Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 7/22 bl. 6-9
  • Vryheid van spraak—Word dit misbruik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vryheid van spraak—Word dit misbruik?
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Rekenaarpornografie
  • Afwykende menings
  • Die geskiedkundige ontwikkeling van vryheid van spraak
    Ontwaak!—1996
  • Pornografie—Onskadelik of gevaarlik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Waarom is pornografie so algemeen?
    Ontwaak!—2003
  • Die skade wat pornografie veroorsaak
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 7/22 bl. 6-9

Vryheid van spraak—Word dit misbruik?

ONS staan op die drumpel van die 21ste eeu. Die nuwe eeu sal ongetwyfeld nuwe verwagtinge, ideale, sedes, drome van verstommende tegnologie en eise vir groter vryhede meebring. Die tradisionele beskouings van regerings, godsdienste en mense word reeds deur nuwe stemme en eise vervang. In baie plekke dring mense reeds daarop aan om bestaande beperkings op vryheid van spraak en vrye meningsuiting uit die weg te ruim, ongeag die gevolge!

Dit wat voorheen deur radio- en televisieuitsaaiwese en -sensors afgekeur en verbied is—onwelvoeglike taal en pornografiese tonele en gebare—is nou onder die dekmantel van die reg van vryheid van spraak iets alledaags in baie lande!

Diegene wat rekenaarvaardig is, volwassenes sowel as kinders, kan nou binne sekondes eksplisiete prente van losbandige geslagsdade na ander vastelande stuur en met bekende seksoortreders en kindermolesteerders praat wat name en adresse soek om geheime ontmoetings te reël. Musiek met lirieke wat selfmoord en moord op ouers, die polisie en regeringsamptenare voorstel en aanmoedig, word nou daagliks op die radio en televisie gehoor of is op opnames wat deur kinders gespeel word.

Min van dié wat op onbeperkte vryheid van spraak aandring, sal verskil van die appèlregter Oliver Wendell Holmes jr. wat meer as ’n halfeeu gelede in ’n bekende epogmakende besluit aangaande vryheid van spraak geskryf het: “Die strengste beskerming van vryheid van spraak sal nie ’n man vrywaar wat in ’n teater valslik brand uitroep en paniek veroorsaak nie.” Die gevolge van so ’n daad is voor die hand liggend. Hoe onredelik is dit tog nie van hierdie selfde mense om weinig of geen waarde aan ’n daaropvolgende sin van daardie selfde besluit te heg en koppig in stryd daarmee op te tree nie. “Die vraag in elke geval”, het Holmes gesê, “is of die woorde wat gebruik word in sulke omstandighede gebruik word en van so ’n aard is dat dit ’n duidelike en onmiddellike gevaar skep, dat dit die wesenlike euwels tot gevolg sal hê wat Kongres die reg het om te voorkom.”

Rekenaarpornografie

“Seks is vandag oral”, het die tydskrif Time gesê, “in boeke, tydskrifte, rolprente, televisie, musiekvideo’s en parfuumadvertensies by bushaltes. Dit word op die besigheidskaartjies van pornografiese telefoondienste gedruk en onder ruitveërs geplaas. . . . Die meeste Amerikaners het so gehard geraak teen die openlike vertoon van erotisme—en die redes waarom dit spesiale status onder die Eerste Wysiging [vryheid van spraak] geniet—dat hulle dit skaars raaksien.” Daar is egter iets omtrent die kombinasie van eksplisiete seks en rekenaars wat ’n nuwe dimensie en betekenis aan die woord “pornografie” gegee het. Dit is gewild, algemeen en van wêreldwye omvang.

Volgens een studie is intekenaars op rekenaarkennisgewingbordstelsels vir volwassenes, wat bereid was om maandeliks ’n bedrag van tussen R40 en R120 te betaal, in “meer as 2000 stede in al 50 state gevind, asook in 40 lande, gebiede en provinsies oor die hele wêreld—waaronder lande soos China, waar die besit van pornografie ’n halsmisdaad kan wees”.

Die tydskrif Time het een soort rekenaarpornografie beskryf as “’n groot verskeidenheid ‘afwykende’ materiaal wat beelde insluit van perverse seks, sadomasochisme, urinering, ontlasting en geslagsdade met ’n swetterjoel plaasdiere”. Die verskyning van sulke materiaal op ’n openbare rekenaarnetwerk, waartoe mans, vrouens en kinders oor die hele wêreld toegang het, opper ernstige vrae oor die misbruik van vryheid van spraak.

“As kinders eers gekoppel is”, het ’n Britse koerant gesê, “is eksplisiete pornografie nie meer beperk tot die boonste rakke van tydskrifwinkels nie; en dit is vir enige kind geredelik beskikbaar, en dít in die privaatheid van die slaapkamer.” Daar word geskat dat 47 persent van alle Britse huise met rekenaars teen die einde van 1996 aan rekenaarnetwerke gekoppel sal wees. “Talle Britse ouers is nie vertroud met die hipertegnologiese wêreld waarin hulle kinders lewe nie. In die afgelope 18 maande het dit een van die gewildste tydverdrywe vir tieners geword om ‘deur die Internet te blaai’”, het die koerant gesê.

Kathleen Mahoney, ’n professor in die regte aan die Universiteit van Calgary, Kanada, en ’n deskundige op die gebied van regsgeskille waarmee pornografie verband hou, het gesê: “Die publiek moet weet dat daar ’n heeltemal onbeheerde medium is waardeur kinders misbruik en uitgebuit kan word.” ’n Kanadese polisiebeampte het gesê: “Die tekens toon duidelik dat gevalle van rekenaarverwante kinderpornografie in die toekoms skerp gaan toeneem.” Baie gesinsvoorligtingsgroepe hou vol dat die rekenaarpornografie wat kinders sien en die invloed wat dit op hulle kan hê “’n duidelike en onmiddellike gevaar inhou”.

Afwykende menings

Burgerlike vryheidsgesindes is woedend oor enige pogings deur die Kongres om dinge soos rekenaarpornografie te beperk, in ooreenstemming met regter Holmes en die Amerikaanse Appèlhof se beslissing. “Dis ’n frontaanval op die Eerste Wysiging”, het ’n professor in die regte aan Harvard gesê. Selfs ervare aanklaers spot daarmee, het die tydskrif Time gesê. “Dit sal nie eens in ’n ondersoek in ’n kleinsakehof geldig bly nie”, het een van hulle gesê. “Dis regeringsensuur”, het ’n amptenaar by die Sentrum vir Elektroniese Geheime Inligting gesê. “Die Eerste Wysiging moenie ophou waar die Internet begin nie”, het Time hom aangehaal. “Dit is beslis ’n skending van vryheid van spraak”, het ’n Amerikaanse parlementslid gesê, “en dis ’n skending van volwassenes se reg om met mekaar te kommunikeer.”

’n Professor aan die Universiteit van New York se Fakulteit van Regsgeleerdheid voer aan dat verskillende uitdrukkings oor seks voordelig is, buite die grense van burgerregte en die vryheid van spraak. “Seks op die Internet kan miskien selfs goed wees vir jongmense”, het Time van haar beskouing verslag gedoen. “[Kuberruimte] is ’n veilige plek waar dit wat ongeoorloof en verbode is, verken kan word . . . Dit bied die moontlikheid van werklike, vrymoedige gesprekke oor juiste sowel as fantasievoorstellings van seks”, het sy gesê.

Baie jeugdiges, veral universiteitstudente, is ook in verset teen enige beperkings van pornografie op rekenaarnetwerke. Party van hulle het protesoptogte gehou oor wat hulle as ’n beperking van hulle regte van vryheid van spraak beskou. Die mening van een persoon wat nou wel nie ’n student is nie en wat in The New York Times aangehaal is, weerspieël ongetwyfeld die mening van baie wat beswaar maak teen enige voorstel wat pornografie op rekenaars sal belet: “My gevoel is dat al die Internetgebruikers van hierdie land daaroor sal lag en dit sal ignoreer, en wat die res van die wêreld se Internetgemeenskap betref, hulle sal van die Verenigde State ’n voorwerp van bespotting maak.”

U.S.News & World Report het in ’n berig oor ’n stelling van ’n amptenaar van ’n groep vir burgerlike vryheid gesê: “Kuberruimte [rekenaarnetwerke] kan meer mag aan vryheid van spraak verleen as die Eerste Wysiging. Trouens, dit het dalk ‘reeds letterlik onmoontlik geword vir ’n regering om mense stil te maak’.”

In Kanada is mense reeds in geskille gewikkel oor dinge wat die bepalinge van vrye meningsuiting in die Handves van Regte en Vryhede kan skend. Kunstenaars wie se skilderye die toorn opgewek het van kritici en polisie, wat dit as “onwelvoeglik” bestempel, is al gearresteer. Kunstenaars en voorstanders van vryheid van spraak het saamgespan om beswaar te maak en die arrestasies te veroordeel as ’n inbreuk op hulle vryheid van spraak. Tot omtrent vier jaar gelede het die polisie kragtens Kanada se wet op onwelvoeglikheid gereeld op pornografiese videokassette beslag gelê; sake is verhoor en die handelaars wat dit verkoop het, is skuldig bevind.

In 1992 het dit alles egter verander toe Kanada se Hooggeregshof in ’n epogmakende saak beslis het dat sulke produkte teen vervolging gevrywaar was as gevolg van die waarborg van vrye meningsuiting in die Handves van Regte en Vryhede. Die hofbeslissing “het merkbare veranderinge in die Kanadese gemeenskap teweeggebring”, het die tydskrif Maclean’s geskryf. “In baie stede is dit nou algemeen om eksplisiete pornografiese tydskrifte en video’s in hoekkafees te vind”, het die tydskrif gesê. Selfs dié wat volgens die hofbeslissing verban mag word, is steeds vir verbruikers beskikbaar.

“Ek weet as jy daar ingaan, sal jy goed kry wat moontlik onwettig is”, het een polisieman gesê. “Dis waarskynlik goed waarvoor ’n aanklag teen mense ingedien kan word. Maar . . . ons het nie die tyd nie.” Hulle het ook geen waarborg dat die aanklagte geldig sal bly nie. In hierdie permissiewe eeu word die klem op onbeperkte persoonlike vryheid gelê, en howe word dikwels deur openbare mening beïnvloed. Maar wat die redenasies ook al is, die debat sal steeds diep en verdelende emosies aan albei kante wek—daarvoor en daarteen.

Daar was ’n tyd toe Japan baie streng beperkings gehad het wat vryheid van spraak en persvryheid betref. Daar kon byvoorbeeld nie openlik verslag gedoen word van ’n aardbewing wat 7,9 op die Richterskaal geregistreer en meer as duisend mense gedood het nie. Daar kon nie verslag gedoen word van gevalle van korrupsie en van minnaars wat mekaar in selfmoordooreenkomste doodmaak nie. Koerantredakteurs het geswig voor dreigemente van die regering namate beheer al hoe strenger geraak het, selfs oor dinge wat as onbeduidend beskou is. Ná die Tweede Wêreldoorlog is beperkings egter opgehef en het Japan groter vryheid van spraak en persvryheid geniet.

Die pendulum het inderdaad na die ander uiterste geswaai namate tydskrifte en sommige strokiesverhale vir kinders met erotiese en onwelvoeglike tekeninge gevul is. The Daily Yomiuri, ’n toonaangewende koerant in Tokio, het eenkeer gesê: “Die sakeman wat seksueel eksplisiete strokiesverhale op ’n moltrein in Tokio lees, is seker een van die skokkendste gesigte vir ’n buitelander wat pas in Japan aangekom het. Nou lyk dit of die neiging die ander helfte van die bevolking beïnvloed namate ‘eksplisiete’ strokiesverhale vir vroue op die rakke van boekwinkels en supermarkte verskyn.”

In 1995 het die hoogaangeskrewe koerant Asahi Sjimboen Japan ’n “Pornografieparadys” genoem. Terwyl die redakteurs en uitgewers na ’n vrywillige oplossing eerder as regeringsregulasies gesoek het in reaksie op ouers se besware, het jong lesers protes aangeteken. ’n Mens wonder: ‘Wie se stemme sal uiteindelik die oorhand kry?’

Vryheid van spraak is op die oomblik iets waaroor daar in Frankryk baie teenstrydige menings bestaan. “Die geskiedenis van vryheid van spraak”, het die Franse skrywer Jean Morange in sy boek oor vryheid van spraak geskryf, “het sonder enige twyfel nog nie geëindig nie, en dit sal voortgaan om verdeeldheid te veroorsaak. . . . Daar gaan amper nie ’n jaar verby dat daar nie ’n rolprent of ’n televisiereeks of ’n advertensiekampanje vrygestel word wat ’n hewige reaksie veroorsaak en weer die ou en nimmereindigende debat oor sensuur laat ontstaan nie.”

’n Artikel wat in die Paryse koerant Le Figaro verskyn het, het gesê dat ’n rap-groep met die naam Ministère amer (Bitter Bediening) hulle aanhangers aanmoedig om polisiemanne dood te maak. Een van hulle lirieke sê: “Daar sal geen vrede wees as die [polisie] nie in vrede rus nie.” “Op ons plaat”, het die groep se woordvoerder gesê, “sê ons vir hulle om die polisiestasie af te brand en die [polisie] as offer te bring. Wat kan normaler wees?” Daar is nog nie teen die rap-groep opgetree nie.

Rap-groepe in Amerika staan ook die moord van polisiemanne voor en sê dat hulle onder die beskerming van vryheid van spraak die reg het om sulke uitlatings te maak. In Frankryk, Italië, Engeland en ander lande in Europa en oor die hele wêreld kan die uitroep van alle groepe gehoor word dat daar geen beperkings geplaas moet word op die vryheid om openlik te praat nie, selfs al is die woorde “van so ’n aard dat dit ’n duidelike en onmiddellike gevaar skep”. Wanneer sal die geskil beëindig word, en watter kant sal as oorwinnaar uit die stryd tree?

[Prent op bladsy 7]

Rekenaarpornografie, “’n groot verskeidenheid ‘afwykende’ materiaal”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel