Vigs in Afrika—In watter mate is die Christendom daarvoor aanspreeklik?
Deur Ontwaak!-medewerker in Afrika
Die uitdrukking “die Christendom”, soos dit in hierdie artikel gebruik word, verwys na voorgewende Christene, in teenstelling met die Christelike godsdiens van die Bybel.
Christendom
“Daardie dele van die wêreld waar die meeste van die inwoners die Christelike godsdiens bely.”—Webster’s New World Dictionary.
Vigs
“’n Toestand van verworwe immunologiese gebrek wat verband hou met die infeksie van die selle van die immuunstelsel deur ’n retrovirus.” —Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary.
VIGS is ’n wêreldwye epidemie. Ongeveer 17 miljoen mense is reeds besmet met HIV, die virus wat vigs veroorsaak. En dit versprei vinnig.
Terwyl baie aandag gegee is aan die mediese, politieke en emosionele kwessies wat met die epidemie verband hou, is min nog gesê oor die godsdienskwessies wat daarby betrokke is. Die idee dat daar ’n verband tussen godsdiens en die verspreiding van vigs is, sal vir party lesers miskien vergesog klink. Maar dit is nie onredelik as ’n mens die situasie beskou wat op die vasteland Afrika ontwikkel het nie.
Vigs het Afrika baie swaar getref.a Party sê dat 67 persent van die wêreld se vigs-gevalle op dié vasteland voorkom. In Tsjaad het die getal aangemelde gevalle gedurende die laaste vyf jaar honderdvoudig vermeerder. Tog word daar geskat dat net een derde van al die gevalle aangemeld is. Volgens ’n verslag van die Wêreldbank het vigs die algemeenste doodsoorsaak onder volwassenes in baie stedelike gebiede in Afrika geword.
Godsdiens—Het dit ’n rol gespeel?
Die Christelike godsdiens—die godsdiens wat deur Jesus Christus geleer is—kan sekerlik nie vir hierdie ramp verantwoordelik gehou word nie. Maar soos hieronder gesê word, omvat die uitdrukking “die Christendom” dié lande waar mense bely dat hulle Christene is. En die Christendom is duidelik daarby betrokke. Nie dat die kerke die vigs-virus geskep of direk versprei het nie. Maar vigs het in Afrika versprei hoofsaaklik as gevolg van heteroseksuele promiskuïteit.b Vigs kan derhalwe ’n sedelike probleem genoem word en gee as sodanig aanleiding tot ’n paar kwellende godsdiensvrae. Die “Christendom” in Afrika was per slot van rekening ’n direkte oordrag uit Westerse lande. Kerkleiers het dit op hulleself geneem om die Afrikane tot hulle eie soort godsdiens te bekeer en het beweer dat dit ’n lewenswyse bied wat beter as die tradisionele Afrikamanier is. Het die Christendom se invloed werklik die sedelikheid van sy nuwe aanhangers verbeter? Die vigs-krisis toon baie duidelik dat presies die teenoorgestelde gebeur het.
Beskou byvoorbeeld die nasie Tsjaad. Van sy vier grootste stede het drie ’n groot “Christelike” bevolking. Die ander een se bevolking is oorwegend Moslems. Tog is dit in die drie “Christelike” stede waar die virus nou woed! Dieselfde patroon word regoor die vasteland herhaal. Sentraal- en Suider-Afrika, wat in naam Christelik is, het ’n baie hoër besmettingsyfer as Noord-Afrika, met sy meerderheid van Moslems.
Hoe Afrika “Christelik” geword het
Waarom het hierdie virus so vinnig versprei onder mense wat beweer dat hulle volgelinge van Christus is? Hoewel baie Afrikane hulleself Christene noem, hou relatief min van hulle hulle in werklikheid by die sedelike standaarde van die Christelike godsdiens, wat in die Bybel uiteengesit word. Dit lyk asof dit ’n direkte gevolg is van die manier waarop die Christendom se sendelinge te werk gegaan het om die bevolking van Afrika te “bekeer”.
In die 18de en 19de eeu is die Christendom se tradisionele oortuigings aangeval. Hoër kritiek het gewild geraak en die Bybel in baie mense se oë tot ’n blote stuk antieke letterkunde verlaag. Die evolusieteorie het ook veld begin wen, selfs onder die geestelikes. Saadjies van twyfel is gesaai. Geloof in die Heilige Skrif is in twyfel getrek. Dit is nie verbasend dat die Christendom se pogings om Afrikane te “bekeer” in hierdie klimaat ’n definitiewe sekulêre wending geneem het nie. Sendelinge van die kerk het die sosiale evangelie verkondig en baie meer aandag op humanitêre dade gevestig as op hulp aan die bekeerdes om aan die Bybel se standaarde vir sedelikheid te voldoen. Die sendelinge het, miskien onwetend, eintlik gehelp om die bestaande sedelike struktuur te ondermyn.
Veelwywery is byvoorbeeld lank reeds die gebruik van baie beskawings in Afrika. Seksuele promiskuïteit was egter skaars, aangesien die meeste stamme baie streng wette oor egbreuk gehad het. Joseph Darnas, ’n afgetrede onderwyser, wat ’n bekende in Tsjaad is, het aan Ontwaak! gesê dat daar voor die aankoms van die sendelinge “gedink is dat egbreuk teenspoed bring”. Gevolglik is “die skuldiges baie streng gestraf omdat hulle die gemeenskap in gevaar gestel het—dikwels met die dood”. Bygelowe? Ja, maar sulke beskouings het tog promiskuïteit beperk.
En toe kom die Christendom se sendelinge. Hulle het teen veelwywery gepreek, maar min gedoen om die Bybel se standaarde vir sedelikheid toe te pas. Hoewel die Bybel sê dat onberouvolle hoereerders en egbrekers uit die Christengemeente verwyder moet word, doen die Christendom se kerke selde dissiplinêre stappe teen oortreders (1 Korintiërs 5:11-13). Tot vandag toe is talle prominente politici in Afrika bekend vir hulle onsedelike verhoudings, en tog bly hulle gerespekteerde lede van die kerk. Huwelikstrou is seldsaam onder naamchristene in Afrika.
Dan is daar die swak voorbeeld wat die geestelikes self gestel het. In hierdie gesinsgerigte kultuur is dit normaal om getroud te wees en baie kinders te hê. Miskien is dit waarom ’n verbasende aantal Katolieke priesters voel dat hulle maar hulle geloftes van kuisheid en die selibaat kan vertrap. The New York Times van 3 Mei 1980 het berig: “In baie dele van die platteland . . . is priesters en biskoppe veelwywers.”
Sulke huwelike word natuurlik nie gewettig nie, en die “vrouens” is in werklikheid maar net bywywe. Sulke wangedrag kan nie as onbelangrik afgemaak word nie. Volgens die Times erken “’n prominente Katolieke geestelike” dat “die priester in Afrika ’n gesagsimbool, ’n magsfiguur eerder as ’n dienaar van Jesus Christus, is”. Die boodskap van hierdie “gesagsfigure” is blykbaar: “Doen wat ek sê, nie wat ek doen nie.”
Die invloed van Westerse vermaak
Die vloedgolf onsedelike vermaak wat Afrika in die laaste jare binnegestroom het, moet ook nie misgekyk word nie. In Tsjaad het ongekontroleerde openbare videolokale wat sulke vermaak aanbied oral soos paddastoele opgeskiet—in privaat huise, in motorhuise en, in die meeste gevalle, in binneplase ná sononder. Hierdie vertonings is goedkoop en kos selfs net 25 frank (18 sent, SA). Klein kindertjies woon dit by. Waar kom hierdie materiaal vandaan? Baie daarvan kom uit die Verenigde State—’n land wat beweer dat dit oorwegend Christelik is!
Maar het hierdie invloed van die Westerse kultuur werklik enige uitwerking op kykers gehad? Een sendeling van Jehovah se Getuies, met 14 jaar ondervinding in Sentraal-Afrika, sê: “Die plaaslike mense het dikwels baie min kontak met die Westerse wêreld buiten wat hulle op videokassette sien. Hulle wil soos die Westerlinge wees wat hulle in hierdie rolprente sien. Ek het nog geen gedokumenteerde studies gevind wat dit bewys nie, maar dit is vir die meeste mense hier duidelik dat sulke vermaak geslagsonsedelikheid aanmoedig.”
Hoe ironies is dit tog dat sogenaamd Christelike nasies propaganda vrystel wat onsedelike, hoë-risiko gedrag bevorder terwyl gesondheidsamptenare desperaat probeer om die vooruitgang van ’n dodelike seksueel oordraagbare siekte te stuit! Terwyl die kerke nie veel gedoen het om tuis of in die buiteland wal te gooi teen hierdie neiging nie, het party regerings in Afrika, soos Tsjaad en Kameroen, probeer om pornografiese materiaal wat hulle land binnekom te verbied of ten minste te beperk. Maar hulle pogings was dikwels onsuksesvol.
Die uiteinde van dit alles is ’n algemene sedelike verval onder die “Christene” in Afrika. Swak ekonomiese toestande het ook ’n ondermynende uitwerking gehad. Omdat werksgeleenthede skaars is, moet mans dikwels noodgedwonge hulle gesinne maande lank verlaat om werk te vind. Sulke mans is ooglopende teikens vir plaaslike prostitute. Die prostitute is egter oor die algemeen self die slagoffers van armoede. Ouers wat op ’n buitensporige bruidsprys aandring, is ook ’n faktor. Baie mans trou nie omdat hulle nie die nodige geld vir die bruidsprys bymekaar kan maak nie. Daarom lei party op die ou end ’n lewe van los verhoudings. In so ’n sedelike en ekonomiese klimaat het vigs vinnig versprei.
Die oplossing vir die krisis
Die Christendom dra uiteraard nie al die skuld vir die vigs-krisis in Afrika nie. Maar dat dit baie daarvan dra, is baie duidelik. Dit het baie ernstige implikasies vir mense wat onder diegene wil wees wat Jesus “ware aanbidders” genoem het.—Johannes 4:23.
Wat kan, ongeag wie die skuld daarvoor dra, gedoen word om die vigs-epidemie te stuit? Regerings in Afrika het vigs-voorkomingskampanjes onderneem en die gebruik van kondome aangemoedig. Maar dr. Samuel Brew-Graves, Nigerië se verteenwoordiger by die Wêreldgesondheidsorganisasie, het reguit erken: “Die individu moet ’n gesonde leefwyse aanneem . . . , terwyl die gesin . . . seksuele promiskuïteit moet vermy.”
Lank voordat vigs ’n welbekende woord geword het, het die Bybel promiskuïteit veroordeel en kuisheid, selfbeheersing en huwelikstrou voorgestaan (Spreuke 5:18-20; 1 Korintiërs 6:18). Honderdduisende Getuies van Jehovah in Afrika kan regstreeks bewys lewer dat die navolging van hierdie beginsels aansienlike beskerming teen vigs en ander seksueel oordraagbare siektes bied. Hulle handhawing van Bybelstandaarde is voorwaar ’n beskuldiging teen die Christendom. Hierdie ware Christene het ook hulle hoop gestel op ’n komende nuwe wêreld waarin ‘regverdigheid sal woon’ (2 Petrus 3:13). Vir mense van geloof is dit die enigste oplossing vir die vigs-krisis.
[Voetnote]
a Sien die reeks “Vigs in Afrika—Hoe gaan dit eindig?” in ons nommer van 8 Augustus 1992 vir verdere inligting.
b Die siekte kan ook versprei word deur bloedoortappings en deur naalde te deel wat gebruik word om dwelms in te spuit. Party onskuldige Christene het die siekte gekry by ’n huweliksmaat wat hom of haar aan geslagsonsedelikheid skuldig gemaak of dwelms gebruik het.
[Lokteks op bladsy 20]
“In baie dele van die platteland . . . is priesters en biskoppe veelwywers.” —The New York Times
[Prent op bladsy 20]
Die swak voorbeeld van die Christendom se geestelikes het die epidemie van seksuele promiskuïteit in Afrika aangevuur
[Prent op bladsy 21]
Jongmense word blootgestel aan onsedelike vermaak wat deur “Christelike” lande uitgevoer word