Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 10/1 bl. 30-31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Soortgelyke materiaal
  • Onthou jy?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Jou liggaam se mikroskopiese “vragmotors”
    Ontwaak!—2001
  • Jou wonderlike rooibloedselle
    Ontwaak!—2006
  • Hebreërs 4:12 – “Die woord van God lewe en is aktief”
    Verduidelikings van Bybelverse
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 10/1 bl. 30-31

Vrae van lesers

▪ Word ’n gemeentelike ouere man outomaties vir die amp gediskwalifiseer as sy kind hom of haar aan ernstige sonde skuldig maak?

’n Broer word nie ‘outomaties gediskwalifiseer’ om as ouere man te dien as sy minderjarige seun of dogter ernstige probleme het nie. Al die betrokke faktore moet oorweeg word om vas te stel of hy bevoeg is om aan te hou dien.

Titus 1:6 sê dat ’n ouere man “onberispelik” moet wees en dat hy ‘gelowige kinders moet hê wat nie beskuldig kan word van losbandigheid of tugteloosheid nie’. (Vergelyk 1 Timotheüs 3:4.) Jehovah se Getuies hou by daardie standaard.

Die Wagtoring van 15 November 1983 het in ooreenstemming hiermee getoon dat ’n ouere man ’n gebalanseerde poging moet aanwend om in die emosionele en geestelike behoeftes van sy gesin, sy vrou en enige kinders wat hulle mag hê, te voorsien. As ’n man in hierdie opsig nalatig is, kan dit heel moontlik ’n nadelige uitwerking op hulle hê. Wanneer ’n kind nie geestelik gevoed en gedissiplineer word nie, kan hy of sy versuim om geestelike vooruitgang te maak en hom of haar aan ernstige sonde skuldig maak. Dit sou die nalatige vader diskwalifiseer om die gemeente as ’n aangestelde ouere man te dien, want 1 Timotheüs 3:5 sê: “Maar as iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra?”

Die Wagtoring van 1 Mei 1978, bladsye 31, 32, bevat ’n breedvoeriger bespreking hiervan. Dit het getoon waarom al die betrokke faktore oorweeg moet word. Een ouere man het byvoorbeeld gereeld die Bybel met sy vyf kinders bestudeer, saam met hulle ontspan, hulle na Christenvergaderinge geneem en op ander normale maniere probeer om sy verantwoordelikhede as ’n Christenvader na te kom. Vier van die kinders het goed gedoen, maar een seun was voortdurend ’n probleem en het hom later aan sonde skuldig gemaak. Dit sou die vader nie noodwendig as ouere man diskwalifiseer nie, mits die gemeente hom steeds gerespekteer het.

Die gemeente weet moontlik dat ’n broer alles gedoen het wat rederlikerwys van ’n Christenvader verwag kan word om vir sy gesin te sorg, hetsy hy een of baie kinders het. As ’n kind dus sleg uitval, meen hulle dalk nie dat dit die vader se skuld was nie. Hulle besef dat Jesus of Jehovah nie geblameer kan word vir die afwykings van Judas Iskariot en die engel wat Satan geword het nie. Dit is noodsaaklik dat ’n broer wat as ’n ouere man dien steeds die gemeente se hoë agting geniet sodat almal sy Bybelse raad kan aanvaar en, namate hulle die uiteinde van sy handelwyse sien, sy geloof kan navolg.​—Hebreërs 13:7.

▪ Kan ’n Christen ’n beenmurgoorplanting aanvaar, aangesien bloed in die murg vervaardig word?

Dokters doen die meeste beenmurgoorplantings deur murg uit ’n skenker (dikwels ’n naverwant) te trek en dit dan in die siek pasiënt in te spuit of oor te tap. Hulle hoop dat die murgoorplanting die pasient se murgholtes sal bereik en later normaal sal funksioneer. Hierdie prosedure word gewoonlik slegs in kritieke gevalle (soos aplastiese bloedarmoede of akute leukemie) gedoen, want die voorbereiding van ’n persoon vir ’n murgoorplanting en die behandeling daarna hou erkende gevare in.

Soos die vraag self aandui, word rooi bloedselle in die murg van sekere bene, soos die ribbes, borsbeen en bekkenbene, gevorm. Dit is dus, in die lig van die Bybel se verbod op bloed, begryplik dat die vraag sou ontstaan of ’n Christen ’n oorplanting van mensebeenmurg kan aanvaar of nie.

Die Bybel sê duidelik dat God se knegte hulle moet ‘onthou van bloed’ (Handelinge 15:28, 29; Deuteronomium 12:15, 16). Maar stel die Skrif murg gelyk met bloed, aangesien rooi selle in die rooi beenmurg gevorm word? Nee. Trouens, dieremurg word genoem saam met ander vleis wat geëet kan word. Jesaja 25:6 sê dat God vir sy volk ’n maaltyd sal voorberei wat “vetspyse vol murg” insluit. Gewone slag- en bloeiprosedures dreineer nooit alle bloedselle uit die murg nie. Maar wanneer ’n karkas gedreineer is, kan al die weefsel geëet word, die murg inkluis.

Die murg wat vir murgoorplantings gebruik word, kom natuurlik van lewende skenkers en sodanige murg kan bloed bevat. Die Christen moet derhalwe self besluit of die beenmurgoorplanting​—vir hom—​op blote vlees of ongebloeide weefsel sou neerkom. Daarbenewens moet die Skriftuurlike aspekte van menslike orgaanoorplantings by beenmurgoorplantings oorweeg word. Kyk “Vrae van lesers” in ons nommer van 1 Junie 1980. Laastelik, dr. D. E. Thomas sê in Harrison’s Principles of Internal Medicine (eerste bywerking, 1981, bladsy 138) dat “feitlik alle ontvangers van murgoorplantings bloedplaatjieoortappings nodig sal hê”, en talle word “gepakte rooi bloedselle” gegee. ’n Christen moet dus nadink oor die bykomende geskille waarvoor hy te staan kan kom as hy ’n murgoorplanting ontvang.​—Spreuke 22:3.

Hoewel elkeen self hieroor moet besluit, kan die Bybel se kommentare oor bloed en murg die individu help.

▪ Is daar ’n Skriftuurlike rede waarom Jehovah se Getuies nie bloedsurrogate of “kunsbloed” moet aanvaar nie?

Dit is welbekend dat Jehovah se Getuies om godsdienstige redes nie bloedoortappings aanvaar nie. Ware aanbidders weier sedert Noag se tyd om bloed te eet (Genesis 9:3, 4). Bloed wat uit ’n mens of dier gekom het, moes weggedoen word. Dit moes nie geberg word nie (Deuteronomium 12:22-25). Christene word beveel om hulle ‘van bloed te onthou’. Jehovah se Getuies aanvaar dus nie bloedoortappings nie; hulle laat ook nie toe dat hulle eie bloed getap, geberg en later weer in hulle are oorgetap word nie.​—Handelinge 15:28, 29.

Jehovah se Getuies het egter geen godsdiensbeswaar daarteen dat verlore bloed deur bloedlose oplossings vervang word nie. Party van die wat die algemeenste gebruik word, is soutoplossing, Ringer-oplossing, dekstran en Hespan.

Dokters erken dat sulke plasma-aanvullers voordele inhou. ’n Vername voordeel is dat hulle die pasiënt nie aan die talryke siektes en ander gevare van bloedoortappings blootstel nie. Daarbenewens toon die getuienis dat die meeste pasiënte ’n baie laer bloedtelling kan oorleef as wat voorheen gemeen is.

Daar is in onlangse jare proefnemings gedoen met ’n gefluorineerde bloedsurrogaat (sogenaamde “kunsbloed”) wat skynbaar suurstof na liggaamselle kan neem. Die gebruik daarvan hou ’n berekende risiko in totdat dit ten volle getoets is. Maar dit is nie van bloed gemaak nie, en die gebruik daarvan sal dus nie strydig wees met ’n Christen se Bybelopgeleide gewete nie.

▪ Die Bybel sê dat Simson ’n leeu verskeur het “soos ’n mens ’n bokkie verskeur”. Beteken dit dat dit destyds algemeen was vir mense om bokkies uitmekaar te skeur?

Nee, hierdie kommentaar was waarskynlik net ’n illustrasie. Dit het beteken dat Simson die leeu kaalhand so maklik oorweldig het soos wat hy ’n weerlose bokkie sou kon oorweldig.

Simson, wat as rigter in Israel gedien het, het na Timna gereis, want “hy het rede gesoek teen die Filistyne”. Langs die pad het ’n jong, sterk leeu brullend op hom afgestorm. Die geskiedrol sê dat God se werkende krag oor Simson gekom het “en hy het [die jong maanhaarleeu] verskeur soos ’n mens ’n bokkie verskeur sonder dat daar iets in sy hand was”.​—Rigters 14:4-6.

Twee ander manne in die Bybelverslag het leeus man-alleen doodgemaak, maar net Simson het dit skynbaar kaalhand gedoen (1 Samuel 17:36; 2 Samuel 23:20). Hy het dit boonop “verskeur”. As dit beteken het dat hy die kragtige kake van die leeu uitmekaar geskeur het, was party Israeliete moontlik sterk genoeg om dieselfde met ’n bokkie te doen. Maar daar is geen bewys dat hulle so iets gedoen het nie en geen rede waarom hulle dit sou probeer nie. As Simson die leeu andersyds op die een of ander manier uitmekaar geskeur het, sou dit nog meer waarskynlik wees dat die kommentaar omtrent die bokkie bloot ’n vergelyking is. Die punt is dat God se gees Simson buitengewone fisiese krag gegee het. Met sulke hulp was ’n sterk, wrede leeu vir die ongewapende Simson geensins meer gedug as wat ’n weerlose bokkie vir ’n normale man sou wees nie.

Die dooie leeu se karkas is later vir ’n raaisel gebruik. Dit het daartoe gelei dat God Simson weer eens krag gegee het, en by hierdie geleentheid het hy 30 vyande verslaan.​—Rigters 14:8-19.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel