Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 2/8 bl. 15
  • Die vriendelike rooiborsie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die vriendelike rooiborsie
  • Ontwaak!—1996
  • Soortgelyke materiaal
  • Van Ons Lesers
    Ontwaak!—1996
  • Sal God my vriend bly?
    Ontwaak!—1997
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1990
  • Waarom ons teen ’n aborsie besluit het
    Ontwaak!—2009
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 2/8 bl. 15

Die vriendelike rooiborsie

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE

LANK voor die rooibruin kleure ons Northumberland-woude die rustige stemming van herfs laat aanneem, maak die rooiborsie sy teenwoordigheid bekend. Sy helderrooi borsie en die soet klanke van sy lied bring kleur en vreugde na ons tuin. Wat ’n lieflike skepseltjie is hy tog!

Die rooiborsie kan maklik uitgeken word aan sy olyfbruin vlerke en kop; sy oranjerooi bors, keel en voorkop; en sy witterige maag. Hierdie sangvoël is altyd waaksaam, staan kersregop en is 14 sentimeter van kop tot stert. Dit is nie verbasend dat die rooiborsie in 1961 as Brittanje se nasionale voël gekies is nie.

Die Britse rooiborsie is kleiner as sy Amerikaanse eweknie, wat deur vroeë koloniste van Engeland die rooiborsie genoem is, ’n naam wat hulle geken het. Die Britse rooiborsie het egter ’n unieke karakter.

Wanneer dit begin herfs word, kom die rooiborsie tot sy reg in ’n Britse tuin. Hy sal naby iemand staan wat in die grond spit, op die uitkyk na ’n wurm wat na die oppervlak kom. Somtyds, wanneer die tuinier rus, sal die rooiborsie op die graaf gaan sit om die terrein te bekyk. Daar is selfs al gesien hoe hierdie parmantige voëltjie die spoor van ’n mol volg om die hopies pas omgedolwe grond te ondersoek. Die rooiborsie se dieet sluit ’n groot verskeidenheid dinge in—insekte, saadjies en bessies sowel as wurms.

Wat ’n genot is dit tog om op ’n rooiborsie se nes af te kom! Enige oop skuurdeur of -venster is ’n uitnodiging vir twee parende voëls. Neste kan gou in ou blompotte of uitgegooide ketels, op rolle draad of selfs in die sakke van ’n tuinjas gebou word! Rooiborsies se vindingrykheid om ongewone plekke vir hulle neste te vind, ken geen perke nie.

Die rooiborsie is een van die voëls wat die gouste leer om uit jou hand te eet. Namate die winter nader kom en sy natuurlike voedselvoorraad minder word, kan jy ’n bietjie kos—stukkies kaas of meelwurms—op jou oop handpalm sit en ’n bietjie op ’n voorwerp naby jou. Nadat hy twee of drie keer van die laasgenoemde kossies geëet het en dit klaar is, sal hy groter vertroue kry en stukkies uit jou uitgestrekte hand neem. Hoewel hy miskien nooit op jou hand sal kom sit nie, sal die rooiborsie jou daarna altyd as sy vriend beskou. Hy sal jou onthou wanneer hy die volgende seisoen terugkeer—net soos jy jou vriend, die rooiborsie, sal onthou!

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel