Hulle stroop die medisynekas
“EK HET voorskrifmedisyne begin gebruik toe ek 14 jaar oud was”, het ’n vrou met die naam Lena gesê.a “Ek het gevoel dat ek skraal en aantreklik moet wees, en daarom het ons huisdokter vir my dieetpille voorgeskryf. Die enigste tyd wanneer ek goed gevoel het, was wanneer dit gelyk het asof seuns my bewonder. Uiteindelik het ek sterk dwelms begin gebruik en die onsedelike lewenswyse begin volg wat daarmee gepaard gaan. Ek was altyd op soek na iets wat my so ‘hoog’ as moontlik sou laat voel.”
’n Vrou met die naam Myra het aan migraine gely; haar dokter het dus ’n pynstiller voorgeskryf. Mettertyd het sy al hoe meer pille begin neem—nie net vir hoofpyne nie, maar ook om haar toenemende verslawing te bevredig. Wat meer is, sy het pille begin neem wat vir ander lede van haar gesin voorgeskryf is.
Ja, verslae toon dat al hoe meer jongmense en ’n verbasende aantal ouer mense voorskrifmedisyne misbruik in ’n poging om te kalmeer, angstigheid die hoof te bied, wakker te bly, gewig te verloor of ’n gevoel van euforie te verkry. Party van die middels wat die meeste misbruik word, is dié wat in baie huise iets algemeens is: pynstillers, kalmeermiddels en opkikkers.b Ander produkte wat misbruik word, sluit toonbankmedisyne soos slaappille, ontstuwingsmiddels en allergiepille in.
Die probleem is wydverspreid en word al hoe groter. Byvoorbeeld, in dele van Afrika, Europa en Suid-Asië word die misbruik van voorskrifmedisyne algemener as dié van straatdwelms. In die Verenigde State word meer voorskrifmedisyne misbruik as feitlik enige onwettige produk, behalwe dagga. Volgens ’n onlangse koerantberig is daar meer 12- tot 17-jariges wat “voorskrifmedisyne misbruik, as die gesamentlike aantal van dié wat kokaïen, heroïen en metamfetamien gebruik”. Trouens, die aanvraag is so groot dat dit daartoe gelei het dat vals voorskrifmedisyne ’n bedryf geword het.
Hoe kan jy jou en jou kinders teen die misbruik van voorskrifmedisyne en teen dwelms beskerm? Die volgende artikels ondersoek hierdie vrae.
[Voetnote]
a Name in hierdie reeks is verander.
b Baie van die beginsels wat in hierdie artikels bespreek word, is ook van toepassing op dwelm- en alkoholmisbruik.
[Venster op bladsy 3]
“Verslawing aan ’n middel word gekenmerk deur kompulsiewe gebruik, gebruik vir niemediese doeleindes en volgehoue gebruik, ondanks die feit dat dit jou gesondheid benadeel of ’n gevaar daarvoor inhou”, sê die Physicians’ Desk Reference. Verslawing word gekenmerk deur ’n gebrek aan beheer en deur ’n beheptheid met die middel.
Fisiese afhanklikheid kan duidelik gesien word wanneer pasiënte onttrekkingsimptome ondervind wanneer hulle ophou om ’n sekere voorskrifmedisyne, soos ’n opioïed, te neem. Dit is ’n normale reaksie en is nie dieselfde as verslawing nie.
Toleransie verwys na die behoefte aan ’n al groter dosis om dieselfde mate van pynverligting te verkry.