Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 3/22 bl. 24-27
  • Die wonders van die bloedsomloopstelsel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die wonders van die bloedsomloopstelsel
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die stelsel se vernaamste dele
  • ’n Toer deur die kardiovaskulêre stelsel
  • Elastiese slagare
  • Een rooi bloedsel op ’n slag
  • Van venules na are na die hart
  • Die limfstelsel
  • Hartsiekte—Dit bedreig lewens
    Ontwaak!—1996
  • Daardie verbasende orgaan—ons hart!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Wat is die heel kosbaarste vloeistof?
    Ontwaak!—2006
  • Bloed—Noodsaaklik vir lewe
    Hoe kan bloed jou lewe red?
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 3/22 bl. 24-27

Die wonders van die bloedsomloopstelsel

STEL jou ’n huis voor met ’n pypstelsel wat so gesofistikeerd is dat die vloeistof wat daardeur vloei voedsel, water, suurstof en afvalprodukte veilig kan vervoer. Daarbenewens kan hierdie pype hulleself herstel en kan hulle vermeerder namate die behoeftes van die huis verander. Wat ’n ingenieursprestasie sou dit tog wees!

Tog doen jou liggaam se “pypstelsel” selfs meer. Behalwe dat dit jou liggaamstemperatuur help reguleer, dra dit ’n verstommende verskeidenheid hormone, of chemiese boodskappers, en kragtige verdedigingsmeganismes teen siektes. Die hele netwerk is ook sag en buigsaam sodat dit skokke kan absorbeer en saam met jou ledemate kan buig. Geen mense-ingenieur kan so ’n stelsel ontwerp nie, en tog is dit wat die Skepper gedoen het toe hy die are, slagare en haarvate van die menseliggaam gemaak het.

Die stelsel se vernaamste dele

Die menslike bloedsomloopstelsel is in werklikheid twee stelsels wat saam werk. Een is die kardiovaskulêre stelsel, wat die hart, die bloed en al die bloedvate insluit. Die ander is die limfstelsel—’n netwerk van vate wat oortollige vloeistof, wat limf genoem word, van die liggaamsweefsel na die bloedstroom terugvoer. As die bloedvate van net een volwassene met die punte teen mekaar geplaas word, sou dit 100 000 kilometer ver strek en sou dit twee en ’n half keer om die aarde gaan! Hierdie uitgebreide stelsel neem lewegewende bloed, wat ongeveer 8 persent van die liggaamsgewig uitmaak, na miljarde selle.

Die kragbron van die kardiovaskulêre stelsel is natuurlik die hart. Dit is omtrent so groot soos jou vuis en pomp elke dag ten minste 9 500 liter bloed deur jou liggaam—min of meer dieselfde as om elke 24 uur ’n gewig van een ton ongeveer tien meter hoog te lig!

’n Toer deur die kardiovaskulêre stelsel

Watter roete volg die bloed? Kom ons begin met die suurstofarm bloed wat na die hart vervoer word deur die twee groot are—die vena cava superior en inferior (boonste en onderste holare). (Sien diagram.) Hierdie are bring die bloed in die eerste hartkamer, die regteratrium, in. Die regteratrium pomp dan die bloed in ’n kamer met dikker spierwande, die regterventrikel, in. Van hier af gaan die bloed na die longe deur die stam van die longslagaar en sy twee vertakkings—die enigste slagare wat suurstofarm bloed vervoer. Dit word gewoonlik deur are gedoen.

Terwyl die bloed in die longe is, stel dit koolstofdioksied vry en absorbeer dit suurstof. Dit vloei dan deur die vier longare—die enigste are wat suurstofryke bloed vervoer—in die hart se linkeratrium in. Van die linkeratrium af vloei bloed in die hart se kragtigste kamer, die linkerventrikel, in, wat suurstofhoudende bloed deur die aorta en in die liggaam in pomp. Die twee atriums trek tegelyk saam, gevolg deur die twee ventrikels; die tweeledige sametrekking vorm ’n hartklop. Vier interne kleppe verseker dat die bloed in een rigting deur die hart vloei.

Omdat dit bloed na die verste dele van die liggaam moet pomp, is die linkerventrikel met sy dikker spierwande omtrent ses keer sterker as die regterventrikel. Die gevolglike drukking sou maklik aneurismes (bulte of verwydings in die slagaarwande) of selfs potensieel dodelike beroertes in die brein kon veroorsaak as daar nie ’n vindingryke meganisme was wat hierdie skielike toename in druk kon absorbeer nie.

Elastiese slagare

Die grootste slagaar in jou liggaam, die aorta, en sy hoofvertakkings vorm die “elastiese slagare”. Hulle lumen, of binneruimte, is groot sodat die bloed maklik daardeur kan vloei. Hulle het ook dik spierwande wat deur konsentriese lae elastien, ’n rubberagtige proteïen, omring is. Wanneer die linkerventrikel bloed in hierdie slagare inpomp, sit hulle uit of swel hulle om die hoë druk te absorbeer en die bloed na die volgende groep slagare te dryf, naamlik die spiergerokte of verdeelslagare, wat ook elastien in hulle wande het. Danksy hierdie merkwaardige ontwerp is die bloeddruk gelykmatig wanneer dit die delikate haarvate bereik.a

Die verdeelslagare wissel van 1 sentimeter tot 0,3 millimeter in deursnee. Hierdie vate verwyd of vernou na gelang van die boodskappe wat van spesiale senuweevesels ontvang word en reguleer sodoende bloedvloei, wat die bloedsomloopstelsel uiters dinamies maak. In die geval van trauma of as jy skrik, stuur druksensors in die binneste laag van slagare byvoorbeeld ’n boodskap na die brein, wat weer boodskappe na die gepaste slagare stuur om bloedvloei na minder belangrike gebiede soos die vel te verminder en dit eerder na die lewensorgane te stuur. Die tydskrif New Scientist sê: “Jou slagare kan ‘voel’ hoe die bloed vloei en daarop reageer.” ’n Mens kan verstaan waarom die slagare al as ’n “intelligente pypstelsel” beskryf is.

Wanneer die bloed die kleinste slagaartjies—die arteriole—verlaat, is die druk daarvan bestendig teen ongeveer 35 millimeter kwik. Bestendige, lae druk is hier noodsaaklik omdat die arteriole by die kleinste van alle bloedvate, die haarvate, aansluit.

Een rooi bloedsel op ’n slag

Met ’n deursnee van agt tot tien mikrometer (miljoenstes van ’n meter) is haarvate so fyn dat rooi bloedselle een op ’n slag daardeur beweeg. Hoewel die haarvatwande net een sellaag dik is, dra dit voedingstowwe (in die plasma- of vloeistofdeel van die bloed) en suurstof (in die rooi bloedselle) na aanliggende weefsel oor. Terselfdertyd word koolstofdioksied en ander afvalstowwe deur middel van diffusie uit die weefsel in die haarvate opgeneem vir wegdoening. Deur middel van ’n piepklein lisagtige spiertjie wat ’n sfinkter genoem word, kan haarvate ook die bloedvloei deur hulle reguleer volgens die behoeftes van die omliggende weefsel.

Van venules na are na die hart

Wanneer bloed die haarvate verlaat, gaan dit klein aartjies binne wat venules genoem word. Venules met ’n deursnee van tussen 8 en 100 mikrometer sluit by mekaar aan en vorm are wat bloed na die hart terugvoer. Wanneer bloed die are bereik, het dit feitlik alle druk verloor; gevolglik is aarwande dunner as slagaarwande. Hulle het ook minder elastien. Hulle lumen is egter groter sodat die are ’n volle 65 persent van jou liggaam se bloed hou.

Are het ’n ander vindingryke manier om bloed terug te voer na die hart, wat vir hulle lae bloeddruk vergoed. In die eerste plek is hulle toegerus met spesiale komagtige kleppe wat verhinder dat swaartekrag die bloed van die hart af laat wegvloei. In die tweede plek maak hulle van jou liggaam se skeletspiere gebruik. Hoe so? Wanneer jou spiere saamtrek, byvoorbeeld in jou bene wanneer jy loop, pers hulle die nabygeleë are saam. Dit dwing weer bloed deur die eenrigtingkleppe na die hart. Ten slotte help druk in die buik en borsholte, wat weens asemhaling verander, die are om hulle inhoud in die regteratrium van die hart uit te stort.

Die kardiovaskulêre stelsel is so doeltreffend dat dit selfs wanneer ’n mens rus elke minuut ongeveer 5 liter bloed na die hart terugvoer! As jy loop, styg dit tot 8 liter, en ’n maratonatleet wat fiks is, kan tot 35 liter bloed hê wat elke minuut deur sy hart vloei—sewe keer meer as in die rustoestand!

In party gevalle kan aarkleppe lek weens erflikheidsfaktore of omdat iemand vet word, swanger raak of lank staan. Wanneer hierdie kleppe ophou werk, dam die bloed onder hulle op, wat die are laat swel sodat hulle spatare word, soos ons dit noem. Wanneer ’n mens beur, soos tydens ’n bevalling of wanneer ’n mens opelyf het, verhoog dit eweneens die druk op die buikholte, wat die terugvloei van bloed uit die are van die anus en die dikderm belemmer. Wanneer dit gebeur, kan spatare vorm wat aambeie genoem word.

Die limfstelsel

Wanneer haarvate voedingstowwe na die weefsels vervoer en afvalstowwe afvoer, neem hulle effens minder vloeistof saam met hulle as wat hulle bring. Belangrike bloedproteïene lek in die weefsels uit. Vandaar die behoefte aan die liggaam se limfstelsel. Dit versamel al die oortollige vloeistof, wat limf genoem word, en voer dit terug na die bloedstroom deur middel van ’n groot aar aan die basis van die nek en ’n ander een in die borskas.

