Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 6/8 bl. 20-23
  • Hoe om paniekaanvalle die hoof te bied

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om paniekaanvalle die hoof te bied
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom raak ’n mens paniekerig?
  • Die oorsake van paniek
  • Kan dit genees word?
  • ’n Geestelike probleem?
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1997
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1997
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1998
  • Geteister deur fobies
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 6/8 bl. 20-23

Hoe om paniekaanvalle die hoof te bied

Robert het gemaklik in sy kantoor gesit. Skielik het hy hartkloppings begin kry. Hy het meteens regop gesit terwyl die sweet op sy voorkop uitgeslaan het. Robert was seker daarvan dat hy besig was om ’n hartaanval te kry! Hy het die telefoon gegryp. “Iets vreesliks is besig om met my te gebeur”, het hy hygend gesê. “Dit voel asof ek gaan flou word!”

DIT was die eerste keer dat Robert ’n paniekaanval gekry het. Ongelukkig was dit nie die laaste keer nie. Dieselfde gevoel het hom later by ’n restaurant en by ’n winkelsentrum oorweldig. Die paniek het selfs teruggekeer terwyl hy vriende besoek het. Kort voor lank was Robert se tuiste die enigste “veilige” plek vir hom. Hy het mettertyd terneergedruk begin voel. “Ek het dit selfs oorweeg om selfmoord te pleeg”, erken hy.

Ses maande later het Robert op ’n koerantartikel oor paniekaanvalle en agorafobie afgekom. Wat hy uitgevind het, het sy lewe gered.

Waarom raak ’n mens paniekerig?

Paniek is die liggaam se normale reaksie op gevaar. Stel jou voor dat jy oor ’n hoofweg stap. Skielik sien jy dat ’n motor reg op jou afjaag. Oombliklike fisiese en chemiese veranderinge in jou liggaam stel jou in staat om na veiligheid te nael.

Maar stel jou nou voor dat ’n mens skynbaar sonder rede so paniekerig raak. Dr. R. Reid Wilson sê: “Paniekaanvalle kom voor wanneer paniek die brein wysmaak dat gevaar dreig. Jy staan dalk in die gang van ’n kruidenierswinkel sonder om enigiemand te pla. Klik. Daar gaan die noodskakelaar aan. ‘Alarmsein! Alle stelsels, wees slaggereed!’”

Slegs diegene wat al sulke aanvalle ondervind het, besef werklik hoe hewig dit is. Die tydskrif American Health beskryf dit as “’n groot dosis adrenalien wat vyf minute of ’n uur of ’n dag lank deur jou liggaam jaag en dan net so vinnig en geheimsinnig as wat dit gekom het weer verdwyn en jou swak, uitgeput en bang vir die volgende aanval laat voel”.

Die oorsake van paniek

Paniekaanvalle begin gewoonlik wanneer ’n mens ’n jong volwassene is, en meer vroue as mans kry dit. Waardeur word dit veroorsaak? Daar is nie ’n duidelike antwoord nie. Sommige sê dat lyers biologies daarvoor vatbaar is weens ’n afwyking in die brein se limbusstelsel. Baie meen dat hierdie toestand oorerflik is, terwyl ander sê dat faktore wat spanning veroorsaak chemiese veranderinge in die brein tot gevolg het.

In party gevalle word die aanvalle veroorsaak deur herinneringe aan traumatiese ondervindinge, soos oorlog, verkragting of kindermolestering. Een opname het aan die lig gebring dat die persentasie mense met panieksteurnis 13 keer hoër is onder diegene wat slagoffers van bloedskande was as onder die algemene bevolking. Trouens, hoewel paniekaanvalle en ander sindrome op sigself volwaardige probleme is, kan hulle ook wees wat skryfster E. Sue Blume “speke met bloedskande as die spil” noem.

Nie alle paniekaanvalle word natuurlik deur trauma teweeggebring nie. Maar wanneer dit wel die geval is, sal dit volgens dr. Wayne Kritsberg “nie die probleem permanent oplos as die sekondêre gevolge van die molestering behandel word—pleks dat die oorspronklike trauma genees word nie. Dit sal wees soos om hoesstroop te neem om longontsteking te genees.”

Kan dit genees word?

