Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 8/22 bl. 24-25
  • Gevaar!—Ek is giftig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gevaar!—Ek is giftig
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • In stede?
  • Pasop! Slange!
  • Sê nou ek word gebyt?
  • Hoe groot is die risiko?
  • ’n Spinnekop wat hom voordoen as ’n mier
    Ontwaak!—2002
  • Die springspinnekop se wasige sig
    Ontwaak!—2013
  • Leer by die spinnekop
    Ontwaak!—1992
  • Daar’s ’n blaar in die spinnerak!
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 8/22 bl. 24-25

Gevaar!—Ek is giftig

Deur Ontwaak!-medewerker in Australië

DAAR word dikwels vir immigrante en besoekers aan Australië gesê dat ’n mens giftige slange en spinnekoppe so te sê oral in hierdie uitgestrekte land aantref. Nogtans word net sowat 1700 van die bekende spinnekopspesies hier gevind. ’n Hele paar kan weliswaar ’n etiket “Gevaar! Ek is giftig” dra, maar die meeste is onskadelik.

Wat slange betref, daar is ongeveer 2500 spesies saam met ons op die planeet Aarde. Sowat 140 van hulle word in Australië aangetref, en net omtrent 20 is giftig. Bestaan die moontlikheid werklik dat ’n mens een van hierdie giftige diere kan teëkom?

In stede?

Verreweg die meeste giftige slange en spinnekoppe leef op die platteland of in bosagtige gebiede. Maar die inwoners van sommige kusstede moet redelik versigtig wees, veral wat spinnekoppe betref. Die Sydney-tregterspinnekop leef byvoorbeeld, soos sy naam aandui, in en om Australië se grootste stad, Sydney. Met sy swart gifkake wat vorentoe uitstaan, kan hy maklik die hoofrol in enigiemand se nagmerries speel.

Die tregterspinnekopmannetjie word uitgeken aan die duidelike uitsteeksel op sy tweede been, en hy is die gevaarlike—sy gif is vyf keer giftiger as die wyfie s’n. Die formele Latynse naam wat aan hierdie spinnekop gegee is, is Atrax robustus. In 1980 het die boek The Funnelweb gesê: “Ons weet van sowat negentien mense wat in die afgelope sewentig jaar aan ’n Tregterspinnekop se byt gesterf het.” In 1980 is die eerste doeltreffende teengif vir ’n tregterspinnekopbyt ontwikkel.

’n Ander spinnekop waarvoor ’n mens versigtig moet wees, is ’n knopiespinnekopsoort wat ’n oranjerooi streep oor sy satynswart agterlyf het. Die streep is soms pienk of selfs liggrys. Dit is die wyfie wat gevaarlik is. In 1956 het teengif vir haar byt, wat dodelik kan wees, beskikbaar geword. Dié knopiespinnekop word oral in Australië gevind en is verwant aan die welbekende Black Widow.

Pasop! Slange!

Slange is al op grasperke of in die struikgewas van voorstedelike wonings gevind, veral snags. ’n Handjievol is gevaarlik—soos die Australiese tierslang, die doodsadder en die taipan. Die tierslang is ongeveer 1,5 meter lank. Hy kan aan die donker strepe oor sy rug uitgeken word. Wanneer hy kwaad is, kan hy ’n harde, blasende sisgeluid maak.

Die doodsadder se kleur wissel, maar hy het ’n geelwit aanhangsel aan die punt van sy stert wat hy rondbeweeg om prooi te lok. Hy word dikwels in sanderige gebiede gevind, waar hy in die vorm van ’n perdeskoen sal lê. Die doodsadder is ongeveer 60 sentimeter lank en dik.

Daarenteen kan die taipan tot drie meter lank word! Hy is bruin met ’n ligkleurige neus. Hy het groot gifkliere, en sommige soorte het giftande wat langer as ’n sentimeter is. ’n Perd is binne vyf minute dood nadat ’n taipan hom gebyt het!

Sê nou ek word gebyt?

Teengif is beskikbaar vir spinnekop- sowel as slangbyte, en regoor Australië staan gifinligtingsentrums 24 uur per dag gereed. Metodes om slangbyte te behandel, het verbeter. Die idee dat die wond onmiddellik gesny en die gif uitgesuig moet word, word deur baie as verouderd sowel as skadelik beskou. Die raad van mediese kenners is tans dat die pasiënt stil en kalm gehou moet word en dat ’n knelverband of ’n afbinding tussen die byt en die hart aangebring moet word. Dan moet ’n drukverband op die byt geplaas word en die aangetaste ledemaat moet gespalk word om dit onbeweeglik te maak. Hierna moet die pasiënt so gou as moontlik na ’n dokter of na ’n hospitaal geneem word.

Tregter- en knopiespinnekoppe word selde in die huis gevind. Die knopiespinnekop skuil in die hoeke van garages of skure of in enige stil, rustige plek, soos ’n ou motor, ’n hoop rommel of ’n buitetoilet. ’n Mens moet versigtig wees dat jy hulle nie per ongeluk die huis indra nie.

Hoe groot is die risiko?

Die meeste Australiërs het nog nooit ’n knopiespinnekop of ’n doodsadder gesien nie en weet nie van iemand wat al deur een gebyt is nie. Trouens, daar bestaan feitlik geen gevaar om deur ’n giftige spinnekop of slang gebyt te word as jy redelik versigtig is nie. Die meeste giftige diere probeer uit jou pad bly en sal dalk net aggressief word wanneer hulle geterg of in ’n hoek vasgekeer word.

Dit is nietemin verstandig om versigtig te wees. ’n Australiese wetenskaplike, wat ’n deskundige op die gebied van giftige diere is, hou daarvan om “met handskoene in die tuin te werk, met stewels aan vis te vang en met versigtigheid te reis”. Waarom stewels? Wel, dit is heel moontlik vanweë die giftige inkvis- en kwalsoorte sowel as die steenvis.

Miskien moet ons julle eerder op ’n volgende keer van hulle vertel.

[Prent op bladsy 24]

Knopiespinnekopwyfie

[Erkenning]

Bo: Met vergunning van Australian International Public Relations

[Prent op bladsy 24]

Noordelike doodsadder

[Erkenning]

Met vergunning van Ross Bennett, Canberra, Australië

[Prent op bladsy 25]

Tregterspinnekop

[Erkenning]

Met vergunning van Australian International Public Relations

[Prent op bladsy 25]

Taipan

[Erkenning]

Met vergunning van J. C. Wombey, Canberra, Australië

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel