Die soeke na ’n goeie skoolopleiding
’N GOEIE skoolopleiding berei kinders voor om teen die lewe in vandag se gemeenskap opgewasse te wees. Dit rus hulle toe met akademiese vaardighede, waaronder die vermoë om goed te lees en skryf en om rekenkunde te doen. Bowendien beïnvloed dit die wisselwerking tussen hulle en ander en versterk dit heilsame standaarde van sedelikheid.
Maar omdat ons in kritieke tye lewe, is dit baie moeilik om so ’n skoolopleiding te voorsien. ’n Ervare Australiese skoolonderwyser het gekla: “Klasse bestaan uit kinders wat geneig is tot geweld, wat vuil, beledigende taal gebruik; kinders wat uitgeput is omdat hulle as gevolg van TV-kykery te min slaap; kinders wat ondervoed of honger is en kinders wat sonder dissipline grootgemaak word.” En onderwysers sal vir jou sê: “Dit is onmoontlik om weerbarstige kinders te leer.”
Albert Shanker, die president van die Amerikaanse Federasie van Onderwysers, het die dilemma van onderwysers beskryf: “Hulle moet dwelm- en alkoholonderrig asook seksonderrig gee, . . . leerlinge se selfbeeld opbou, vasstel wie bendelede is . . . en ’n hele klomp ander dinge doen. Alles behalwe werklike onderwys. . . . Wat eintlik van hulle gevra word, is om maatskaplike werkers, ma’s, pa’s, terapeute, polisiemanne, voedingkundiges, openbare gesondheidswerkers en mediese tegnici te wees.”
Waarom word dit van onderwysers verlang? ’n Opsomming van die samestelling van klasse in een groot stad in die noordooste van die Verenigde State toon waarom. The New York Times het verslag gedoen oor stellings wat een deskundige aangaande ’n gemiddelde klas van 23 leerlinge gemaak het. Hy het gesê dat “8 tot 15 waarskynlik in armoede lewe; 3 waarskynlik vir moeders gebore is wat dwelms gebruik; 15 waarskynlik by ’n enkelouer bly”.
Dit is duidelik dat die gesin besig is om te verbrokkel. In die Verenigde State is byna 1 uit elke 3 geboortes buite-egtelik, en 1 uit elke 2 huwelike loop op ’n egskeiding uit. Tog is die persentasie buite-egtelike geboortes selfs hoër in Denemarke, Frankryk, Groot-Brittanje en Swede. Watter pogings word aangewend om die krisis wat weens hierdie situasie in die skole ontstaan die hoof te bied?
Oplossings word gesoek
Verskeie eksperimentele of alternatiewe skole is opgerig. Hulle is gewoonlik kleiner—wat dit moontlik maak om beter toesig te hou—en baie stel hulle eie leergang saam in ’n poging om beter in die behoeftes van kinders te voorsien. In die stad New York het 48 sulke kleiner skole sedert 1993 geopen, en nog 50 word beplan. “Dit is geweld [in skole] wat die proefneming aan die gang gesit het”, het The New York Times gesê. Teen 1992 is meer as 500 alternatiewe skole in Rusland begin, met meer as 333 000 leerlinge.
Aan die ander kant het The Toronto Star berig: “Duisende stuur hulle kinders weg na eksklusiewe privaat skole.” In die Kanadese provinsie Ontario alleen gaan bykans 75 000 kinders na privaat skole toe. Dit word ook nou regoor Rusland aangetref, en die tydskrif China Today sê dat dit in China “soos bamboeslote na ’n lentereën” opgeskiet het. The Handbook of Private Schools voorsien gratis inskrywings vir bykans 1700 van hierdie skole in die Verenigde State, waar die jaarlikse skoolgeld $20 000 (R72 500) of meer kan wees.
Ander ouers verkies weer om hulle kinders tuis te onderrig. In die Verenigde State alleen het diegene wat tuis onderrig word na raming van ongeveer 15 000 in 1970 tot nie minder nie as eenmiljoen in 1995 toegeneem.
Verskillende resultate
Nie alle skoolstelsels oor die hele wêreld behaal dieselfde resultate nie. In Julie 1993 het Shanker vir ’n groep Amerikaanse opvoedkundiges gesê: “Ander lande bestuur skole en hulle kry resultate wat aansienlik beter as ons s’n is.” Ter toeligting het hy gemeld dat hy ’n egpaar uit Rusland ontmoet het wat na die Verenigde State toe getrek het. Hy het vertel: “Hulle het gesê dat hulle dogter wat in standerd ses is nou leer wat sy in Rusland in standerd een geleer het, hoewel sy in ’n baie goeie privaat skool is.”
Die voormalige Sowjetunie het ’n skoolstelsel ontwikkel wat byna al sy mense leer lees en skryf het. Aan die ander kant kan 27 miljoen Amerikaners, volgens ’n skatting van die Amerikaanse Onderwysdepartement, nie ’n padteken of die nommer op ’n bus ontsyfer nie. En Australië se Canberra Times het berig dat “tot 25 persent van die laerskoolkinders hoërskool toe gaan al kan hulle nie lees of skryf nie”.
Die krisis in skole bestaan nou in sekere mate feitlik oral. Die boek Education and Society in the New Russia, wat in 1994 uitgegee is, sê dat “72,6 persent van die Sowjetonderwysers waarmee ’n onderhoud gevoer is, saamgestem het dat die skoolstelsel in ’n ernstige krisis is”. Volgens Tania, ’n ervare onderwyseres in Moskou, is ’n belangrike rede vir die krisis die feit dat “ouers en leerlinge self nie meer veel waarde aan skoolopleiding heg nie”. Sy het byvoorbeeld gesê dat “’n onderwyser helfte soveel verdien as wat ’n busbestuurder gewoonlik verdien—of selfs minder”.
’n Goeie skoolopleiding is noodsaaklik
Namate die mensegemeenskap al hoe komplekser raak, word ’n goeie skoolopleiding al hoe belangriker. In baie plekke het ’n jong volwassene nou meer skoolopleiding nodig om werk te kry wat hom en ’n toekomstige gesin sal onderhou. Gevolglik sal diegene wat die basiese akademiese vaardighede bemeester het baie beter werksgeleenthede hê. Werkgewers is veral besorg oor dit wat werklik saak maak—hoe goed die persoon wat vir die werk aansoek doen die werk kan doen.
Die takbestuurder van ’n arbeidsburo het aangaande baie skoolverlaters gesê: “Hulle is nie geleer om te werk nie.” Hy het bygevoeg: “Die probleem in verband met jongmense waarvan werkgewers my voortdurend vertel, is dat hulle nie baie goed kan lees of skryf nie. Hulle kan nie ’n aansoekvorm vir werk invul nie.”
Ouers wil ongetwyfeld ’n goeie skoolopleiding vir hulle kinders hê, en jongmense sal verstandig wees as hulle self ’n goeie skoolopleiding wil hê. Maar dit is belangrik dat hulle die nodige sleutels gebruik. Wat is hierdie sleutels, en hoe kan hulle gebruik word?
[Lokteks op bladsy 6]
In Rusland ‘verdien ’n onderwyser helfte soveel as wat ’n busbestuurder gewoonlik verdien’