Paniekaanvalle kan onder beheer gehou word. Baie wat tuisbly weens hulle vrees vir paniek is al deur blootstellingsterapie gehelp. Tydens hierdie terapie word ’n pasiënt blootgestel aan die situasie wat hy vrees en word hy gehelp om daarin te bly totdat die paniek afneem. Diegene met hartkwaal, asma, ’n maagseer, dikdermontsteking of soortgelyke siektes moet ’n dokter raadpleeg voordat hulle hierdie behandeling probeer.

Ontspanningstegnieke kan toegepas word om die toename in angs te verlig.a Party daarvan word in die bygaande venster “Kalmeertegnieke” bespreek. Maar moenie wag totdat die paniek begin nie. Dit is die beste om hierdie tegnieke te oefen wanneer jou angsvlak laag is. Wanneer jy dit onder die knie gekry het, kan dit toekomstige aanvalle laat afneem of dit selfs voorkom.

Paniek floreer op perfeksionisme en ’n lae selfbeeld. “Terwyl ek paniekaanvalle gekry het, het mnr. Negatief my lewe geregeer”, sê ’n lyer. “Ek het my wysgemaak dat ek weens my angsgevoelens slegter as ander en dus onbeminlik is.” Die regstelling van sulke gesindhede kan die angsgevoelens wat tot paniek aanleiding gee, laat afneem.b

Dit is baie voordelig om angsgevoelens met ’n vertroude vriend te bespreek. Wanneer die lyer daaroor praat, kan dit hom help om probleme wat verduur moet word te onderskei van probleme wat opgelos kan word. Gebed moenie oor die hoof gesien word nie. Psalm 55:23 sê: “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.”

Dit is dikwels nie ’n enkele, reusagtige probleem nie, maar ’n aantal klein, skynbaar onbeduidende bekommernisse wat tot paniek aanleiding gee—baie soos te veel afsonderlike elektriese toestelle wat ’n sekering kan laat smelt wanneer hulle krag uit dieselfde stroombaan trek. Een oplossing is om elke probleem op ’n indekskaart te skryf en hulle van die eenvoudigste tot die ingewikkeldste probleem te rangskik. Pak hulle een vir een aan. Wanneer jy jou bekommernisse neerskryf, word hulle samestelling verander van dít wat jy vrees en vermy tot dít wat jy kan sien en oplos.

Sommige word gehelp deur voorgeskrewe kalmeermiddels en gemoedsopheffers te neem. Maar ’n woordjie van waarskuwing is gepas. “Ek meen dat medikasie alleen nie die oplossing is nie”, sê raadgewer Melvin Green. “Dit behoort as ’n hulpmiddel gebruik te word terwyl daar na die oplossing gesoek word. . . . Medikasie kan jou help om aan die gang te bly, en dít kan jou weer die geleentheid bied om ander hulp te soek sodat jy die oorsake van agorafobie uit die weg kan ruim en jou op herstel kan toelê.”

’n Geestelike probleem?

“Ek het gedink dat Christene nie veronderstel is om angsaanvalle te kry nie”, sê Brenda, “want Jesus het gesê dat ons ‘nooit besorg’ moet wees nie. Ek het tot die slotsom gekom dat ek nie genoeg op God vertrou nie.” Die konteks van Jesus se woorde in Matteus 6:34 toon egter dat hy nie panieksteurnisse bespreek het nie. Hy het eerder beklemtoon dat dit gevaarlik is om meer oor materiële as geestelike behoeftes besorg te wees.

Trouens, selfs diegene wat geestelike belange eerste stel, kan deur hierdie steurnis geteister word, soos die volgende ondervinding van ’n vrou in Finland toon.

“Ek en my vriendin, albei Getuies van Jehovah, het aan die predikingswerk van deur tot deur deelgeneem. Skielik het ek duiselig geword. Ek kon nie helder dink nie. Alles het so onwerklik gevoel, en ek was bang dat ek my balans sou verloor. By die volgende deur kon ek die gesprek glad nie volg nie.

“Ek het in 1970 hierdie skrikwekkende ondervinding gehad. Dit was die eerste van ’n reeks vreemde aanvalle wat my gedurende die volgende twee dekades geteister het. Ek het my herhaaldelik in ’n newelagtige wêreld bevind, nie in staat om helder te dink nie. Ek het duiselig geword en hartkloppings gekry. Ek het oor my woorde gestruikel of heeltemal vergeet wat ek wou sê.

“Ek was ’n jong, energieke en gelukkige voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies. Ek het dit so geniet om ander te help om die Bybel te verstaan! Maar hierdie aanvalle was vir my ’n voortdurende foltering. Ek het gewonder: ‘Wat is fout met my?’ ’n Neuroloog het my toestand as temporale epilepsie gediagnoseer. Die volgende tien jaar het ek die medikasie gebruik wat hy voorgeskryf het. Maar ek het gewonder waarom dit nie veel van ’n uitwerking gehad het nie. Ek het my toestand begin aanvaar as iets waarmee ek eenvoudig sal moet saamleef.

“Ná ’n ruk het ek begin besef dat my siekte nie epilepsie was nie en dat die voorgeskrewe medikasie nie gewerk het nie. Selfs om na bekende plekke te stap, was ’n onmoontlike taak. Ek was doodbang dat ek iemand langs die pad sou teëkom. Dit het al my krag geverg om Christelike vergaderinge by te woon. Ek het dikwels natgesweet en duiselig daar gesit met my hand op my slape, met hartkloppings en ’n verstand wat nie wil werk nie. Partykeer het my hele liggaam gespanne en inmekaargetrek gevoel. Op een tydstip was ek seker dat ek sou sterf.

“My bediening het gehelp om my aan die gang te hou, hoewel dit beslis ’n wonderwerk was dat ek enigsins daarmee kon voortgaan. Dit was soms so oorweldigend om ’n Bybelstudie te hou dat my metgesel moes oorneem. Ons predikingswerk is werklikwaar ’n spanpoging, en op die ou end is dit God wat dit deurentyd laat groei (1 Korintiërs 3:6, 7). Skaapgeaardes luister en reageer gunstig ten spyte van die onderrigter se beperkinge.

“Eendag in Maart 1991 het my man my ’n boekie oor panieksteurnis gewys. Dit het my presiese simptome beskryf! Ek het meer oor die onderwerp gelees, lesings bygewoon en ’n afspraak gemaak om ’n spesialis te gaan sien. Ná twee dekades is my probleem uiteindelik geïdentifiseer. Ek was besig om gesond te word!

“Die meeste mense met panieksteurnis kan met die regte behandeling gehelp word. Vriende kan baie ondersteuning bied wanneer hulle simpatiek is. ’n Metgesel met onderskeidingsvermoë sal nie ’n siel wat reeds terneergedruk is nog skuldiger laat voel nie, maar sal eerder besef dat iemand met panieksteurnis nie opsetlik antisosiaal is nie.—Vergelyk 1 Tessalonisense 5:14.

“Wanneer ek op die afgelope 20 jaar terugkyk, is ek dankbaar dat ek deur dit alles in die voltydse bediening kon bly. Dit is ’n seën wat beslis die moeite werd was. Terselfdertyd besef ek dat party, soos Epafroditus, hulle diensvoorregte weens swak gesondheid moet prysgee. Jehovah is nie teleurgestel in sulke mense nie. Hy verwag nie meer as wat ’n mens redelikerwys kan gee nie.

“Terwyl ek met hierdie steurnis saamgeleef het, het ek geleer om myself nie te ernstig te neem nie. Dit het my in staat gestel om simpatiek te wees teenoor ander wat beperkinge het. Maar dit het my bowenal gehelp om nader aan Jehovah te kom. Ek het deur my hele beproewing heen gesien dat hy waarlik ’n bron van krag en vertroosting is.”

[Voetnote]

a Christene vermy tegnieke wat hipnose of selfhipnose behels. Daar is egter visuele en mediteeroefeninge wat klaarblyklik nie behels dat die verstand leeggemaak word of dat iemand anders beheer daaroor kry nie. Elkeen moet self besluit of hy hierdie vorme van behandeling sal aanvaar of nie.—Galasiërs 6:5.

b Sien die Ontwaak! van 8 Oktober 1992, bladsye 3-9, en 22 Oktober 1987, bladsye 7-16, vir inligting oor hoe om negatiewe gedagtes reg te stel.

[Venster op bladsy 22]

Kalmeertegnieke

Rustige asemhaling. Paniekaanvalle gaan dikwels met hiperventilasie gepaard. Probeer gerus hierdie oefening om ontspanne asem te haal: Lê op jou maag. Tel tot ses terwyl jy inasem; tel tot ses terwyl jy uitasem. Probeer vervolgens dieselfde diep asemhaling terwyl jy sit. Probeer dit dan terwyl jy staan. Haal diep asem van die diafragma af en oefen dit daagliks totdat jy dit van nature doen. Party vind dit nuttig om hulle ’n pragtige omgewing voor te stel terwyl hulle hierdie oefening doen.

Kalm denke. ‘Sê nou ek sak inmekaar?’ ‘Sê nou daar is niemand wat my kan help nie?’ ‘Sê nou my hart gaan staan?’ Katastrofiese gedagtes voed paniek. Aangesien hierdie gedagtes gewoonlik oor toekomstige rampe of vorige aanvalle gaan, moet jy op die huidige situasie probeer konsentreer. “Dit kalmeer ’n mens dadelik as jy jou op die onmiddellike toespits”, sê dr. Alan Goldstein. Sommige doen aan die hand dat jy ’n rek om jou gewrig dra. Wanneer katastrofiese gedagtes by jou opkom, moet jy dit trek en vir jouself sê: “Hou op!” Onderbreek angs voordat dit die geleentheid kry om tot paniek oor te gaan.

Reageer kalm. As jy paniekerig raak, moet jy nie daarteen stry nie. Dit is net ’n gevoel, en gevoelens sal jou nie noodwendig kwaad doen nie. Stel jou voor dat jy by die see is en die golwe dophou. Hulle word hoër, maak ’n kruin, en dan breek hulle. Paniek vloei op dieselfde wyse. Moenie teen die golf stry nie, maar ry eerder daarmee uit. Dit sal oorgaan. Wanneer dit verby is, moet jy nie oorreageer of dit te veel probeer ontleed nie. Dit is weg, soos ’n niesbui of ’n hoofpyn.

Paniek is soos ’n bullebak. As jy hom uitlok, sal hy aanval; as jy hom nie uitlok nie, sal hy dalk weggaan. Dr. R. Reid Wilson verduidelik dat kalmeertegnieke “nie bedoel is om jou beter teen paniek te help ‘stry’ of paniek oombliklik te ‘verdryf’ nie. Beskou dit eerder as maniere om die tyd om te kry terwyl paniek met jou rusie soek.”

[Venster op bladsy 23]

Agorafobie, ’n vrees vir vrees

Baie wat paniekaanvalle kry, ontwikkel agorafobie. Hoewel dit al as ’n vrees vir openbare plekke omskryf is, kan agorafobie met meer akkuraatheid ’n vrees vir vrees genoem word. Agorafobie-lyers is so bang vir paniek dat hulle alle plekke vermy waar hulle voorheen ’n aanval gekry het. Weldra bly daar net een “veilige” plek oor—gewoonlik hulle tuiste.

“Stel jou voor dat jy by jou huis uitstap”, sê skrywer Melvin Green. “Skielik, uit die niet, verskyn die grootste man wat jy nog ooit gesien het. Hy het ’n bofbalkolf en slaan jou sonder rede oor die kop. Jy steier terug in die huis in en kan nie glo wat so pas gebeur het nie. Wanneer jy beter voel, loer jy by die deur uit, en alles lyk normaal. Jy stap weer in die paadjie af. Skielik is hy daar, en jy word weer geslaan. Jy gaan terug in die huis in waar jy veilig is. Jy kyk by die agterdeur uit . . . Hy is daar. Jy kyk deur die vensters . . . Hy is daar. Jy weet dat jy weer geslaan sal word as jy die veiligheid van jou huis verlaat. Die vraag is: Sal jy uitgaan?”

Baie agorafobie-lyers vergelyk hulle gevoelens met daardie illustrasie en meen dat hulle toestand hopeloos is. Maar dr. Alan Goldstein gee hierdie versekering: “Julle is nie uniek nie, julle is nie alleen nie. . . . Julle kan julleself help.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel