Hartsiekte—Dit bedreig lewens
ELKE jaar kry miljoene mans en vroue regoor die wêreld hartaanvalle. Baie oorleef dit sonder dat daar juis ’n nadraai is. Ander oorleef dit nie. Dan is daar weer ander wie se hart so erg beskadig word dat “’n terugkeer tot normale bedrywighede betwyfel word”, sê hartspesialis Peter Cohn, en hy voeg by: “Dit is derhalwe noodsaaklik om hartaanvalle in die kiem te smoor wanneer dit ook al moontlik is.”
Die hart is ’n spier wat bloed deur die hele liggaam pomp. Met ’n hartaanval (miokardiale infarksie) sterf ’n deel van die hartspier wanneer dit nie bloed kry nie. Om gesond te bly, het die hart suurstof en ander voedingstowwe nodig wat deur die bloed vervoer word. Dit bereik die hart deur middel van die koronêre slagare, wat die hart omsluit.
Siektes kan enige deel van die hart aantas. Maar die algemeenste is die sluipende siekte in die koronêre slagare wat aterosklerose genoem word. Wanneer dit voorkom, vorm plaak, of vetterige afsettings, in die slagaarwande. Die plaak kan oor ’n tydperk saampak, die slagare laat verhard en vernou asook die bloedvloei na die hart belemmer. Dit is hierdie onderliggende koronêre hartvatsiekte (KHS) wat vir die meeste hartaanvalle verantwoordelik is.
’n Afsluiting in een of meer slagare veroorsaak ’n aanval wanneer die hart se vraag na suurstof die toevoer oorskry. Selfs in die slagare wat nie so erg vernou is nie, kan ’n plaakafsetting opbreek en tot die vorming van ’n bloedklont (trombus) lei. Aangetaste slagare is ook vatbaarder vir spasmas. ’n Bloedklont kan vorm waar die spasma plaasvind, wat ’n chemikalie vrystel wat die aarwand verder laat vernou en ’n aanval veroorsaak.
Wanneer die hartspier lank genoeg van suurstof afgesny word, kan nabygeleë weefsel beskadig word. In teenstelling met party ander weefsels herstel die beskadigde hartspierweefsel nie. Hoe langer die aanval duur, hoe groter skade word die hart aangedoen en hoe groter is die waarskynlikheid dat die slagoffer sal sterf. As die hart se elektriese stelsel beskadig word, kan die hart se normale ritme versteur word en kan die hart erg begin tril (fibrilleer). Tydens so ’n ritmeafwyking kan die hart die bloed nie doeltreffend na die brein pomp nie. Binne tien minute sterf die brein en het dit die dood tot gevolg.
Vroeë ingryping deur opgeleide mediese personeel is dus lewensbelangrik. Dit kan die hart teen verdere skade beskerm, die ritmeafwykings voorkom of behandel en selfs iemand se lewe red.