Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 7/22 bl. 19-21
  • 100 jaar van rolprente

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • 100 jaar van rolprente
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die stil tydperk
  • Klank en kleur
  • Oorlogspropaganda
  • ’n Krisistyd
  • Sosiale invloed
  • Maak dit saak na watter rolprente ek kyk?
    Ontwaak!—1990
  • Na watter rolprente gaan jy kyk?
    Ontwaak!—2005
  • Hoe kan ek ’n gepaste rolprent kies?
    Ontwaak!—1990
  • Wat wys dié somer?
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 7/22 bl. 19-21

100 jaar van rolprente

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FRANKRYK

DIE rolprent was nie soseer die resultaat van ’n spesifieke uitvinding as wat dit die klimaks was van sowat 75 jaar se internasionale navorsing en proefnemings nie. In 1832 het die fenakistiskoop, wat deur die Belg Joseph Plateau uitgevind is, met welslae ’n reeks tekeninge so vertoon dat dit die indruk van beweging gewek het. Deur die werk van Joseph Niepce en Louis Daguerre het ’n fotografiese proses om die werklikheid in beeld te omskep teen 1839 in Frankryk moontlik geword. Die Fransman Emile Reynaud het hierdie idee verder ontwikkel en beweeglike glasdiapositiewe geprojekteer wat tussen 1892 en 1900 deur honderdduisende mense gesien is.

Die betekenisvolle deurbraak op die gebied van rolprente het net meer as 100 jaar gelede plaasgevind. In 1890 het Thomas Edison, die beroemde Amerikaanse uitvinder, en sy Engelse assistent, William Dickson, ’n kamera ontwerp wat so groot en swaar soos ’n klein regop klavier was, en die volgende jaar het Edison ’n patent aangevra op ’n eenmanskyker wat die kinetoskoop genoem is. Die rolprente, wat op stroke van 35 millimeter geperforeerde selluloïed opgeneem is, is geskiet in die wêreld se eerste rolprentateljee, die Black Maria, in Wes-Orange, New Jersey. Hierdie rolprente het verskeie tonele van vaudevilles, sirkusse en die wilde Weste vertoon sowel as bedrywe uit suksesvolle New Yorkse toneelstukke. Die eerste kinetoskooplokaal is in 1894 in New York geopen, en daardie selfde jaar is verskeie apparate na Europa uitgevoer.

Hoewel Edison aanvanklik nie in projeksie belanggestel het nie, was hy genoodsaak om ’n projektor te vervaardig om kompetisie af te weer. In April 1896 het sy vitaskoop ’n debuut in New York gemaak. Die patentoorlog wat hy daarna ontketen het, het tot die vorming van ’n trust gelei om die algehele monopolie van die bedryf te verkry.

Dit was een van Edison se kinetoskope wat Auguste en Louis Lumière, nyweraars in Lyon, Frankryk, geïnspireer het om ’n kamera met ’n handslinger uit te vind wat films kon opneem sowel as projekteer. Hulle cinématographe (van die Griekse kinema, wat “beweging” beteken, en graphein, wat “skryf” beteken) is in Februarie 1895 gepatenteer, en op 28 Desember is die “rolprentbedryf se amptelike wêreldpremière gehou”, by die Grand Café, Boulevard des Capucines 14, Parys. Die volgende dag het 2000 Parysenaars na die Grand Café toe gestroom om hierdie nuutste wonder van die wetenskap te sien.

Die Lumière-broers het weldra rolprentteaters geopen en kameramanne dwarsoor die wêreld gestuur. Binne ’n paar jaar het hulle sowat 1500 rolprente van wêreldbekende plekke of gebeure gemaak, soos die kroning van tsaar Nikolaas II van Rusland.

Die stil tydperk

Georges Méliès, ’n towenaar en die eienaar van ’n teater in Parys, was gefassineer deur wat hy gesien het. Hy wou die cinématographe koop. Die antwoord was blykbaar: “Nee, die cinématographe is nie te koop nie. En bedank my, jong man; hierdie uitvindsel het geen toekoms nie.” Maar dit het Méliès nie afgeskrik nie, en hy het films begin maak met toerusting wat van Engeland af gebring is. Met sy spesiale effekte en draaiboeke het Méliès kinematografie in ’n kunsvorm verander. In 1902 het sy rolprent Le Voyage dans la lune (Reistog na die maan) internasionale sukses behaal. In sy ateljee in Montreuil, in die buitewyke van Parys, het hy meer as 500 rolprente gemaak—waarvan baie met die hand ingekleur is.

Teen omstreeks 1910 was 70 persent van die rolprente wat wêreldwyd uitgevoer is van Franse herkoms. Dit was hoofsaaklik weens die industrialisasie van die rolprentbedryf deur die Pathé-broers, wie se oogmerk dit was dat rolprente “die teater, koerant en skool van die toekoms” moes word.

In 1919 is United Artists deur Charlie Chaplin, Douglas Fairbanks, David W. Griffith en Mary Pickford gestig om die trust se handelsmag te verbreek. In 1915 was Griffith se Birth of a Nation Hollywood se eerste opspraakwekkende lokettreffer. Toe hierdie hoogs omstrede rolprent oor die Amerikaanse Burgeroorlog vrygestel is, het dit weens die rassistiese inhoud daarvan oproere en selfs etlike sterfgevalle veroorsaak. Dit was egter ’n reusesukses met meer as 100 miljoen toeskouers, wat dit een van die winsgewendste rolprente tot dusver gemaak het.

Ná die Eerste Wêreldoorlog het rolprente “die hele Amerika laat kennis maak met die wêreld van nagklubs, buiteklubs, skelmkroeë en die sedelike ligsinnigheid wat daarmee gepaardgegaan het”. Buitelandse rolprente het bykans van die Amerikaanse skerms verdwyn, terwyl Amerikaanse rolprente 60 tot 90 persent van die programme op ander plekke in die wêreld uitgemaak het. Die rolprentbedryf is as ’n middel gebruik om die Amerikaanse lewenstyl en Amerikaanse produkte op te hemel. Terselfdertyd het die nuutgevormde “sterstelsel” mense soos Rudolph Valentino, Mary Pickford en Douglas Fairbanks feitlik in godhede verander.

Klank en kleur

“Haai, Ma, luister hierna!” Met hierdie woorde het Al Jolson in The Jazz Singer, van 1927, die goue eeu van stilprente beëindig en klankfilms aan die wêreld bekend gestel. Daar is sedert die begin van die rolprentbedryf met gesinchroniseerde grammofoonplate geëksperimenteer, maar dit was eers in die twintigerjare, met die koms van elektriese opneming en buisversterkers, dat klank moontlik geword het. Die inwerkingstelling daarvan was nie probleemvry nie.

Kleur is aanvanklik in rolprente ingebring deur films met die hand in te kleur. Later het hulle stensils begin gebruik. Films is ingekleur weens die gebrek aan ’n doeltreffende kleurfilmproses. Verskillende metodes is op die proef gestel totdat Technicolor in 1935 met sy driekleurproses suksesvol was. Maar dit was eers nadat Gone With the Wind in 1939 so ’n groot treffer was dat kleur beskou is as iets wat grootliks tot die rekordverkope van kaartjies kon bydra.

Oorlogspropaganda

Tydens die depressie van die dertigerjare het die rolprentbedryf as die “opiaat van die volksmassa” gedien. Maar namate die wêreld nader aan oorlog beweeg het, is die rolprentbedryf gebruik om mense te manipuleer en propaganda te versprei. Mussolini het die rolprentbedryf “l’arma più forte”, of “die kragtigste wapen”, genoem, terwyl dit onder Hitler se bewind die spreekbuis van nasionaal-sosialisme geword het, hoofsaaklik om die jeug te indoktrineer. Nazi-leiers is met welslae deur rolprente soos Der Triumph des Willens (Oorwinning van die wil) en Olympia vergoddelik. Daarteenoor het Jud Süss (Jood Süss) anti-Semitisme bevorder. En in Brittanje het Laurence Olivier se Henry V gehelp om die mense se veggees aan te wakker ter voorbereiding vir D-dag en die sterftes wat daarop sou volg.

’n Krisistyd

Ná die Tweede Wêreldoorlog, namate televisiestelle vryeliker beskikbaar geword het, het mense eerder tuisgebly as om na die rolprentteater te gaan. Bywoningsyfers in die Verenigde State het skerp gedaal, tot die helfte in net tien jaar. Duisende teaters moes noodgedwonge sluit, en rolprentproduksie het met ’n derde afgeneem ten spyte van die bekendstelling van rolprente op die wyedoek en begeleidende stereofoniese klank in die vyftigerjare. Suksesrolprente van miljoene dollars, soos Cecil B. de Mille se Ten Commandments (1956), is geproduseer in ’n poging om ’n teëwig te vorm teen hierdie mededinging. Die Europese rolprentbedryf het ook ’n drastiese daling in bywoningsyfers ondervind.

Sosiale invloed

Die rolprent is al die spieël van die gemeenskap genoem. In die sewentigerjare het baie rolprente as ’t ware die “ongemak, misnoeë, ontnugtering, angs, paranoia” van die tyd weerspieël, soos gesien kan word in die oplewing van gruwelrolprente en die “ongeëwenaarde aangetrokkenheid tot satanisme en die okkulte”. Rolprente oor rampe het “die aandag afgetrek van die rampe [wat] in die werklikheid” plaasgevind het (World Cinema—A Short History). Daarteenoor het ’n Franse joernalis dit wat in die tagtigerjare gesien is “’n doelbewuste poging om verdorwenheid normaal te laat lyk”, genoem. Die helfte van die rolprente wat in 1983 by die Cannes-rolprentfees vertoon is, het homoseksualiteit of bloedskande as hulle tema gehad. Geweld het die leitmotief, of terugkerende gedagte, van hedendaagse rolprente geword. In 1992 het 66 persent van die Hollywoodse rolprente gewelddadige tonele bevat. En terwyl geweld in die verlede gewoonlik ’n doel gedien het, is dit nou heeltemal sinloos.

Watter uitwerking het sulke blootstelling gehad? Toe ’n jong paartjie sonder enige misdaadagtergrond in Oktober 1994 in Parys amok gemaak het en 4 mense doodgemaak het, is die rolprent Natural Born Killers, waarin ’n paartjie 52 mense doodgemaak het, direk daarmee verbind. Sosioloë spreek al hoe meer hulle kommer uit oor die invloed wat geweld het—veral op die jeug vir wie sulke beelde as gedragspatrone dien. Nie alle rolprente verheerlik natuurlik geweld of onsedelikheid nie. Onlangse rolprente soos The Lion King het vorige rekords in kaartjieverkope oorskry.

Toe ’n vername rolprentvervaardiger en akteur deur die Paryse koerant Le Monde gevra is hoe die rolprentbedryf die samelewing oor die afgelope 100 jaar beïnvloed het, het hy geantwoord dat rolprente, ten spyte daarvan dat dit “oorlog verheerlik het, bendelede as helde uitgebeeld het, simplistiese oplossings en vroom gemeenplase aangebied het, valse verwagtinge geskep het en die aanbidding van rykdom, besittings, sinlose fisiese skoonheid en ’n magdom ander onrealistiese en onwaardige doelwitte bevorder het”, nogtans vir miljoene ’n welkome ontvlugting van die harde werklikhede van die alledaagse lewe gebied het.

Wanneer die ligte gedoof word en die silwerdoek begin lewe, ervaar ons dalk met tye steeds die betowering wat mense meer as 100 jaar gelede so bekoor het.

[Venster/Prent op bladsy 21]

Die “Fotodrama van die Skepping”

Teen die einde van 1914 het ongeveer negemiljoen mense in Australië, Europa, Nieu-Seeland en Noord-Amerika die Wagtoringgenootskap se vertoning “Fotodrama van die Skepping” gratis gesien. Die program van agt uur is in vier dele aangebied en het bestaan uit rolprente en skyfies wat met spraak en musiek gesinchroniseer is. Beide die skyfies en die rolprente is met die hand ingekleur. Die “Fotodrama” was daarop gemik “om waardering op te bou vir die Bybel en God se voorneme soos dit daarin uiteengesit word”. Van die hoogtepunte was om te sien hoe ’n blom oopmaak en ’n kuiken uitbroei, wat op film vasgelê is deur middel van tydsverloopfotografie.

[Prent op bladsy 19]

Die “Cinématographe Lumière”, wat in Februarie 1895 gepatenteer is

[Erkenning]

© Héritiers Lumière. Collection Institut Lumière-Lyon

[Foto-erkenning op bladsy 19]

© Héritiers Lumière. Collection Institut Lumière-Lyon

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel