Hoofstuk 32
Hoe kan ek my geniet?
Dui aan of die volgende stellings waar of onwaar is.
Die Bybel leer . . .
Dis altyd verkeerd om aan sport deel te neem.
□ Waar □ Onwaar
Alle flieks en TV-programme het ’n slegte invloed.
□ Waar □ Onwaar
Enige soort dansery word veroordeel.
□ Waar □ Onwaar
JY HET die hele week hard gewerk. Skool is verby. Jy het al jou takies by die huis gedoen. En jy het nog steeds hope energie—een van die seëninge van jonkwees (Spreuke 20:29). Al wat jy nou wil doen, is om ’n bietjie pret te hê.
Jou portuurs dink miskien dat die Bybel anti-pret is, dat dit jou genot in die lewe beperk. Maar is dit waar? Kom ons kyk na die waar-of-onwaar-stellings op die vorige bladsy en sien wat die Bybel regtig oor pret sê.
● Dis altyd verkeerd om aan sport deel te neem.
Onwaar. Die Bybel sê dat ‘liggaamlike oefening voordeel’ het (1 Timoteus 4:8). Die oorspronklike Griekse woord vir “oefening” wat Paulus hier gebruik het, beteken ‘oefen soos ’n gimnas’ en dra die gedagte van liggaamsoefening oor. Vandag is daar baie sportsoorte—soos ysskaats, fietsry, draf, tennis, bofbal, sokker en vlugbal, om maar net ’n paar te noem—wat goeie oefening sowel as pret kan wees.
Beteken dit dat daar geen rede is om versigtig te wees nie? Wel, kyk na die konteks van die vers wat hierbo aangehaal word. Toe die apostel Paulus aan die jong man Timoteus geskryf het, het hy gesê: “Liggaamlike oefening het min voordeel; maar godvrugtige toegewydheid is voordelig vir alles, aangesien dit belofte inhou vir die teenswoordige en die toekomstige lewe.” Paulus se woorde herinner ons daaraan dat dit altyd ons hoogste prioriteit moet wees om God gelukkig te maak. Jy kan sorg dat godvrugtige toegewydheid jou hoogste prioriteit bly—selfs wanneer jy ’n sport kies—deur jou die volgende drie vrae af te vra:
1. Hoe gevaarlik is die sport? Moenie net vertrou op hoorsê of op die entoesiastiese stories van ander jongmense nie. Kry die feite. Vind byvoorbeeld die volgende uit: Presies hoe dikwels is daar ongelukke in hierdie spesifieke sport? Watter veiligheidsmaatreëls word getref? Watter opleiding en toerusting is nodig om hierdie sport veilig te kan speel? Omtrent enige aktiwiteit hou ’n mate van gevaar in; maar is die hoofdoel van hierdie sport om besering of die dood te trotseer?
Die lewe is ’n gawe van God, en God se Wet aan die Israeliete het ’n swaar straf opgelê as iemand per ongeluk doodgemaak is (Eksodus 21:29; Numeri 35:22-25). God se volk is dus aangespoor om veiligheidsbewus te wees (Deuteronomium 22:8). Vandag is Christene ook verplig om respek vir lewe te toon.
2. Sal die sport goeie assosiasie bied? As jy atleties is, sal jou skoolmaats en onderwysers dalk druk op jou plaas om by ’n skoolspan aan te sluit. Jy voel dalk baie lus om die aanbod te aanvaar. Mark, ’n jong Christenman, sê: “Ek voel dis net nie regverdig dat my ouers my nie wil toelaat om in die skoolspan te speel nie.” Maar pleks van jou ouers te probeer oorhaal om jou beskouing van die saak te aanvaar, dink aan die volgende feite: Oefentye en wedstryde is gewoonlik buite gewone skooltyd. As jy goed doen, sal jy aangespoor word om meer tyd aan die sport te wy. As jy nie so goed doen nie, sal jy onder druk voel om meer tyd aan oefening te wy. Buitendien vorm hegte vriendskapsbande dikwels tussen spanmaats wanneer hulle in die vreugde van hulle oorwinnings of die mismoedigheid ná ’n nederlaag deel.
Vra jou nou af: ‘Sal dit ’n goeie invloed op my hê as ek my vrye tyd bestee aan ’n bedrywigheid wat kan lei tot hegte vriendskappe met jongmense wat nie dieselfde geestelike standaarde as ek het nie?’ (1 Korintiërs 15:33). ‘Watter prys is ek bereid om te betaal net om in ’n sekere span te kan speel?’
3. Hoeveel tyd en geld sal die sport verg? Die Bybel sê ons moet “seker . . . maak van die belangriker dinge” (Filippense 1:10). Om jou te help om hierdie raad toe te pas, vra jou af: ‘As ek aan hierdie sport deelneem, sal dit tyd in beslag neem wat ek vir skoolwerk of geestelike bedrywighede opsygesit het? Hoeveel geld sal dié sport my kos? Kan ek dit bekostig?’ As jy hierdie vrae beantwoord, sal dit jou help om aan die regte dinge prioriteit te gee.
● Alle flieks en TV-programme het ’n slegte invloed.
Onwaar. Die Bybel beveel Christene om ‘vas te hou aan wat goed is’ en om hulle ‘van elke vorm van goddeloosheid te onthou’ (1 Tessalonisense 5:21, 22). Nie alle flieks en TV-programme is in stryd met daardie standaard nie.a
Om te gaan fliek, kan beslis ’n aangename manier wees om tyd saam met jou vriende deur te bring. Leigh, ’n Suid-Afrikaanse meisie, sê: “As ek na ’n sekere fliek wil gaan kyk, bel ek een van my vriende, en dan laat ons ons ander vriende daarvan weet.” Gewoonlik gaan hierdie groepie na ’n vroeë vertoning van die fliek. Daarna laai hulle ouers hulle op en gaan hulle almal saam uiteet.
Flieks en TV is dalk moderne uitvindsels, maar dis in werklikheid net nuwe maniere om ’n ou tradisie te laat voortleef—die tradisie van stories, of verhale, vertel. Jesus was besonder goed daarmee om met behulp van verhale mense se harte te bereik. Byvoorbeeld, sy gelykenis van die barmhartige Samaritaan wek gevoelens van empatie by ons en leer ons belangrike sedelesse.—Lukas 10:29-37.
Vandag leer rolprentmakers mense ook lesse wat hulle sedelike beskouings vorm. Hulle probeer kykers sover kry om hulle te vereenselwig met die karakters wat uitgebeeld word—al is die held ’n misdadiger of ’n sadistiese, magsugtige persoon. As jy nie versigtig is nie, vind jy dalk dat jy ’n misdadiger se kant kies en sy onsedelike of wrede dade regverdig! Hoe kan jy hierdie strik vermy?
Wanneer jy ’n fliek of TV-program kies, vra jou af: ‘Sal hierdie program my aanmoedig om vol tere medelye te wees?’ (Efesiërs 4:32). ‘Of sal dit my aanmoedig om my te verlustig in iemand anders se ongeluk?’ (Spreuke 17:5). ‘Sal dit dit vir my moeilik maak om “die kwaad te haat”?’ (Psalm 97:10). ‘Sal ek my in werklikheid aan die kant van die “kwaaddoeners” skaar?’—Psalm 26:4, 5.
Resensies en advertensies vir ’n fliek kan jou ’n idee gee van waaroor dit gaan. Maar moenie naïef wees en ‘elke woord glo’ nie (Spreuke 14:15). Waarom nie? ’n Resensie weerspieël ook maar net iemand anders se mening. En ’n advertensie gee dalk doelbewus geen aanduiding dat ’n fliek aanstootlike tonele bevat nie. ’n Tiener met die naam Connie sê: “Ek het al gesien dat as ’n mens weet wie die hoofakteurs in ’n fliek is, dit jou ’n idee gee van wat dit heel moontlik sal uitbeeld.”
Christenmaats wat dieselfde Bybelse waardes as jy het, weet dalk of ’n sekere fliek aanvaarbaar is. Maar onthou dat mense geneig is om jou te vertel wat hulle omtrent ’n fliek geniet het. Vra dan eerder wat sleg is daarin. Wees spesifiek. Vra byvoorbeeld of daar enige tonele is wat geweld, seks of demoniese aktiwiteite uitbeeld. Jou ouers kan jou ook goeie raad gee. Jong Vanessa sê: “Ek vra my ouers. As hulle dink dat ek maar daarna kan gaan kyk, sal ek daarna gaan kyk.”
Moenie dit as iets onbelangriks beskou om ’n fliek of TV-program te kies nie. Waarom nie? Omdat die vermaak wat jy kies, toon wat vir jou belangrik is (Lukas 6:45). Wat jy kies, sê baie oor die soort assosiasie waarvan jy hou, die soort taal wat jy duld, die seksuele sedes wat vir jou aanvaarbaar is. Wees dus selektief!
● Enige soort dansery word veroordeel.
Onwaar. Toe die Israeliete deur die Rooi See gegaan en van die Egiptiese leër af weggekom het, het Mirjam die vroue in ’n dans gelei om dit te vier (Eksodus 15:20). In Jesus se gelykenis van die verlore seun is die seun se terugkeer onder andere met “’n musiekkonsert en gedans” gevier.—Lukas 15:25.
Dieselfde gebeur vandag. In baie kulture geniet jonk en oud dit om te dans wanneer familie en vriende bymekaarkom. Maar daar is rede om versigtig te wees. Hoewel die Bybel nie beskeie gesellighede veroordeel nie, waarsku dit wel teen “swelgerye”, of “wilde partytjies” (Galasiërs 5:19-21; Byington). Die profeet Jesaja het geskryf: “Wee dié wat vroeg in die oggend opstaan sodat hulle net sterk drank kan soek, wat tot laat in die aandskemering draal sodat die wyn hulle verhit! En daar sal harp en snaarinstrument, tamboeryn en fluit en wyn by hulle feeste wees; maar na die dade van Jehovah kyk hulle nie.”—Jesaja 5:11, 12.
By daardie gesellighede was daar “sterk drank” en wilde musiek. Dit het vroeg begin en tot laat in die aand aangehou. Let ook op die gesindheid van die mense wat die partytjies bygewoon het—hulle het hulle gedra asof God nie bestaan nie! Dit is dan geen wonder dat God sulke gesellighede veroordeel het nie.
As jy na ’n partytjie genooi word waar daar gedans gaan word, vra jou af: ‘Wie gaan daar wees? Watter soort reputasie het hulle? Wie gaan verantwoordelik wees vir die geselligheid? Watter toesig sal daar wees? Het ek my ouers se toestemming om die partytjie by te woon? Hoe gaan daar gedans word?’ Baie dansstyle is bedoel om seksuele begeerte op te wek. Sou dit jou help om ‘vir die hoerery te vlug’ as jy sulke danse doen of daarna kyk?—1 Korintiërs 6:18.
Sê nou jy word genooi om by ’n nagklub te gaan dans? Kyk na die kommentaar van ’n jong man, Shawn, wat dikwels na dansklubs toe gegaan het voordat hy ’n Christen geword het. Hy sê: “Die musiek is gewoonlik verderflik, die danse is gewoonlik baie onsedelik en die meeste van die mense wat soontoe gaan, gaan met ’n rede.” Daardie rede, sê Shawn, is om iemand by die klub te ontmoet met wie hulle seks kan hê. Nadat Shawn die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer het, het hy verander. Wat sê hy nou? “Sulke klubs is nie plekke vir Christene nie.”
Waarom moet jy waaksaam bly?
Wanneer dink jy is ’n soldaat op sy kwesbaarste—wanneer hy op die slagveld is of wanneer hy saam met sy makkers ontspan? Dis eintlik wanneer hy ontspan dat hy nie so waaksaam is nie en op sy kwesbaarste is. Net so is jy by die skool of by die werk geestelik waaksaam. Jy is op jou hoede vir moontlike gevaar. Dis later, wanneer jy saam met jou vriende ontspan, dat jy op jou kwesbaarste is vir ’n aanval op jou sedelike standaarde.
Party van jou portuurs spot jou dalk omdat jy by die Bybel se hoë sedelike standaarde bly wanneer dit by ontspanning kom. Selfs jongmense wat deur Christenouers grootgemaak is, kan druk op jou plaas. Maar sulke jongmense se gewetens is geskroei (1 Timoteus 4:2). Hulle sê dalk dat jy ongebalanseerd of eiegeregtig is. Maar moenie onder portuurdruk ingee nie; “behou ’n goeie gewete”.—1 Petrus 3:16.
Wat regtig saak maak, is nie wat jou portuurs van jou dink nie, maar wat Jehovah van jou dink! En as jou vriende jou terg omdat jy jou gewete volg, is dit dalk tyd dat jy nuwe vriende soek (Spreuke 13:20). Onthou, jy is uiteindelik die een wat jou sedelike standaarde bewaak—selfs wanneer jy jou geniet.—Spreuke 4:23.
LEES MEER OOR HIERDIE ONDERWERP IN DEEL 1, HOOFSTUK 37
Pornografie kom algemener voor en is makliker om te kry as ooit tevore. Hoe kan jy hierdie strik vermy?
[Voetnoot]
a Vir meer inligting hieroor, sien Deel 1, hoofstuk 36.
SLEUTELTEKSTE
“Verbly jou, jong man, in jou jeug, . . . en wandel in die weë van jou hart en in die dinge wat jou oë sien. Maar weet dat die ware God jou op grond van al hierdie dinge sal oordeel.”—Prediker 11:9.
WENK
Vra jou ouers of hulle bereid sal wees om ’n paar keer per maand tyd opsy te sit wanneer julle die TV kan afsit en as ’n gesin saam kan ontspan.
HET JY GEWEET . . .?
Dans en musiek was ’n belangrike deel van ware aanbidding vir die Israeliete.—Psalm 150:4.
AKSIEPLAN!
As ek gekies word om ná skoolure in ’n sportspan te speel, sal ek sê ․․․․․
As ’n fliek waarna ek en my maats kyk, ongepas is, sal ek ․․․․․
Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․
WAT DINK JY?
● Waarom moet Christene hoërisikosport vermy?
● Hoe kan jy besluit of ’n fliek gepas is?
● Hoe sou jy ’n aanvaarbare dansstyl beskryf?
[Lokteks op bladsy 269]
Ek is lief vir dans, maar ek het geleer hoe goed dit is om na my ouers se raad te luister. Ek laat nie toe dat dans die belangrikste ding in my lewe word nie.’’—Tina
[Prent op bladsy 268]
Wanneer ’n soldaat sy waaksaamheid laat verslap, is hy op sy kwesbaarste—en wanneer jy ontspan, is jy is op jou kwesbaarste vir ’n aanval op jou sedes