Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 2/22 bl. 25
  • Die magtige lammergeier

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die magtige lammergeier
  • Ontwaak!—1996
  • Soortgelyke materiaal
  • Gesondheidsinspekteurs van die lug
    Ontwaak!—1993
  • Been—Ongelooflik sterk
    Ontwaak!—2010
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Voëlkykery—’n Fassinerende stokperdjie vir almal?
    Ontwaak!—1998
Ontwaak!—1996
g96 2/22 bl. 25

Die magtige lammergeier

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE

DIE lammergeier is ’n statige voël wat van sy snawel tot by sy stert meer as 120 sentimeter lank is. Hy kan gesien word waar hy met gemak op sy drie meter wye vlerke oor bergreekse in Europa en Afrika sweef en partykeer op ’n hoogte van tot agt kilometer in die Himalajas. Hierdie indrukwekkende voël, met sy oranje bors en nek en swart-en-wit kop, het lang baarde onder sy snawel. Dit gee aanleiding tot sy ander naam, die baardaasvoël. Waarvan leef hy in die afgeleë en onherbergsame streke waar hy woon?

Party naslaanwerke sê dat die lammergeier lewende prooi jag—klipspringers, skaaplammers, boklammers, hase en klein diertjies—maar ander gesaghebbendes stem nie saam nie. “Daar is geen gestaafde verslag dat hierdie voël ooit ’n lewende dier aangeval het nie”, sê The World Atlas of Birds, al is hy daarvoor bekend dat hy stukkies pels eet wat deur ander voëls opgebring is en waaraan daar nie meer vleis is nie. Waarvan leef hy dan?

Die lammergeier dra die bene van diere wat deur roofdiere doodgemaak is of wat op ander maniere doodgegaan het hoog in die lug op en laat val die bene op klippe. Die veronderstelling was nog altyd dat hy die bene op hierdie manier breek net om by die beenmurg uit te kom. Volgens The Economist kan navorsers aan die Glasgow-universiteit in Skotland nou, ná ’n uitvoerige ondersoek van lewende en dooie voëls, ’n ander verduideliking gee.

Die lammergeier sluk stukke been in wat tot 25 sentimeter by 4 sentimeter groot is. Tog het die navorsers tot hulle verbasing uitgevind dat die voël geen spesiale aanpassing in sy spysverteringstelsel het, soos ’n koumaag, om sy onverteerbare dieet te verwerk nie. Die enigste buitengewone kenmerk is ’n uiters elastiese slukderm wat die stukke been laat deurgaan. Die lammergeier se maag vertel ons egter meer.

Die wetenskaplikes was verbaas om ’n groot aantal selle in die maag te vind wat ’n buitengewoon sterk suur afskei—sterker as batterysuur—wat die kalsium van die bene oplos en sodoende die proteïen en murgvet vrystel. Hierdie voedsel voorsien ’n hoër energiewaarde as ’n maaltyd van vleis van dieselfde gewig. Wat selfs verbasender is, is die feit dat spysverteringsensieme in so ’n suur milieu gevind word. Die geheim van hoe hierdie sterk voël op so ’n karige dieet van 90 persent bene onderhou word, is dus nou opgelos—nog ’n wonder van die skepping.

[Foto-erkenning op bladsy 25]

© Nigel Dennis, Photo Researchers

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel