Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 2/8 bl. 23-24
  • Die dansende duiwels van Yare

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die dansende duiwels van Yare
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Duiweldansers se kostuums
  • Na die kerk
  • Priesterlike seën
  • Nie vir Jehovah se Getuies nie
  • Mag Christene dans?
    Ontwaak!—1996
  • Hoe moet ek dansklubs vir jongmense beskou?
    Ontwaak!—2004
  • Plaaslike kulture en Christelike beginsels
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • My strewe na roem as ’n danseres
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 2/8 bl. 23-24

Die dansende duiwels van Yare

DIT was nog nie eers middag nie, maar alreeds baie warm. Terwyl ons ’n groep mans dopgehou het wat in die volle tradisionele kostuum getooi was, het ons gewonder hoe hulle dit in die versengende hitte kon uithou! Ons het die landboudorpie San Francisco de Yare, Venezuela, besoek. Die mans in die kostuums was die beroemde Diablos Danzantes de Yare, die dansende duiwels van Yare.

Die meeste mense in Venezuela is Katolieke en bely geloof in die Bybel. Maar geslagte lank al speel rituele danse, wat hoofsaaklik deur die uitbeelding van demone gekenmerk word, ’n belangrike rol in die plaaslike kultuur. Die Katolieke Kerk laat nie net die danse toe nie, maar bevorder dit in werklikheid. Dit is die geval met die dansende duiwels van Yare.

Nadat ons in Yare aangekom het, was ons verbaas om te sien dat die plaaslike hoofkwartier van die Broederskap van die Heiligste Sakrament, ’n Katolieke organisasie, ook die hoofkwartier van die dansende duiwels was. Die gebou staan bekend as die Casa de Los Diablos (Huis van die duiwels). Dit was Woensdag, die dag voor die Katolieke fees van Corpus Christi, en daar was ’n aantal professionele fotograwe wat buite die gebou gewag het. Skielik was daar ’n harde geroffel van tromme, en ’n hele paar mans wat soos demone aangetrek was, het begin dans.

Duiweldansers se kostuums

Elke danser het ’n rooi hemp, rooi langbroek, rooi sokkies en sandale aangehad. Elkeen het ’n rosekrans, ’n kruis en ’n Katolieke medaljon om sy nek gedra. Nog ’n kruis is aan sy kostuum vasgemaak. Elkeen het in die een hand ’n kalbas met ’n duiwelse voorkoms vasgehou, en in die ander hand ’n kort sweep. Maar die opvallendste was die yslike, grillige, veelkleurige maskers met horings, uitpeuloë en, dikwels, ontblote tande. Elke masker is aan ’n lang, rooi materiaalkap vasgeheg.

Ons het uitgevind dat daar verskillende soorte dansers is. Die hoof-capataz, oftewel opsiener, staan ook bekend as die diablo mayor, of hoofduiwel. Sy masker het vier horings. Hy word gewoonlik weens sy senioriteit gekies. Die assistentopsiener, of segundo capataz, het drie horings en die gewone dansers sonder ’n rang het net twee. Party van die dansers is promeseros, mense wat ’n belofte nakom om een keer per jaar vir ’n sekere aantal jare, of dalk lewenslank, te dans. Hierdie belofte, of eed, word gewoonlik afgelê deur persone wat glo dat God ’n spesiale versoek aan hulle toegestaan het.

Na die kerk

Om twaalfuur verlaat die dansers hulle hoofkwartier, en hulle vat koers na die plaaslike kerk om die priester se toestemming vir die res van hulle optog te verkry. Die dansende duiwels ontmoet die priester buite die kerk. Daar kniel hulle om sy seën te ontvang. Dan dans hulle deur die dorp se strate, soms van deur tot deur. Heel dikwels wag die huisbewoners die dansende duiwels in met lekkergoed, drankies en ander kos. Hierdie optog gaan die hele namiddag ononderbroke voort.

Die volgende oggend, wanneer die mis in die kerk begin, ontmoet die dansers weer by die Casa de Los Diablos. Terwyl hulle almal hulle kalbasse skud, dans hulle van daar af op die maat van tromme na die begraafplaas. Hulle vereer hulle dooie vriende voor ’n altaar wat in die begraafplaas opgerig is. Tydens hierdie seremonie is die ritme van die tromme stadig. Daarna, weens bygelowige vrees, verlaat hulle die begraafplaas deur agteruit te loop en seker te maak dat hulle nie hulle rug na die altaar draai nie. Daarvandaan gaan hulle na die kerk toe en wag hulle dat die mis tot ’n einde kom.

Priesterlike seën

Aan die einde van die mis kom die priester uit en seën die dansers wat met geboë hoofde kniel, met hulle maskers wat van die materiaalkappe hang as simbool van die oorwinning van die goeie oor die kwaad. Die priester gaan langs die hoofduiwel sit. Hulle twee luister na die ede van die nuwe promeseros wat verduidelik waarom en hoeveel jaar lank hulle beloof om te dans.

Die tromspelers begin vinniger op hulle tromme slaan en die dansende duiwels reageer deur hulle lyf en kalbasse wild te skud op maat van die versnelde tempo. Vroue dans ook, maar nie in duiwelkostuums nie. Hulle dra rooi rompe, wit bloese en wit of rooi kopdoeke. Tydens ’n deel van die optog dra party van die dansende duiwels ’n beeld van hulle beskermheilige op hulle skouers. Die dansers sluit hulle optog af deur voor die kerk te paradeer nadat hulle aan ’n gewilde kruis in die dorp hulde bewys het.

Nie vir Jehovah se Getuies nie

Dit was ’n interessante ondervinding vir ons as toeriste. Gedurende ons besoek aan die dorpie Yare kon ons nie anders as om die openbare gebeure te sien wat met die dansende duiwels gepaardgaan nie. Maar as Christene neem ons, net soos die meer as 70 000 ander Getuies van Jehovah in Venezuela, nie deel aan die fees van die dansende duiwels van Yare of soortgelyke optogte nie.

Waarom nie? Omdat ons ag slaan op die woorde van die apostel Paulus: “Ek wil nie hê dat julle deelgenote met die demone moet word nie. Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die demone nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van demone nie” (1 Korintiërs 10:20, 21, New American Bible).—Bygedra.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel