Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 6/8 bl. 5-8
  • Op soek na aanvaarbare oplossings

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Op soek na aanvaarbare oplossings
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verminder besoedelstowwe
  • Ry stadiger
  • Gebruik fietse
  • Herontwerp
  • Net ’n deel van die probleem
  • Die volmaakte oplossing word gevind
    Ontwaak!—1996
  • ’n Wêreld sonder voertuie?
    Ontwaak!—1996
  • Ag, Tog net ’n bietjie vars lug!
    Ontwaak!—1996
  • Die verkeer—Hoe om daarmee saam te leef
    Ontwaak!—2007
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 6/8 bl. 5-8

Op soek na aanvaarbare oplossings

DIT is nie net motorvoertuie wat besoedeling veroorsaak nie. Privaathuise, fabrieksaanlegte en kragstasies is ook deels daarvoor verantwoordelik. Maar motorvoertuie speel ’n groot rol in die besoedeling van die aarde.

Trouens, 5000 Days to Save the Planet sê selfs: “As daar van al hierdie skade rekenskap gegee moes word—veral die skade aan ons klimaat as gevolg van die uitlating van koolstofdioksied—sou motors waarskynlik nooit gebou word nie.” Dit erken nietemin: “Maar dit is ’n keuse wat nóg motorvervaardigers, nóg die padbouers, nóg die regeringsinstansies, trouens, nóg die algemene publiek, wie se lewe al hoe meer van privaatvervoer afhang, bereid is om te oorweeg.”

Kan die tegnologie wat die mens op die maan gesit het dan nie ’n niebesoedelende motor vervaardig nie? Dit is makliker om te praat as om te doen, en daarom sal die soeke na aanvaarbare oplossings voortduur totdat die struikelblokke tot die ontwikkeling van ’n niebesoedelende motor uit die weg geruim kan word.

Verminder besoedelstowwe

In die sestigerjare het die Verenigde State wetgewing aangeneem wat vereis dat toestelle in motors geïnstalleer word om die uitlaat van besoedelstowwe te beperk. Ander lande en regerings het sedertdien dieselfde gedoen.

Katalitiese omsetters, wat die gebruik van ongelode brandstof vereis, word nou algemeen gebruik om skadelike besoedelstowwe te filtreer. Tussen 1976 en 1980, nadat motoriste in groot getalle ongelode brandstof begin gebruik het, het die loodvlak in Amerikaners se bloed met een derde gedaal. En net sowel, want te veel lood kan die senustelsel aantas en leervermoë belemmer. Maar terwyl die loodvlakke in baie lande in die ontwikkelde wêreld gedaal het, kan dieselfde ongelukkig nie van minderontwikkelde lande gesê word nie.

Die sukses met katalitiese omsetters is bemoedigend, maar die gebruik daarvan is nog ’n omstredenheid. Weens die verlies aan werkverrigting toe lood nie meer bygevoeg is nie, is die koolwaterstofsamestelling van die brandstof verander. Dit het tot ’n vermeerdering van ander karsinogene, soos benseen en tolueen, in uitlaatgasse gelei, en die uitlaatvlakke daarvan kan nie deur katalitiese omsetters verminder word nie.

Daarbenewens is die gebruik van platinum ’n vereiste vir katalitiese omsetters. Volgens professor Iain Thornton, van Imperial College in Brittanje, is een van die newe-effekte ’n toename in die platinumneerslag in die grond langs paaie. Hy het gewaarsku teen die moontlikheid dat “oplosbare vorme van platinum in die voedselketting kan beland”.

Ondanks enige sukses met “katalitiese omsetters in Noord-Amerika, Japan, Suid-Korea en verskeie Europese lande”, erken 5000 Days to Save the Planet tereg dat “die ontsaglike toename in die aantal motors regoor die wêreld die voordele vir lugkwaliteit heeltemal uitgewis het”.

Ry stadiger

Nog ’n manier om motoruitlate te verminder, is om stadiger te ry. Maar in die Verenigde State het sommige state onlangs die spoedgrens verhoog. In Duitsland wil mense nie graag spoedbeperkings hê nie. Motorvervaardigers wie se verkoopargument die feit is dat hulle kragtige motors kan bou wat maklik met snelhede van meer as 150 kilometer per uur kan ry, is vanselfsprekend daarteen gekant, en dit geld ook vir ’n groot aantal bestuurders. Dit wil egter nou voorkom of al hoe meer Duitsers gewillig is om spoedbeperkings nie net ter wille van die omgewing te aanvaar nie, maar ook ter wille van veiligheid.

In sommige lande moet bestuurders stadiger ry—of selfs heeltemal ophou ry—wanneer besoedeling onaanvaarbare vlakke bereik. ’n Meningsopname in 1995 het getoon dat 80 persent van die Duitsers tot die instelling van spoedgrense sou instem as osoonvlakke te hoog raak. Baie stede regoor die wêreld, waaronder Atene en Rome, het alreeds stappe gedoen om die gebruik van motors onder sekere omstandighede te beperk. Ander oorweeg dit om dieselfde te doen.

Gebruik fietse

Om verkeer te verminder, het sommige stede spesiale tariewe vir busvervoer ingestel. Ander voorsien gratis busvervoer aan bestuurders wat ’n nominale bedrag betaal om hulle motors in beskikbare terreine te parkeer. Ander stede het bane net vir busse en taxi’s opsy gesit sodat hierdie vorme van vervoer vinniger kan beweeg.

’n Nuwe manier om die probleem te bowe te kom, is onlangs in The European genoem: “Die vindingryke Dene, wat deur ’n kampanje in Nederland in die laat sestigerjare geïnspireer is, het met ’n plan vorendag gekom om lugbesoedeling en verkeersknope te verminder deur mense te oorreed om twee wiele in plaas van vier te gebruik.” Fietse word op verskillende plekke in die strate van Kopenhagen geplaas. As ’n mens ’n muntstuk in ’n toestel gooi, kry jy ’n fiets om te gebruik. Die deposito kan teruggeëis word wanneer die fiets later by ’n geskikte plek terugbesorg word. ’n Mens sal maar moet sien of hierdie plan prakties gaan wees en byval gaan vind.

Party Duitse stede moedig die gebruik van fietse in plaas van motors aan deur fietsryers toe te laat om in die verkeerde rigting in ’n eenrigtingstraat te ry! Aangesien ongeveer een derde van alle ritte in die stad en meer as een derde van dié in die platteland korter as drie kilometer is, kan baie inwoners die meeste hiervan maklik per voet of per fiets aflê. Dit sal besoedeling help verminder; fietsryers sal terselfdertyd die nodige oefening kry.

Herontwerp

Die werk gaan voort om ’n niebesoedelende motor te ontwerp. Elektriese motors wat met batterye werk, is al vervaardig, maar hulle kan nie vinnig en lank ry nie. Dieselfde is waar van sonaangedrewe motors.

’n Ander moontlikheid wat ondersoek word, is die gebruik van waterstof as brandstof. Waterstof brand met feitlik geen uitlaat van besoedelstowwe, maar die prys is ’n afskrikmiddel.

Amerika se president Clinton het ’n behoefte aan die heruitvinding van die motor gesien en in 1993 aangekondig dat die regering en die Amerikaanse motornywerheid gaan saamwerk om die motor van die toekoms te ontwerp. Hy het gesê: “Ons gaan ’n tegnologiese onderneming van stapel probeer stuur soos wat ons nasie nog nooit aangepak het nie.” Of dit moontlik sal wees “om die allerdoeltreffendste en ekologies vriendelike voertuig vir die 21ste eeu te bou” waarvan hy gepraat het, moet ons nog sien. Die doelwit is om ’n prototipe binne ’n dekade te vervaardig—maar teen ’n ontsaglike koste.

Sommige motorvervaardigers werk aan modelle wat brandstof en elektrisiteit kan gebruik. Teen ’n hoë prys kan jy in Duitsland reeds ’n elektriese sportmotor kry wat in nege sekondes van ’n stilstaande posisie tot 100 kilometer per uur kan versnel, vinnig op pad na ’n topspoed van 180. Maar ná 200 kilometer kom hy met horte en stote tot stilstand totdat sy batterye ten minste drie uur lank herlaai kan word. Navorsing duur voort, en verdere vooruitgang word verwag.

Net ’n deel van die probleem

Hoe om van giftige uitlaatgasse ontslae te raak, is net ’n deel van die probleem. Motors veroorsaak ook geraassteurnis, iets wat enige huisbewoner naby ’n besige pad maar alte goed ken. Aangesien aanhoudende geraas van verkeer ’n mens se gesondheid kan benadeel, is dit ook ’n basiese deel van die probleem wat opgelos moet word.

Natuurliefhebbers sal ook die aandag vestig op die feit dat talle pragtige natuurgebiede geskend word deur kilometer lange aaklige hoofweë, tesame met die onooglike besigheidsplekke en reklameborde wat dalk daar voorkom. Maar namate die aantal motors toeneem, is meer paaie nodig.

Nadat party motors jare lank besoedeling in die diens van hulle eienaars veroorsaak het, gaan hulle selfs “ná hulle dood” met besoedeling voort. Verlate wrakke, wat net ’n doring in die oog is, het so ’n probleem geword dat wette in sommige plekke aangeneem moes word om te verhoed dat hulle die platteland te veel besoedel. Sal die ideale motor, een wat van maklik herwinbare materiaal gemaak is, ooit gebou word? So ’n voertuig is nog nêrens in sig nie.

“Die meeste Duitsers is baie besorg oor die omgewing”, sê ’n onlangse koerant, en dit voeg by: “maar min tree dienooreenkomstig op.” ’n Regeringsamptenaar het na bewering gesê: “Niemand dink aan homself as die skuldige nie, en niemand wil verantwoording doen nie.” Ja, dit is moeilik om probleme op te los in ’n wêreld wat gekenmerk word deur mense wat “liefhebbers van hulleself” en “nie bereid tot enige ooreenkoms” is nie.—2 Timoteus 3:1-3.

Die soeke na aanvaarbare oplossings duur nogtans voort. Kan ’n volmaakte oplossing vir besoedeling en die motor ooit gevind word?

[Prent op bladsy 7]

Kan besoedeling verminder word as ons van openbare vervoer, saamryklubs of fietse gebruik maak?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel