Bewaring versus uitwissing
DIE stryd tussen bewaring en uitwissing woed voort. Talle weldadigheidsorganisasies plaas druk op regerings om strenger bewaringswette te maak om bedreigde spesies te beskerm.
Verskeie groepe het byvoorbeeld onlangs met Chinese amptenare vergader en hulle samewerking verkry om die vang van Asiatiese kraagbere te probeer stopsit. Hierdie diere is vir hulle gal en galblaas doodgemaak, wat in tradisionele Oosterse geneesmiddels gebruik word.
Internasionale hulp
Om ’n spesie in een land te beskerm, maar dit in ’n ander land te jag tot dit uitgeroei is, voorspel niks goeds vir die bewaring daarvan nie. Gevolglik was internasionale verdrae tydig—en daar is baie. Die Konvensie oor Biologiese Diversiteit, die Rio-verdrag, het aan die einde van 1993 van krag geword, en kort daarna het ’n Ooreenkoms vir die Bewaring van Vlermuise in Europa gevolg. Die Internasionale Walviskommissie het die walvisreservaat van die Suidelike Yssee by dié van die Indiese Oseaan gevoeg in ’n poging om die groot en klein vinwalvis te beskerm. Maar die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies is seker die kragtigste ooreenkoms.—Sien venster.
Die mens moet nog baie leer oor die onderlinge verhouding tussen diere. Vissermanne van Oos-Afrika wat die Nyl-baars in die Victoria-meer geplaas het om voedselvoorraad op te bou, het iets veroorsaak wat die dierkundige Colin Tudge “die grootste ekologiese ramp van hierdie eeu” genoem het. Sowat 200 van die meer se 300 inheemse visspesies het verdwyn. Hoewel onlangse bewyse gronderosie die skuld gee vir die versteuring van die spesiebalans, het die regerings van die drie lande wat aan die meer grens nou ’n organisasie gestig om vas te stel watter visspesies in die meer geplaas kan word sonder om die inheemse spesies te bedreig.
Ingryping deur die mens
Een gebied waarop sukses behaal is, is die program waarvolgens baie dieretuine diere in aanhouding teel. “As al die dieretuine in die wêreld werklik hulle steun aan die teel van diere in aanhouding gee, en as die publiek hulle steun aan die dieretuine gee, dan kan hulle tussen hulle al die gewerwelde spesies red wat heel moontlik binne afsienbare tyd in aanhouding geteel sal moet word.”—Last Animals at the Zoo.
Die dieretuin op die klein Britse eiland Jersey teel seldsame diere met die doel om hulle later in die natuur terug te plaas. In 1975 was daar net 100 St. Lucia-papegaaie in hulle Karibiese tuiste oor. Sewe van hierdie voëls is na Jersey gestuur. Teen 1989 het die dieretuin nog 14 geteel en van hulle na St. Lucia teruggestuur. Nou word daardie eiland deur meer as 300 verfraai.
Soortgelyke skemas het elders ook welslae behaal. Die National Geographic berig dat die 17 rooiwolwe wat in Noord-Amerika oor was so goed in aanhouding geteel is dat meer as 60 nou in die natuur teruggeplaas is.
Te suksesvol?
Bedreigde diere loop nie noodwendig altyd gevaar om uit te sterf nie. Volgens die boek Endangered Species—Elephants het die aantal Afrika-olifante tussen 1979 en 1989 van 1300000 tot 609 000 gedaal—deels as gevolg van ivoordiefstal. Toe het openbare druk toegeneem om die ivoorbedryf onwettig te verklaar. Tog het teenkanting teen die verbod op ivoorhandel al hoe luider geword. Waarom?
In Zimbabwe sowel as in Suid-Afrika was bewaringsbeleide so suksesvol dat nasionale parke en wildreservate te veel olifante gehuisves het. Die New Scientist het berig dat Zimbabwe 5000 olifante uit die Hwange- Nasionale Park moes verwyder. Drukgroepe het hervestiging aanbeveel. Parkamptenare het die surplus olifante te koop aangebied en aan die hand gedoen dat Westerse instansies wat teen uitdunning gekant is “die daad by die woord voeg en hulle verplaas”.
Onsekere vooruitsigte
Nietemin misluk sommige pogings. Baie is besorg oor die welstand van spesies wat in die natuur teruggeplaas word. Die Siberiese tier vaar goed in aanhouding, maar in die natuur het hy ’n woud van 260 vierkante kilometer nodig, sonder enige wilddiewe. Maar “plaas ’n tier wat in die dieretuin grootgemaak is direk terug in hierdie omgewing”, sê The Independent on Sunday, “en hy sal so goed as seker verhonger”. Inderdaad ’n somber vooruitsig!
Dit spreek vanself dat nie elke spesie sy eie gespesialiseerde span helpers het nie. En dit is nie net ’n tekort aan mannekrag wat die probleem vererger nie. Watter hoop het bewaringskundiges op sukses, al is hulle hoe toegewyd, wanneer hulle te staan kom voor die korrupsie, hebsug en onverskilligheid van regeringsamptenare sowel as oorlog en selfs doodsdreigemente? Wat is dan die oplossing vir die probleem van bedreigde spesies? En hoe is jy daarby betrokke?
[Venster op bladsy 7]
’n Internasionale wapen
Die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies is ’n kragtige wapen in die stryd teen onwettige handel in bedreigde spesies. Luiperdvelle, olifanttande, tierbeendere, renosterhorings en waterskilpaaie is onder die artikels waarop daar tans ’n verbod is. Die ooreenkoms sluit ook bedreigde timmerhout en visspesies in.
Die Time het egter gewaarsku: “Tensy die lidlande ’n manier kan kry om die bepalings af te dwing, . . . sal hulle dalk vind dat die diere wat hulle probeer beskerm nie meer bestaan nie.”
[Prent op bladsy 8]
Was sommige bewaringspogings te suksesvol?
[Erkenning]
Met vergunning van Clive Kihn