Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 11/8 bl. 18-21
  • Kan jy die verskil sien?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan jy die verskil sien?
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat was die hidroulis?
  • Waarom die pneumatiese orrel?
  • Vroeë snaarklawerborde
  • Die elektroniese era
  • ’n Wêreld van musiek in jou hande
    Ontwaak!—2004
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2003
  • ‘As ek maar so kon speel!’
    Ontwaak!—1991
  • Bamboesorrel—’n besonderse instrument van die Filippyne
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 11/8 bl. 18-21

Kan jy die verskil sien?

“Dis ’n klavier!” “Nee, vir my lyk dit soos ’n sintetiseerder.” “Dis beslis ’n orrel!” “Nee, julle is almal verkeerd. Dis ’n klavesimbel.” Maar wat is ’n klavesimbel?

DIE klawerborde van al hierdie musiekinstrumente lyk in werklikheid baie eenders. Maar die klank wat dit voortbring en die manier waarop dit daardie klank voortbring wanneer een van die klawers afgedruk word, kan grootliks verskil. Hoe het die klawerbord dus ontstaan en ontwikkel? Kom ons kyk ’n bietjie na klawerborde deur die eeue heen.

Wat was die hidroulis?

Die oudste primitiewe klawerbord wat bekend is, het blykbaar aan ’n instrument behoort wat die hidroulis, of “waterorrel”, genoem is. Dit is vermoedelik in die eerste helfte van die derde eeu v.G.J. deur Ktesibos, ’n Aleksandrynse ingenieur, ontwerp. Volgens die boek Musical Instruments of the West “is lug . . . in ’n geperforeerde houer (pnigeus) gepomp wat in ’n bak water gestaan het, en van die pnigeus is dit na die windkas gelei wat onder [’n reeks] pype geleë was; die waterdruk het ’n konstante lugdruk verseker”. Die pype het klank voortgebring deur middel van skuiwers wat met verskeie groot klawers beheer is. Omdat die note hard en grof was, was die hidroulis uiters geskik vir uitvoerings by sirkusse, kermisse en buitelugfeeste. Die gewildheid daarvan het ’n hoogtepunt bereik gedurende die Romeinse Ryk—selfs keiser Nero is as ’n goeie speler beskryf.

Waarom die pneumatiese orrel?

Toe die waterkompressor met blaasbalke vervang is wat saamgeperste lug aan die instrument voorsien het, het dit die era van die pneumatiese orrel ingelei. Die blaasbalke het dit vir die speler moontlik gemaak om by die instrument te sit en sy voete of hande te gebruik om die lugtoevoer te voorsien. Oorblyfsels van die pneumatiese orrel wat opgegrawe is, dateer uit die derde eeu G.J., en dit was etlike eeue daarna nog baie gewild. Omdat ’n eenvoudige klawerbord nog gebruik is, moes melodieë baie stadig gespeel word. Dit is omdat die grootte van elke klawer eweredig moes wees met die ooreenstemmende orrelpyp. Om ’n lae noot te speel, moes die musikant waarskynlik sy hele hand of selfs sy vuis gebruik om die breë klawer af te druk.

Teen die 14de eeu het die orrel “byna uitsluitlik ’n kerkinstrument in westelike Europa” geword (The Encyclopedia of Music). Die ontwikkeling van ’n wiegasmeganisme het die voorkoms en funksie van die orrelklawerbord ingrypend verander. Hierdie meganisme het dit moontlik gemaak om die pype weg van die klawerbord te plaas, en die klawers self kon smaller gemaak word. Uiteindelik kon musikante net een vinger vir elke klawer gebruik en vinniger musiekstukke met gemak speel. Mozart was so lief vir die orrel dat hy dit die koning van alle instrumente genoem het.

Vroeë snaarklawerborde

In die Bybel word die eerste verwysing na ’n snaarinstrument in Genesis 4:21 gevind, en dit word herhaaldelik genoem in verband met die Israelitiese nasie. Maar dit was eers in omstreeks die 15de eeu G.J. dat snaarinstrumente (wat gewoonlik met die vingers getokkel of gepluk of met hamers of tikstafies geslaan is) en die klawerbord gekombineer is. Die klawerbord soos ons dit vandag ken, het sy debuut gemaak op ’n instrument wat die klavichord genoem word. Dit was ’n eenvoudige, reghoekige instrument met snare wat van links na regs geloop het. Wanneer die speler ’n klawer afgedruk het, het dit ’n koperstiffie gelig wat die snaar van onder getref het.

Daarna het die klavesimbel, die spinet en die virginaal hulle verskyning gemaak.a Hierdie instrumente, veral die klavesimbel, het gedurende die 16de en 17de eeu die vernaamste klawerbordinstrumente geword. Die nuwe meganisme van die klavesimbel was revolusionêr. The History of Musical Instruments beskryf dit soos volg: “Die snare is deur pennetjies gepluk en nie deur tangente geraak soos by klavichorde nie. Agter op elke klawer was ’n stoter, ’n regopstaande houtblokkie waaruit ’n klein pennetjie of ’n stukkie leer uitgesteek het. . . . Wanneer die klawer afgedruk is, het die stoter opgespring sodat die pennetjie die snaar gepluk het, waarna dit met behulp van ’n veertoestel teruggeval het sonder om die snaar weer te pluk.”

Hierdie nuwe meganisme het die klavesimbel sy unieke klank gegee. ’n Voormalige konsertpianis het die klank van die klavesimbel in vergelyking met die moderne klavier soos volg beskryf: “Dit het ’n dun, metaalagtige klank, en die note dra nie.”

Die ontwerp van die klavesimbel het met die jare baie verander. Vroeëre klavesimbels het een klawerbord en slegs een snaar vir elke klawer gehad. Later het meer gesofistikeerde modelle twee klawerborde, veelvoudige snare vir elke klawer en ander toestelle gehad om die toon te verander. Groot komponiste van die tyd, soos Johann Sebastian Bach (1685-1750) en Domenico Scarlatti (1685-1757) het ten volle gebruik gemaak van die toon en tegniese vermoëns van die klavesimbel en ’n skat van pragtige musiek geskryf, waarvan baie tot vandag toe behoue gebly het.

Akkordeons is in die 19de eeu ontwikkel, en die trekklavier het in die 20ste eeu baie gewild geword. Dit is ’n kombinasie van ’n klawerbord en ’n blaasinstrument, aangesien dit blaasbalke het wat lug deur vibrerende riete pers. Die moderne akkordeon het tot 140 basse wat deur sewe rye knoppies geaktiveer word, en het ’n klawerbord wat oor twee tot vier oktawe strek.

Die elektroniese era

Die 20ste eeu het die era van elektroniese klawerborde ingelei. Die oudste hiervan was die telharmonium, wat in 1906 deur Thaddeus Cahill ontwikkel is. Elektriese orrels het in die 1930’s verskyn en is kort daarna gevolg deur elektriese klavesimbels en elektriese klaviere. Dit verskil heeltemal van die meganisme van die hidroulis, aangesien ’n elektroniese sein ’n noot voortbring wanneer ’n klawer op ’n elektriese orrel afgedruk word, en die noot word dan gewysig en versterk.

Vandag is een van die gewildste elektroniese klawerborde die sintetiseerder, wat van die 1940’s af ontwikkel is en die vernaamste instrument geword het wat deur die meeste hedendaagse musiekgroepe gebruik word. Wanneer ’n mens ’n klawer op die sintetiseerder afdruk, kan letterlik enige denkbare klank voortgebring word—van ’n hond wat blaf tot ’n simfonieorkes.

Dit is nie verbasend dat die rekenaar ook ’n belangrike rol in hedendaagse musiek speel nie. Moderne sintetiseerders het dikwels ’n rekenaar, of ’n rekenaar kan gebruik word om klanke voort te bring, wat beteken dat dit ’n volwaardige musiekinstrument is. Hoewel ’n klawerbord dikwels as ’n rekenaarbeheerder gebruik word, het vandag se musikant ook die opsie om sy rekenaar met ’n muis of ’n gewone rekenaartoetsbord te programmeer. “Vandag is byna elke opnameateljee vol rekenaarverwante toerusting. ’n Digitale kopie van die musiek word op ’n hardeskyf gestoor en dan op ’n redigeerbank met behulp van gesofistikeerde sagteware verwerk voordat die meesterkopie finaal op ’n digitale oudioband vasgelê word.”—The Encyclopedia of Music.

Beteken hierdie jongste verwikkelinge dat die dae van die klawerbord getel is? Waarskynlik nie, veral as ons dink aan die meevoerende musiek in Beethoven se “Maanligsonate”, sy “Für Elise” of Debussy se “Clair de Lune”. Maar wanneer ons nadink oor die honderde jare van klawerbordmusiek en hoe dit die lewe van tallose miljoene mense geraak het, moet ons erken dat die klawerbord ’n ontsaglike bydrae gelewer het tot die musiekwêreld en tot mense se geluk deur die eeue heen.

[Voetnoot]

a Die virginaal dateer uit die 15de eeu. Dit het 32 metaalsnare met die vorm van die klavichord, maar die klank van die klavesimbel gehad. Die spinet was ’n klein weergawe van die klavesimbel.

[Venster/Prente op bladsy 20, 21]

Waarom die pianoforte?

Gedurende die laaste kwart van die 18de eeu het die pianoforte, wat algemeen as die klavier bekend staan, die klavesimbel geleidelik as die gewildste klawerbord vervang. Hoe het dit daardie naam gekry? Veel is al gesê oor wie hierdie instrument uitgevind het en wanneer dit gebeur het, maar ’n Italianer Bartolomeo Cristofori het in die vroeë 1700’s met die pianoforte geëksperimenteer. Die naam wat Cristofori die instrument gegee het, gravicembalo col piano e forte (klavesimbel met sag en hard), het die aandag gevestig op een voordeel van die instrument bo die klavesimbel, wat die musikant baie min beheer oor die klanksterkte van die musiek gegee het. Wanneer ’n klawer op die pianoforte afgedruk is, het ’n nuwe meganisme die hamer van onder af teen die snaar laat slaan. Die klanksterkte van die noot het afgehang van hoe hard die klawer afgedruk is. Die musikant kon nou groot beheer uitoefen oor die gevoel en klanksterkte waarmee hy die musiek wou speel, hetsy piano, sag, of forte, hard.

Nog ’n faktor was die gebruik van drie soorte pedale—die regterpedaal, wat die klank verleng, die middelste pedaal, wat die klank oorhou, en die linkerpedaal, wat die klank sagter maak.

Regdeur die 18de eeu is die pianoforte in Europa ontwikkel en verander. In die vroeë 1740’s is die reghoekige klavier ontwerp, ’n kleiner en goedkoper model. Die groter vleuelklavier, of konsertklavier, beslaan meer ruimte, aangesien sy snare van verskillende lengtes horisontaal gespan is. Aan die begin van die 19de eeu het die regopklavier sy verskyning gemaak, en dit is vandag nog gewild.

Ontwaak! het ’n pianis oor die belangrikste verskille in klank tussen ’n vleuelklavier en ’n regopklavier gevra. Sy het gesê: “Dit verskil in drie opsigte: klankgehalte, helderheid en die skitterende effek daarvan. Die vleuelklavier het ’n groter resonansievermoë. Die klank is suiwer en sterk. In vergelyking hiermee bring die regopklavier ’n kleiner klank voort. Dit is ook omdat die regopklavier dikwels teen ’n muur staan, wat die agterste klankbord demp.”

[Prent]

Konsertvleuelklavier van 2,7 meter

[Prente op bladsy 18]

Virginaal met parktoneel, 1666, Engeland

Klavesimbel, met skilpaddopklawers (insetsel), 1760, Duitsland

Klavichord, 1906, VSA

Trekklavier, 1960, Italië

Moderne sintetiseerder en rekenaar

[Erkenning]

Boonste vier foto’s: Courtesy of the Yale University Collection of Musical Instruments

[Prent op bladsy 19]

Hidroulis

[Erkenning]

Courtesy Macedonian Heritage

[Prent op bladsy 19]

Orrel, Sydney-operagebou, Australië

[Erkenning]

By courtesy of Australian Archives, Canberra, A.C.T.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel