Voorskrifmedisyne—Gebruik en misbruik
’N MEISIE met die naam Angie het haar ouers hoor sê dat haar broer se medisyne sy eetlus onderdruk. Omdat Angie bekommerd was oor haar gewig, het sy stilletjies van haar broer se pille begin neem, een elke paar dae. Om die moontlikheid te verminder dat haar ouers uitvind, het sy ’n vriend wat dieselfde medisyne gebruik, gevra om vir haar van sy pille te gee.a
Waarom is die misbruik van voorskrifmedisyne so algemeen? Een rede is dat dit vryelik beskikbaar is—dit is dalk sommer daar in die huis. Tweedens, baie jongmense neem verkeerdelik aan dat hulle nie iets onwettigs doen wanneer hulle medisyne gebruik wat nie vir hulle voorgeskryf is nie. En derdens, dit lyk asof voorskrifmedisyne minder gevaarlik is as dwelms. ‘As ’n kind sekere voorgeskrewe produkte kan gebruik’, redeneer party jongmense, ‘moet die produkte immers veilig wees.’
Dit is wel so dat voorgeskrewe medisyne, wanneer dit reg gebruik word, gesondheid en lewensgehalte kan verbeter en selfs lewens kan red. Maar as dit misbruik word, kan dit net so gevaarlik wees soos straatdwelms. Byvoorbeeld, as ’n mens sekere voorgeskrewe opkikkers misbruik, kan dit tot hartversaking of ’n hartaanval lei. Ander produkte kan ’n mens se asemhalingstempo verlaag en uiteindelik die dood veroorsaak. Medisyne kan ook ’n nadelige uitwerking hê as dit saam met sekere ander medisyne of alkohol ingeneem word. Vroeg in 2008 het ’n gewilde akteur gesterf “weens ’n dodelike mengsel van ses kalmeermiddels, slaappille en pynstillers”, het die koerant Arizona Republic gesê.
Nog ’n moontlike gevaar is verslawing. Party middels het dieselfde uitwerking as straatdwelms wanneer dit om die verkeerde rede geneem word of te veel daarvan geneem word—dit prikkel plesiersentrums in die brein, wat kan veroorsaak dat ’n mens ’n sterk begeerte daarna ontwikkel. Maar pleks daarvan om ’n blywende gevoel van opwinding te verskaf of mense te help om die sorge van die lewe die hoof te bied, vererger middelmisbruik dinge net. Dit kan stres vermeerder, depressie vererger, gesondheid en die vermoë om normaal te funksioneer, vernietig, tot verslawing lei of ’n kombinasie van al die voorgenoemde dinge veroorsaak. Dit is onvermydelik dat slagoffers probleme by die huis, by die skool of by die werk sal ondervind. Wat is dan die verskil tussen die regte gebruik van voorgeskrewe produkte en die misbruik daarvan?
Gebruik of misbruik?
Eenvoudig gestel, jy gebruik voorskrifmedisyne reg wanneer jy dit neem volgens die aanwysings van ’n dokter wat ten volle bewus is van jou mediese geskiedenis. Dit sal onder andere beteken om die regte dosis op die regte tyd, op die regte manier en om die regte mediese rede te neem. Selfs dan kan ongewenste of onverwagte simptome opduik. As dit gebeur, moet jy jou dokter onmiddellik daarvan vertel. Hy of sy sal jou voorskrif dalk verander of dit heeltemal kanselleer. Dieselfde beginsels geld vir toonbankmedisyne: Gebruik dit net as jy dit werklik nodig het, en volg die instruksies op die etiket noukeurig.
Mense begewe hulle op gevaarlike terrein wanneer hulle medisyne om die verkeerde rede gebruik, nie by die dosis bly nie, produkte gebruik wat vir iemand anders bedoel is of die medisyne op die verkeerde manier neem. Party pille moet byvoorbeeld heel ingesluk word sodat die aktiewe bestanddeel stadig in die liggaam vrygestel kan word. Mense wat medisyne misbruik, versteur dikwels hierdie proses deur pille fyn te maak of te kou, dit fyn te maak en op te snuif of dit in water op te los en in te spuit. Die gevolg is dalk ’n gevoel van euforie, maar dit kan ook die eerste stap tot verslawing wees. Of nog erger, dit kan dodelik wees.
Aan die ander kant, as iemand voorskrifmedisyne op die regte manier gebruik, maar vermoed dat hy daaraan verslaaf begin raak, moet hy sy dokter sonder versuim daarvan in kennis stel. Die dokter sal waarskynlik weet hoe om die probleem op die veiligste manier op te los sonder om van die oorspronklike gesondheidsprobleem te vergeet.
Die pandemie van middelmisbruik—in al sy vorme—is ’n weerspieëling van die tyd waarin ons lewe. Die gesin, wat ’n veilige hawe van liefde en ’n toevlug weg van die daaglikse stres moet wees, is in gevaar. Heilsame sedelike en geestelike waardes, sowel as respek vir die lewe, is aan die afneem (2 Timoteus 3:1-5). Nog ’n faktor is dat dit lyk asof daar geen hoop op ’n beter toekoms is nie. Baie mense sien niks behalwe wanhoop en onheil op die horison nie. Hulle lewe dus vir die oomblik en jaag enigiets na wat aan hulle genot verskaf, soms op ’n roekelose wyse. Die Bybel sê: “Waar daar geen visioen is nie, word die volk bandeloos.”—Spreuke 29:18.
As jy ’n ouer is, wil jy ongetwyfeld jou gesin beskerm teen die sedelike en geestelike euwels wat hierdie wêreld teister. Maar hoe kan jy dit doen? En waar kan jy betroubare leiding en ’n vaste hoop op ’n beter toekoms vind? Die volgende artikels bespreek hierdie vrae.
[Voetnoot]
a Van die TeensHealth-webwerf.
[Venster op bladsy 4]
ENIGIETS OM “HOOG” TE RAAK
Party mense sal amper enigiets doen om “hoog” te raak. ’n Gebruik wat besonder skadelik is, is onder meer om skoonmaakmiddels, naellak, meubelpolitoer, petrol, gom, aanstekervloeistof, spuitverf en ander vlugtige stowwe te snuif. Opgesnuifde dampe gaan direk na die brein, wat ’n byna onmiddellike uitwerking tot gevolg het.
Nog ’n skadelike gebruik is die misbruik van toonbankmedisyne wat alkohol bevat of lomerigheid veroorsaak. Wanneer ’n hoë dosis van hierdie produkte geneem word, beïnvloed dit die sintuie, veral die vermoë om te hoor en te sien, en dit kan verwarring, hallusinasies, gevoelloosheid en maagpyn veroorsaak.
[Venster op bladsy 5]
“MANIERE OM MEDISYNE IN DIE HANDE TE KRY”
“Mense wat aan middels verslaaf is of dit misbruik, het sekere maniere om medisyne in die hande te kry”, sê die Physicians’ Desk Reference. “Hierdie maniere sluit in om kort voor die einde van ’n werksdag ’n noodoproep te maak of ’n dokter te spreek, om te weier om ’n gepaste ondersoek of toets te ondergaan of om verwys te word, om herhaaldelik voorskrifte te ‘verloor’, met voorskrifte te peuter en nie bereid te wees om vorige mediese verslae of die besonderhede van ander dokter(s) te voorsien nie. Dit is algemeen dat mense wat middels misbruik en mense wat aan ’n onbehandelde verslawing lei, van een dokter na ’n ander gaan om nog voorskrifte in die hande te kry.”
Die volgende drie soorte medisyne word die meeste misbruik:
◼ Opioïede—word voorgeskryf om pyn te verlig
◼ SSS- (sentrale senuweestelsel) depressante—barbiturate en bensodiasepiene (dikwels kalmeermiddels genoem) word voorgeskryf vir angstigheid of slaapprobleme
◼ Opkikkers—word voorgeskryf vir aandagtekortsteurnis met hiperaktiwiteit (ATSH), die slaapversteuring narkolepsie of vetsugb
[Voetnoot]
b Inligting voorsien deur die Nasionale Instituut vir Dwelmmisbruik.
[Venster op bladsy 6]
RIGLYNE VIR DIE VEILIGE GEBRUIK VAN VOORSKRIFMEDISYNE
1. Volg die aanwysings noukeurig.
2. Moenie die dosis verander sonder om jou dokter te raadpleeg nie.
3. Moenie self ophou om voorskrifmedisyne te gebruik nie.
4. Moenie pille fynmaak of breek tensy jy spesifiek gesê is om dit te doen nie.
5. Wees bewus van die uitwerking wat die medisyne op jou kan hê wanneer jy bestuur of aan ander bedrywighede deelneem.
6. Vind uit hoe die medisyne kan reageer met alkohol en ander medisyne—hetsy voorskrif- of toonbankmedisyne.
7. As jy ’n geskiedenis van middelmisbruik het, moet jy jou dokter daarvan vertel.
8. Moenie medisyne gebruik wat vir iemand anders voorgeskryf is nie en moenie joune deel nie.c
[Voetnoot]
c Gebaseer op die aanbevelings van die Amerikaanse Voedsel- en Medisyneraad.