Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 6/22 bl. 24-25
  • Australië se “singende toring”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Australië se “singende toring”
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Ontsaglike instrument
  • Voorwaar ’n indrukwekkende instrument
  • ’n Paar interessante feite
  • Sien en hoor die “koning van horlosies”
    Ontwaak!—2010
  • Kan jy die verskil sien?
    Ontwaak!—2002
  • ’n Wêreld van musiek in jou hande
    Ontwaak!—2004
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 6/22 bl. 24-25

Australië se “singende toring”

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

OP DIE gebied van musiek het kuns, tegnologie en die wetenskap al dikwels saamgespan om ’n verskeidenheid instrumente van hoogstaande gehalte voort te bring. Maar hoewel die viole van Antonio Stradivari en die fluite van Theobald Böhm miskien baie bekend is, is die majestueuse klokkespel gewoonlik nie so bekend nie.

Maar wat is ’n klokkespel, en hoe word dit bespeel? ’n Besoek aan een van die wêreld se groot klokkespele sal insiggewend wees en sal miskien ons waardering vir sy unieke musiek laat toeneem.

’n Ontsaglike instrument

Die klokkespel is van die wêreld se grootste instrumente en bestaan reeds sedert antieke tye. Dit is gewoonlik in ’n kloktoring, en daarom is dit tereg al ’n “singende toring” genoem. Die klokkespel en kloktoring in Canberra, die hoofstad van Australië, was in 1963 ’n jubileumgeskenk van die regering van Groot Brittanje om die feit te herdenk dat die stad 50 jaar tevore gestig is en sy naam gekry het. Die klokkespel is op Aspen-eiland in die middel van die skilderagtige Burley Griffin-meer geleë.

Hierdie 50 meter hoë kloktoring bestaan uit ’n groep van drie driehoekige pilare wat elkeen teenoor ’n sy van ’n sentrale gelyksydige driehoek opgestel is. Hoog bo en tussen die drie pilare is die hangvloere waarop die klokkespel self is.

Die hysbak in die toring neem ons op na die eerste vloer waar ons twee groot klawerborde soortgelyk aan dié van ’n orrel sien. Die eerste een is net vir die klokkespeler, soos die uitvoerder genoem word, om sy uitvoering te oefen. Die hamers van hierdie klawerbord slaan bloot op gestemde stawe.

Amper reg agter die oefenklawerbord is die regte klokkespelklawerbord. Maar dit is nie sommer ’n gewone klawerbord nie, want dit het groot, ronde eikehoutklawers wat ongeveer twee sentimeter in deursnee is. Die boonste ry klawers kom ooreen met die bekende swart klawers van ’n klavier of orrel. Hulle steek ongeveer nege sentimeter uit, terwyl die onderste ry (wat met die klavier se wit klawers ooreenkom) ongeveer 17 sentimeter uitsteek. In teenstelling met ’n pianis of ’n orrelis gebruik die klokkespeler nie sy vingers nie, maar hy speel met sy vuiste. Dit is waarom die klawers ver van mekaar af is—sodat die speler nie aan ander klawers sal raak terwyl hy speel nie.

Voorwaar ’n indrukwekkende instrument

Van die bokant van die hoofklawerbord af is daar drade wat na die volgende vloer opgaan, en elke klawer van die vier en ’n half oktawe is met ’n aparte staaldraad verbind waaraan daar ’n eienaardige spanningsmeganisme is. Om uit te vind waarheen al hierdie drade gaan, gaan ons met die hysbak na die volgende vloer toe. Hier hang twee indrukwekkende klokke wat elk ongeveer ses ton weeg. Dan kyk ons tussen hierdie twee klokke deur en sien bo hulle nog 51 ander klokke wat al hoe hoër hang tot by die kleinste een, wat net sewe kilogram weeg.

Al die klokke is strategies geplaas om enige akoestiese steurnis te voorkom wat af en toe deur die oorheersende botone van sommige van die klokke veroorsaak word. Elke klok, met sy sagte metaalklepel aan die binnekant, word gelui deur die staaldraad wat met elke klawer van die klawerbord daaronder verbind is. Die spanning word baie fyn ingestel om by elke individuele klokkespeler se aanslag asook by die heersende weerstoestande te pas.

’n Paar interessante feite

Die klokke in die Canberra-klokkespel is in die smeltery van John Taylor en Kie van Engeland gegiet en is uitstekende 20ste-eeuse voorbeelde van ’n baie ou kunsvorm. Die klokke se melodieë kan oor die water van die meer en in aangrensende tuine en parke gehoor word.

Hierdie klokkespel is nie die grootste in die wêreld nie, maar met 53 klokke is dit hoog boaan die lys, aangesien die meeste klokkespele tussen 23 en 48 klokke het. Maar die grootste klokkespel is in New York-stad. Dit het 74 klokke. Dit het ook die wêreld se grootste gestemde klok. Hierdie klok weeg meer as 18 ton en beier ’n lae C, in vergelyking met die Canberra-klokkespel met sy lae F-kruis.

Laat ons dus nou ’n konsert geniet wat deur die klokkespeler aangebied word. Sal ons daar onder in die tuine sit? Hier kan ons nie net die pragtige musiek van die “singende toring” hoor nie, maar ons kan terselfdertyd die wonders van die skepping om ons geniet. Die stilte van die aandlug en die indrukwekkende hoogte van die klokke lewer saam as ’t ware hemelse musiek, en dit vul ons harte met waardering vir die Goddelike gawe van musiek.

[Prent op bladsy 25]

Die klokke in die toring

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel