Plaaslike kulture en Christelike beginsels
Is hulle verenigbaar?
STEPHEN, ’n Getuie van Noord-Europa, is as ’n sendeling na ’n Afrikaland gestuur. Terwyl hy saam met ’n plaaslike broer in die dorp rondgeloop het, het hy geskrik toe die broer ewe skielik sy hand vashou.
Die gedagte daaraan om hand aan hand met ’n ander man met ’n besige straat af te loop, was skokkend vir Stephen. In sy kultuur het so iets homoseksuele konnotasies (Romeine 1:27). Maar vir die swart broer was dit bloot ’n teken van vriendskap om hande vas te hou. Om nie sy hand te neem nie, sou beteken dat jy nie sy vriendskap aanneem nie.
Waarom moet ons in kultuurverskille belangstel? Eerstens omdat Jehovah se volk graag die opdrag wil vervul wat hulle van God ontvang het, naamlik om ‘dissipels van mense van al die nasies te maak’ (Matteus 28:19). Om hierdie taak te verrig, het party verhuis sodat hulle kon gaan dien waar meer bedienaars nodig was. As hulle suksesvol wil wees in hulle nuwe omgewing moet hulle die verskillende kulture wat hulle teëkom, verstaan en daarby aanpas. Dan sal hulle in harmonie met hulle medebroers en -susters kan saamwerk en terselfdertyd ook doeltreffender in die openbare bediening wees.
In hierdie onstuimige wêreld het baie mense weens politieke en ekonomiese redes uit hulle vaderland met al sy probleme gevlug en in ander lande gaan woon. Ons sal dus heel moontlik vind dat ons met nuwe gebruike te doen kry wanneer ons vir ons nuwe bure in hierdie lande getuig (Matteus 22:39). Ons eerste blootstelling aan ander maniere van dinge doen kan tot ’n gevoel van verwarring oor nuwe gebruike lei.
Duidelik omskrewe gebiede
Kultuur is ’n onlosmaaklike deel van die mensegemeenskap. Hoe vrugteloos sou dit derhalwe wees om “alte regverdig” te word en elke alledaagse gebruik te ondersoek om uit te vind of dit verenigbaar met Bybelbeginsels is of nie!—Prediker 7:16.
Daarenteen is dit nodig om plaaslike gebruike te identifiseer wat Goddelike beginsels ooglopend skend. Gewoonlik is dit egter nie moeilik om dit te doen nie, aangesien God se Woord beskikbaar is “om dinge reg te stel” (2 Timoteus 3:16). In baie lande is dit byvoorbeeld die gebruik om baie vrouens te hê, maar vir ware Christene is die skriftuurlike standaard dat ’n man net een lewende vrou mag hê.—Genesis 2:24; 1 Timoteus 3:2.
Sekere begrafnisgebruike wat bedoel is om bose geeste weg te hou, of wat geloof in die onsterflikheid van die siel as grondslag het, sal vir ’n ware Christen onaanvaarbaar wees. Party mense brand wierook of doen gebede vir die afgestorwenes in ’n poging om bose geeste te verdryf. Ander hou lykwake of selfs ’n tweede begrafnis wat bedoel is om die afgestorwene voor te berei vir die lewe ‘in die hiernamaals’. Maar die Bybel leer ons dat iemand wat dood is ‘glad niks weet nie’ en dus niemand kan help of kwaad kan aandoen nie.—Prediker 9:5; Psalm 146:4.
Daar is natuurlik baie gebruike wat met God se Woord verenigbaar is. Hoe verkwikkend is dit tog wanneer ons met kulture in aanraking kom waar die gees van gasvryheid nog iets algemeens is, waar daar vereis word dat selfs ’n vreemdeling hartlik verwelkom word en, indien nodig, by hulle kan tuisgaan! Wanneer jy so behandel word, voel jy nie lus om hierdie voorbeeld te volg nie? Indien wel, sal dit jou Christelike persoonlikheid beslis verbeter.—Hebreërs 13:1, 2.
Wie van ons hou daarvan om vir iemand te wag? In party lande gebeur dit selde omdat stiptheid belangrik geag word. Die Bybel sê vir ons dat Jehovah ’n God van orde is (1 Korintiërs 14:33). Gevolglik het hy ’n “dag en uur” bepaal waarop hy goddeloosheid gaan beëindig, en hy verseker ons dat hierdie gebeurtenis ‘nie sal versuim nie’ (Matteus 24:36; Habakuk 2:3). Kulture wat redelike stiptheid bevorder, help ons om ordelik te wees en behoorlike respek te toon vir ander mense en hulle tyd, wat beslis met skriftuurlike beginsels strook.—1 Korintiërs 14:40; Filippense 2:4.
Wat van onskadelike gebruike?
Terwyl party gebruike ongetwyfeld verenigbaar met die Christelike lewenswyse is, is ander nie. Maar wat van gebruike wat nie as goed of sleg gedefinieer kan word nie? Baie gebruike is onskadelik, en ons gesindheid daarteenoor kan ’n aanduiding wees van ons geestelike balans.
Daar is byvoorbeeld baie maniere van groet—’n handdruk, ’n buiging, ’n soen of selfs ’n omhelsing. Daar is eweneens ’n groot verskeidenheid gebruike met betrekking tot tafelmaniere. In party lande eet mense uit ’n gemeenskaplike bord of bak. Om winde op te breek, is in sekere lande ’n aanvaarbare—selfs wenslike—manier om jou waardering te toon, terwyl dit in ander onaanvaarbaar is en as die toppunt van slegte maniere beskou word.
Pleks van te besluit van watter van hierdie neutrale gebruike jy persoonlik hou of nie hou nie, moet jy jou eerder daarop toespits om die regte gesindheid daarteenoor aan te neem. Die tydlose raad van die Bybel beveel aan dat ons ‘niks uit twisgierigheid of uit egotisme doen nie, maar met ootmoed die ander hoër as onsself moet ag’ (Filippense 2:3). Eleanor Boykin sê insgelyks in haar boek This Way, Please—A Book of Manners: “’n Liefdevolle hart is die eerste ding wat jy nodig het.”
Hierdie nederige benadering sal verhinder dat ons neerhalende aanmerkings maak oor ander se gebruike. Dit sal ons aanspoor om eerder uit te reik en te leer hoe ander mense lewe, hulle gebruike aan te neem en hulle kossoorte te proe as om terug te hou of alles wat anders lyk met agterdog te beskou. Deur onbevooroordeeld te bly en bereid te wees om nuwe maniere van dinge doen te probeer, gee ons erkenning aan ons gasheer of die mense van ’n ander land. Ons vind self ook baat aangesien ons ons hart en ons horison “verruim”.—2 Korintiërs 6:13.
As die gebruik geestelike vooruitgang belemmer
Gestel ons kom gebruike teë wat op sigself nie onskriftuurlik is nie, maar wat nie geestelike vooruitgang bevorder nie. In party lande het mense byvoorbeeld ’n neiging om te sloer. Hierdie sorgelose benadering tot die lewe verminder wel stres, maar dit sal waarskynlik vir ons moeiliker wees om ons bediening ‘ten volle’ uit te voer.—2 Timoteus 4:5.
Hoe kan ons ander aanmoedig om nie belangrike dinge tot “môre” uit te stel nie? Onthou “’n liefdevolle hart is die eerste ding wat jy nodig het”. As ons deur liefde aangespoor word, kan ons die voorbeeld stel en dan mooi verduidelik watter voordele dit inhou as ons nie wat vandag gedoen moet word tot môre uitstel nie (Prediker 11:4). Terselfdertyd moet ons versigtig wees om nie wedersydse vertroue ten koste van produktiwiteit op te offer nie. As ander ons wenke nie onmiddellik toepas nie, moet ons nie oor hulle baasspeel of ons frustrasies op hulle uithaal nie. Liefde moet altyd voorrang bo doeltreffendheid geniet.—1 Petrus 4:8; 5:3.
Neem plaaslike smaak in aanmerking
Ons moet seker maak dat enige wenk wat ons gee geldig is en nie net ’n poging is om ons eie persoonlike voorkeure af te dwing nie. Kleredrag verskil byvoorbeeld grootliks. In baie streke is dit gepas vir ’n man wat die goeie nuus verkondig om ’n das te dra, maar in party tropiese lande kan dit as uitermate formeel beskou word. ’n Nuttige riglyn is dikwels om te kyk na wat as behoorlike kleredrag beskou word vir ’n professionele persoon wat met die publiek werk. “Gesonde verstand” is noodsaaklik wanneer ons te doen het met die sensitiewe saak van kleredrag.—1 Timoteus 2:9, 10.
Sê nou ons hou nie van ’n gebruik nie? Moet ons dit outomaties verwerp? Nie noodwendig nie. Mans wat hande vashou, wat vroeër genoem is, was in daardie spesifieke gemeenskap in Afrika heeltemal aanvaarbaar. Toe die sendeling sien dat ander mans hand aan hand rondloop, het hy meer op sy gemak gevoel.
Gedurende die apostel Paulus se uitgebreide sendingreise het hy gemeentes besoek waarvan die lede uiteenlopende agtergronde gehad het. Daar was ongetwyfeld baie kultuurverskille. Paulus het dus aangepas by die gebruike waarby hy kon, terwyl hy standvastig by Bybelbeginsels gebly het. “Ek het alles vir alle soorte mense geword”, het hy gesê, “om op elke moontlike manier sommige te red.”—1 Korintiërs 9:22, 23; Handelinge 16:3.
’n Paar pertinente vrae kan ons help om te besluit hoe ons op nuwe gebruike moet reageer. Watter indruk wek ons by diegene wat ons sien wanneer ons ’n sekere gebruik volg—of verwerp? Sal hulle tot die Koninkryksboodskap aangetrek word omdat hulle kan sien dat ons by hulle kultuur probeer inskakel? Kan daar aan die ander kant ‘met ons bediening foutgevind word’ as ons ’n plaaslike gebruik aanneem?—2 Korintiërs 6:3.
Indien ons “alles vir alle soorte mense” wil word, sal ons dalk party diepgewortelde beskouings ten opsigte van wat gepas en nie gepas is nie, moet verander. Die “regte” of “verkeerde” manier om iets te doen, hang dikwels bloot af van waar ons woon. In een land is dit dus ’n blyk van vriendskap as mans hande vashou, terwyl dit in baie ander lande beslis afbreuk sal doen aan die Koninkryksboodskap.
Daar is egter ander gebruike wat in verskeie streke aanvaarbaar is en wat dalk selfs vir Christene gepas is; maar ons moet versigtig wees.
Wees versigtig om nie die grens te oorskry nie!
Jesus Christus het gesê dat sy dissipels “geen deel van die wêreld” moet wees nie, al kon hulle nie uit die wêreld weggeneem word nie (Johannes 17:15, 16). Maar soms is dit nie maklik om te onderskei tussen wat ’n wesenlike deel van Satan se wêreld is en wat bloot kultuur is nie. Musiek en dans maak byvoorbeeld deel van amper elke kultuur uit, maar in party lande is dit belangriker as in ander.
Ons kan maklik ’n besluit neem wat meer op ons agtergrond as op goeie skriftuurlike redes gebaseer is. Alex, ’n Duitse broer, het ’n toewysing in Spanje ontvang. In sy vorige omgewing was dans nie baie gewild nie, maar in Spanje is dit deel van die kultuur. Toe hy vir die eerste keer sien hoe ’n broer en suster ’n lewendige volksdans doen, was hy verward. Was hierdie dansery verkeerd of miskien wêrelds? Sou hy sy standaarde verlaag as hy hierdie gebruik aanvaar? Alex het geleer dat daar geen rede was om aan te neem dat sy Spaanse broers en susters Christelike standaarde verlaag het nie, al was die musiek en manier van dans anders. Sy verwardheid was die gevolg van ’n kultuurverskil.
Emilio, ’n broer wat tradisionele Spaanse danse geniet, erken egter dat daar wel ’n gevaar bestaan. “Ek sien dat baie dansvorme verg dat die paartjie baie na aan mekaar dans”, verduidelik hy. “As ’n ongetroude persoon besef ek dat dit ’n uitwerking op die gevoelens van ten minste een van die dansmaats kan hê. Soms kan dans as ’n verskoning gebruik word om jou gevoelens vir iemand tot wie jy aangetrokke voel te toon. Dit kan ’n beskerming wees as jy seker maak dat die musiek heilsaam is en dat fisiese kontak tot die minimum beperk word. Maar ek moet erken dat dit baie moeilik is om ’n teokratiese atmosfeer te handhaaf wanneer ’n groep jong ongetroude broers en susters saam gaan dans.”
Ons sal beslis nie ons kultuur as ’n verskoning wil gebruik om ons aan wêreldse gedrag oor te gee nie. Sing en dans het ’n plek in Israel se kultuur gehad, en toe die Israeliete by die Rooi See uit Egipte vrygelaat is, het hulle feesvieringe sing en dans ingesluit (Exodus 15:1, 20). Maar hulle spesifieke vorm van musiek en dans het verskil van dié van die heidense wêreld om hulle.
Ongelukkig het die Israeliete ongeduldig geraak terwyl hulle vir Moses gewag het om van die berg Sinai terug te keer, ’n goue kalf gemaak en nadat hulle geëet en gedrink het, “opgestaan om ’n vrolike tyd te hê” (Exodus 32:1-6, NW). Toe Moses en Josua die geluid van hulle sang gehoor het, het dit hulle onmiddellik onrustig gemaak (Exodus 32:17, 18). Die Israeliete het daardie “grens” oorskry, en hulle manier van sing en dans was toe net soos dié van die heidense wêreld rondom hulle.
Net so kan musiek en dans vandag in ons gemeenskap algemeen aanvaar word, en dit pla dalk nie die gewetens van ander nie. Maar as die ligte gedoof word, flitsende ligte bygevoeg word of musiek met ’n ander ritme gespeel word, kan wat vroeër aanvaarbaar was dalk nou die gees van die wêreld weerspieël. “Dit is net ons kultuur”, kan ons dalk redeneer. Aäron het ’n soortgelyke verskoning gebruik toe hy ingestem het tot heidense vorme van vermaak en aanbidding, en dit valslik “’n fees vir Jehovah” genoem het. Hierdie flou verskoning was ongeldig. Hulle gedrag is immers as “skande onder hulle teenstanders” beskryf.—Exodus 32:5, 25, NW.
Kultuur het sy plek
Vreemde gebruike skok ons dalk aanvanklik, maar nie almal van hulle is noodwendig onaanvaarbaar nie. As ons ‘waarnemingsvermoëns geoefen is’, kan ons bepaal watter gebruike verenigbaar met Christelike beginsels is en watter nie (Hebreërs 5:14). Wanneer ons ’n liefdevolle en goedhartige gesindheid teenoor ons medemens betoon, sal ons gepas reageer wanneer ons met onskadelike gebruike te doen het.
Wanneer ons die goeie nuus van die Koninkryk aan mense in ons gebied of verder weg verkondig, sal ’n gebalanseerde beskouing van die groot verskeidenheid van kulture ons help om “alles vir alle soorte mense” te word. En ons sal ongetwyfeld vind dat ons ’n ryk, kleurvolle en fassinerende lewe sal lei as ons die verskeidenheid kulture verwelkom.
[Prent op bladsy 20]
Christene kan mekaar op baie gepaste maniere groet
[Prent op bladsy 23]
’n Gebalanseerde beskouing van verskillende kulture kan tot ’n ryk, kleurvolle lewe lei