees. Maar daar word dikwels nie aan hulle verwagtinge voldoen nie. Waarom nie? Omdat skole in alle wêrelddele ’n krisis beleef.
IN BAIE lande stel ’n gebrek aan geld sowel as onderwysers kinders se opvoeding in gevaar. Oor die hele Verenigde State het die finansiële resessie van onlangse jare party skole byvoorbeeld gedwing om ‘ou handboeke te herbind, toe te laat dat pleister aan die plafonne afdop, kunsklasse en sportprogramme uit te skakel of om ’n paar dae lank te sluit’, berig die tydskrif Time.
In Afrika is opvoedingshulpbronne eweneens onvoldoende. Volgens die Daily Times van Lagos het die land Nigerië net 1 onderwyser vir elke 70 leerlinge, “en daar bestaan ’n groot moontlikheid dat een uit elke drie onderwysers ongekwalifiseerd is”. In Suid-Afrika—afgesien van ’n tekort aan onderwysers—dra oorvol klaskamers en politieke onrus by tot wat die Suid-Afrikaanse Panorama “die chaos in die swart skole” noem.
’n Skool wat genoeg onderwysers het en goed toegerus is, waarborg natuurlik nie opvoedkundige sukses nie. Na bewering kan ’n derde van alle 14-jariges in Oostenryk byvoorbeeld nie eenvoudige rekenkunde doen of behoorlik lees nie. In Brittanje is die aantal leerlinge wat in wiskunde, wetenskap en die landstaal slaag “baie minder as dié in Duitsland, Frankryk en Japan”, berig The Times van Londen.
In die Verenigde State kla onderwysers dat baie leerlinge, hoewel hulle hoë punte in toetse behaal, nie ’n goeie opstel kan skryf, wiskundeprobleme kan oplos of ’n opsomming van die hoofpunte van verskillende leesstukke of dokumente kan maak nie. Gevolglik kyk opvoedkundige instansies in alle wêrelddele opnuut na die skoolleerplan sowel as die metodes wat gebruik word om ’n leerling se vordering te bepaal.
Geweld in skole
Berigte toon dat geweld in skole teen ’n onheilspellende tempo toeneem. In Duitsland is daar by ’n onderwyserskonferensie gesê dat 15 persent van die skoolkinders “bereid [is] om hulle tot geweld te wend—en 5 persent huiwer nie eers om uiters wreed op te tree nie; hulle sal byvoorbeeld ’n weerlose persoon skop wat op die vloer lê”.—Frankfurter Allgemeine Zeitung.
Individuele gevalle van uiterste wreedheid wek groot kommer. Die verkragting van ’n 15-jarige meisie deur vier seuns in die kleedkamer van ’n hoërskool in Parys het daartoe aanleiding gegee dat leerlinge ’n straatbetoging gehou het om beter veiligheid in skole te eis. Ouers is bekommerd oor die toename in seksuele misdade, afpersing en emosionele geweld. Sulke voorvalle kom nie net in Europa voor nie, maar is wêreldwyd besig om iets algemeens te word.
Japan se Departement van Onderwys berig dat ’n vlaag van geweld onder leerlinge in laer- sowel as hoërskole voorkom. Die Suid-Afrikaanse koerant The Star, onder die opskrif “Leerlinge met vuurwapens neem skole oor”, het die toestand in etlike klaskamers in Soweto met dié van “die Wilde Weste” in die Verenigde State tydens die 19de eeu vergelyk. Volgens The Guardian van Londen het selfs New York-stad se reputasie vir geweld “’n nuwe hoogtepunt [bereik] toe ’n sekuriteitsmaatskappy aangekondig het dat hulle toegeval word deur bestellings vir koeëlvaste klere vir skoolkinders”.
Brittanje ondervind ook ’n plaag van geweld in skole. “Oor die afgelope 10 jaar”, merk een beampte van ’n onderwysersunie op, “het ons gesien dat daar ’n toenemende neiging onder leerlinge is om hulle toevlug tot wapens te neem. Hierdie neiging kom selfs onder al hoe jonger leerlinge voor en dit is nie net seuns nie, maar ook meisies wat wapens gebruik.”
Dit is dus geen wonder nie dat ’n paar ouers besluit om hulle kinders uit die skool te neem en hulle tuis te leer.a Diegene wat dit onprakties vind, is dikwels bekommerd oor watter slegte invloed die skool op hulle kinders het en hulle wonder hoe hulle dit kan teëwerk. Wat kan ouers doen om hulle kinders te help om die probleme wat hulle by die skool ondervind die hoof te bied? En hoe kan ouers met die onderwysers saamwerk om te verseker dat die kinders hulle skoolloopbaan ten beste benut? Die volgende artikels bied antwoorde op hierdie vrae.
[Voetnoot]
a Die artikel “Tuisonderrigting—Is dit vir jou?” wat in die Ontwaak! van 8 April 1993 verskyn het, ondersoek hierdie keuse.