Soos met slagare en are is daar verskillende kategorieë van limfvate. Die kleinste, die limfhaarvate, kom tussen haarbloedvate voor. Hierdie uiters deurlatende klein vaatjies absorbeer oortollige vloeistof en voer dit na groter limfversamelvate wat limf na die limfstamme vervoer. Hulle sluit bymekaar aan om limfbuise te vorm, wat weer in die are uitvloei.

Limf vloei net in een rigting—na die hart toe. Gevolglik vorm limfvate nie ’n geslote kringloop soos die kardiovaskulêre stelsel nie. Swak spierwerking in die limfvate, bygestaan deur die polsing van die nabygeleë slagare en die beweging van die ledemate, help om die limfvloeistof deur die stelsel voort te dryf. As limfvate verstop raak, veroorsaak dit dat vloeistof in die aangetaste deel ophoop, wat tot ’n swelsel lei wat edeem genoem word.

Limfvate voorsien ook roetes vir organismes wat siektes dra. Gevolglik het ons Skepper die limfstelsel kragtige verdedigingsmeganismes gegee, naamlik die limforgane: die limfkliere—wat langs die limfversamelvate versprei is—die milt, die timus, die mangels, die blindederm en die limffollikels (Peyer se plakette) in die dunderm. Hierdie organe help om limfosiete, die vernaamste selle van die immuunstelsel, te vervaardig en te berg. ’n Gesonde limfstelsel dra dus tot ’n gesonde liggaam by.

Hier eindig ons toer deur die bloedsomloopstelsel. Maar selfs hierdie kort toer het ’n ongelooflik ingewikkelde en doeltreffende wonder van ontwerp geopenbaar. Wat meer is, dit verrig sy eindelose take stil-stil, sonder dat jy daarvan bewus is—behalwe as dit siek word. Sorg dus goed vir jou bloedsomloopstelsel, en dit sal goed vir jou sorg.

[Voetnoot]

a Bloeddruk word gemeet aan die afstand, in millimeter, wat dit ’n kolom kwik laat styg. Die hoogste en laagste druk wat deur die sametrekking en verslapping van die hart veroorsaak word, word die sistoliese en diastoliese druk genoem. Dit verskil van persoon tot persoon afhangende van hulle ouderdom, geslag, verstandelike en liggaamlike spanning en moegheid. Bloeddruk is gewoonlik laer by vroue as by mans, laer by kinders en hoër by bejaardes. Hoewel menings ietwat kan verskil, sal ’n gesonde jong persoon moontlik ’n lesing van 100 tot 140 millimeter kwik sistolies en 60 tot 90 millimeter diastolies hê.

[Venster/Prente op bladsy 26]

Sorg goed vir jou slagare!

Arteriosklerose, of “verkalkte are”, is ’n vername doodsoorsaak in baie lande. Die algemeenste vorm is aterosklerose, wat die gevolg is van ’n ophoping van vetneerslae wat lyk soos hawermeel (aterome) binne die slagare. Hierdie neerslae vernou die lumen, of binneruimte, van die slagaar sodat dit heeltemal verstop kan raak wanneer die plaak ’n kritieke vlak bereik en losbreek. Swerwende bloedklonte of spierspasmas van die slagaarwand self kan ook algehele verstopping veroorsaak.

’n Toestand wat veral gevaarlik is, is die ophoping van plaak teen die wande van die kroonslagare, wat die hart se eie spier van bloed voorsien. Gevolglik kry die hartspier self te min bloed, waarvan ’n simptoom hartkramp is—’n dowwe, drukkende borspyn wat dikwels deur fisiese inspanning aangebring word. As ’n kroonslagaar heeltemal verstop raak, kan dit tot ’n hartaanval lei waartydens ’n deel van die hartspier doodgaan. ’n Ernstige aanval kan veroorsaak dat die hart heeltemal gaan staan.

Die risiko van aterosklerose word vergroot deur onder meer die rookgewoonte, emosionele spanning, diabetes, vetsug, gebrek aan oefening, hoë bloeddruk, ’n vetryke dieet en erflikheidsfaktore.

[Prente]

Gesond

Matige ophoping

Gevorderde verstopping

[Diagram]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Kroonslagaar

[Diagram op bladsy 24, 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die kardiovaskulêre stelsel

LONGE

HART

Linkerventrikel

SLAGARE

ARTERIOLE

HAARVATE

VENULES

ARE

HART

Regterventrikel

Suurstofryke bloed

Suurstofarm bloed

Van liggaam

BOONSTE HOLAAR

REGTERATRIUM

ONDERSTE HOLAAR

REGTERVENTRIKEL

kleppe

Na longe

LONGSLAGAAR

Van long

LINKERATRIUM

kleppe

LINKERVENTRIKEL

AORTA

Na liggaam

[Diagram op bladsy 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Hoe die hart klop

1. Ontspanne toestand

2. Atriums trek saam

3. Ventrikels trek saam

[Prent op bladsy 25]

Bloedselle vloei deur 100 000 kilometer bloedvate

[Prent op bladsy 26]

Foto van haarvate wat net een rooi bloedsel op ’n slag deurlaat

[Erkenning]

Lennart Nilsson

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel